5 bladsye.

Sondag 42 Heidelbergse Kategismus

Lees: Genesis 14🔗

Wie maak ons ryk?🔗

Op wie steun u vir u daaglikse versorging? Is dit iets waaroor ons voel dat ons dit stewig in eie hande moet hê? Hoe kyk ons na ons besittings? Wanneer ons besig is met die agste gebod, kan ons onsself so maklik van oortreding daarvan vryspreek. Eintlik is ons hierin onskuldig. Ons neem niks wat aan ander behoort nie. Ons werk eerlik en hard vir wat ons s'n is.

Maar daar eindig die agste gebod nie. Trouens, dit is ook nie waar dit begin nie. In die agste gebod gaan dit oor die beantwoording van die vraag: Wie maak ons ryk? Hierdie gebod wil ons laat waak teen 'n vertroue op ons eie werkkragte. Dit laat ons waak teen die gedagte dat ons op aarde meer as "bywoners" is. Wanneer die Israeliete in die land Kanaän gaan woon, mag hulle weet dat hulle dit "vir ewig" as 'n erfdeel in besit gaan neem. En tog moes hulle steeds weer onthou dat hulle in hierdie land van melk en heuning, in die land van Jahwe woon. Van hulle geld: " ... omdat julle vreemdelinge en bywoners by My is" (Levitikus 25:23). Ek sorg vir julle. Julle woon in my land. Ek gee dit wel as 'n erfdeel vir julle, maar die land is myne. Die Here self is die Eienaar van alles. Ons hoor dit so duidelik in die woorde: "Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon" (Psalm 24:1).

Dit is die Skepper van hemel en aarde maak ons ryk maak!

Anders?🔗

Laat ons eers gaan let op wat die verhaal van Abram te doen het met die agste gebod. Ons ontmoet in hierdie hoofstuk die belangrike figuur van Melgisédek, koning van Salem en priester van die Allerhoogste God. Abram, die vader van al die gelowiges, buig voor hierdie priester koning soos voor een wat meer is as hy. Melgisédek ontmoet Abram, wat terugkeer na sy oorwinning, met dié woorde: "Geseënd is Abram deur God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde" (vers 19). Abram kom pas terug van 'n geweldige oorwinningstog en het 'n baie groot buit by hom. Hy kan soos 'n koning gaan lewe. Op pad huis toe ontmoet die priester koning van God hom en sê: "Abram, wag; ek wil jou bewaar vir die versoeking om te dink dat jy jouself uit eie krag ryk gemaak het. Abram, jy is geseën deur God die Allerhoogste. Laat ek jou wys waar al jou rykdom vandaan kom." Want Abram was 'n skatryk man, 'n ryk vors. Hy kom herinner vir Abram daaraan dat die land waar hy woon, wat hy as 'n erfdeel van die Here kry, die land wat oorloop van melk en heuning, as 'n genadegeskenk vir hom en sy nageslag gegee is. Geseënd is God, die Allerhoogste, wat u vyande in u hand gegee het.

En wat doen Abram, as vader van al die gelowiges, dan? Abram het aan hierdie Melgisédek 'n tiende betaal van al die besittings wat hy teruggeneem het van die konings waarteen hy geveg het. Hy gee dit aan hom, die byna mistieke figuur, wat ons in die Skrif ontmoet as boodskapper van God. Abram kom erken dat God die Een is wat hom ryk maak. Toe die koning van Sodom vir Abram sê: "Gee my net my mense terug, maar hou verder alles wat jy gebuit het en wat aan my behoort het, vir jou as beloning vir die hulp in die oorlog", weier Abram om daarvan gebruik te maak. Waarom? Hy het ten volle reg daarop gehad. Hy het eerlik geveg, eerlik hierdie besittings teruggeneem. Hy het dit nie gesteel nie. Maar Abram sweer by die Skepper van hemel en aarde, die Een in Wie se Naam Melgisédek hom geseën het: "Ek sal niks neem van alles wat uwe is nie, sodat u nie kan sê nie: Ek het Abram ryk gemaak" (Genesis 14:23).

