4 bladsye.

Sondag 38 Heidelbergse Kategismus

Lees: Exodus 16🔗

Is die Sondag vir u 'n feesdag? Is dit die hoogtepunt van elke week vir elkeen van u? Is dit 'n dag waarvoor ons kan bid aan die einde van die week en aan die einde van elke Sondag, en waarvoor ons die Here ook weer kan en wil dank? As ons nog nie die Sondag as 'n feesdag leer ken het nie, maak dit eintlik nie saak wat ons verder oor die Sondag te sê het of daarvan dink nie. Dan is die res van ons belangstelling rondom die Sondag waarskynlik gedryf uit bedenklike motiewe.

Waarom stel ons dit so skerp? Die rede is dat as daar een aspek van beide die Sabbat in die Ou Testament en die Sondag van die Nuwe Testament is wat bo alles uitstaan, dan is dit dat dit 'n feesdag was. Die sabbat was soos 'n asemteug wat ingetrek kon word as 'n vernuwing, waar daar, na 'n lang vermoeienis, weer krag gekry kon word. Die Sabbat was 'n fees van bevryding.

Sabbat en Sondag🔗

Wanneer ons vanuit die Woord van die Here meer oor die Sondag en die betekenis daarvan vir ons lewens wil leer, dan moet ons tegelyk na die Sabbat kyk. Daar is meer redes, maar dit is veral nodig omdat daar so opvallend min oor die Sondag in die Nuwe Testament staan. Natuurlik het dit vir baie aanleiding gegee om die gevolgtrekking te maak dat ons vandag nie meer tien nie, maar net nege gebooie het. Ons kan egter nie óm die opvallende ooreenkomste tussen die Sabbat en die Sondag kom nie. Albei is duidelik gefundeer in die vierde gebod. Dit behoort vir ons as Christene vanselfs¬prekend te wees.

Maar laat ons let op ooreenkomste wat belangrik is vir die manier waarop ons vandag die Sondag behoort te vier. In die woestyn, en later in die beloofde land, vier Israel die Sabbat as 'n weeklikse herinnering aan die wonderlike verlossing uit Egipte. Op die Sondag vier die kerk van die Here die groot verlossing van die mag van die satan, wat gekom het met Jesus se opstanding uit die dood. Sonder hierdie opstanding van Jesus uit die dood, sou die verlossing uit Egipte vir ons betekenisloos wees. Want uiteindelik is Hy tog die Seun van God wat uit Egipte geroep is om die ware verlossing vir sy volk, sy kerk, te kom gee (Matteus 2:15).

Op beide die dae, en dit is opvallend, neem die erediens van hulle wat deur die Here verlos is, 'n belangrike plek in. Dit beklemtoon ook dat albei feesdae bedoel was en is vir die volk van die Here om saam te kom vir die feesdag om saam fees te vier. Wie vier in elk geval op sy eie fees, terwyl hy alleen is? Fees word saam met ander gevier. Daarom is dit so opvallend dat op beide die Sabbat sowel as nou op die Sondag, byeenkomste gehou word ter ere van die God wat ons bevry het.

Beide hierdie dae het ook te doen met rus. Waarom is dit so belangrik? Waarom is die rus onafskeidbaar verbind aan die feesvieringe van die Sabbat en die Sondag? Omdat niemand kan feesvier terwyl ons aandag afgelei word deur ander verantwoordelikhede nie, wanneer ons geen rus het nie. As jy gaan feesvier, fokus jy op dit waarvoor die fees gevier word. Dit is nogal inspannend om op die regte manier fees te vier. 'n Fees is nie iets wat vir homself sorg nie. Daarvoor is goeie voorbereiding nodig en jy is aktief daarby betrokke. Daarom kan niemand feesvier terwyl hy opgejaag word deur allerhande ander dinge nie.

Daarom het die Here reeds in die Ou Testament vir sy kinders geleer om een uit die sewe dae, die sewende dag, af te sonder vir feesvier. As daar behoorlik feesgevier gaan word, dan moet die werk eenkant gelaat word. Ons kan dit so sê: daar moet ruimte wees vir feesvier! Die Sabbat is gemaak vir die mens om fees te vier. Maar dan staan hierdie feesdag nie los van die erediens nie. Dit is juis 'n fees wat gevier word as verlostes van die Here, waar hulle saamkom om fees te vier.

Die Sondag is gemaak vir die mens; dit leer die Here Jesus ons ook in die Nuwe Testament (Markus 2:27). Maar dan wel vir die mens wat weer geleer het om te verstaan wat dit beteken om in diens van die Here te wees. Die mens wat geleer het dat jy nie alleen aan jouself, aan jou eie begeertes en belange, behoort nie; om nie daarin vasgevang te wees nie. Dit is vir die mens wat weer verstaan om gerig op God te leef. Dit is 'n dag vir die mens om te wees dit waarvoor hy gemaak is en geroep word — 'n dag om hom te verlustig in die Here! As ons dus sê: dit is 'n dag vir die mens, dan is dit dus nie vir ons eie belange, los van God, nie. Dit is vir die mens om mens van God te wees.

