4 bladsye.

Sondag 35 Heidelbergse Kategismus

Lees: Maleagi 1:1 14🔗

Dieselfde as die eerste gebod?🔗

Is beelde en afgode nie dieselfde nie? Is die Lutherane en die Roomse kerk dan tog nie reg as hulle van die eerste en die tweede gebooie, soos ons hulle ken, een gebod maak nie? Word van afgode nie beelde gemaak nie? Ja, inderdaad word daar van afgode beelde gemaak, maar 'n mens kan ook van die Here self beelde maak sonder om enigsins 'n afgod te wil maak. Daar is dus 'n duidelike onderskeid tussen die eerste en die tweede gebod. Jy kan die Here self gaan hanteer op 'n manier wat inpas by jou eie gedagte van hoe Hy is en wie jy dink Hy is, en tog kan jy besig wees met die ware God. Wanneer die volk Israel aan die voet van die berg Horeb 'n goue kalf maak, dan is die bedoeling nie om ander gode te aanbid nie. Tog maak hulle 'n beeld. Die goue kalf is bedoel as 'n beeld van die Here. Aäron bring die kalf na die volk met die woorde: "Dit is jou gode, o Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het" (Eksodus 32:4). Dit is Jahwe! Israel wil nie 'n ander god aanbid nie, maar hy wil 'n beeld van hierdie God maak.

In die tweede gebod gaan dit dus nie om die verering van ander gode nie. Dit gaan oor 'n verering van die Here, maar dan met die gedagte dat ek Hom gaan dien op die manier wat my die beste pas, wat ek goeddink; op die manier waarop ek dink dat Hy gedien wil word. Die tweede gebod wil ons laat verstaan dat die Here dit nie maar aan ons oorlaat om te besluit hoe om Hom te dien nie. Hy wil hê dat ons baie noukeurig moet luister wanneer Hy ons die opdragte gee hoe om Hom te aanbid. Hy wil hê dat sy kinders Hom sal dien op die manier wat Hy ons in sy Woord voorskryf. Aanbidding van God is nie iets wat spontaan uit my hart voortkom nie. Aanbidding volg nadat ek gehoorsaam geword het, nadat ek geluister het en nou ook gaan doen.

Dit is nie onbelangrik dat ons hierop gaan let nie! Want die wêreld, ook die wêreld waarin ons vandag leef, is nie sonder baie godsdienstigheid nie. Dink maar aan Paulus wat in Athene gekom het en ontsteld geword het omdat die hele stad vol afgodsbeelde was. Athene was vol van godsdienstige mense van allerlei soorte. Dit was 'n baie godsdienstige stad. Elkeen was besig om uitdrukking te gee aan sy of haar eie godsdienstigheid. Tog, in hierdie stad vol beelde het Paulus nie ook 'n beeld vir God gaan oprig nie, maar hy het saam met die gelowige Jode in die sinagoge vergader waar daar geen beelde was nie. Net die boeke van die Ou Testament was daar. Daar kom hy saam met die gelowige Jode, daar waar geleer is vanuit die Woord van God.

Vir die heidene kan die gelowiges heeltemal godsdiensloos voorkom. So 'n vaal godsdiens — dit stel nie veel voor nie en daar is nie baie om te sien nie. Kyk hoe oninteressant is die samekoms in die sinagoge, waar Paulus saam met die gelowige Jode bymekaar kom. Daar is een wat onderrig vanuit die Woord. Terwyl daar rondom die beelde geweldig baie gebeur: daar is aksie, baie om te sien en te hoor. Want hierdie gode moet behaag word. Daar moet geweldige musiek gemaak word, want hulle aandag moet getrek word. Dikwels moet die gode wakker gemaak word. Daar gebeur iets wat interessant is. Daarteenoor is die aanbidding in die sinagoge redelik kleurloos vir die mense van Athene. Vir die gelowiges is daar geen indrukwekkende tempels wat deur mensehande gemaak is nie (Handelinge 17:24). Dit sê Paulus dan ook vir die beeldedienaars. God woon nie in 'n tempel wat deur mensehande gemaak is nie. Daar is geen beeld waarvoor gebuig word nie. In gebed word die oë opgeslaan na die hemel, of word laag op die grond neergebuig of gekniel. Die Here word op dié manier aanbid, want sy Naam word aangeroep. Die Here word nie gebind aan 'n beeld, 'n gebou of persoon, of aan 'n plek nie. En dit is die tema van hierdie preek: die Here laat Hom nie bind nie.

Gode in mense se mag🔗

Wat is die bedoeling van die heidene met die maak van beelde van hul afgode? En waarom wil God nie hê dat ons van Hom 'n beeld sal maak om Hom daardeur te aanbid nie?

