4 bladsye.

Sondag 31a: Heidelbergse Kategismus

Lees 2 Johannes; NGB artikel 29

Uitverkore Vrou🔗

Indien ons die plek en doel van die kerklike tug en die prediking in ons lewe wil verstaan, moet ons baie duidelik die plek van die kerk van Christus in ons lewe verstaan. Laat ons baie eerlik met mekaar wees — ons lewe in 'n tyd waarin die kerk in mense se lewe 'n baie klein rol speel. Vroeër was dit totaal anders. Dink maar aan die beheer wat die kerk in die Middeleeue oor die lewe van mense gehad het. Die meeste mense se grootste vrees was dat hulle op die een of ander manier buite die kerk sou beland, want dan was hulle vir ewig verlore. Altans, so het hulle geglo. Die Pous en sy biskoppe wat opgetree het as wettige opvolgers van die apostels op aarde, het die sleutels van die hemel in hulle hande gehad.

Veral deur die sakrament van die nagmaal is die ewige lewe aan mense uitgedeel. Maar ook die oorbieg, waar mense hul sondes teenoor die priester in privaatheid en vertroulikheid kon bely en dan van die priester hoor dat daardie sondes vergewe is, het 'n groot rol gespeel. Niks kon meer verskriklik wees as om los te staan van hierdie kerk nie, want dan was hulle verlore. In die jaar 1076 n.C. het Koning Hendrik IV dit byvoorbeeld gewaag om drie biskoppe van sy eie aan te stel, los van die gesag van die Biskop van Rome. Die gevolg was dat die Pous hierdie koning uit die kerk geban het. Die werklikheid was dat die onderdane van 'n koning wat uit die kerk geban was, nie meer die verpligtinge gehad het om hom te gehoorsaam nie.

Gehoorsaamheid aan 'n koning wat buite die kerk staan, was nie verpligtend nie, daarom was die  koningskap en die lewe van Koning Hendrik IV in gevaar. Op 25 Januarie 1077, in die bitter koue, het hy met sy geselskap by die paleis van Pous Gregorius VII aangekom om vergifnis te kom vra vir sy opstandigheid teen die Pous, want sy lewe was in gevaar en sy hele toekoms was op die spel, noudat hy buite die kerk gestaan het. Hierdie koning het die berg waarop die kasteel van Canossa gestaan het, uitgeklim en toegang gekry tot die buitehof van die kasteel. Daar het hy in die ysige sneeu en koue met kaal voete en die minimum klere gestaan as teken van sy rou, dat hy hom in sak en as bekeer. Hy wil terugkom in die kerk. Hy wil weer daar wees waar hy veilig is. Vir langer as 'n dag het die Pous hom daar in die sneeu en koue laat staan, maar die koning was gewillig om te wag om sy sondes te gaan bely, omdat hy die ban uit die kerk meer gevrees het as die dood. Eers op die tweede dag het die Pous vryspraak aan die opstandige koning gegee.

'n Heel vreemde gebeurtenis vir baie van ons, dat 'n kerk so beslag op iemand se lewe kon lê. Maar een ding was vir hierdie mense wel duidelik: wanneer iemand uit die kerk van Christus uitgesluit word, sluit God self hom ook uit die ryk van Christus. Daarvoor was die mense bang. Dit was vir hulle 'n werklikheid dat Christus in en deur sy kerk werk. In die geskiedenis waarop ons gelet het, sien ons die misbruik hiervan in die Middeleeue en daarteen het die reformatore in opstand gekom. Dit maak egter die plek van die kerk van Christus in ons lewe nie minder belangrik nie. Tog vind baie mense dit vandag glad nie 'n vreeslike saak as iemand uit die gemeente uitgaan en eenvoudig maar verdwyn en hom aan die gemeente van Christus onttrek nie. Dit raak ons byna nie meer nie. Tussen die verhouding waarin ons staan teenoor die kerk van Christus en Christus self, het daar 'n groot skeur gekom.

Die tema van die preek is: ons, as kinders van God, is kinders van die uitverkore vrou, soos Johannes die kerk in sy tweede brief noem. Die kerk is ons moeder, en die kerk moet 'n troue vrou wees.

