4 bladsye.

Sondag 39 Heidelbergse Kategismus

Lees: Eksodus 2:1 25; Hebreërs 11:23 28🔗

God regeer deur ouers🔗

Wat weet ons uit die Bybel van Moses se ouers? Ons weet dat hulle tenminste nog twee ander kinders gehad het: Aäron en Mirjam. Dat hulle deel van die gemeente van die Here in Egipte was. Hulle was Amram en Jogébed. Eintlik weet ons nie veel meer as dit nie. En tog word hulle spesiaal genoem saam met die wolk van getuies in Hebreërs 11. Ons lees daar: "Deur die geloof is Moses ná sy geboorte deur sy ouers drie maande lank weggesteek ... en hulle het nie die gebod van die koning gevrees nie." Hulle name word hier nie eers genoem nie. En deur hierdie geloofsdaad van sy ouers gryp die Here op 'n wonderlike manier in in die lewe van Moses. En nog meer: deur hierdie daad gryp die Here in in die verlossing van sy volk uit Egipte. En so wil die Here die lewe van Moses deur sy ouers regeer. Uit die verdere lewe van Moses word dit duidelik.

Hier het ons onmiddellik die bedoeling van God met die vyfde gebod. Dit staan ook so in die laaste woorde van die antwoord van hierdie Sondag. Hy wil ons regeer deur ons ouers. En deur ander mense met gesag wat Hy oor ons aangestel het. Dit het alles met ons verlossing te doen. Daarom, so leer hierdie gebod, soos dit ook vir ons aangebied word in Eksodus 20 en Deuteronomium 5, daarom is hierdie gebod ook so belangrik. Want die Here het 'n belofte daaraan toegevoeg (Efesiërs 6:2). Hy wat sy vader en sy moeder eer, sal lank bly woon in die land wat die Here vir sy kinders beloof het. Hy sal die verlossing van die Here geniet.

Daarom sien ons dat die vyfde gebod nie maar bloot verhoudinge tussen mense onderling reël nie. Dit wil ons die manier wys waarop die Here self oor ons wil regeer. Deur ouers, onderwysers, die regering wat God in ons land aangestel het. Deur ampsdraers in die gemeente. Deur ons mans in die huwelik wat die Here vir ons gegee het. Dit raak nie alleen kinders nie, maar ook volwassenes. Nie net hulle wat onder gesag staan nie. Hulle wat van die Here die gesag ontvang het, leer hier waarvoor hulle die gesag ontvang het. God wil ons deur gesagsdraers regeer.

In die geloof opvoed🔗

In die eerste plek gaan ons let op wat die geskiedenis ons van Moses leer. Wat het die geskiedenis van Moses se lewe kort na sy geboorte met die vyfde gebod te doen? Die geloof van Amram en Jogébed laat ons sien dat die gesag van ouers oor kinders nie daar is vir persoonlike gerief en mag van die ouers nie, maar omdat die Here hulle toerusting wil gee vir die groot taak waarvoor Hy hulle geroep het. Vir die taak van opvoeding in die geloof. In die uitvoering van hierdie taak van Jogébed as moeder, het sy haar lewe in gevaar gebring. In 'n situasie waar dit lewensgevaarlik geword het vir die kinders van die Here in Egipte, waag sy haar eie lewe vir die opvoeding van haar kind. Moses se ouers, so lees ons in Hebreërs 11, vrees nie die bevel van die koning dat alle seuns van Israel wat gebore word, doodgemaak moet word nie. Vir drie maande steek hulle Moses weg in hulle huis. Maar dit word later te gevaarlik en Jogébed maak 'n plan. Moses word in 'n mandjie van biesies neergelê en tussen die riete langs die Nylrivier versteek.

Jogébed beraam 'n gevaarlike plan om hierdie seun, wat dalk die beloofde Messias kon wees, weer in haar huis terug te kry. Waarvoor doen sy dit? Was sy maar net 'n moeder wat 'n onoortreflike liefde vir haar mooi seuntjie gehad het? Nee, sy wou hierdie kind opvoed in die geloof in die Here — in die beloftes van die troue genade en sorg van die Here. Moses moes opgroei as deel van die kerkjeug, om dit nou maar in Nuwe Testamentiese taal te sê. Hy moes leer dat hy nie 'n Egiptenaar is nie. Hy moes besny word en weet wat dit beteken, en leer watter beloftes die Here daaraan verbind. Die Here sal ook vir hom 'n God wees. Die Here het verlossing vir sy kinders beloof, en ook Moses moes weet dat daar vir hom verlossing van sy sondes was, verlossing van die duiwelse mag. Hy moes leer om op die Here te vertrou en in Hom te glo. Ook in die moeilikste omstandighede daar in Egipte.

