4 bladsye.

Sondag 44 Heidelbergse Kategismus

Lees: 1 Johannes 2:1-17🔗

Gee my jou hart🔗

"Het jy al jou hart vir die Here gegee?" Dit is 'n vraag wat baie mense aan ander vra om hulle te konfronteer met die vraag of hulle die Here as hulle Verlosser ken. Op sigself 'n baie belangrike vraag. Maar vandag wil die Here ons onderrig oor die betekenis van die tiende gebod. Vandag wil ons kyk hoe daardie vraag ons help om die tiende gebod beter te verstaan; om beter te begryp wat die implikasie daarvan in ons lewe is.

Waaroor gaan dit in die tiende gebod? Dit gaan heel eenvoudig oor die vraag of die Here ons hart het. In die Spreukeboek lees ons: "My seun, gee my jou hart." (Spreuke 23:26). Met die tiende gebod wil die Here in ons harte kom kyk. Hy wil kom kyk wat ons diepste begeertes is wat ons in ons harte koester; wat ons dryfveer in die lewe is. Die Here wil sien of daar nie agter die front van 'n ordentlike lewe 'n diep ontevredenheid met die lewe of dalk met God self is nie.

Ons leef miskien heel fatsoenlik. Elkeen van ons gaan deur sy daaglikse roetine. Alles heel netjies. Tydens Bybelkringvergaderings gee ons die regte antwoorde; ons vra die regte vrae. As mense ons vra hoe dit gaan, antwoord ons dat alles goed gaan. Maar die vraag is of dit wel so is. Gaan dit goed? Steek ons nie dalk baie weg agter 'n mooi front nie? Is ons werklik tevrede? Is ons vergenoegd? Het ons genoeg aan die Here en aan wat Hy vir ons gee? Het ons genoeg aan die Here self?

Die Here is my Herder; niks ontbreek my nie🔗

Of is ons dalk ontevrede met ons hele lewe? Of met die Here self? Kan ons van harte sê: "Die HERE is my herder; niks sal my ontbreek nie" (Psalm 23:1)? Of leef ons gedurig met die gevoel dat ons tog so baie kortkom? Dat die Here eintlik nie vir ons sorg nie? Wanneer ons sê: "Die HERE is my herder", dan beteken dit nie dat ek nooit tekorte sal ken nie, dat ek nooit lyding sal verduur of hartseer sal hê nie. Nee, as ek sê: "Die HERE is my herder", dan het ek genoeg aan Hom; dan is ek met Hom tevrede én met alles wat Hy oor my besluit, wat Hy my wil gee. Dít is waarom dit gaan in die tiende gebod. Die Here is my herder; ek kom niks kort nie. Hy gee my nie noodwendig alles wat ek so graag wil hê of wat ek dink is nodig nie. En dan bly ons onrustig. En dan begin ons BEGEER na wat die ander het. Ek het gesien dat my bure vir 'n week vakansie kon gaan hou by 'n gerieflike vakansie oord. En ek kan dit nie bekostig nie. En die ontevredenheid broei in my. Ons vriende kon weer 'n ander motor bekostig en ons ry steeds met die motor van tien jaar gelede, stampe en krapmerke en al. En nou begin ons planne maak sodat ons nie so sterk by hulle afsteek nie. In die plek van die tevredenheid dat niks my ontbreek nie, sit ek met die gevoel dat almal het wat ek nie het nie. Wat ek so graag sal wil hê. En ek verkoop my hart aan daardie begeertes.

My naaste se huis. Sy vrou. Sy werk. Enigiets wat van jou naaste is. Hier kom ons agter of ons werklik tevrede is met wat die Here vir my toebedeel het. Is die liefde vir die wêreld in my of die liefde vir die Here? Oppas vir die begeerlikhede van die wêreld! Ja, ons lewe mag miskien nêrens opvallend téén die res van die wet van die Here wees nie. Maar die Here kom vra vir ons of ons werklik tevrede is met wat Hy vir my gee. Is julle as man en vrou tevrede met mekaar? Of stel jy jou vrou in die geselskap van ander mense belaglik voor, om te wys dat jy, as jy weer moet kies, jy van beter sou weet. Natuurlik dink julle nie aan egskeiding nie. Maar as ek tog weer kon kies ...

Of is jy tevrede met jou studierigting of met jou loopbaan? En met jou finansiële posisie? Nooit tevrede met dit wat ons het nie ... En dan, onder die front van gesonde ambisie of sorg vir ons gesinne, werk ons soos besetenes om ons begeertes na meer of iets anders te probeer bevredig. Vroue wat uitgekuier raak met hul eie mans, gee hulself oor aan die aantreklike karakters van die sepies op televisie.

