4 bladsye.

Sondag 34 vrae 94 & 94 Heidelbergse Kategismus

Lees: 1 Korintiërs 8:1-13🔗

Ons skuif die eerste gebod so maklik uit ons lewe omdat dit vir ons dikwels moeilik is om konkrete afgode in ons eie lewe voor te stel. Miskien is dit vir ons so moeilik om te dink watter afgode ons dan het, omdat ons so min verstaan nie van dit wat God in hierdie gebod verbied nie, maar van wat Hy van ons vra. As ons gaan verstaan wat God van ons vra, dan sal ons in die lig daarvan makliker ons eie afgode ontdek. Wanneer die Here na Israel kom en Homself aankondig as die enigste Here, dan doen Hy dit in die bekende woorde van wat in Israel bekend gestaan het as die Sjema: "Hoor Israel, die Here ons God in 'n enige Here." Wat beteken dit dan dat daar maar een God is? Dat jy die Here jou God moet liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag.

Daaroor gaan dit in die eerste gebod: die liefde vir die Here ons God en Verlosser. As Hy die enigste Here is, dan moet ek Hom beter leer ken. Ek moet dan gedurig leer om meer op Hom te vertrou. Selfs in omstandighede van lyding, bekommernis en teëspoed moet ek leer om my geduldig aan Hom te onderwerp en leer om gedurig weer van Hom alleen alle goeie dinge te verwag. Daarom sal ek dan eers geen afgode in my lewe meer hê wanneer ek geleer het om die Here lief te hê met my hele hart en siel en al my krag. Die Here vra geloof in en liefde vir Hom alleen.

Die baie gode🔗

Ons kan na aanleiding van die eerste gebod vra: maar ís daar dan ook ander gode naas die Here? As hulle nie bestaan nie, waarom sou die eerste gebod ons dan so ernstig waarsku teen ander gode? Waarom nadink daaroor as ons tog tot die gevolgtrekking kom dat daar geen ander gode is nie? En as hulle wel bestaan, sou ons tog deeglik met hulle rekening moes hou. Soos byvoorbeeld die Hindoes wat hul tempels versier met beelde van tienduisende afgode vir wie hulle almal tevrede wil hou. Hulle moet rekening hou met die god van die see en van die lug, van die water en van die donder; die god van die liefde en van die haat. Want daar is tog soveel gode wat op my lewe inwerk en ek moet elkeen gaan vereer. In die Bybel kom ons ook baie gode teë. Die bekendste vir ons is waarskynlik die Baäls en die Astartes wat Israel self vereer het in hul tye van afvalligheid in Kanaän. Dink maar aan Elia se bitter stryd teen die Baälspriesters, nie uit die heidense volke nie, maar uit die volk van die Here, wat hy ontmoet het op die berg Karmel. Maar daar is nog vele ander gode: Molog, Kamos, Mammon, Zeus, Neptunus, ensovoorts. Nou is die vraag: lei die eerste gebod ons daartoe om rekening te hou met gode naas die Here?

Paulus verklaar in 1 Korintiërs 8:6 dat daar vir ons maar een God is, die Vader uit wie alles is, en een Here Jesus Christus deur wie alles is. Die gode wat daar is, is werk van mensehande. Hulle is stom en dowe en blinde hout en klip. En tog waarsku die Bybel doodernstig teen die afgode. Waarom dan? Dit is omdat die gode self nie bestaan nie, maar daar is kragte werksaam in ons lewe en in die wêreld om ons, wat wel deeglik bestaan. Kragte wat deur mense vereer word asof dit gode is. Daarom sê die apostel Paulus: daar is maar slegs "sogenaamde" gode (1 Korintiërs 8:5). Hulle is niks, al word hulle wel so genoem. Maar daar is wel kragte wat totaal van mense se lewens besit kan neem. Kragte wat ons wegtrek van die Here af, sodat ons Hom nie liefhet nie. Kragte wat maak dat ons ons vertroue op iets anders as die Here stel; wat maak dat ons paniekerig word wanneer alles in my lewe nie verloop presies soos wat ek dit sou wou hê nie.

