4 bladsye.

Sondag 46: Heidelbergse Kategismus

Lees Hebreërs 11:1-6

Gebedsvertroue🔗

Gebed is vir 'n Christen noodsaaklik. Hoekom? Omdat die gesprek wat ons met God moet hê en wat deur die sondeval afgebreek is, weer hervat moet word. En dit mag hervat word. God het na die sondeval self die gesprek met ons weer begin. In die tuin kom soek die Here vir Adam en Eva op. Hy het die gesprek weer begin. Dit was nie Adam en Eva wat Hom weer gesoek het nie. Hulle wat die gesprek met God verruil het vir die gesprek met die satan, moet weer leer om die gesprek met God voort te sit, om weer met God te leef en te wandel. En dit gebeur ook. Ons het verlede keer gelet op Henog wat weer met God wandel. Israel kon weer die reukoffers voor die Here bring in sy tabernakel. En dit kon, want die reukofferaltaar is jaarliks geheilig met die bloed van die altaar van versoening. Gebed is weer moontlik, omdat daar versoening vir ons sondes gebring is deur Christus se bloed.

Maar nou is die vraag: hoe moet ons bid? Die antwoord is heel eenvoudig: ons moet gelowig bid (Jakobus 1:6), sonder om te twyfel. Want as ons twyfel, is ons soos 'n golf van die see wat deur die wind gedryf en voortgesleep word. Jakobus waarsku dat iemand wat só bid, nie moet dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie. Twyfel en gebed rym nie met mekaar nie. Die Hebreërskrywer sê presies dieselfde as Jakobus, net in ander woorde: "En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want Hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en 'n beloner is van die wat Hom soek" (Hebreërs 11:6). Gebed is nie maar 'n geroep in die groot heelal in nie — "Hoor my stem!" Nee, gebed is om in geloof met my hemelse Vader te praat. Met die vaste vertroue dat Hy my hoor en sal verhoor. Sonder geloof is dit onmoontlik om te bid.

Hy wat Bid, moet Glo dat God is🔗

Hy wat bid, moet glo dat God is. Dit na aanleiding van die woorde uit Hebreërs 11:6. Gebed en vertroue hoort bymekaar. Gebed kan nie sonder 'n vaste vertroue dat God ons genadig is nie. Hy wat bid, moet daarom glo dat God is. Wat sou dit presies beteken? Dikwels dink ons dat dit sou beteken dat, wanneer ons bid, ons moet glo dat daar 'n God is, geloof in die bestaan van 'n God. Heel filosofies: ons glo in 'n God — so druk baie filosowe dit uit — "wat daar is". Bo die mense en diere op aarde moet daar 'n hoër wese wees, 'n Opperwese. En daarom, as ons wil bid, moet ons glo dat daar bo die mens 'n Opperwese is, vir ons onbereikbaar ver. Ons ken hom nie; wie sou hy wees? Hoe sou hy reageer op ons gebede? Wie hy is en wat hy doen, weet ons nie. Veral weet ons nie hoe hy teenoor ons staan nie. Wat dink hy van ons en hoe voel hy oor ons? Is hy my goedgesind of moet ek vir hom bang wees? Wat wil hy met ons maak? Hoor hy ooit as ek praat en roep? Dit alles weet ons nie. Gebed tot só 'n god word nutteloos. Dit is geen gebed nie, want dit is geen gesprek meer nie. Want die hartklop van ons gebed is dat ons met God praat.

Maar dit is gelukkig nie wat hier in Hebreërs staan nie. Hier staan nie dat ons moet glo dat God bestaan nie. So word dit in die Nuwe Afrikaanse Vertaling wel vertaal. Die Here het Hom egter aan Moses bekend gemaak as die God wat "is". So leer ons uit die Woord van God. Hy is gister, vandag en môre dieselfde. Hy is die getroue God. Die God van Abraham, Isak en Jakob. Die God wat sy volk nie aan haarself oorlaat nie, hulle nie vergeet nie, selfs al vergeet hulle Hom. Die Here wat onveranderlik getrou bly aan sy belofte van verlossing en seën vir die kinders van Abraham. Daarom, wie bid, moet glo dat God is. Ek is die Here op Wie julle altyd weer kan vertrou — vir genade en verlossing en vergifnis. Ek is 'n Helper in nood. Een wat julle beter ken as wat julle julself ken.