Vergenoegd?🔗

Dan is die vraag: is ek tevrede, of is ek gedurig begerig en jaloers? Is ek vergenoegd? Daaroor gaan dit in die tiende gebod. En dan is dit goed as ons sien hoe hierdie sonde reeds in die paradys van Adam en Eva slawe gemaak het. Die slang kry dit reg om vir Eva te laat sien dat die vrug van die boom wat die Here hulle verbied het om te eet, begerig lyk om van te eet. Die satan oortuig Eva dat die vrug goed is om van te eet, want dit sal jou soos God self laat wees. 'n Vrug wat begerig is! Dit is iets om van te geniet, om te hê, laat die slang vir Eva verstaan. Ja, ook al hét die Here gesê: "Dit is nie vir julle nie. Daar is oorgenoeg in die tuin om van te geniet, maar hierdie boom en sy vrugte is nie vir julle bedoel nie." Eva is ontevrede met haar posisie as mens. In die plek van verlustiging in die Here, kom die begeerte om self soos God te wees.

En dit bly nie by haar nie. Ook haar kinders is begerig. Kaïn word, nadat sy offer nie aanvaar is nie, jaloers op sy broer Abel. Die Here waarsku hom om oor sy begeerte om te heers, om baas te wees. Maar hy gee homself oor aan sy jaloesie op Abel. En die gevolg is dat sy broer dit moet ontgeld. Hy vermoor Abel!

Hier sien ons hoe ons begeertes ons heeltemal verslaaf en bind. Die gevolg van Adam en Eva se begeertes is dat hulle moet sterf. Eva gaan nou, na die sondeval, begeer om die posisie van haar man in te neem in hul verhouding met mekaar as man en vrou. Deel van haar straf en die oordeel oor haar sonde is dat die Here sê: "En nou sal jou begeerte na jou man wees." Dit is nie 'n mooi beskrywing daarvan dat jy lief sal wees vir jou man, dat jy na hom sal verlang of dat jy sal begeer om hom te hê nie. Nee, dit is juis 'n beskrywing daarvan dat jy sy posisie sal wil inneem. En wat gaan Adam doen? Adam gaan nie meer so liefdevol met haar wees nie, maar oor haar heers, haar domineer. In plaas van om in die huwelik liefdevolle leierskap te toon, gaan hy begin baasspeel en sê: "Ek is die hoof van die huis en ek besluit wat gaan gebeur en wat nie." Dit is die gevolg van die begeerte. Kaïn is vir die res van sy lewe 'n vlugteling. Agan, wat die pragtige kleed en goue voorwerpe gesien het en begeer, vernietig homself en sy hele huisgesin. Judas, wat meer geld begeer, hang uiteindelik homself op. Ontevredenheid verteer mense. Dit maak mense siek. Mense sterf daarvan! Vir ewig.

En dit is vyandskap met die Here. Johannes noem die begeerlikheid van die wêreld, van die vlees, die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe, dinge wat nie van God kom nie. Dit is dinge wat uit die wêreld is. Maar die wêreld met sy begeerlikheid gaan verby. Alleen hy wat die wil van God doen, bly vir ewig. Elkeen wat die liefde vir die wêreld in hom het, het nie die liefde van die Vader in hom nie. Dit is vyandskap teen die Here. In die gelykenis van die saad wat gesaai word, hoor ons van die saad wat wel op grond geval het waar dit kon opkom, maar verstik geraak het in die begeertes van die wêreld (Lukas 8:14). En die uiteinde daarvan? Die dood ...

Verlustig jou in die Here🔗

Dit wat die Here wil hê ons moet doen om gehoorsaam aan die tiende gebod te wees, is om liefde vir Hom te hê. Gee Hom jou hart. Verlustig jou in die Here en Hy sal jou gee die begeertes van jou hart.

Sien u nou waar ons moet begin? Waar die stryd teen die sonde van die begeerlikheid lê? Gaan verlustig jou in die Here. Dan sal jou begeertes ook goed wees. Gaan verlustig jou in die Here en Hy sal jou gee die begeertes van jou hart. Die Here wil hê dat ons ons hart so aan Hom sal verpand, dat ons skatryk sal wees, al het ons niks anders as net Homself nie. Ons moet kan uitroep: "Wat het ek buiten U, o Heer?!" Nie alleen wanneer ek arm en swak en siek en op my sterfbed lê nie. Maar ook jongmense. Wanneer julle in die fleur van julle lewe staan en 'n pragtige loopbaan en 'n wonderlike toekoms voor julle het. As jy besig is om planne te maak om te trou en vir jou wittebrood. As jy op die kruin van jou loopbaan is. Juis dan moet jy leer sê: "Wat het ek nou eintlik buiten U?" Dít is om jou te verlustig in die Here. Om te sê: "Die Here is my herder; ek kom niks kort nie." Wanneer ek skatryk is, die gelukkigste huwelik met die wonderlikste kinders het, wanneer ek blakend gesond is en 'n blink toekoms vir my wag, dan moet ek weet dat ek 'n patetiese karakter uitmaak sonder die Here.

