4 bladsye.

Sondag 48 Heidelbergse Kategismus

Lees: 1 Korintiërs 15:19-28

Die opstanding en die koninkryk van God🔗

Die opstanding uit die dood tot die ewige lewe is nie 'n losstaande artikel nie. Wanneer die apostel Paulus die aangrypende woorde oor die opstanding uit die dood skryf, word dit geplaas binne die veel groter raamwerk van die koms van die koninkryk van God. Menslike lewens en ideale en planne kom en gaan. Wat vir ewig sal bly in die opstanding uit die dood, is die koninkryk van God! Maar die koninkryk van God is nie iets wat eers aanbreek met die opstanding uit die dood nie. Die koninkryk van God moet juis nou reeds ons hele lewe bepaal. Iemand wat op Christus hoop vir die ewige lewe, sonder om nou reeds te wil lewe as gehoorsame burger van God se koninkryk, mislei homself. Die hoop op Christus vir hierdie lewe en die lewe hierna, is 'n hoop op 'n lewe in die koninkryk van God.

Wat gebeur as die Here ons gebed verhoor wanneer ons bid dat sy koninkryk moet kom? Sal dit ons lewens nou reeds verander en beïnvloed? Behoort die koninkryk van God nie 'n sentrale plek in ons lewens in te neem nie? Christus leer ons dat ons eers die koninkryk van God moet soek en die geregtigheid dáárvan, en alle ander dinge sal vir ons bygevoeg word. Ons daaglikse voedsel sal vir ons bygevoeg word, alle versorging wat nodig is vir ons liggame, en selfs die opstanding uit die dood sal vir ons bygevoeg word as ons nou die koninkryk van God soek. Die Here wil hê dat ons ons lewens leer sien binne die raamwerk van die lewe met die Koning van die koninkryk, sodat Hy alles in almal kan wees.

Ons bid sodat God alles in almal kan wees, volgens die woorde van 1 Korintiërs 15:28 — gehoorsame burgers van die koninkryk van God, en strydende burgers van die koninkryk van God.

Gehoorsame burgers van die koninkryk van God🔗

Die koninkryk van God — wat presies is dit? Is dit reeds daar? Het hierdie ryk al gekom? Of is dit iets wat nog êrens in die verre toekoms moet kom, sodat, wanneer ons bid: "Laat u koninkryk kom", dat ons dan bid dat dit eendag 'n aanvang sal neem? Dalk by die wederkoms van die Here, dalk by die opstanding uit die dood of by die oordeel van die Here oor al sy vyande?

Die Skrif leer ons egter reeds in die Ou Testament dat God 'n groot Koning ís. Daarvan lees ons in Psalm 93: "Die HERE is Koning; Hy is met hoogheid bekleed. Vas staan u troon van ouds af; van ewigheid af is U" (Psalm 93:1a, 2). Dan is dit nie maar in die sin van: Hy is net daar nie; nee, maar Hy regeer as Koning van alle ewigheid af. Die Here is Koning. Hy hoef nie op 'n sekere stadium Koning te word nie. Die Here regeer nou reeds met heerlikheid. Dit staan vas. Van ewigheid tot in ewigheid. Hier sien ons wat alreeds só belangrik is vir die regte verstaan van die koninkryk van God — ons moet, wanneer ons oor die koninkryk praat, gaan let op die Koning van hierdie ryk. As ons goed wil begryp wat die bede "laat u koninkryk kom" beteken, dan moet ons oog hê vir die Koning! Dit gaan oor die Koning, oor God se heerskappy. En by geen geleentheid was Hy nie Koning nie. Nog nooit het Hy die heerskappy van sy koninkryk aan 'n ander oorgegee nie; sy koninkryk, wat aarde en hemel insluit. Hy regeer van ewigheid tot in ewigheid! Ons moet nie die gedagte hê dat hierdie aarde op die oomblik oorgegee is as 'n ryk van satan nie. Dit is nie satan se ryk nie, maar dit is God s'n.

Maar hoe moet ons dan die boodskap van die Nuwe Testament, dat die koninkryk nou naby gekom het (Matteus 4) verstaan? So verkondig beide Johannes die Doper en Jesus self dit. Die Here Jesus sê selfs: "Die koninkryk van God is binne in julle." (Lukas 17:21). Dit kon Jesus sê omdat Hy self as Koning van die koninkryk naby gekom het. Hy het vanuit die hemelse heerlikheid, die hemelse koninkryk, na die aarde gekom, die aarde wat in sonde verval het. Met sy heerskappy het Hy tot by ons gekom. Die koninkryk van die Here het naby gekom en kry gestalte in die optrede van die Here Jesus. Hy het daardie koninkryk weer volkome kom herstel hier op aarde. Met sy openbare optrede het Hy met die herstel begin. En juis in die optrede van Jesus kry ons nou weer die volkome genadige herstel van die koninkryk van die hemel. Deur Christus Jesus word dit weer moontlik vir afvallige burgers van die koninkryk om weer gehoorsame burgers te word. Wanneer die Here Jesus dus sê dat in Hom die koninkryk naby gekom het, dan beteken dit dat waar mense weer gaan leef uit God se genade in Jesus, God se koninkryk ook weer volkome herstel word. Waar mense in Hom gaan glo, daar word die heerskappy van God weer herstel in mense se lewens.