Hy dan wat tot God kom in gebed, moet glo dat God is. Nie maar net dat God bestaan nie, maar dat Hy getrou is in sy genade teenoor ons. Hy moet sy volle geloofsvertroue op die Here kom stel. En dít is waarom Christus ons geleer het om God aan die begin van ons gebed as "ons Vader" aan te spreek. Of moet ek Hom eers aan die einde van die gebed so aanspreek, nadat ek deur baie woorde vergifnis van my sonde gekry het? Nadat ek, ná 'n vertoon van breedsprakigheid, weer met God versoen is? Hoe sal ek dan ooit kan bid? Begin daarom deur God aan te roep as Vader. Ons moet aan die begin van ons gebed opgewek word tot kinderlike vrees en vertroue op God — so stel die Kategismus dit so pragtig (vr. 120).

In 'n gebed kom ons nie tot "'n god wat bestaan" nie. Ons kom na ons hemelse Vader wat sy genade en trou aan ons beloof het. Daarom spreek ons Hom as Vader aan. Ons kom na ons Vader wat ons uit pure genade sy kinders gemaak het, sonder dat ons iets daarvan verdien het en selfs ons skuld elke dag nog groter maak. Sal Hy dan nie, noudat Hy ons sy kinders gemaak het, ook ons gebede verhoor as ons Hom op sy Naam aanroep nie?! Sal Hy nie? Dít is mos om in geloof te bid, en daarom mag ek Hom van die begin van my gebed af as Vader aanspreek.

Sien u waarom dit onmoontlik is om God te behaag sonder so 'n geloof en vertroue? Deur só 'n geloof het Abel 'n beter offer aan God gebring as Kain. Nadat die gesprek tussen die Here en Adam en Eva verbreek is, is dit weer moontlik gemaak deur die genadige belofte van die Here dat daar 'n Verlosser sou kom. Daarvan lees ons in Génesis 3. Onmiddellik daarna, in Genesis 4, lees ons van Abel se gelowige offer aan die Here. Want Abel glo dat die Here nie alleen daar ís nie, maar dat Hy ook 'n genadige God is en dat hy weer met God mag praat. Hy sien God nie, maar hy mag weet dat hierdie God hom nie aan homself oorgelaat het nie, dat hierdie God nie toornig op hom is nie. Hy bring die offer na die Here met die vaste geloof en kinderlike vertroue dat God is. Hy mag verder gaan op die belofte wat God aan Adam en Eva gemaak het. Daarom word ook Abel in Hebreërs 11 genoem. Abel het geglo dat God 'n beloner is van die wat Hom soek. Daarom bring hy 'n beter offer as Kaïn. Daarom word Abel geregverdig uit sy dade. Ons sien dat hy regverdig is deur dit wat hy gedoen het. Hy glo dat die Here sy belofte om 'n Verlosser te stuur, waar sal maak, daarom roep hy die Here weer aan. Hy vertrou op die Here se genade, en daarom kom hy in kinderlike vertroue en vrees om die gesprek met die Here voort te sit.

"Vader" — hier is sprake van vertroue. Van liefde. Van hartlike omgang met die Here. Die Een wat ons geleer het om God so aan te spreek, is niemand anders as ons Here Jesus Christus nie. Hy is die Een wat gekom het as Verlosser om God se trou en liefde en genade aan ons te kom bewys. Hy is die Een wat kom waar maak het dat God is. God is getrou. Christus se hele lewe spreek daarvan. Sy lewe en sy sterwe. Sy opstanding uit die dood en sy hemelvaart, dit alles roep uit: God is! Hierdie Jesus leer ons nou: as julle bid, bid dan: "Onse Vader wat in die hemel is".