Maar as die Here my herder is, al is ek ook honger en benoud, dan kom ek niks kort nie. Al gaan ek dan in 'n dal van doodskaduwee, ek sal vir niks bang wees nie, want die Here is my skaduwee aan my regterhand. En al dreig my vyande my en daar kom gevare op my pad, dan is ek vir niks bang nie. Laat my begeerte na die Here wees, dan is my begeerte op die regte plek.

Dan sal ek tevrede wees met wat ek het. Met my finansiële posisie. Met my man of my vrou. Dink aan die apostel Paulus. Hy het geweet wat gebrek is. Maar hy het ook geweet wat rykdom en oorvloed is. En die belangrikste is dat hy geleer het om in al sy omstandighede vergenoegd, tevrede te wees met wat hy het, en om hom te verlustig in die Here.

Hierdie "tevrede" is meer as om bloot daarmee vrede te maak dat ek dit tog nooit beter sal hê nie. Soms is ons sulke "vergenoegde" Christene, maar eintlik is ons pateties. Want ons dink ons gaan nooit iets méér hê nie. As ons dink dat dit geloof is, dan kul ons onsself. Geloof is nie dat ek vrede daarmee maak dat ek vir eens en vir altyd 'n mislukking is nie. Dit is nie geloof as ek niks doen wanneer ek besig is om tot niet te gaan nie. Dit is nie tevredenheid nie. Tevredenheid is om dít wat God my op daardie oomblik gee, te gaan gebruik en tot nut in sy koninkryk aan te wend. Vergenoegdheid is om blydskap te kan ken oor wat die Here besluit het om op 'n spesifieke tydstip vir my te gee. En dit wat Hy my gee, dankbaar in sy diens te gebruik. Om aktief te wees en te sien wat ek alles daarmee kan doen. Daarom moet ons die goeie werklik van God begeer.

Begeer die goeie🔗

Maar ons moet nie slegs vlug vir die begeerlikhede van ons eie harte nie. Paulus waarsku nie alleen vir Timotheus om te vlug vir die begeerlikhede van 'n jongmens nie — bly weg van dit wat jou van die Here aftrek. Hy vermaan hom ook om na te jaag alles wat goed is, alles wat saam met 'n lewe gaan waar ons ons hart vir die Here gegee het. Die liefde, die geregtigheid, die vrede (2 Timoteus 2:22). Daarom verduidelik die Kategismus in sy uitleg van die tiende gebod dat ons enersyds geen begeerte teen enige gebod van die Here sal hê nie. Daar mag selfs nie eens so 'n gedagte in ons hart kom nie. Ons moet werklik vyande van alle sonde wees. Maar andersyds moet ons 'n begeerte tot alle geregtigheid hê.

Ons moet 'n hartlike lus en 'n liefde daarvoor hê om die Here te dien. In alles wat ons doen. Het ons dit? Begeer ons om die Here te dien? Is dit die mooiste, die kosbaarste in ons lewe? Die tiende gebod wil ons leer om die sonde te haat en 'n liefde daarvoor te hê om die goeie te doen. Tevrede met die dinge wat die Here ons gee. Ontevrede met die sonde in ons lewe en daarom begerig om die goeie te doen.

Hierdie goeie dinge wat ons begeer, moet ons najaag "saam met die wat die Here uit 'n rein hart aanroep" (2 Timoteus 2:22). Daarom moet ons onsself afvra: hoe kies ons dus ons vriende? Verkies ons om met mense om te gaan wat ons gedurig in versoeking bring? Of leef ons ook met mense wat geleer het om vergenoegd te wees? Kies ons vriende wat gedurig met hulle vere pronk en ons eintlik jaloers maak en laat begeer na meer? Of verkies ons vriende wat beskeie leef in alle opsigte, maar in tevredenheid met wat die Here gee?

