4 bladsye.

Sondag 4 Heidelbergse Kategismus

Lees: Deuteronomium 32🔗

God se reg🔗

Is God werklik regverdig teenoor ons? Hy vra die onmoontlike van ons in sy wet; Hy vra dat ons sy wet volmaak moet gehoorsaam. In Sondag 3 van die Kategismus het ons daarop gelet dat ons so verdorwe is dat ons glad nie in staat is om iets goeds te doen nie. En tog vra die Here van ons volmaakte gehoorsaamheid. Waarom eis die Here dit van ons in sy wet? Miskien pla die meeste van hierdie vrae vir baie van ons glad nie eers nie. Ons erken met 'n gladde belydenis dat ons almal sondaars is, maar tog sien ons ons gehoorsaamheid aan die Here uiteindelik ook maar weer as 'n saak van "ek doen tog my bes". Dit sal tog vir die Here aanvaarbaar moet wees. Dan sal die Here my tog nie straf nie. Wanneer dan in so 'n klimaat oor die erns van ons sonde gepraat word, dan vind die meeste mense dit maar 'n heel "negatiewe" benadering. "Ons is mos ryk deur die genade, waarom sal ons nog aandag gee aan ons eie sondes en tekortkominge; die Here het ons tog ryk gemaak in Christus?"

Is God wreed?🔗

Die eerste vraag van Sondag 4 lyk asof dit aandui dat God wreed en onregverdig kan wees. Vra die Here nie van arme siek mense om hulself gesond te maak nie? Eis die Here nie van 'n lam persoon om te loop, wanneer Hy sy wet bly handhaaf teenoor ons as sondaars nie? Dit is mos wreed?! Om aan 'n lamme te sê: "Jy weet mos, jy moet eintlik kan loop" — dit is geweldig wreed. Ons moet nie van die erns van hierdie vrae probeer wegkom nie. Ons moet nie as verklaring aanbied dat die Here nie meer volmaakte gehoorsaamheid van ons verwag nie. God vra niks minder as volmaakte gehoorsaamheid nie. Ons kan nie sê dat die Here maar net tevrede moet wees met ons beste nie. Nee, die Here is nie tevrede met ons beste nie. Dit is nie aanvaarbaar vir God nie. Ons beste is nie goed genoeg nie!

Sê ons dit uit vyandige gesindheid? Nee! Gelukkig maar is ons beste nie goed genoeg vir God nie. Gelukkig nie! En dit is geen neerdrukkende wete vir 'n gelowige nie. Dit is juis 'n bevryding! Die eis van die wet van die Here het sedert die sondeval nie verminder nie. God kom stel nie laer eise aan ons as wat Hy voor die sondeval aan Adam gestel het nie. Hy is nie ewe skielik met die beste wat ons aan te bied het, tevrede nie. God kom vra steeds van ons wat ons nou nie meer kan doen nie. Maar dit is nie God se skuld nie. Hy het ons so gemaak dat ons kon doen wat Hy van ons vra. Alles wat Hy van ons geëis het, het Hy ook reeds vir ons gegee. Ons is soos die jongste seun in die gelykenis van die verlore seun, wat sy erfdeel gevat en dit gaan vermors en verkwis het. Die gawes wat ons gekry het, het ons eenvoudig vermors. Dit is nie die vader se skuld dat die seun in daardie gelykenis in nood gekom het nie. Dit was die seun se eie skuld. Ons moet sien waar lê die skuld, die ongeregtigheid. Nie by God nie, maar by die mens.

God is nie onregverdig nie. Dit is ons wat onsself beroof het van die moontlikhede om die Here te gehoorsaam. Dit is dan tog verregaande om nou die Here te verkwalik dat Hy van ons kom vra wat ons nie meer kan doen nie. Gelukkig maar bly Hy dieselfde. Stel u voor die Here na die sondeval die eis van gehoorsaamheid aan sy volmaakte wet laat verval het. Sou dit nie onregverdig wees nie? Ons sou dan tereg die vraag kon vra: Is God dan betroubaar? Is Hy wel so 'n vaste Rots, waarvan ons ook in Deuteronomium 32 lees? Dan was Hy mos onregverdig teenoor Adam en Eva deur van hulle so 'n streng gehoorsaamheid te verwag en hulle toe te straf nadat hulle maar een vrug geëet het? Sou God dán nie onregverdig wees nie?