Mense wat opstandig was, word weer gewillige onderdane. Natuurlik is die hart van die magtigste, selfs ongelowige, koning in die hand van die Here om dit te stuur en beheer soos Hy wil (Spreuke 21:1). Laat ons alleen maar dink aan hoe die Here die magtige koning Kores beskryf as sy "kneg". God regeer oor hom ter wille van sy volk. Of die keiser Augustus wat deur die Here gebruik word om die opdrag te gee vir die inskrywing van alle volke, sodat die Seun van Dawid en van Maria in die Dawidstad gebore sou word. Die magtigste koning staan in diens van die Here. God regeer selfs oor die heidene, hulle is sy knegte. Hy regeer as Koning oor alles en almal. Maar die Here wil dat mense ook heel gewillig en gelowig instrumente in sy hand sal wees. Juis op dié manier kom die koninkryk van God. God se koninkryk, sy heerskappy, is altyd daar. Maar dit moet weer gewillig aanvaar word, soos wat Adam en Eva dit gedoen het voor die sondeval. Hulle het God erken as die Een wat regeer oor sy skepping. Hy was die Een wat spreek en hulle het geluister.

Dit stel die Kategismus dan ook so mooi. Die betekenis van hierdie bede om die koms van die koninkryk van die Here, is: "Regeer ons so deur u Woord en Gees dat ons ons hoe langer hoe meer aan U — aan u heerskappy — onderwerp." Ons bid nie dat die Here Koning moet word nie, want dit ís Hy; maar ons bid dat ons ons weer gewillig aan sy heerskappy sal onderwerp. Hierdie gebed is geen roep uit angs dat die Here die wêreld, wat rigtingloos voortdrywe, asseblief tog maar moet vashou nie. Nee, God regeer en stuur alles tot die volmaakte doel wat Hy in Christus met die wêreld en die wat daarin woon, het. Die vraag is of ons ons onderwerp aan sy volmaakte wil wat altyd regeer.

Maar hierdie bede wil veral aandag vra vir die manier waarop ons gaan lewe in hierdie wêreld van vandag. Ons bid vir 'n meer gewillige onderwerping van ons eie lewe aan die heerskappy van die Here. Onderwerping van ons eie lewe aan die heerskappy van die Woord en die Gees van die Here in ons lewe. So stel die Kategismus dit so mooi. Want die septer waarmee koning Jesus in ons lewe wil regeer, is sy Woord. En Hy wil dat sy Gees in ons kom werk deur daardie Woord. Die Gees wat deur die Woord my onwilligheid in gewilligheid verander (Dordtse Leerreëls, hoofstuk 3/4, paragraaf 11). My wil wat dood was vir diens aan die Here, moet weer lewend gemaak word vir diens aan God. My slegte wil moet goed gemaak word. Ongehoorsaamheid moet in gehoorsaamheid verander word. Dit is wat die Dordtse Leerreëls beskryf as die wedergeboorte. Ons moet weer lewend gemaak word vir diens aan die Koning!

Hierdie gebed vra dat die Here ons gewillig sal maak om ons te onderwerp aan die septer, sy Woord, waarmee Hy oor ons wil regeer, met sy Gees in ons wil leef. Dit is 'n gebed dat ons met meer gewilligheid sal luister na die verkondiging van die Woord. Dit is 'n gebed dat ons met meer gretigheid na die eredienste sal kom. Hierdie bede is 'n gebed om 'n lewe waarin ons nie meer selfgesentreerd sal lewe nie, maar gerig op die volmaakte wil van ons Koning.

Daarom sê die Here: "Soek eers die koninkryk van God" — bid dáárvoor. Dan sal alles deur die Koning vir julle bygevoeg word. Wanneer ons ons onderwerp aan sy Woord, dan gee God ons alles. Wees nie soos die heidene wat gedurig maar weer besig is met wat hulle sal eet en drink nie. Wees nie soos hulle wat hul nie aan sy heerskappy onderwerp nie. Maar as julle jul wel onderwerp, waarom is julle dan bekommerd? Hy regeer mos in sy genade oor ons, Hy sorg vir ons. Honger na die heerskappy van die Here in jou lewe, en al hierdie ander dinge word wel vir jou bygevoeg. Daarvoor staan die Koning borg!

Wanneer ons bid om die koms van die koninkryk van die Here, dan bid ons daarom veral dat die Heilige Gees in ons sal werk. Dat God met sy Gees deur die Woord in ons wil regeer. Daarom is dit 'n gebed om jou troue erediensbywoning. 'n Gebed vir jou liefde vir die Woord van die Here. Dit is 'n gebed om die Woord self getrou te lees en te bestudeer, sodat die Gees in my kan werk, my aan die Woord kan onderwerp.