Die heidene se beelde was 'n manier om die onsigbare kragte en magte wat hulle lewe geraak en beïnvloed het, te verteenwoordig, om dit sigbaar voor te stel. Die heidene is en was baie bang vir hul afgode, wat op die een of ander onverklaarbare manier skielik in hul lewe ingryp. Hulle afgode is 'n bedreiging vir hul lewe   dink maar aan die geweldige krag van die see wat skepe as 't ware kan "insluk". Of die onstuitbare krag van 'n stormwind wat waai, wat in een oomblik enorme skade kan aanrig. Êrens is hierdie gode 'n bedreiging vir hulle, en hulle moet dit onder beheer kry.

Vir al hierdie probleme het die heidene dan 'n oplossing. Maak 'n beeld van die afgod wat jou lewe beïnvloed. Sit hom neer op 'n plek; dan kan jy hom sien en hom beheer. Selfs as jy reis kan jy hom beheer en hom saamneem. Jy kan vir hom wieletjies aansit en hom met jou saamsleep. Op dié manier spot Jesaja ook met die heidene en hul afgode. Jy maak vir hom voete sodat hy stewig kan staan. Jy maak 'n beeld van jou afgod, sodat hy jou geen kwaad meer kan doen nie. Alle kwaad wat jou dan nog tref, is dan te verklaar vanuit gebrekkige offers aan hierdie beeld, of vanuit die gebrekkige manier waarop jy vir hom 'n tempel gebou het. As teenspoed jou dan tref, dan bou jy 'n mooier tempel of bring meer offers aan hom. As jy 'n beeld van jou god maak, dan kan jy die god beheer, beïnvloed, in jou mag kry — so dink die heidene. Deur diens of offers aan hierdie beeld, kan jy hom vir jou eie doeleindes begin inspan. Jy kan hom aan jou bind. Waar jy is, moet hy wees. Jy kan hom selfs beweeg om teen jou vyande op te tree ter wille van jou, en jou vyande bang maak met jou god. Die god bly dan geen onverklaarbare en onsigbare mag nie. Hy kom onder jou beheer.

'n Beeld is veel meer as bloot net 'n voorstelling van die god. Dikwels is die gode afgebeeld as visse of bokke. Dit beteken nie dat die heidene gedink het die god is 'n vis of 'n bok nie. Daar is geen manier om die god sigbaar af te beeld nie. Wanneer Aäron dan ook 'n beeld van die Here maak in die vorm van 'n kalf, gaan dit nie daaroor dat hy dink die Here lyk soos 'n kalf nie. Maar hy kan op hierdie manier beskik oor die Here se groot krag wat voorgestel word deur die sterk jong bul en sy vrugbaarheid. Dan kry ons hierdie God onder beheer.

Nie soos die heidene nie🔗

Die Here sê dat Hy nie soos die heidene is nie. Die Here laat Hom nie op hierdie manier dien nie. God laat Hom nie aan ons bind volgens ons eie goeddunke nie. Hy laat Hom nie inspan voor ons gevoelens en vrese in hierdie wêreld, voor ons begeertes en luste nie. Dink maar aan die diens van die volk aan die Here in die tyd van die profeet Maleági. Die volk het offers na die tempel van die Here gebring. Maar dit was blinde en siek diere, terwyl hulle wel 'n manlike dier sonder gebrek gehad het. Hulle het nie volgens die voorskrifte van die Woord van die Here gehandel nie. Die volk het gedink hulle kan die Here behaag deur hierdie offers op sy altaar te bring. Die Here se tempel is tog die plek waar, as hulle hul offers gebring het, hulle gedink het God onder beheer te kan hou, sodat Hy hulle verlossing kan gee van die verdrukking van die nasies rondom Israel. Veral van die Edomiete, wat met krag teen hulle opgestaan het. Maar die Here laat Hom nie op hierdie manier bind en dwing nie. Nie eers aan die tempel in Jerusalem of die altaar daarbinne nie. Dan sê die Here aan die priesters: "Ag, was daar maar iemand onder julle wat die deure wou sluit, sodat julle nie tevergeefs vuur op my altaar kan aansteek nie!" (Maleagi 1:10). Maak toe die deure! Waarmee is julle besig? Julle kan My nie aan 'n gebou bind, of aan die altaar nie.