Waarom "Vader"? Sodat ons reg aan die begin van ons gebed met kinderlike vrees en vaste vertroue na God toe kan kom, met die vaste vertroue dat Hy my sal verhoor, omdat Hy my Vader geword het uit genade, om Christus ontwil. Sal ons God dan nie met volle vertroue as ons Vader aanroep nie? Christus leer ons dit. Hierdie sekerheid moet in ons gebede herstel word, anders sal ons gebede altyd 'n las vir ons wees en bly. Dit sal geen blye gesprek met ons liefdevolle Vader wees of word nie. Dit sal geen liefdesgesprek wees nie, maar 'n onhoudbare las.

Wie mag God in sulke vertroue aanspreek? Hulle op wie se lippe die Here self hierdie Vadernaam kom lê het! Hulle met wie die Here sy verbond kom sluit het. Die gelowiges en hul kinders. Gebed is nie die vrug van 'n godsdienstige mens nie. Gebed, net soos ons wedergeboorte, is die vrug van God se genade wat Hy aan ons verkondig. Niemand kan bid voor hy nie van God se genade oor hom gehoor het nie en niemand kan God aanroep voor hy nie God se genade aanvaar het nie. Hy het kom belowe dat Hy om Christus ontwil ons Vader wil wees. Dan mag ek Hom as my Vader aanroep. Ek mag Hom aanroep en Hy sal my red uit my nood. Selfs uit my diepste sondenood. "Vader, ek het gesondig!" Is dit nie wat die verlore seun uitroep nie? Hy begin nie met: "Meneer, ek het gesondig; mag ek u weer eendag "Vader" noem?" Nee. Hy sê: "Vader, ek het teen u gesondig."

Reg aan die begin van my gebed mag ek Hom met vertroue en kinderlike vrees aanroep as "Vader". My sonde vorm geen skeiding tussen God en my nie; daar is geen onmoontlikheid om God as "Vader" aan te roep nie. Inteendeel. Ek gaan juis nou die erns van my sonde ken; ek gaan besef dat ek gesondig het teen Hom wat die Vadernaam op my lippe kom lê het. Dan sien ek die verskriklikheid van wat ek doen.

Jongmense, sien julle die geweldig aangrypende manier waarop die Here julle wil leer bid? Hy kom roep self sy Naam oor julle uit in sy genadeverbond. Hy het sy Naam op ons kom lê toe ons gedoop is in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Ter wille van Christus kom noem Hy julle sy kinders. En dan mag en moet julle Hom aanroep as julle Vader. Hoe verskriklik sal dit nie wees as julle Hom nie wil aanroep as Vader nie! As julle sê: "Ek is onwaardig; ek mag Hom nie aanroep as Vader nie." Glo julle dan nie dat God is nie? Glo julle nie aan sy onwankelbare trou aan wat Hy gesê het nie? Glo julle nie dat Hy ter wille van Christus ook julle Vader wil wees nie? Hoekom sal julle dan nie bid nie?

Hoekom bid ons nie? Dink maar aan Kaïn wat hierdie belofte van die Here ook nie wou glo nie, en 'n slaafse offer bring. Ja, hy bring ook 'n offer aan die Here, die vrug van sy arbeid. Maar dit is uit sy vlees uit, en uiteindelik word hy die moordenaar van Abel, sy broer wat die Here wel geglo het, wat geglo het aan die Here se onwankelbare trou en genade.