Die Kerk is Ons Moeder🔗

Kinders van God word nie êrens in die niet gebore nie. Die apostel Paulus noem ons as gelowiges kinders van die nuwe hemelse Jerusalem (Galasiërs 4:25 27). Jerusalem, waar die evangelie van God se vrye genade verkondig word, is "moeder van ons almal". Daarom is dit nie vreemd om te hoor dat hulle wat God as Vader het, altyd die kerk van Christus as moeder sal hê nie. In die skoot van die kerk wil God sy kinders bymekaarmaak om deur die sorg van hierdie "vrou" grootgemaak te word, sodat ons die uiteindelike doel van ons geloof kan bereik, die doel waarvoor God ons sy kinders gemaak het 1. Sonder sy kerk gee Christus vir niemand die lewe nie. As ons gered wil word, dan hoort ons in die kerk, dan is ons deel van die kerk van Christus. Dit is die besondere klem van Sondag 31. Aan die kerk van Christus het Hy die sleutels van die hemelryk gegee, want Christus het die evangelie van verlossing in die skoot van die kerk gegee om dit daar uit te deel. In 'n erediens moet die evangelie verkondig word, maar ook afsonderlik by huisbesoeke en onderlinge vermanings teenoor mekaar. Daar moet die evangelie verkondig word sodat die koninkryk van die hemel oopgesluit word. Maar ook sodat dié wat hulle teen hierdie evangelie verset, kan weet dat hulle uitgesluit is. Dat hulle hul nie valslik daarin kan beroem dat hulle kinders van God is, terwyl hulle eintlik verlore gaan nie. Hulle moet weet: as ek nie deel is van hierdie kerk nie, dan het ek nie deel aan die verlossing nie. Daar wil Christus sy kinders soog. Daar wil Hy hulle voed en laat opgroei.

Kyk hoe praat die apostel Johannes oor die gemeente aan wie hy sy tweede brief rig — hy noem haar die "uitverkore vrou". Daar was niks besonders aan hierdie gemeente nie. Dit was een van talle gemeentes wat daar in Klein-Asië was. Sy is die uitverkore vrou, en is daarom besonder, omdat sy die waarheid van die evangelie ontvang het, soos Johannes dit verder in die brief verduidelik. Sy het die waarheid lief, omdat sy aan die Here behoort! Dit maak haar besonder! Hierdie kerk is deel van die bruid wat vir Christus gereed gemaak word. Ek sê uitdruklik "deel van", want sy is nie die enigste vrou nie. In die laaste vers van hierdie brief hoor ons van die groete wat deur die apostel oorgedra word van 'n "uitverkore suster" (vers 13). Die uitverkore vrou, soos hierdie gemeente genoem word, het 'n uitverkore suster, wat ons vandag eenvoudig ken as 'n "susterkerk". Die kerk in Bethal is ons susterkerk; ook die twee kerke in Pretoria, dié in Johannesburg, in Nederland, in Australië, en waar dan ook. Want Christus se bruid is nie net op een plek nie. Ons glo dat Christus sy bruid oor die hele wêreld en op baie plekke het. Daar is baie kerke wat saam met ons deel vorm van Christus se pragtige bruid wat Hy gereed maak vir die dag van sy koms.

Maar kyk hoe word hierdie uitverkore vrou ook nog verder deur Johannes voorgestel. Sy is 'n vrou met kinders! Sy is moeder. Hy skryf die brief aan die uitverkore vrou en haar kinders. Hierdie gemeente het Johannes lief. Hy het hulle lief in waarheid en net so het almal wat die waarheid liefhet, ook hierdie vrou en haar kinders lief. Hier word die liefde gerig op die gemeente, wat die moeder is van die gelowiges. Die kinders is die gemeentelede. Gelowiges soos u en ek. Die kerk is die vrou en die gelowiges wat daar lidmaat is, is die kinders: broeders en susters van mekaar. En Johannes dra dan ook nog die groete oor van die kinders van die uitverkore suster (2 Johannes :13). Dit behoort vir ons almal duidelik te wees: hy wat God as Vader het, sal die kerk as moeder hê! En liefhê!

Laat ons dus baie versigtig wees om te sê dat dit nie saak maak of ek lidmaat van 'n kerk is en veral van watter kerk ek 'n lidmaat is nie, solank ek maar in Christus glo. Die hele brief van Johannes handel verder oor net een saak en dit is die liefde vir die kerk van Christus. Hy skryf oor sy vreugde oor die kinders wat hy van die kerk êrens in Klein-Asië ontmoet het. Verder moedig hy hulle aan om mekaar lief te hê as kinders van hierdie moeder (vers 5). En hierdie liefde is nie maar sommer 'n kleurlose en karakterlose gevoel nie. Dit is die liefde, sê Johannes, dat ons gaan lewe volgens die eis van die Woord van God vir sy kerk. Hou gemeenskap met hulle wat die waarheid liefhet, maar moet niks te doen hê met hulle wat die waarheid minag nie. As iemand na julle toe kom en 'n ander evangelie verkondig, moet julle hom nie eers groet of ontvang of saam met hom eet nie (vers 10).