Die volk bring geroofde en lam en siek diere. Die diens aan die Here was vir hulle 'n groot moeite. Om in 'n tyd van hongersnood ook nog 'n manlike dier wat gesond was, uit jou trop skape te gaan haal! Wat 'n geweldige offer vra die Here nie! Dit het 'n las vir hulle geword. En tog het hulle gedink dat hulle deur hul eiewillige godsdiens die Here vir hul eie doeleindes kan gaan gebruik, vir hul gevoelens van onveiligheid met die volke wat rondom hulle vergader, dat hulle die krag van die Here tot hulle voordeel teen die ander volkere kan inspan. Maar die Here laat dit duidelik word: Ek laat My nie op 'n eiewillige manier dien nie. Die Here laat Hom nie bind nie. Selfs in sy sorg vir sy verbondsvolk bly Hy vry. Ons kan God nie bind en dwing nie. Ook nie in ons vroomste gebed nie. Selfs die altaar in die tempel van die Here word niks meer as 'n stapel klippe as die volk dink hulle kan die Here daaraan bind nie. 'n Stapel klippe wat afgebreek kan word. Die Here het Homself vrywillig aan sy tempel en altaar gebind, en Hy sal self voorskryf hoe dit in sy tempel moet gaan. Anders, as die volk nie na die voorskrifte van die Here luister nie, word die deure gesluit en word die altaar afgebreek.

Ons beskik nie oor die Here om Hom te dwing nie. Ons word geroep tot die diens aan die Here op die manier wat Hy vir ons voorskryf. Hy bestaan nie vir diens aan ons nie. Hy het ons wel uitgekies om sy genade aan ons te bewys. Hy het Hom in sy liefde vrywillig aan ons verbind. Ons mag Hom daarom nie probeer bind nie. Ek hoef die Here ook nie op hierdie manier te probeer dwing om my goedgunstig te wees nie. Die geweldige van die Here is dat Hy Homself vir ons gegee het. Dit is wat Israel in die tyd van Maleági vergeet het, dat Hy Hom uit liefde en genade aan hulle verbind het. Hulle hoef God nie aan hulle te bind nie. Hulle hoef God nie te oortuig om hulle genadig te wees nie. Maar hulle leef 'n eiewillige godsdiens. Daarom het die Here sy aangesig van hulle af weggedraai en sien hulle Hom nie in hul daaglikse lewe nie.

Eiewillige godsdiens maak dat ek God nie meer sien nie. Die Here het na sy volk gekom en gesê: "Jy sal vir My 'n volk wees en Ek sal vir jou 'n God wees." Hy het 'n ewige verbond met ons gesluit. Nie uit dwang nie, maar uit onbegryplike liefde vir ons. Waarom bind Hy Homself aan ons? Hy sal vir ons 'n God wees en ons 'n volk vir Hom, tot diens aan Hom!

Dit hou die profeet Maleági die volk ook hier voor in die woorde waarmee hierdie profeteboek begin: "Ek het julle liefgehad, sê die HERE. Nogtans vra julle: Waarin het U ons liefgehad?" Waarin nogal, Here? Kyk hoe lyk dit hier rondom ons, hoe gaan dit met ons. Die magtige volke staan hier rondom Jerusalem. Waar is u liefde? Dan antwoord die Here: "Is Esau nie die broer van Jakob nie? Tog het Ek Jakob liefgehad" (Maleagi 1:2). Die profeet wil vir die volk, wat onder andere deur die Edomiete, die nageslag van Esau, in dié tyd bedreig word, sê: Esau is nie 'n bedreiging nie. Maak oop julle oë en sien dat die Here Hom aan júlle verbind het en nie aan Esau nie. As Esau dink: ek gaan 'n magtige stad oprig, dan kom die Here en vee dit plat, vernietig dit. En julle vra: Waar is God?

As ons dan blind geword het vir die liefde van die Here in ons lewe, dan moet ons nie die Here aan die altaar en die tempel probeer bind nie. "Ek het my vrywillig aan Jakob verbind. Ek het na julle toe gekom. As julle maar net na my Woord van genade wou luister!" Want wat sê die Woord van die Here vir sy volk net voor hulle die land intrek om dit in besit te neem? "Maar baie naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart, om dit te doen." (Deuteronomium 30:12 e.v.). Hy kom lê sy Woord in ons hart en in ons mond, sodat ons Hom kan en mag aanroep op grond van daardie Woord. Daaraan verbind Hy Homself — aan sy Woord.

Glo my Woord!🔗

Daarom wil die apostel Paulus dan ook in die brief aan die Romeine (10:6 e.v.) die volgende sê: "Maar die geregtigheid wat uit die geloof is, sê dit: Moenie in jou hart sê nie: Wie sal in die hemel opvaar, naamlik om Christus af te bring". Wie gaan nou weer in die hemel opklim om Christus voor ons te stel, sodat ons kan sien en glo? Die geregtigheid uit die geloof sê ook nie: "Wie sal in die afgrond neerdaal, naamlik om Christus uit die dode op te bring?", so asof Christus dood is. As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, dan sal jy gered word. "Want die Skrif sê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie."