Help ons mekaar ook in ons stryd om tevrede te wees? Geniet ek die goeie gawes wat die Here my gee op so 'n manier dat ek nie vermakerig teenoor ander is nie? Dat ek nie in die manier waarop ek geniet van wat die Here my gee, ander se sondige begeertes prikkel nie? Help jy ander om nie te begeer nie? Die Here vra ons hele hart. Verlustig jou in die Here. Sien dat die Here jou Bruidegom is en dat jy 'n maagdelike bruid vir Hom moet wees. Moenie ander minnaars hê nie. Moenie jouself gee vir enigiets of enigiemand anders as net die Here nie. Hy sal jou beker laat oorloop. Hy sal jou hoof vetmaak met olie. Hy sal jou laat feesvier.

'n Klein begin🔗

As ons so luister na die Here wat ons hele hart vra, dan besef ons hoe ons nog steeds verkoop is aan die sonde. Daarom vra die Heidelbergse Kategismus dan ook nou die vraag of dié wat tot God bekeer is, hierdie goeie gebooie volmaak gehoorsaam. Kan ons dit volmaak gehoorsaam? Nee, nie volmaak nie. Maar daar is gehoorsaamheid van dié wat tot die Here bekeer is. Dit is die uitgangspunt van hierdie vraag. Die gelowiges het 'n begin gemaak met hierdie gehoorsaamheid wat die Here vra. Die gelowiges het hulle harte aan die Here verpand. Die gelowige kan in alle opregtheid sê dat hy die Here hartlik liefhet. Hy sit nie in die vergadering van die goddeloses nie. Hy vergader nie met hulle wat planne teen die Here beraam nie. Hy maak nie van ander dinge in sy lewe 'n afgod nie. Hy kom op die Sondag met groot vreugde saam met die ander gelowiges wat die Here ook van harte wil dien, om die Here te aanbid. Daar is duidelik 'n begin met gehoorsaamheid aan die Here en 'n teken dat hy bekeer is.

Hy leef op so 'n manier dat daar nie een van God se gebooie is wat hy wil uitsonder waaraan hy nie met sy hele hart gehoorsaam wil wees nie. Elke gelowige het 'n ernstige voorneme om nie net sommige nie, maar al God se gebooie te gehoorsaam. Dan besef ons dat ons gehoorsaamheid aan alle gebooie nog gebrekkig is, ja. Want as ons werklik verstaan wat die Here van ons vra, dan besef ons hoe sondig ons nog is. Ons mag en moet eerlik wees oor die gebrekkigheid van die gehoorsaamheid, selfs van die allerheiligstes. Selfs hulle gehoorsaamheid is nog maar 'n begin. Maar dan gebruik ons dit nie as 'n verskoning om te sondig nie. Maar om eerlik ons gebreke te erken teenoor die Here. Om te erken dat ons ook nie altyd met alle vreugde kerk toe kom nie. Dat ek ook soms twyfel in my hart ronddra. Dat ek ook moet veg teen my begeerte na 'n ander vrou of 'n ander man. Ook ek is dikwels ontevrede met my posisie in die kerk, in ons huwelik of in die samelewing. Waarom moet ons dit erken? Sodat ons sonder hoop maar gedurig moet herhaal dat ons tog maar net sondaars bly? Nee, want ons erken juis dat ons nie maar net sondaars bly nie!

Die Here wil dat ons steeds ons onvolmaaktheid leer ken en erken, sodat ons ons toevlug tot Christus sal neem. Die Here wil dat ons een groot begeerte sal hê — Christus! Dat nie eens ons vordering in gehoorsaamheid aan Hom ooit 'n ruspunt vir ons hart sal wees nie. Ja, want ek kan selfs my eie geloofswerke begin begeer bo Christus. Ek moet leer dat ek al my eie werke, selfs my beste, steeds as drek sal bly beskou. Sodat ek Christus kan kry! Sodat ek die volmaaktheid in Christus sal najaag en so daarna sal gryp, omdat ek gegryp is deur 'n begeerte na Christus. Omdat ek weet ek is deur Hom gegryp!

Die Here wil dat ons met die tiende gebod sal leer om vir Hom te sê wat Petrus vir Hom gesê het: "Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe" (Johannes 6:68). Dan kan ons weet dat ons teen al ons sondige begeertes veilig is; ons mag weet dat ons veilig is teen eie sondige begeertes met ons begeerte na Christus. Met die begeerte na sy kruis. Met die begeerte na sy volmaaktheid, wat alleen by Christus te vinde is. Want by Hom is vergifnis. En by Hom is daar krag om te stry teen ons sondige begeertes. Sy liefde vir ons aan die kruis oorweldig alle begeertes na die sonde.