Daarom — wat 'n voorreg om te mag bid! Om te mag weet dat my gebede verhoor sal word ter wille van Christus. Dít is om gelowig te bid. Om te glo dat God is. Dit is die gelowige gebed wat God behaag. Sonder hierdie geloof sou ons wees soos 'n golf wat deur die wind gedryf en voortgesleep word. Gebed is nie 'n las wat ons opgelê word nie — "Nou moet ons vandag alweer bid". Nee, maar dit is 'n wonderlike gawe van die Here; Hy werk dit ook in ons deur sy Gees. Paulus skryf aan die gemeente in Rome dat ons tog nie van die Here 'n gees van slawerny ontvang het om weer te vrees nie. Ons het egter ontvang die Gees van kindskap, van aanneming tot kinders, deur Wie ons roep: "Abba, Vader!" (Romeine 8:15). Dit is die geweldige vryheid wat ons het wanneer ons weet dat die Here nie van ons slawe wil maak nie, ook nie deur gebed nie. Maar Hy belowe dat Hy ons Vader wil wees, sodat die Gees deur die belofte die geloof in ons kan werk om uit te roep: "Abba, Vader!"

En dan mag ons weet dat Hy ons veel minder dit wat ons in geloof bid, sal weier as wat ons aardse vaders ons dinge ontsê. Dan mag ons weet: Hy wil ons werklik help in al ons omstandighede. Hy wil werklik dat ons met Hom sal praat, dat ons Hom sal aanroep. Elkeen wat die Gees van Christus het, dié behoort aan Hom. Sal Hy dan weier om na ons te luister? Daar is mos nou geen veroordeling vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees (Romeine 8:1). Hy het my deur sy Gees vrygespreek van die dood. Nou wil Hy my die lewe gee. Sal ons Hom dan nie as Vader aanroep nie?

Roep Hom aan vir vergifnis van sonde. Vir die vervulling met die Heilige Gees. Bid Hom sonder ophou daarvoor. Ek mag Hom aanroep in groot benoudheid en siekte, in onsekerhede en ook in vreugde. Ek mag sy lof verkondig in gebed. In gebed kan ek nou werklik my hart en my siel voor die Here uitstort. Sonder enige vrees dat Hy my nie sal hoor en verhoor nie. Met die grootste sekerheid dat Hy as my liefdevolle Vader sal hoor en verhoor.

Hy wat Bid, moet Glo dat God 'n Beloner is🔗

Hy wat bid, moet glo dat God 'n beloner is van die wat tot Hom kom, tot Hom bid. Let daarop dat hierdie Vader van ons tegelyk ook nog 'n hemelse Vader is. Dit beteken nie dat daar nou hierdeur afstand of skeiding  tussen ons en God gekom het nie. Ons leer wel dat ons (ook in ons gebed) nie aards van God moet dink nie. Omdat Hy 'n hemelse Vader is, kan ons juis alles verwag wat ons vir liggaam en siel nodig het. Ons Vader is die almagtige God in die hemel, die Skepper van hemel en aarde. Hy is 'n almagtige God wat werklik ook 'n beloner kan wees van die wat Hom soek. Hy is magtig om dít te doen wat Hy ook beloof het. Hy kan die daad by die woord voeg!

Hy wil en kan al ons gebede verhoor. En laat ons hier maar nie te aards van Hom dink nie. Hy verhoor nie soos wat ons dit altyd wil nie! Gelukkig nie. Vanuit die hemel regeer Hy oor alles ons ten goede, en Hy weet wat om aan ons te gee en wanneer om dit aan ons te gee. Ons kry nie altyd wat ons vra op die tyd dat ons dit vra nie. Moet daarom nie aards oor Hom dink in u gebede wanneer u tot Hom kom nie. Maar moet ook nie aards dink wanneer u nie dadelik antwoord kry op u gebed nie. En hou ook nie op om te bid as daar nie dadelik antwoord is nie. Bid sonder ophou! Dink maar aan Abraham, wat met God bly worstel het oor Sodom. Hou aan met bid. Moenie aards dink nie. Maar bid gelowig.

God is 'n hemelse Vader, wat nie onmiddellik in beweging kom die oomblik wanneer ek praat nie. God beproef ook juis ons geloof wanneer Hy nie dadelik antwoord nie. Bid sonder ophou! En dan mag ek in gebed my hele lewe toevertrou aan sy wyse, liefdevolle en genadige heerskappy.