Abram wil hê dat almal in die land kan en moet weet dat al die rykdom wat hy het, al die versorging en oorvloed wat hy ontvang, uit net een Bron kom; van die Here God, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde. Abram wil in hierdie land as gelowige leef uit die seën van die Here. Niemand moet kan sê dat hulle vir Abram ryk gemaak het nie! Hierdie man, Abram, wat as vreemdeling in hierdie land kom woon het, sal deur die Here geseën word. Die Here sal hom ryk maak. So het die Here immers aan hom beloof. Aan die begin van Genesis 13 lees ons reeds hoe hy as ryk man vanuit Egipte in die beloofde land ingetrek het. Sy vee was so baie dat die land nie vir hom en sy broerskind Lot saam kon dra nie. En dan, wanneer besluit moet word waar hulle hul sal vestig, kies Lot die Jordaanstreek, wat oral volop water gehad het, waar dit gelyk het of iemand in oorvloed uit eie krag (maar sonder die seën van God) kan gaan leef. Naby Sodom gaan slaan hy sy tente op. Later, in hoofstuk 14, lees ons hoe Lot gewoon het in Sodom. Maar Abram bly woon in die land Kanaän. Die land wat die Here hom beloof het, waar Hy hom sal versorg. Abram klou nie aan sy rykdom waarmee hy die land ingetrek het nie. Hy vertrou op God se belofte, want dit is die land wat die Here vir hom en sy nageslag beloof het. Dáár sou die Here hom seën en sy nageslag versorg. Hy sal hom dit alles  uit genade gee.

Abram verwag sy rykdom van die Here. En só moes dit bly. Daaraan kom herinner die priester koning Melgisédek vir Abram. En Abram gee aan hom die tiende as erkenning dat hy alles vir sy versorging van elke dag van die Here verwag. Teen hierdie agtergrond moet ons die agste gebod verstaan. Met die erkenning in die geloof dat alles aan die Here behoort. Diefstal begin by die miskenning van die feit dat alles aan die Here behoort, dat Hy ons sal versorg. Wanneer ons die Here nie meer as die Eienaar van alles erken nie, sal ons ook nie ons hande van mekaar se eiendom kan afhou nie.

Ons groot begeerte moet wees om deur die Here ryk gemaak te word. Nie deur ons eie kragte nie. Nie deur my naaste tekort te doen nie. Nie deur te neem wat nie aan my behoort nie. Daarom was dit ook verbode vir 'n Israeliet om een van sy volksgenote as 'n slaaf aan te hou. Die Here het uit genade sy volk van slawerny uit Egipte bevry, sodat hulle nie meer as slawe vir 'n ander hoef te werk nie. Hoe sal Israel dan nou in die beloofde land 'n broer, 'n medegelowige, aan slawerny gaan onderwerp? Hoe sal dit dan nou kan gebeur dat ons mekaar die vryheid gaan beroof deur mense ekonomies van ons afhanklik te wil hou?! Ek mag niemand my slaaf maak nie, maar ek hoef ook geen ander mens se slaaf te wees nie. Daarom het die Here ook vir ons 'n rusdag ingestel, sodat ons telkens weer kan besef: ek mag aan die Here behoort. Hy sal my versorg in alles wat ek nodig het. Hy het, as Skepper van hemel en aarde, wat ook vandag sy skepping nog onderhou, beloof dat Hy die nageslag van Abram sal seën. Glo ons dit nog?

Heel opvallend was in Israel die straf vir oortreding van die agste gebod relatief lig in vergelyking met oortredings van die ander gebooie. Wat gebeur by die heidene? In sekere moslem-lande byvoorbeeld kry ons nog steeds die gebruik dat jou hand afgekap word vir diefstal. As jy nie oppas nie, verloor jy albei jou hande of jou voete. Want: ons besittings is ons s'n en mense moet leer om hul hande van ons goed af te hou. So word ons besittings met 'n ysterhand beskerm. Maar in Israel was dit nooit so nie. Ja, daar was ook strawwe, maar baie lig in vergelyking met dié vir oortredings van alle ander gebooie. Waarom? Dit wil lyk asof die mees waarskynlike verklaring hiervoor is dat die kinders van die Here kon bly weet, selfs van die stuk grond, wat hulle as 'n erfdeel van die Here ontvang het, dat hulle nie besitters van daardie grond is nie. Dat al ons eiendom eintlik tog finaal aan die Here behoort. Dat dit wat hulle besit, hulle alleen het as rentmeesters van God. Ons eiendomsregte is heel beperk. Alles behoort aan die Here. Want Hy het alles gemaak. Die aarde en alles daarop. En almal wat daarop woon. Daarom, wanneer iemand steel, moet hy ook deur die straf herinner word aan die genade en barmhartigheid van God, wat hom wil versorg.

Die skepping bewaar🔗

Die geweldige, waar ons vervolgens op wil let, is dat die Here vir ons as mense wel die gebruik van sy eiendom gee. Kyk na die mooi tuin waarin die Here vir Adam en Eva geplaas het. Hulle kon in hierdie tuin woon en daarvan geniet. Hulle moes daardie tuin bewerk en bewaar. Hulle moes dit oppas. En daar het die Here vir hulle oorvloed gegee om te geniet. Dit was God s'n, maar Hy gee dit vir hulle. Daarom mag ons ook vandag weet dat die vrug van ons arbeid ook geniet mag word. Dit is nie om maar net aan die lewe te bly nie. Ek mag ook 'n keer ruim eet en my so verbly oor wat God gee en uitdeel.