Juis die feit dat die Here na die sondeval sy eise nie laer gaan stel het nie, is vir ons 'n geweldige ryk vertroosting. Wanneer Moses sy bekende lied in Deuteronomium 32 voordra, dan sing hy oor die Here wat 'n Rots is. Hy is 'n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy (vers 4). Terwyl sy volk ontrou was — en hiervan lees ons in Deuteronomium 32 — het Hy altyd dieselfde gebly, het Hy altyd trou gebly. Hy is onveranderlik. Dit beteken nie dat die Here 'n onbeweeglike blok ys is nie. Hy is wel gister en vandag en môre dieselfde. Hy is 'n getroue Vader, wat onbeweeglik trou is aan sy woorde, aan sy wet. Ons kan op Hom reken. Hy is onveranderlik. Hy tree altyd op volgens wat reg is. Daarop kan ons staatmaak, en is dit nie 'n veiligheid wat die Here vir ons gee nie? 'n Kind voel onveilig in 'n huis wanneer hy begin wonder wat Pa en Ma se volgende bui gaan wees, nie waar nie? Wanneer hulle wonder: wat gaan môre reg en verkeerd wees; gaan ek môre weet wat reg is en wat verkeerd geag gaan word? Wanneer daardie onsekerheid in 'n huis inkom, is daar chaos. Daar is nie meer vertroue nie. Maar sien u, ons Vader is vir ons onveranderlik; ons weet wat om van Hom te verwag én ons weet wat Hy van ons verwag. Die Here is nie onvoorspelbaar en willekeurig nie. Niks laat 'n mens so onveilig voel as wanneer jy moet lewe onder 'n norm wat gedurig verander nie.

Waarom is so baie mense vandag in Suid-Afrika, onder die Afrikanervolk met name, in 'n diep krisis gedompel? Is dit nie omdat dit wat in die verlede altyd vir hulle voorgehou is as reg, ewe skielik losgelaat word, asof dit nie meer reg is nie? Dit wat aan hulle voorgehou was as reg, is skielik verkeerd en onchristelik, en dit dompel hulle in 'n krisis.

Maar ons Here is regverdig. Hy het geen behae in die goddeloosheid nie. In hierdie lied sing Moses selfs oor die heidene wat hulle regverdige straf sal en moet ondergaan (vers 35): "My kom die wraak toe en die vergelding", sing Moses as mondstuk van die Here. Die dag van die ondergang van die Here se vyande, hulle wat sy wet nie volmaak gehoorsaam nie, is naby. Hierdie is geen bloeddorstige lied van haat van Moses teen die vyande van die Here en Israel nie. Die straf oor die heidene is deel van God se manier om reg te verskaf aan sy volk. As die Here nie sy regverdige straf oor die heidene wat teen Israel in opstand was, gee nie, sal die volk van die Here onder die onreg ly. Hierdie vorm die agtergrond van byna al die sogenaamde "vloekpsalms".

Wanneer die Here sy reg handhaaf, in die besonder teen die vyande van die volk van die Here, is Hy besig om genade aan sy kinders te bewys. As die Here nie die goddeloosheid straf en sy eie reg bly handhaaf nie, is daar net een alternatief vir ons as kinders van die Here ... ons sal moet begin gewoond raak aan alle bedrog, haat, diefstal en aggressie teen alles wat goed en reg en regverdig is. Òf God straf dit in sy reg òf u moet gewoond raak daaraan om te leef met die goddelose. Van daaruit word die gebed gebore: Here, straf tog regverdig die goddeloosheid van u vyande. Laat hulle vernietig word, laat hulle uitgewis word van die aangesig van hierdie planeet aarde. Waar die reg van die Here nie gehandhaaf word nie, word die reg van die bose en die goddelose gehandhaaf. Daarom het ons eintlik 'n redelik eenvoudige keuse om te maak — òf die reg van die Here, òf die reg van die goddelose. Die goddeloosheid sal altyd die reg vir homself toe-eien om homself te handhaaf. Waar die Here nie onderskeid handhaaf tussen wat reg en verkeerd is nie, en daardie onderskeid nie duidelik wil laat blyk nie, waar die Here nie sy straf handhaaf oor die goddeloosheid nie, gaan die volk van die Here ten gronde onder die goddeloosheid van hulle heidense bure.