Dit is hoe belangrik die uitverkore vrou vir Christus is! Hy het Homself tot in die dood gegee uit liefde vir hierdie bruid. Want Hy wou haar juis voor Hom kon stel sonder vlek of rimpel, heilig en sonder gebrek (Efesiërs 5:25-27). Daarom is dit vir ons nie onbelangrik van watter gemeente ek lidmaat is nie. Party mense dink dat jy 'n lewenslange lojaliteit het aan die kerk of kerkverband waarin jy gebore is. Noem ons dan nie die kerk "ons moeder" nie? En kan so baie van ons wat vanaand in hierdie gemeente sit, nie getuig dat ons in die NG Kerk of in 'n ander kerk tot geloof gekom het nie? Is dit dan my moeder? Moet ek dan nie tot aan die einde van my lewe 'n lojaliteit teenoor daardie moeder bly bewys nie? Dit was tog waar ek die lewe ontvang het? Die Here het daar die evangelieverkondiging gebruik om my die lewe te gee.

Die Here vra egter nie van ons 'n lojaliteit tot in die dood aan 'n moeder wat dalk ontrou geword het nie. Nie 'n lojaliteit nie, maar wel 'n dankbaarheid. Dankbaarheid teenoor die Here dat Hy daar ook vir my die lewe wou gee.

Paulus skryf oor Jerusalem van vandag (Galasiërs 4:25-27), dit is die kerkvolk Israel, die kerkvolk van die Ou Testament, wat nie meer kinders van Sara die vrye is nie, maar wat eerder ooreenkom met die slavin Hagar en haar kinders wat ook slawe is. Daardie volk wat nie meer wil leef uit die evangelie van ons Here Jesus Christus nie, is kinders van Hagar en daarom gebind in slawerny. Paulus keer hom weg van die Ou Testamentiese Israel, van Jerusalem van die Ou Testament, want "Jerusalem van vandag" het ontrou geword. Daar is nie 'n lojaliteit aan Israel vir altyd en ewig nie. Ons hoogste lojaliteit lê by Christus en daar waar Hy sy evangelie laat verkondig. Daar waar ons in vryheid as kinders van God kan leef, daar lê ons lojaliteit vir altyd.

Dit beteken nie dat Paulus die volk Israel minag nie. Hy skryf in Romeine 9 dat hy wens dat hy eerder 'n vervloeking kon wees sodat die verbondsvolk van die Here eerder gered kon word. Maar hy wens nie meer dat hy daar is waar die volk in onvryheid leef nie. Want die deel van Israel wat Jesus as die Messias verwerp het, besit nie meer die sleutels van die koninkryk van God nie. Hulle kan niemand vrymaak van die slawerny van die satan nie. Die sleutels van die koninkryk van die hemel is die evangelie wat mense wil vrymaak en deur die geloof toegang tot God se koninkryk gee. Maar dit is ook dieselfde evangelie wat uitsluit uit daardie koninkryk hulle wat nie meer die evangelie van vrye genade in geloof wil aanvaar of verkondig nie.

Die Kerk moet 'n Troue Vrou wees🔗

Die kerk is nie net moeder nie, maar sy moet ook 'n troue vrou wees. Die verskriklike van 'n kerk is dat dit kan verander in presies die teenoorgestelde as wat dit bedoel is om te wees. In die plek van 'n rein maagd wat as 'n bruid sonder vlek of rimpel vir Christus voorberei word, kan sy verander in 'n verleidster, in 'n prostituut. So word sy ook in Openbaring voorgestel. Sy word die teenoorgestelde: in plaas van een wat vry is, word sy een wat gebind is aan haar eie luste en begeertes. Gebind aan hulle met wie sy gemeenskap soek, los en weg van Christus. 'n Kerk kan verander in 'n "sinagoge van die satan". Daarom moet ons oë oop wees om te sien waar die sleutels van die koninkryk van God gebruik word om die koninkryk oop en toe te sluit. Dit gebeur nie daar waar ons 'n bepaalde historiese verbintenis het nie. Die koninkryk word oop  en toegesluit daar waar die evangelie suiwer verkondig word. Waar hierdie Woord ook sigbaar word in die bediening van die sakramente en waar die tug so toegepas word dat die lidmate herken kan word as mense wat deur die geloof lewe uit hul enigste Saligmaker Jesus Christus. Hierdie kerk word ook herken waar die bediening van God se Woord lei tot ontvlugting van die sonde en die najaag van die geregtigheid van Christus (NGB, artikel 29). Want die ware Christen en die ware kerk gaan hand aan hand. Die ware kerk is daar waar ook die Christelike lewe gestalte kry. Dit sal sigbaar word daar waar die lidmate God en hulle naaste liefhet en nie links of regs afwyk nie; daar waar mense is wat hulle sondige natuur met sy werke kruisig en nie langer daarin bly voortleef nie.