Sien u die geweldige? Ons hoef nie die Here uit die hemel te haal of uit die dieptes op te trek nie! Glo die Woord wat Hy in jou hart en in jou mond gelê het. Naby jou is die Woord. Glo wel die Woord van die Here waardeur Hy Homself uit genade aan ons verbind het! Niemand kan glo wat nie gehoor het nie en niemand kan hoor sonder een wat preek nie en niemand kan preek as hy nie gestuur is nie. Daarom: "Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig!" (Romeine 10:14 15) — sodat ons kan hoor en kan glo, kan sien en kan dien.

Die Here kom dus na ons nie in beeldediens nie, maar in sy Woord. In alle eenvoud: deur die Bybel. Met die Woord wat gepreek word. Ook wanneer ons met mekaar daaroor gesels op Bybelstudiekringe. In ons huisgodsdiens en in my persoonlike lees en bestudering  van die Bybel. God laat Hom nie deur ons beheer nie. Maar Hy verbind Homself deur sy Woord aan ons, heeltemal vrywillig, in liefde en genade. Die beeld van God wat ons het, is Christus Jesus, wat gesê het dat elkeen wat Hom gesien het, het die Vader gesien. Hy is die beeld van die onsienlike God. Hom sien ons wanneer Hy voor ons afgeskilder word in die verkondiging van die evangelie asof Hy voor ons oë gekruisig is. Maar dit kom deur die verkondiging van sy Woord.

Sy nabye Woord🔗

Die Here laat nie beelde van Homself maak nie. Maar beteken dit dat God ver is? Die Here God laat ons duidelik verstaan dat geen god so naby is soos die Here aan sy volk, so dikwels as hulle Hom in geloof aanroep nie. Naby julle is sy Woord, in jul hart en in jul mond. God se nabyheid in sy Woord maak dit sinneloos vir die volk om hom naby te probeer bring deur beeldediens. Ons het die heerlikheid van die Here aanskou deur Christus Jesus wat onder ons kom woon en leef het. Die verbod om beelde te maak, het niks daarmee te doen dat God onsigbaar of geestelik is nie. Want dit gaan in hierdie gebod nie oor die sigbaarmaking van God nie. Hy het Homself in elk geval sigbaar gemaak. Maar in sy Beeld, Christus, beskik ons nie oor God nie, ons beheer nie God in Christus nie. Dit gaan nie in hierdie gebod daaroor dat een sintuig van ons verhef is bo 'n ander nie. Ook nie dat ons denke oor die Here verhef is bo ons aanskoue van God nie. Wanneer ons wel geleer het om te luister na die Woord van die Here, sal Hy ons baie van Homself laat sien in ons lewe. God maak Hom sigbaar in my lewe. Nie deur 'n beeld nie, maar deurdat ek gaan sien hoe God elke dag in my lewe gaan ingryp.

As ons sy Woord glo, dan sal ons ook werklik sy krag in ons lewe sien. Jesus sê aan die Samaritaanse vrou wat Hy by die put van Sígar ontmoet (Johannes 4), dat ons moet leer om die Here te aanbid in gees en in waarheid. Want God is Gees. Die Samaritaanse vrou wys op die aanbidding van die Here op die berg Gerísim vir die Samaritane en vir die Jode in Jerusalem. Maar nou kom sê die Here Jesus dat, noudat Hy gekom het, die tyd vir aanbidding op hierdie manier verby is. Die aanbidding in gees en in waarheid verwys nou na die aanbidding van God in en deur ons Here Jesus Christus wat gekom het as die Beeld van God. In Hom is daar lewendmakende krag vir mense wat dood is in hul sonde, soos sy. Sy het in losbandigheid geleef met vyf mans en is besig om saam met nommer ses in sonde te leef sonder om met hom getroud te wees.

Teenoor die diens op die berg Gerísim of die aanbidding in Jerusalem, staan die geloof nou in Jesus wat voor haar staan. Geloof in Hom is aanbidding in gees en waarheid. En dan sien sy die krag van die Here in haar lewe! As sy sy Woord hoor. Sy hardloop na die stad en vertel van die Man wat haar alles oor haarself bekend gemaak het. Haar hele duistere verlede word verlig, sodat sy kan sien wat haar toestand voor God is.

Daarmee moet ons leef en werk — God se Woord in Christus Jesus. In ons huise en by die skool. By die verenigings en in die eredienste. En dit vra van ons inspanning. Dit vra van ons selfverloëning. Maar die Here beloof geweldige rykdom, want hierdie gebod het 'n belofte. Hy bewys sy barmhartigheid aan duisende van die wat Hom liefhet. Aan duisende bewys Hy die krag van die diens aan God, wanneer ons Hom dien volgens sy Woord. Daarvoor het Hy Homself aan ons verbind.