Die Baäls het nie bestaan nie, maar tog is Israel verlei om hulle te aanbid. Baäl bestaan nie, maar was wel die verpersoonliking van die vrugbaarheid van die land Kanaän. Die Baäl sorg vir die reën en dat die plante groei, en was teenwoordig in die donderweer. Baäl is die krag wat sorg vir die nuwe lewe uit 'n droë land. Hierin sien ons dan ook dat alle afgodsdiens altyd 'n verering is van God se skepping of skepsel bo die Skepper wat geëer en geprys moet word (Romeine 1:25). Mammon bestaan nie, maar dink net aan die mag wat geld in mense se lewens kan uitoefen. Net so bestaan Venus, die Romeinse god van die liefde, nie. Maar die ongelooflike krag van seksuele losbandigheid bestaan wel deeglik, oefen invloed uit op 'n mens se lewe, beheers selfs sy lewe. Dink maar aan die geweldige kragtige slawerny waarin iemand is wat vasgevang is in pornografie. Venus bestaan dalk nie, maar pornografie in tydskrifte of ander vorme kan mense se lewens wel totaal beheer. Die sportgod mag geen naam hê nie, maar hoeveel mense se lewens en gesprekke gaan nie op in sorge en vreugde oor die uitslae van wedstryde nie! 'n Mag wat mense se lewens, al hulle gesprekke en denke, beheer.

In 1 Korintiërs 10:19-20 laat die apostel Paulus ons verstaan dat daar wel geen gode naas die Here is nie, maar dat dit moontlik is om in die mag van duiwels te kom. En dan nie alleen wanneer ek my besig hou met okkultisme of glasie glasie speel of enige ander duistere praktyk nie. Ek kan in die mag van die duiwels kom of wees, wanneer ek my deur enigiets anders laat beheers as deur die Heilige Gees. Moet dus nie so maklik sê dat die afgode sommer onsin en ouvroupraatjies is nie. Laat ons ook nie dink dat ons wat in moderne tye leef, dus nie meer bedreig word deur die Baäls en die Astartes nie! Die gode se name het verander, maar dieselfde duiwelse kragte werk nog steeds om ons in besit te neem.

Amper enigiets kan 'n afgod in my lewe word. My werk, my kinders of kleinkinders, hebsug, geld, my aanvanklike mooi verhouding met my vriend of vriendin, begeerte na mag, die drang om myself te laat geld, my huis, my bankrekening (met baie of min daarin!). My bankstaat wat ek aan die einde van die maand kry, kan die belangrikste ding in my lewe wees. Ek is bang dit is leeg; ek stel dus nie meer my vertroue op God nie. Dan is ek besig met afgodery. Is daar dus ander gode? Die gode is niks, maar nie die krag van geld of seksuele losbandigheid nie. Of die krag van my eie gewoontes en tradisies nie — dit kan my so beheer sonder dat dit enigiets te doen het met liefde vir die Here. Elia kan spot met die slapende Baäls op die berg Karmel as die priesters tot hulle bid en daar is geen reaksie nie. "Kom, skree nog 'n bietjie harder, dalk slaap die Baäls, maak hulle wakker!" spot hy. Want hy weet daar bestaan nie sulke gode nie. Maar dit is geen grap nie, want enkele oomblikke later word die Baälspriesters deur die swaard uit die volk van die Here verwyder en hulle sterf! Omdat die krag van daardie afgode, van die duiwels, besit geneem het van die mense se lewens. Omdat hulle hul vertroue nie meer op God wou stel nie, van God nie alles verwag het wat hulle nodig het nie, en nie meer uit die genade van God geleef het nie. Omdat hulle gedurig weer gedink het: ons moet ons lewe in eie hande hê, ons sal self sorg.

Ons het geen sigbare gode in ons kerk nie, maar bedryf ons nie afgodery daarmee as ons glo dat ons Sondag na Sondag twee maal in die erediens moet wees, sonder dat die evangelie wat hier verkondig word my lewe gaan beheers nie? Dan bedryf ons afgodery met die erediens. Ons vertel ons kinders: "Julle moet op Sondag twee keer in die erediens wees", maar ons leef nie 'n lewe wat hulle wys hoe die evangelie wat daar verkondig word, my lewe totaal in besit geneem het nie. Watter verskriklike gode moet ons dan nie dien, wanneer ons na die erediens kom vir 'n ander rede as om God hier te kom ontmoet en as sy gemeente oor Hom bly te wees nie?! Afgodery met die erediens. Of afgodery met ons eie kerklike tradisies, wat ons in hulle mag kan hê wanneer ons nie gedurig bereid is om ons eie gewoontes en praktyke te toets aan God se Woord, om te verander waar sy Woord dit van ons vra nie. "So is dit altyd gedoen." Los dit uit, dit is afgodery! So kan enigiets 'n afgod word in ons lewe, en die Bybel waarsku ons dan ook teen die baie afgode.