Juis hierdie geloof dat die Here God daardie ouers aangestel het om hulle kind hierin te onderrig, veroorsaak dat Jogébed nie die kind sommer prysgee nie. Juis in hierdie geloof, leer Hebreërs 11 ons, het sy ouers verseker dat hulle hom in hul eie huis kry en hulle opvoedingstaak as verbondsouers kon volbring. Hulle het ook by wyse van spreke die belofte gemaak dat hulle hul kinders sal onderrig in die evangelie en ook sal laat onderrig. Dit is tog wat hulle as verbondsouers gedoen het, as ons dit in ons eie taal van vandag kan sê. So ernstig neem hulle hul taak op dat hulle hul lewe daarvoor waag.

Sien u, liewe ouers, waarvoor die Here u gesag oor u kinders gee? En kinders, sien julle ook waarvoor die Here in sy goedheid vir jou ouers gee? Hy gee vir jou ouers om jou die lewe in Christus te gee! Verlossing vir jou, deur jou ouers se opvoeding. Geloof is nie erfgoed wat jy by jou ouers kry nie, en jy kan ook nie verlossing erf nie. Maar jy moet leer, volgens die vyfde gebod, om die onderrig van jou ouers te gehoorsaam. Van hulle moet jy leer om op die Here te vertrou. Nie om daarin te roem dat jou ouers sulke vroom mense is nie, maar deur hulle leer jy vertroue in God. In hulle moet jy sien wat dit beteken om as Christen te lewe. En dit is nie maklik vir ouers nie. Die taak om ons kinders op te voed, is geweldig moeilik, ook in die tyd waarin ons leef. Dit het nie eers in moderne tye so geword nie, dit is nie 'n tipiese verskynsel van ons tyd nie. Let maar weer op Jogébed en Amram. Hulle doen dit letterlik in lewensgevaar en as slawe in Egipte, waar daar geen uitsig vir die kinders is nie, tenminste menslik gesproke. En dit met die wete dat hulle kind op jeugdige ouderdom die huis moet verlaat! Dat hulle kind in gevaarlike omstandighede moet opgroei. In die paleis van die Farao se dogter. Hulle het hom nie meer in eie hande gehad nie. Toe hierdie seun Moses grootgeword het, bring Mirjam hom na die Farao se dogter en hy het as haar seun grootgeword!

Voel ons as ouers nie dikwels dat ons kinders uit ons hande geneem word nie? Op vroeë ouderdom skool toe; en wat wag vir hulle op hoërskool en universiteit? Watter geweldige invloede moet hulle nie leer verwerk nie? Nog kind, dan moet hulle in die wêreld in met al die invloede wat op hulle wag. Ons vrees die oomblik dat hulle grootword en uit die huis uit moet gaan. Wat wag vir hulle?

Maar, jongmense, nou sien u ook waarom die Here wil dat ons ons ouers gehoorsaam moet wees. En ons onderwysers. Is dit omdat ons hulle sulke goeie mense vind? Gehoorsaam ons hulle nadat ons bevind het hulle is mense wat nie self ook swakhede en sondes het nie? Nee, hulle gesag hang nie af van hulle persoonlikhede of sosiale status of kerklike posisie nie. Gehoorsaamheid aan my ouers vra in die eerste plek of ek die boodskap van genade wat hulle my moet bring, glo. Of ek erken dat God hulle oor my aangestel het. Die vyfde gebod vra dus in die eerste plek geloof van my. Sien jy dat dit nie maar 'n saak van jou voorkeur of hulle persoonlikhede of intelligensie is nie? Dalk is jy veel meer begaafd as hulle; dit kan wel gebeur! Maar die Here vra of jy Hom glo van Wie hulle jou geleer het en laat leer het. Daarop kom dit vir ons as jeug uiteindelik neer! Nie jou ontwikkelde of ontwikkelende eie wil teen hulle wil nie. Maar die wil van God teenoor jou wil. Wil jy Hom aanvaar as Verlosser en ook op Hom vertrou? Wil jy luister na die Woord van die Here? Dit is die vraag waarmee ons jeug gekonfronteer word.

'n Gebod met 'n belofte🔗

Sien jy waarom hierdie gebod so belangrik is? In Efesiërs 6:2 sê Paulus: hierdie is 'n belangrike gebod met 'n belofte. Dit het die belofte dat die Here jou wil seën in jou gehoorsaamheid. Gehoorsaamheid aan ons ouers het te doen met ons vryheid. Onderrig aan ons kinders het te doen met die bewaring van hulle vryheid en ons s'n. Ook waar dit nodig is om ons kinders te tug. Hy wat sy kind nie tug nie, het hom nie lief nie. So leer die boek Spreuke ons in hoofstuk 13.