Exodus 16🔗

In Exodus 16 lees ons van die manna. Hulle moes leer dat hulle elke dag manna van die Here ontvang — elke dag nuwe voedsel — en dat dit nie kan oorstaan tot die volgende dag nie. Met die uitsondering van die Sabbatdag. Op die dag voor die Sabbat moes hulle 'n dubbele deel insamel. Dit is baie duidelik dat die Here sy volk wou leer om sonder ophou in afhanklikheid van Hom te lewe. En Hy sê ook in vers 4, wanneer Hy die manna gee, dat Hy hulle op die proef wou stel of hulle werklik in gehoorsaamheid aan Hom wou leef. Uiteindelik kan ons dit dan ook presies so sê van die gehoorsaamheid aan die vierde gebod. Hier is die proef op die som. Is ons werklik gehoorsaam aan die vierde gebod? Gaan ons dan ook duidelik laat blyk dat ons eintlik in alles in afhanklikheid van God leef? By Israel sou dit duidelik word uit iets baie eenvoudigs, naamlik uit die hoeveelheid manna wat hulle insamel. Hulle mag nie meer insamel as wat hulle elke dag nodig gehad het nie. Hulle moes daarop kon vertrou, en ook duidelik wys dat hulle daarop vertrou, dat daar die volgende dag weer manna sou wees, dat God hulle die volgende dag weer sou gee wat nodig is. God het dit belowe. Die enigste uitsondering was die sesde dag. Op daardie dag moes hulle hul voorberei op die Sabbat.

'n Maksimum kwota per familie is vasgestel — een gomer. Wanneer hierdie voorskrif van die Here nagekom word, sal daar genoeg vir almal in die laer wees. Dan sal die een nie die ander se brood voor sy neus gaan wegraap nie. Dan sal niemand gebrek ly nie. Daar sal selfs meer as genoeg wees. Die afwesigheid van die manna op die Sabbat sou die volk ook nadruklik leer dat dit geen "gewone" natuurverskynsel is wat, ongeag van God se betrokkenheid daarby, elke dag maar weer manna gaan produseer nie. 'n Heel aangrypende gebeurtenis elke dag van die week weer; wat 'n wonderlike natuurverskynsel! Nee, want daar is een dag in die week in 'n vaste siklus, waarop die Here dit nie gee nie. So moes die volk van die Here duidelik leer om op Hom te vertrou vir hul daaglikse brood. Dit is werklik brood uit die hemel! Ja, dit is nie maar die voortgang van natuurprosesse nie. Dit is nie maar die reëls van 'n vryemarkstelsel wat sorg dat die inkomste elke dag daar is nie. Dit is Hy wat vir my sorg. Juis hierdie sewende dag, die Sabbat, moes die volk laat verstaan hoe afhanklik hulle van die Here is. Dit is Hy wat die kos gee. Dit is Hy wat dit van hulle onthou as daar nie kos is nie. Die manier waarop jy op die Sabbat voorberei, sal duidelik laat blyk of jy leef uit daardie besef al dan nie.

Geen slaaf van ons werk🔗

Waarom het die Here dus vir ons die rusdag gegee? Die Here het dit vir ons gegee as 'n dag waarop ons kan asem skep! Die mens met sy werkers en diere moet tyd kry om te rus. Sal ons in ons tyd sê: "Die mens met sy masjiene en tegnologie moet tyd kry om te rus?" En dan kan ons wel sê: "Ek het nog genoeg liggaamskragte oor; ek kan goed klaarkom sonder die rus op die sewende dag." Ja, die een is sterker as die ander, en sommige mense kan aanhou sonder ophou, maar die Here neem Homself dan as voorbeeld! In Eksodus 31:17 motiveer die Here die rusdag in die feit dat Hy self ná die ses dae waarin hy die hemel en die aarde gemaak het, gerus het en Hom verkwik het! "Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, maar op die sewende dag het Hy gerus en Hom verkwik." Die Here wil dat ons rus neem. Hy wil toesien en ons moet ook oppas dat ons geen slawe van ons werk word nie! Ons kan sê: "Ja, maar ek kan klaarkom sonder die rus, en dis so 'n belangrike werk wat ek doen." Oppas, mense, dit gaan nie daaroor of jy kragte het of nie. By die Here gaan dit om die vraag of jy 'n slaaf is van jou werk of nie. Die lewe as kind van die Here dryf en skreeu teen enige materialistiese instelling van ons en van die samelewing waarin ons woon. Jy hoef nie en mag nie dink dat die voorspoed van jou onderneming of van die skool of van jou werk in die wyk as ouderling of predikant, van jou afhang nie. Dit is materialisme om te dink dat die sukses van ons lewe afhang van ons eie insette.