Maar Adam en Eva moes die tuin ook bewaar. Daarom het die Here beperkings aan Adam opgelê. Daardie een boom in die middel van die tuin is die Here s'n. Dié boom het Adam en Eva gedurig daaraan herinner: die tuin is Myne en Ek stel die grense vas van wat jy mag geniet. Daarom is daar een boom waarvan jy nie mag eet nie, ook al is hy nie anders as al die ander bome nie. As jy van hom eet, sal jy sekerlik sterwe. Moet dus nie die tuin gaan beroof nie, want alles behoort aan My. Dit is nie dat die Here vir Adam tekort gedoen het nie. Hy het oorvloed gehad. Maar Adam se begeerte om self heer oor alles en eienaar van alles te wil wees, bring hom tot 'n val.

Adam steel die vrug waarvan hy moes wegbly. En daarna val die mensdom al hoe meer in hebsug en in die versoeking van geldsug. Ons noem dit heel eenvoudig "materialisme". Materialisme is nie alleen wanneer ek 'n massa besittings bymekaar wil maak nie, maar wanneer my lewe so gerig is dat ek vir myself wil sorg. Ek wil seker maak vir my toekoms; asof dit nie in die hande van die Here is nie. Daaruit wil die Here ons juis weer kom bevry. Kyk maar hoe gaan dit in Egipte wanneer die Here sy volk uit Egipte verlos. Die Here kom verlos sy kinders wat die slawe geword het van die Farao, wat hulle van hul diensbaarheid aan die Here beroof het.

Nadat die Here Egipte eers gebruik het as 'n plek om sy volk te bewaar toe daar hongersnood in Kanaän was, is sy kinders nou gesteel om slawe van Farao te word. Maar die Here wil sy eie volk weer werklik ryk maak. Hy het aan Abram beloof dat Hy hom en sy kinders ryk sal maak. In die nag waarin hulle uit Egipte vertrek, laat die Here sy kinders die Egiptenaars beroof — goud en diere en kosbaarhede (Eksodus 12:36). Dit beteken nie dat hulle gaan plunder en roof het nie. Nee, hulle het gevra vir die skatte van Egipte, op bevel van die Here. Gee dit vir ons, want die Here ons God wil ons verlossing gee. Die Here laat ons weer sien dat Hy die Besitter van alles is. Nie die Farao nie! Niks, nie eers die rykdomme van hierdie wêreld, is in die mag van die satan nie. Die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon. Dit moes die volk in Egipte sien, en ook die Farao. En dan lei Hy hulle na 'n land wat oorloop van melk en heuning. Die land wat Hy reeds aan Abram beloof het.

Ryk uit sy armoede🔗

Maar hoe moet ons, as bevrydes van Christus, dan leef met ons besittings? Wanneer die Here rykdom gee, dan mag en moet ons dit geniet. As die Here ons seën in ons arbeid, mag ons die oorvloed as 'n gawe uit die hand van die Here aanneem. Die Here gee voedsel om in danksegging te gebruik. Dink maar aan die oorvloed wat die Here Jesus gegee het op die bruilof te Kana. Dit is die oorvloed uit Hom wat ons ook mag geniet as die Here dit vir ons gee. Ek mag ook 'n vakansie geniet, ja, ek moet dit ook geniet. Ek mag bly wees oor my nuwe hoëtroustel. Of 'n goeie boek. Of my blink motor, of my mooi huis, as ek dit kan bekostig.

So kan ook ons lewens in die teken van die seën van Melgisédek staan. Ons mag ook weet dat ons geseën word deur die Skepper van hemel en aarde. Net soos Abram. Dit wat God gemaak het, hoef nie vermy te word nie. Voedsel en kleding en gawes kom van die Here. Nie van die satan nie. Christus ons Verlosser het ook self na die aarde gekom as Priester volgens die orde van Melgisédek. Waarom? Sodat ons oorvloed kan hê. Só skryf Paulus aan die Korinthiërs dat God mag het om alle genade oorvloedig oor ons te laat wees. Sodat ons altyd in alle opsigte volop kan hê (2 Korinthiërs 9:8). Dit is die belofte van Melgisédek vir elkeen van die kinders van die Here. Hy sal oorvloedig vir sy kinders in vreemdelingskap sorg. Dit is sy eer. Abram, moenie die buit uit iemand anders se hande neem nie. Ek sal jou versorg. Dit wil Melgisédek vir hom sê. Niemand anders as die Here self mag ooit sê dat hy ons versorg nie.