Hoe staan dit met die tug en dissipline in ons huise tussen ouers en kinders, en in ons gemeente? Mag alles maar? Bly ons opvoeding maar by praatjies? "My liewe kind, moenie, moenie! Jy maak Mammie se hartjie seer as jy dit doen." Of: "Dis ongerieflik vir Mamma as jy nie luister nie." Dit is nie opvoeding nie! Leer hulle die vrees van die Here; vertel vir hulle waarom nie. En tugtig as dit moet. As jy jou kind dit weerhou, bewys dit dat jy hom nie liefhet nie. Jy laat hom ten gronde gaan! Wat doen ons met ons kinders? Het ons hulle werklik lief? Word die tug heel los van ons geloof gesien? Word dit 'n uiting van ons frustrasies en woede? 'n Skrywer sê so mooi dat die tug 'n bitter pil is wat versoet moet word in wysheid en liefde, anders word die pil uitgespoeg. Versoet dit met wysheid en liefde. Wys hulle waaroor dit gaan. Nie maar oor Pa en Ma se gerief nie, oor hulle voorkeure, luste en begeertes nie. Nee, dit gaan oor die vrees van die Here. Hoe maklik word van die tug 'n grap gemaak of 'n geleentheid om iemand belaglik voor te stel. Dit het niks te doen met Christelike opvoeding en die geloof nie. Saam met straf moet daar altyd die vergifnis wees. As ons bereid is om tug in enige vorm toe te pas, moet ons bereid wees om ook te laat verstaan dat die erns van God se vergifnis daaraan verbind is. God se vergifnis gaan hand aan hand met hierdie tug. Dit is geen eenvoudige taak om met wysheid en liefde op te voed nie.

Bewaring van ons vryheid🔗

Moses het goed verstaan waaroor dit gegaan het in die opvoeding wat sy ouers hom gegee het. Hy het verstaan dat hy moet leer leef as kind van God. Nadat hy begin leef het as seun van die Farao se dogter, het hy nie vergeet dat hy uit die nageslag van Jakob is nie. As seun van die Farao se dogter soek hy sy broers op, die Hebreërs wat slawe is. Hy wat leef as 'n prins van Egipte, soek die slawe op, sy broers. Toe hy 'n Egiptiese man 'n Hebreeuse man, een van sy broers (Eksodus 2:11), sien slaan, het hy die Egiptenaar doodgemaak. Hieroor het Hebreërs baie te sê. Moses was nie maar 'n bakleierige vent wat sleg opgevoed is nie. Hy was nie iemand wat nie geweet het wat om met frustrasies en woedebuie te maak nie. Nee, Moses sien hier sy roeping as kind van God om deel te wees van die volk van die Here in Egipte. Hy het hier juis deur die geloof opgetree, so leer Hebreërs 11 ons. Hy het deur die geloofsdaad gekies om nie die Farao se dogter se seun genoem te word nie. Sien u die geweldige vrug van die getroue opvoeding van sy ouers? Die vrug van sy ouers se opvoeding was dat hy, toe hy 'n volwasse man was, gekies het om eerder deel van die volk van God te wees as om deel te hê aan die sonde van Egipte.

Wat 'n bemoediging hou dit nie vir ons as ouers in nie! Juis in hierdie tyd. Hoe dikwels wonder ons wat van ons kinders sal word. Ons het gepraat en geleer en gelees, getug en foute gemaak en in baie opsigte misluk, want ons het ook ons eie sondes. Wat word van ons kinders? Veral wanneer hulle nie meer, by wyse van spreke, in ons eie hande is nie? Die jongman Moses, wat die Egiptiese ryk aan sy voete gehad het, erfgenaam en waarskynlik troonopvolger in die land, hy kies om kind van God te wees. Wat 'n geweldige appèl is dit nie ook op elke jongmens in die gemeente nie! In die plek van die sondes waarin hy homself kon verdrink het — dink maar aan die harems wat op hom gewag het, die drinkpartye, die onbesorgde lewe, die lewe vir homself, die rykdom en skatte — in die plek daarvan gaan kies hy om die smaad van Christus te dra. Dit wil hy hê as vrug van die opvoeding wat hy gekry het. Eerder uitkom daarvoor dat hy verbondskind is, as dit alles!