Die Here moet sy reg handhaaf. Daarom gaan dit in hierdie Sondag van die Kategismus. Oor hierdie een saak: oor God se reg, waaraan ons moet aandag gee. En dit in 'n tyd waarin daar voortdurend aandag gegee word aan die reg van die indiwidu. Al reg wat ons het, is om te bid dat God se reg en geregtigheid sal geskied. Want as God se reg nie gehandhaaf sou word nie, sou ons nooit verlos kon word van ons sonde nie. Dan sou die Here elke keer weer sy grense moes verlê van wat reg en wat verkeerd is, soos wat gebeur in Suid-Afrika in die politiek. Sonde sou nooit oorwin kon word nie, maar altyd net opnuut gedefinieer word. Elke keer weer sou iets anders sonde genoem word, en dit wat gister goddeloos was, moet vandag as reg beskou word. Sou dit nie wreed en liefdeloos van die Here gewees het as Hy nie sy reg handhaaf nie? Dit is 'n uiterste genade van die Here dat Hy sy reg op aarde handhaaf. Dat Hy van my eis dat ek vandag sy wet volmaak moet gehoorsaam. Dít is die reg: onveranderlik, gelukkig! Daarom is 'n gebed om God se wraak oor die goddeloosheid op aarde, 'n gebed om verlossing! God se wraak oor die sonde maak die lewe weer moontlik vir die volk van die Here. Daarom moes God sy wraak uitoefen oor die heidense nasies wat in die land Kanaän was, waarheen die volk Israel op pad was. God moes daardie volke vernietig, sodat daar 'n plek kon kom vir sy volk om te gaan lewe in dié land. Dit is waarom Moses die lied in Deuteronomium 32 sing. 'n Lied van die handhawing van God se reg oor sy vyande. Dis 'n gebed om verlossing, om lewe vir sy kerk op aarde. Dit is veelseggend vir ons eie verstaan van die evangelie wanneer ons die sogenaamde "vloekpsalms" met traagheid wil sing. Asof dit slegs Oud-Testamentiese Psalms is, wat ons maar liefs uit ons Psalmbundel moet ban.

Maar God se reg word nie net oor die goddelose gehandhaaf nie, maar juis ook oor sy kinders. Want dieselfde Moses wat bid dat die Here sy vyande moet vernietig, kry self te doen met die reg van die Here. Nadat Moses die lied klaar gesing het, neem die Here hom na die berg Nebo en wys aan hom die beloofde land. Moses, jy mag die land voor jou sien, maar nie daar ingaan nie. My reg moet gehandhaaf word. Jy het my Naam nie geheilig voor my volk toe Ek vir hulle water uit die rots wou gee deur met die rots te praat nie en jy die rots geslaan het. My reg sal ook teenoor jou gehandhaaf word.

Ons mag daarom selfs bly wees dat die Here van ons vra wat ons nou nog nie kan doen nie. Laat ons dankbaar wees dat God dit van ons vra. Stel u voor dat ons moes uitsien na 'n ewige lewe waarin ons nie vry van die sonde was nie, maar moes leer om met ons eie sondes saam te lewe. Wat 'n verskrikking, wat 'n tirannie sou dít nie wees nie! Wanneer die Here nou nog van ons vra wat ons nie kan doen nie, is dit nie uit wreedheid nie. Dit is juis uit liefde, omdat Hy ons uiteindelik totaal van die ongeregtigheid wil vrymaak.

Jesus as God se geregtigheid🔗

Daarom kan ons nie praat oor God se reg en die handhawing daarvan, sonder dat ons praat oor Jesus Christus nie! Want die Here Jesus is God se geregtigheid vir ons. Dit is juis in Jesus Christus dat ons sien dat God nie sy eise laer kom stel het nie. Christus het juis gekom om aan die wet van God se reg en volmaakte eis te voldoen! Christus het ons nie kom leer dat God maar met ons beste tevrede sal wees nie. In Christus Jesus sien ons dat God ons nie maar vir ewig laat voortleef in ons sonde en onvolmaaktheid nie. Die Here kom herstel juis die eis van God se wet, sodat aan sy wil voldoen kan word deur u en deur my. Dit is waarvoor ons gered word, om weer aan die eis van God se wet te voldoen. Daarom staan die eis van God se wet juis. Ons word gered sodat ons die wil van God weer kan doen. Daarom dat die hele argument dat wanneer ons gesondig het, ons dit as 't ware onder die mat probeer skuif deur te sê dat ons nou maar almal eenmaal sondaars is, nie spreek van geloof nie, maar juis van ongeloof. Dit het die koms van Christus nog nie ernstig opgeneem nie. Dit neem Christus as die geregtigheid van God nie ernstig op nie. Christus het gekom juis sodat ons nie meer sal sondig nie.