Die enige Here🔗

Wat vra die eerste gebod? Laat die Here jou deel wees. Sê vir die Here (Psalm 16:2): "U is my Here; vir my is daar geen goed bo U nie." Laat ons glo en bely: die Here ons God is 'n enige Here. Dit is wat die eerste gebod van u vra. Laat ons met ons hele hart opreg bely: "Ek het U hartlik lief, HERE, my sterkte" (Psalm 18:2). Lê dit voor God, sing dit. En dit kan ons alleen bely wanneer ons werklik glo dat daar naas die Here geen ander gode is waarop ons ons vertroue en liefde moet stel nie. Dit beteken heel konkreet 'n openbare keuse om die Here te dien. Soos wat Josua van die volk gevra het net voordat hulle die land Kanaän ingetrek het. Kanaän, die land wat vol was met heidense gode, met die geweldige kragte wat dreig om van die volk besit te neem. Dan sê Josua (in Josua 24): Julle onthou die gode wat ons voorvaders gedien het aan die oorkant van die Eufraat en julle onthou die gode van Egipte wat ons vaders daar gedien het toe ons nog in slawerny was en julle sien die afgode van die heidene aan die oorkant van die Jordaan, wat julle harte in besit wil gaan neem in daardie land. En dan roep Josua die volk tot 'n keuse: Kies nou wie julle wil dien, die Here of die afgode. Kies nou en stel julle vertroue ten volle op hierdie God, wat julle vir julle behoud uit die land oorkant die Eufraat gaan haal het, wat julle vir julle behoud na Egipte gelei het, wat julle nou vir julle behoud in die land Kanaän wil inlei. Moenie vir die afgode 'n plek in julle harte gee nie. Raak ontslae van die gode wat julle en jul vaders gedien het oorkant die Eufraat en in Egipte of die gode van die Amoriete in die land Kanaän. En dan sê Josua: Maar ek en my huis, ons sal erken dat daar maar een Here is; "maar ek en my huis, ons sal die HERE dien" (Josua 24:14 e.v.).

Daar was die gode van Egipte en van Kanaän en die gode en geeste van die woestyn. Elkeen van daardie gode was god oor 'n spesifieke gebied of terrein. Maar die Here kom na sy volk en sê: "Die aarde behoort aan My. Of jy in Egipte is of in die land Kanaän ingaan: Aanbid My!" God is nie 'n huisgod of 'n kerkgod nie. Of jy nou in die huis besig is, op kantoor, in die erediens, op die sportveld of in jou besigheid, die bevel bly steeds: "Dien My!" God is nie 'n regionale God nie, nie een wat ingeperk is nie, maar die hele aarde behoort aan die Here! Die Here duld nie die gode van ander lande naas Hom nie. Die heidene het, soos hulle van die een streek na die volgende verhuis het, ook die gode van daardie gebied wat hulle betree, geëer. Die Here duld dit nie. Daar is geeneen naas Hom nie. Daar is naas die Here geen ruimte vir 'n ander nie. Julle kan nie God én Mammon dien nie, sê die Here Jesus in die bergrede; jy sal òf die een liefhê en die ander haat, òf die een aanhang en die ander verag (Matteüs 6:24). Niemand kan twee here dien nie.

Daar is maar een God. Die Vader uit Wie alles is en een Here Jesus Christus deur Wie alles is en ons deur Hom. En as Hy die Here is, dan vra Hy ons hart en ons liefde van ons. Hy vra die liefde van sy gemeente. "As iemand meen dat hy enige kennis het, weet hy nog niks", skryf Paulus in 1 Korintiërs 8:2 en 3; "maar as iemand God liefhet, dié word deur Hom geken", dié behoort aan God. Glo jy dat die Here ons God die enigste Here is? Dan moet jy Hom liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. Laat in alles waarvoor jy jou elke dag inspan, die Here jou God wees. Nie jou werksomstandighede nie. Jy moet Hom liefhê omdat Hy jou vrygemaak het uit alle ander magte wat jou lewe wil beheer, vry van die mag van die satan, omdat Hy jou geen slaaf van enige krag in hierdie wêreld laat wees nie. Wees lief vir Hom, omdat Hy jou wil vrymaak van jou band aan pornografie, jou slawerny aan jou loopbaan; Hy wil jou kettings in die verkeerde verhouding met 'n meisie of jongman wat jou van die Here af weglei, breek. Jy is lief vir Hom; wees daarom geduldig.