In die plek van die skatte en rykdom van die ryk van Egipte, sien hy uit na die beloning van God — die lewe met die volk van God in die beloofde land Kanaän. Hy verkies die toorn van die koning van Egipte, omdat hy geleef het soos een wat die Onsienlike sien. Deur die geloof gaan vier hy die fees van verlossing, sê Hebreërs 11; deur die geloof gaan vier hy die pasgafees saam met die volk en het hy deel aan die besprenkeling met die bloed, eerder as om op die troon in Egipte waarskynlik aanbid te word as 'n godheid. In die taal van vandag gesê: Moses verkies om in Christus te glo, besprinkel te word met die bloed van Christus; om belydenis van geloof af te lê en saam met die gemeente aan die nagmaaltafel te sit, eerder as die voordeel van wat die wêreld hom kan bied. Deur die geloof neem hy sy doop ernstig op, trek deur die water van die Rooi See, wat die doop toe reeds voorstel, saam met die volk van die Here, en sien hoe hulle wat die beloftes van die Here nie wou glo nie, die ongelowige Egiptenaars, in dieselfde see verdrink. Die bloed van Christus getuig teen hulle. Hulle wat nie in Christus wil glo nie, sal ook deur Hom veroordeel word. Sy bloed sal teen elkeen van hulle getuig wat nie in Hom wil glo nie.

Dít is die gehoorsaamheid aan die vyfde gebod wat die Here vra — van ons wat gesagsdraers is, maar wat self ook onder gesag is. Eer jou vader en jou moeder wat jou vertel van die Here se genade en liefde en vergifnis. Neem God se Woord ernstig op. Ons ouers moet ons ons doop reg leer verstaan. Wanneer ons gedoop word, verstaan ons nog nie die feit dat die Here ons sy kinders gemaak het nie. Soos wat die klein Moses nie verstaan het waarom hy besny was nie. Hy sou dit ook nie verstaan het as hy van die begin af opgevoed was as die seun van die Farao se dogter nie. Maar Amram en Jogébed leer hom dit verstaan. Hy leer verstaan dat hy 'n kind is van Abraham, Isak en Jakob; dat hy 'n Verlosser, Christus, verwag. En hy eer sy vader en sy moeder as hy die Egiptenaar doodmaak wat een van die kinders van die Here vervolg. Hy eer hulle as hy vlug vir die aantreklikheid van die sondige lewe in die paleis van die Farao. Hy vlug vir die begeerlikhede van 'n jongmens en kies om die geregtigheid van God na te jaag saam met die wat die Here aanroep uit 'n rein hart (1 Timoteus 6).

Lewe in die beloofde land🔗

Hoe wonderlik eindig hierdie hoofstuk! "En God het hulle gekerm gehoor, en God het gedink aan sy verbond met Abraham, met Isak en met Jakob. En God het die kinders van Israel aangesien" (Eksodus 2:24 25). Wat 'n belofte en seën is daar nie op die pad van getroue opvoeding van ons kinders nie! Jogébed was getrou "in die klein dinge". En die Here dink aan sy belofte van genade. Hierdie is 'n belangrike gebod, want dink aan die belofte! Hy het sy volk deur Moses op 'n magtige manier uit Egipte uitgelei en hulle die land gegee wat Hy beloof het.

Gehoorsaamheid aan hierdie gebod vra dat ons sal leef soos mense wat die Onsienlike sien. Wat nie maar net hulle ouers met hul swakhede en gebreke raaksien nie, maar wat God sien wat sê: "Gehoorsaam hulle, want Ek beveel jou dit. Gehoorsaam hulle wat gesag oor jou het, want dit is goed!" Ook wanneer hulle ernstige gebreke het. Laat ons met hulle geduld hê. Met my ouers wat nie altyd te waffers leef volgens hulle eie belydenis nie. God wil my deur hulle regeer. Deur my onderwyser wat foute maak. Deur my ouderling wat soms struikel oor sy woorde. Of my predikant wat gebrekkig is in sy dienswerk. Deur ons land se regering wat oënskynlik nie die Here wil erken as God nie. Selfs al moet ons baie ly. Laat ons hulle eer, want dit is reg. Laat ons hulle bly eer in alles wat nie teen die wil van God is nie. Soms moet ons teen gesag kies, soos wat Amram en Jogébed gedoen het. Hulle het die gebod van die Farao nie gehoorsaam nie, en God het hulle geseën. Soms is dit nodig om ongehoorsaamheid te bewys, sodat ek juis aan hierdie gebod gehoorsaam kan wees. Laat ons ons ouers gehoorsaam bly in alles wat nie teen die wil van God is nie. Maar waar die dogter deur haar pa misbruik word, mag sy nie stilbly nie. Waar die vrou deur haar man mishandel word, mag sy dit gaan vertel en daaroor praat. Sy hoef haarself nie as 'n slaansak te beskou nie. Maar laat ons almal saam wel bereid wees om leed te verdra, omdat die Here ryke loon beloof het wanneer ons húlle gehoorsaam is wat Hy oor ons aangestel het as gesagsdraers.