Die Here wil juis vir jou sê: "Neem een dag se rus — Ek sal vir jou sorg." Dit is die geloofstoets waarvoor elke eerste dag van die week ons telkens weer stel. Die hele lewe van die volk Israel was georden rondom hierdie bewuste lewe van afhanklikheid van die Here. Daar was die weeklikse Sabbat, die Sabbatsjaar en ook nog die jubeljaar. Dit alles gebou rondom die wete: ek is nie die een wat finaal vir myself sorg nie. Die Here wil ons deur hierdie gebod dus leer om uit sy hand te lewe. Nie teësinnig nie, maar Hy wil ons werklik leer om uit die hand van die Here te wil lewe. Dit is nie ons wat sorg vir ons daaglikse brood nie. Die Here wil dat ons sien en erken en ook in geloof bely dat dit Hy is wat dit doen.

Om ons te heilig🔗

Maar die vierde gebod leer ons meer as net ons afhanklikheid van die Here. In Eksodus 31:13 lees ons ook dat die Sabbat 'n teken is tussen die Here en sy kinders. 'n Teken sodat ons kan weet dat Hy die Here is wat ons heilig. 'n Teken wil ons aandag bepaal by iets wat belangrik is. Hy wil ons aandag vestig op die feit dat Hy besig is om ons te heilig! Dink maar wat in Deuteronomium 5 staan by die motivering van die vierde gebod. Die doel van die rusdag word daar genoem. Op die Sabbat moes die volk nie werk nie. Waarom nie? Want die volk moes tyd neem om daaraan te dink dat hulle in Egipte slawe was! Dit was die teken wat die Here hulle wou gee. Hulle moes dink aan die wonderlike verlossing van die Here. Daarvan is die Sabbat 'n teken! Die teken is vir ons gegee om ons neuse weekliks daarop te druk dat ons vry van slawerny moet wees. Nie net van die slawerny waaraan ons gebind is deur ons werksdrifte nie, maar vry van die heerskappy van die satan oor ons lewe. Vry van die slawerny van ons werk. Maar ook vry van ons sonde, vry om die Here te dien. Hy is die Een wat ons heilig.

En hoe word ons oë weer op hierdie teken gevestig? Met die kraai van die haan wat die sonsopkoms van elke Sondagoggend aankondig? Nee, ons aandag word nie deur die haan op die teken gevestig nie. Maar op die rusdag het die volk van die Here samekomste gehou. Daar word ons herinner aan die teken van God se genade wanneer ons sy Woord hoor verkondig. Dan kan ons oë weer oopgemaak word vir hierdie magtige teken van verlossing wat Christus vir ons gee. Dan sien ons weer die betekenis van die rusdag, van hierdie teken. Nie die kraai van die haan nie, maar die musiek van die evangelie wat verkondig word. God laat op hierdie dag spesiaal sy Woord aan ons verkondig. Twee maal. En het ons tog maar die krag gehad vir drie geleenthede, of selfs vir vier, vroeg en later in die oggend, in die middag en later in die aand, sodat ons oë gevestig kan word op hierdie teken van God! Daar lê die hele agtergrond vir ons weeklikse eredienste. Net so moes die volk in die Ou Testament ook in die tempel kom of bymekaar kom, waar hulle ookal was. So lees ons ook dat Jesus die gewoonte gehad het om weekliks na die sinagoge te gaan op die Sabbat om onderrig te word.

Juis op die rusdag moet ons sien hoe die Here vir ons rus gee deur sy evangelie. Hy wil ons heilig deur ons te laat sien hoe Hy ons bevry van die mag van die slawerny van die sonde en al die gevolge van die sonde, ook van die uitwerking van die sonde op ons lewe. Is dit nie opvallend hoe gereeld Jesus nie net na die sinagoge gegaan het nie, maar ook juis op die Sabbat mense genees het? Dit was later so opvallend dat die Fariseërs probeer het om Jesus daarop uit te vang. Die man met die verdorde hand word genees, blindes sien en kreupeles loop weer. Hulle kan weer die volle vryheid van die verlossing sien wat God vir sy volk begeer. En dan, tydens die Paasfees, offer Jesus Homself vir ons sonde om finaal die oorwinning oor die mag van die satan en die sonde te bewerk. En op die Sondag, nadat Hy op Vrydag gesterf het en op die Sabbat in die graf was, staan Hy op uit die dood!