In die Nuwe Testament word dit soveel meer duidelik wanneer ons Jesus Christus leer ken as die Een wat in ons lewe ons Here wil wees. Jesus Christus is die Here van almal wat aan Hom behoort. Hy het gekom om die middelmuur van skeiding tussen Jode en Grieke weg te neem. Dié wat vroeër sonder die enige God was, sonder God en sonder hoop in die wêreld, kan nou leef met hoop in Jesus as Here. Deur Hom kan ons nou ook die Vader ken as ons enigste God. Want daar is net een ware God. Die God en Vader van ons Here Jesus Christus. Allah is geen god nie. Dit is die bedenksel van mense wat in slawerny vasgevang is. Wanneer ons God nie ken in Christus Jesus nie, vereer ons gode wat geen gode is nie (Galasiërs 4:8). Laat u nie verlei deur mense wat ons wil wysmaak dat daar ook ander gode is, wat maar net ander name is vir God. Nee, hulle wat God nie dien in en deur Jesus Christus nie, vereer gode wat geen God is nie.

Maar wanneer ek gaan lewe uit God se genade in Christus Jesus, word die mag van die bose in my lewe gebreek, sodat ek nie meer gode in my lewe vereer nie. Want ek leer om die Here lief te hê. En dit kry heel konkreet gestalte in my lewe. In my gehoorsaamheid aan die Here. Ek leer om graag te bid, want met hierdie Here wil ek praat. Ek groei in liefde vir sy Woord, want ek wil hoor wat Hy vir my sê. En ek groei in liefde vir die gemeente van die Here. Wanneer ek weet dat daar geen ander gode naas die Here is nie, dan laat ek my ook deur niks beheers nie. Dit kry gestalte in die lewe van die gemeente. Dink maar aan die situasie in Korinthe. Daar was die vraag na die eet van die offervleis. Sommige se gewete was swak en hulle wou geen offervleis eet nie. Hulle het nog gedink aan die afgodery waaruit hulle verlos is en aan die krag van daardie afgode wat vir hulle so werklik was. Dié het hulle geken, en daarom wou hulle nie offervleis eet nie. Kon die sterkeres dan nie maar eet nie? Hulle weet tog daar is geen afgode nie. Maar as die gemeente so sou optree, sou hulle hul weer deur 'n nuwe god laat beheers, die god van die vryheid, die god van die kennis dat daar geen ander God is nie. Dan sal ek skade doen aan my medegelowige vir wie Christus gesterf het (1 Korintiërs 8:11).

Mag ek dit heel konkreet maak vir die situasie waarin ons vandag lewe? Ook vir ons jeug? As daar 'n jeugkongres gehou word, word ek nie beheer deur my lus om alkoholiese drank ten alle koste daar te wil hê nie. Ek weet tog dat ek myself kan beheer. Ja, maar ek vergeet van die ander wat dit nie kan doen nie en wat weet watter mag dit al in hulle lewe gehad het. Moet ek my dan laat beheer deur my vryheid, of sal ek liefde gaan bewys aan my medegelowige? As ek my laat beheer deur enigiets anders as deur God self, bedryf ek afgodery. Ek laat my eerder regeer deur die Gees van God wat my laat lewe in liefde teenoor my medegelowige wat wel 'n probleem met alkoholiese drank het. Of is my lus my god en het ek tog 'n probleem waarvan ek vroeër in my lewe nie eers bewus was nie?

Ons weet daar is maar een God. Voedsel en drank bring ons nie nader aan God nie. Want as ons besluit om te drink, het ons nie oorvloed nie; en as ons nie drink nie, sal ons geen gebrek ly nie (vers 8). Sal ek dan 'n struikelblok word vir my swakker broeder of suster? Ek bly vertrou op die Here alleen. Ek onderwerp my aan Hom met alle nederigheid en geduld, sê antwoord 94 van die Kategismus so pragtig, en ek bly van Hom al die goeie verwag. En ek wil nie die minste doen wat teen sy volmaakte wil sal wees nie, wat my sal laat sondig nie.