Maar wat maak ons met ons sondes wat ons nog doen? Want ons is nog nie volmaak nie en ons sal op hierdie aarde ook nie volmaak wees nie! Wat maak ons nou met ons sondes?

Die sonde ongestraf?🔗

Wanneer ons ons eie sonde sien, moet ons nie probeer om van ons skuldgevoelens ontslae te raak deur God se standaarde te verlaag nie, deur te sê: God sal tog nie die volle pond vleis van die wet van ons eis nie. Dit is geen manier nie. Dit is nie genade nie. Dan moet ons juis, as ons ons sonde en swakheid sien, ons toevlug tot Christus gaan neem. Dit is waar ons hoort. Want ons kan nie God se genade gaan uitspeel teen sy regverdigheid nie. Ons kan nie sê: Hy is regverdig, ja, maar ook nog genadig. Hy sal tog wel die eis van die wet eenkant toe skuif nie. Nee, ons speel nie God se regverdigheid teen sy genade uit nie. So asof ons dit nie as regverdig sou beskou as God ons sonde straf nie. Maar God laat nie die sonde ongestraf nie. Inteendeel. Sy toorn is verskriklik sowel oor die erfsonde as oor die sondes wat ons self elke dag doen. Hy wil dit in die tyd en in die ewigheid met 'n regverdige oordeel straf.

Laat dit ons in onsekerheid? Laat ons dit nou in verskrikking vir die Here? Was Moses in onsekerheid gedompel toe die Here ook in daardie tyd hom regverdig gestraf het oor sy ongehoorsaamheid? Nee. Dit was selfs vir hom 'n rots van sekerheid te midde van alle onsekerhede. Die Here is getrou; Hy hou en handhaaf sy reg. Hy handhaaf die reg van sy verbond. Dit is genade en liefde en goedheid van die Here. Hy kan op sy Woord geneem word; ons kan op sy Woord vertrou. Maar die groot wonder is dat Hy wat so getrou sy reg handhaaf, self volkome aan sy reg laat voldoen het deur Jesus Christus vir ons te gee om in ons plek aan daardie reg te voldoen. As ons enigsins wil weet wat dit beteken dat God regverdig is, dan moet ons na Jesus kyk. In Hom het die Vader ons sondes regverdig gestraf, sonder om sy reg tot niet te maak. God het ons sondes op Hom gelaai en die eis van sy wet steeds gehandhaaf. Ons kan daarom nie leef asof die Here sy hoë eise laat vaar het nie. Inteendeel! Dit word tot vandag toe gehandhaaf.

My beste is nie goed genoeg vir die Here nie. Net Christus in al sy volmaakte gehoorsaamheid en volmaakte sondeloosheid was en is goed genoeg vir die Vader. Hy is goed genoeg. Daarom moet en mag ons nie, as ons bewus word van ons eie sonde, dit vinnig afmaak met 'n: "Nou ja, so is ons almal maar" nie. Nee, want anders kom ons nooit uit by waar ons moet wees nie. En waar moet ons wees? By Christus! Daar word God se reg gehandhaaf én daar is Hy genadig. Aan God se reg moet voldoen word. Hy verlaag nie die eis van sy wet nie. Daarvoor het Christus gekom. En daarom moet ons ook nie maak asof ons maar so in ons sonde moet voortploeter nie. As ons in geloof gesien het dat Christus aan God se reg voldoen het en dat Hy gekom het om uiteindelik die reg en geregtigheid van God weer op aarde te vestig, dan gaan leef ons ook as mense wat nie verkoop is aan die mag van die sonde en ongeregtigheid nie. Dan word ons ook deur die Gees van God vernuwe sodat ons weer aan die reg van God kan voldoen deur sy genade. Dan verander die Gees van die Here ons ook al meer om soos Hy te word.

Want ons het wel in eie dwaasheid die vermoë om God se wet te gehoorsaam, weggegooi, maar in sy goedheid kom die Here ons weer tegemoet en Hy gee dit vir ons terug. Dan sien ons daarom ook uit na 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde waarop daar geregtigheid woon en waar die sonde, die ongehoorsaamheid, die opstandigheid teen die eis van die wet van God finaal uitgewis sal wees. Want daar waar aan God se reg voldoen word, sal ons Hom ook weer volmaak gehoorsaam.