Dit beteken nie dat daar in die lewe van die ware Christene nie nog groot swakheid is nie. In die ware kerk word die tug daarom ook nooit gebruik om iemand wat heilig wil lewe en nogtans sondig, te straf nie. Trouens, die kerklike tug is ook geen "strafmaatreël" nie. Die kerklike tug wil altyd weer ons oë oopmaak vir die lewe vanuit die vrye genade van die Here. Dit is die doel van die tug. Dit wil ons wys dat die weg van die sonde tot die dood lei, en dat daarom daarvan weggevlug moet word. Is dit haat en hardheid, of is dit liefde? Dit is liefde! Die evangelie wat deur die bruid van Christus verkondig word, moet gelowiges altyd weer wys dat hulle teen hulle swakhede moet stry deur die krag van die Heilige Gees en gedurig weer hulle toevlug moet neem tot die bloed, die dood, die lyding en die gehoorsaamheid van Christus. So bely ons dit in artikel 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis. Want in Hom alleen het die kinders van hierdie moeder vergewing van en oorwinning oor hulle sondes.

Waar vind ons dus die "uitverkore vrou en haar kinders"? Daar waar die kinders die waarheid leer ken en leer liefkry het (2 Johannes :1) in die geloof. Waar die evangelie suiwer gebring en suiwer gehou word in die gemeente. Dit is daarom van geweldige belang dat die moeder wat ons versorg, 'n troue bruid van Christus sal wees. As sy dit nie is nie, behoort jy nie daar nie. Want ons elkeen het die roeping om ons te voeg by die kerk waar die evangelie suiwer verkondig en suiwer gehou word. Waarom? Om die kerk te verafgod? Nee, omdat God die kerk wil gebruik om met die sleutels van die hemelryk vir my die koninkryk te kan oopsluit of toesluit. En as ek aan Christus ongehoorsaam word, dan sal hierdie ware moeder my wys en my leer om nie op my sondige weg te gaan nie. Wat 'n liefdelose verdraagsaamheid is dit waar mense toegelaat word om verlore te gaan!

'n Kerkmoeder kan siek word. Dit kan beteken dat sy dringend reformasie nodig het — terugkeer na die Woord van die Here. Dan moet ons ons ook vir reformasie gaan inspan, en nie maar sê: "Maar daar is ook nog ware Christene daar waar ek aanbid" nie. Of dit kan ook wees dat 'n kerkmoeder al 'n ontroue vrou geword het. Sal ons dan nie van haar af wegvlug, sodat ons nie ook deur haar verlei word nie? By so 'n ontroue moeder is ons nie veilig nie. Daarom mag ons nie daar wees nie, omdat die Here nie daar is nie. As iemand kom, skryf Johannes (2 Johannes :10), wat 'n ander leer bring as die leer van God se vrye genade wat die koninkryk vir ons kan oopsluit, ontvang hom nie eers in jou huis nie. As ons dit nie doen nie, het ons deel aan sy bose en duistere werke (vers 11).

Elkeen wat dus lidmaat bly van 'n gemeente waar die predikant nie meer die evangelie verkondig nie en nogtans vrye toegang tot die preekstoel het, waar die kerkraad nie daarop toesig hou en hulle daarvoor inspan dat die evangelie van vrye genade bewaar word nie, is mede-verantwoordelik vir sy dwaalleer. En ons moet nie dink dit lê ver van ons af nie. Johannes waarsku dat daar baie verleiers, dwaalleraars, in die wêreld ingekom het. Dit is die gees van die antichris, wat so verleidelik is, wat kom as 'n engel van die lig. Let daarom goed op die kerk van Christus. U moet daar wees, waar die evangelie jou die vryheid en die toegang tot die ryk van God kan gee. Want aan daardie kerk het Hy die sleutels van die koninkryk van die hemel toevertrou. Deur die bediening van hierdie sleutels word die koninkryk vir my oop  of toegesluit.

Moet dus nie gering dink oor die kerk van Christus nie. Moenie dink dat wat die Here in die hemel doen, iets anders is as wat Hy in en deur sy kerk op aarde doen nie. Daaraan gaan ons volgende keer meer aandag gee.