En nou word dit vir ons as teken gegee: nie meer die verlossing uit Egipte nie, maar ons aandag word juis gevra vir die volmaakte werk van Jesus aan die kruis en vir die leë graf. Dit is die teken wat God ons gee vir ons heiliging. En dan sien ons hoe die gelowiges op die eerste dag van die week saamgekom het om die verlossing te vier. En nou mag ons die dag nie meer deurbring asof Christus nog nie gekom het nie. Ons mag nou volkome in die rus van die Here ingaan. En daarom kyk ons vooruit na die dag dat ons sonder enige belemmering in Christus se rus sal leef as Hy weer kom.

Rus van ons werke🔗

Dit kan so maklik gebeur dat daar in die gemeente meningsverskille kom oor hoe ons die Sondag moet inrig. Wat mag en wat mag nie? En daar is ook verskille onder ons. Is dit dalk omdat ons die dag soms opeis as 'n dag waarin ek doen wat ek wil? Is dit omdat ek die res van die week op so 'n manier geleef het dat ek Sondag nie meer die krag en energie het om God die aanbidding te gee soos wat dit Hom toekom nie? Of is die oorsaak soms dat daar te min sig is op die feit dat dit geen dag van straf is nie? Dit is nie 'n dag waarop die Here 'n las op ons kom lê nie, maar juis 'n dag van bevryding. Twee dinge oor die viering van die Sondag word in die Bybel baie duidelik aan mekaar verbind. Enersyds is daar die onderbreking van ons werk en andersyds die geleentheid vir die Here om in ons te werk.

Die rusdag is dus wel vir die mens gegee as geleentheid om sy werk te onderbreek. Dit is 'n rusdag. Maar dan wys die Kategismus ons heel tereg op hierdie spesifieke doel: dit is 'n rusdag sodat Hy in ons kan werk! Die rusdag is daarom tog iets totaal anders as 'n vrye dag, 'n af dag, 'n dag vir my. Ja, dit is 'n rusdag en ons mag ook rus en slaap. Maar dit is nie 'n af dag nie! God wil ons juis laat rus sodat ons kan loskom van ons strykwerk, ons loopbaan, ons opleiding — kortom, van alles wat ons vir ses dae van die week totaal besig hou. Soos wat Israel moes leer dat die mens nie van brood alleen leef nie, maar van elke Woord wat uit die mond van die Here uitgaan, so moet ons ook leer om elke dag so te leef. Nie die hele dag op die brood vir ons mae gerig nie, maar ook en juis op die brood van die ewige lewe. Daarom was daar ook geen manna vir hulle op die Sabbat om op te tel nie. Gaan rus! Jy mag op die Sabbat nie brood optel nie. Want die Sabbat is daarom ook die Sabbat van die Here. Dit is, soos dit in die Nuwe Testament genoem word, die dag van die Here. Dit is sy dag waarop Hy op 'n besondere manier met en in ons wil werk. Vir my 'n rusdag, maar tog die dag waarop God in my wil werk.

Die vierde gebod wil ons dus leer om ons hele lewe op God te rig. Sodat ons deur Hom na sy beeld vernuwe kan word. Ons moet kans kry om afstand te doen van ons eiewilligheid en verkeerde begeertes. Daarom dat die vierde gebod in die Nuwe Testament ook staan in die teken van die samekomste van die gelowiges om onderrig te word uit die Woord van die Here. Die Here wil ons rus gee. Van ons daaglikse werk, verseker. Maar Hy wil ons ook ewige rus gee. En dit kry ons deur die evangelie. In die lig hiervan word allerhande vrae oor wat ons mag en nie mag nie, oor wat ons moet en nie moet nie, eintlik heel vreemde vrae.

Waarom sal ons gaan fokus op die "mags" en "moenies"? Hoekom staan ons dikwels so verleë oor die manier waarop ons die Sondag moet deurbring? Is dit nie omdat ons nie werklik weet hoe om ons vryheid te vier nie? Is dit nie omdat ons nie werklik verstaan hoe die Here ons lewe wil vernuwe nie? Hoe Hy ons totaal nuwe mense wil maak? Is dit nie omdat ons sukkel om oor ons geloof met mekaar te praat nie? Ons kan dit maklik hê oor reëls van moets en moenies. Maar die Sondag is 'n dag van opvoeding in die geloof; dan kan ons rustig die tyd neem om te praat oor ons geloof. Oor ons lewe as Christene op elke dag van die week. Om as gesin en gemeente saam te sing. As ons dit nie doen nie, gaan die erediens totaal buite ons lewe staan en word ons geloof iets "wêreldvreemds". Nie vir die ongelowiges nie, maar vir onsself.

Ons moet daaraan vashou dat juis omdat daar so dikwels 'n teenstelling is tussen God se regering en ons eie begeertes, dit slegs moontlik is om dit te herstel wanneer ons die rus kry, sodat die Here in ons kan werk. Daarvoor het die Here ons die rusdag gegee. Dat Hy in ons kan werk!