Daarom ken ons ook die genade van die Here dat Christus, alhoewel Hy ryk was, ter wille van ons arm geword het, sodat ons deur sy armoede ryk kan word (2 Korintiërs 8:9). Die konteks waarin die apostel Paulus hierdie woorde, dat Christus arm geword het, skryf, is juis in die konteks van die materiële versorging van die gemeente in Jerusalem, die gemeente wat in hongersnood beland het. Paulus skryf dit aan die gemeente in Korinthe om hulle op te wek om te gee. Dit vanuit die geloof, dat God juis deur sy kerk sy kinders wil versorg. En van hieruit kan ons leef. Vanuit Christus wat arm geword het. Ons hoef dus nooit te steel nie. Dit is sy eer om ons te versorg. Genadig versorg! Leef uit hierdie geloof in Hom wat ter wille van ons arm geword het om ons ryk te maak. Ons Hoëpriester volgens die orde van Melgisédek — Hy beloof ons die seën van die Een wat hemel en aarde gemaak het. Jongmense, julle wat studente is en matrikulante wat wonder waar 'n werkgeleentheid volgende jaar vandaan moet kom, of wat dink: ek gaan studeer, maar wat hou die toekoms vir my in? Ek weet nie wat op my wag nie. Die Here sê: Ek beloof jou die seën van Melgisédek. Hy het arm geword, sodat jy ryk kan wees. Ons hoef nie in eie krag en uit alle mag ons toekoms te verseker nie. God gee ons geleenthede. Ook om te kan werk. Maar bid ons daarvoor, vra ons dit nog van Hom? Of maak ons onsself slawe van mense?

Mededeelsaam🔗

Die apostel Paulus skryf oor hierdie rykdom wat ons in Christus mag ontvang, as hy besig is om die Korinthiërs aan te moedig om, as bewys van hulle liefde aan medegelowiges wat wel tekorte het, te gee, om mededeelsaam te wees. Christus het uit sy rykdom vir ons wat arm was, meegedeel, sodat ons ook mededeelsaam sal teenoor die medegelowiges, teenoor die susterkerke wat tekorte het. Die Here het sy genade uitgestrooi, soos Paulus sê — in oorvloed het Hy aan die armes gegee wat in geestelike nood was (2 Korintiërs 9:9). Daarom moet ons ook nie skaam wees om te saai nie, om handevol uit te strooi en te kyk watter vrugte dit voortbring. Deel uit in oorvloed aan die medegelowiges. "Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai" (2 Korintiërs 9:6). Wees vrygewig en mededeelsaam in die kerk en in die kerkverband. Laat ons ruim in die gemeente gee, waar die Here ons die middele ook gee! Ook aan ons hulpbehoewende susterkerke. Dit is ons eer om te mag uitdeel. En Hy wat die saad vir ons gee om te saai, sal ook brood gee om te eet en Hy sal die saad vermeerder (2 Korintiërs 9:10). En die Here sal vrug gee op hierdie werk van ons. Laat ons veral toeneem in rykdom in alle milddadigheid teenoor mekaar.

Hiermee versorg ons nie alleen die hulpbehoewendes nie. Maar op hierdie manier kom daar oorvloedige danksegginge aan God. God word hierin verheerlik. Dit is waarom u in oorvloed moet uitdeel! Christus word as Hoëpriester verheerlik. Hy wat beloof het dat Hy ons sal seën. Sal ons dan nie ons tiendes aan Hom gee, soos wat Abram vir Melgisédek gegee het nie? Sal ons roem nie wees dat die Here alleen ons ryk maak nie?

Arm en ryk in die gemeente🔗

In Israel is die armes en wese en weduwees op 'n besondere manier versorg. Nie deur te leef van aalmoese van die ander nie. Hulle het, volgens God se voorskrif, reg gehad op die oes van die land in die sabbatjaar. Hulle kon die gerwe optel wat op die land agtergebly het na die gereelde oeste. Die koringare wat tydens die oes geval het, kon versamel word sonder om verhinder te word. Let maar op Boas se gelowige houding teenoor Rut! Op hierdie manier word die gemeente van die Here 'n diakonale gemeente. Deur 'n oog te hê vir mekaar en mekaar se nood. En dan natuurlik in die eerste plek vir die huisgenote van die geloof. Maar nie hier alleen nie. Laat ons aan alle mense goed doen (Galasiërs 6:10).

En die toekoms? Sal die aarde nie uitgeput word nie? Ook hiervoor toon die Here ons die lewenstroom wat uitvloei uit die troon van die Lam. Hy wat as Priester ter wille van ons arm geword het, is ook Koning. Openbaring 22 stel voor ons die voleinding van die geskiedenis van die aarde as 'n herstel van die paradys. Ons mag weet dat ons sal woon in die tuin van die Here. Uit die troon van die Lam vloei daar 'n rivier en aan weerskante van die rivier is die boom van die lewe. En hierdie boom dra vir twaalf maande van die jaar vrugte en dit is tot genesing van al die nasies. Daar lê ons verwagting. Ons geloof is gerig op die Priester Koning volgens die orde van Melgisédek, wat beloof het om ons te seën met die seën van die Skepper van hemel en aarde.