Die opregtheid waarmee ons hierdie bede bid, kom veral na vore in ons houding teenoor die kerk van die Here. Want waar wil die Here met sy Woord en Gees oor ons regeer? In sy kerk. Die gemeente van Christus is die woning van die Gees. Die Heilige Gees is nie uitgestort op 'n klompie entoesiastiese mense daar buitekant nie. Die Gees van God is uitgestort op sy vergaderde gemeente. Dáár wil Hy oor ons regeer. Dáár laat Hy ook sy Woord verkondig. Reeds in die Ou Testament word Israel "'n koninkryk van priesters" genoem. Daar het God sy volk reeds bymekaar gemaak, sodat dit 'n koninkryk kan wees. Die volk word in Eksodus 19 reeds "'n koninklike priesterdom" genoem, en Petrus neem dit net so oor in 1 Petrus 2:9. As ek dus 'n gehoorsame burger van die koninkryk van die Here wil wees, dan hoort ek in die kerk van die Here.

Die Woord van die Here leer ons dat Christus 'n Koning is wat nooit sonder onderdane kan wees nie. En waar kry ons die onderdane? In die kerk van Christus! En juis omdat dit so is, glo ons en bely ons dat daar 'n kerk van Christus is van die begin van die wêreld af tot die einde daarvan (NGB Artikel 27). Die gehoorsame onderdane, die burgers van die koninkryk van God, word gevind in die kerk van die Koning. En Jesus is 'n Koning wat nooit sonder burgers kan wees nie. Daarom het Hy 'n kerk. Buite die kerk is hulle wat nog in rebellie teen die Koning is. Buite die kerk is die muiters, of soos Openbaring 22 sê: die honde. Buite die kerk is dié wat nog van hulle opstandigheid, met alle vrome bedoelings wat hulle ook mag hê, bekeer moet word.

As ek bid om die koms van die koninkryk van God, dan bid ek tegelyk dat die burgers van die koninkryk in die kerk toegerus sal word vir hulle daaglikse taak in die koninkryk van God. Want dit is veel wyer as maar net die kerk. Juis in die kerk word die burgers van die koninkryk gemobiliseer, toegerus en versterk tot hulle daaglikse taak en roeping in die koninkryk: vir hulle taak as vader en moeder, as student en leerling, as huisvrou en as bestuurder. Ek word in die kerk toegerus vir my werk as ingenieur en as boekhouer.

Kerk en koninkryk mag nooit teen mekaar uitgespeel word nie. Daarom voeg die Kategismus by hierdie bede dan ook tereg by dat dit tegelyk 'n gebed om die bewaring en groei van die kerk is. Die koninkryk van God kan nie kom sonder die kerk wat groei en bewaar word nie. Bewaring teen afvalligheid in die kerk. Want as die kerk afvallig word, hoe gaan dit dan in die koninkryk?! Maar ons bid ook: Here, laat u kerk groei, vermeerder die kerk. Seën daarom ons evangelisasiewerk, Here. Maak ons meer ywerig daarin. Maak ons gewillig en bereid om kinders van U te ontvang, sodat ons hulle kan opvoed in die vrees van die Here. Só kom die koninkryk en groei die kerk. Here, help ons as ouers en onderwysers om met ywer en toewyding en met nougesetheid ons kinders op te voed en te onderrig in u Woord. Here, seën die verkon¬diging van die evangelie, en seën die teologiese opleiding. Hoe kan ons bid vir die koms van die koninkryk van God, as ons nie bid dat die Here dienaars van die Woord sal gee nie, sonder om mee te werk in die opleiding van toekomstige getroue bedienaars van die Woord?

Strydende burgers van die koninkryk van God🔗

Die koninkryk is wel 'n ryk wat beveg word. In die eerste plek deur die duiwel. So was dit vanaf kort na die skepping. Die Here se heerskappy oor Adam en Eva, sy volmaakte heerskappy oor hemel en aarde, is teëgestaan. Daarom sal Christus die koninkryk eers aan die Vader oorgee nadat Hy alle vyandige heerskappy, en gesag en mag, vernietig het. En dit gebeur ná die opstanding van die dooies. Ons lees in 1 Korintiërs 15:25 en 26 dat Christus heers as Koning totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. Die laaste vyand wat oorwin word, die laaste teenstander van die koninkryk van God, is die dood. Die dood wat gekom het weens Adam en Eva wat van die Here se heerskappy deur sy Woord en Gees probeer wegkom het, wat hulle geskaar het by die vyand van die ryk van God. Hierdie bede word dan ook tereg in die Kategismus beskryf as 'n gebed om die vernietiging van die werke van die duiwel en van elke mag wat teen die Here opstaan.

Die oorwinning is verseker, want Christus regeer oor sy vyande totdat Hy hulle finaal onderwerp het. Hy het so byvoorbeeld reeds die dood oorwin deur sy opstanding uit die dood. En tog moet die dood nog verslind word in sy oorwinning. Die angel van die dood is nou reeds vernietig. Daar sien ons dat Christus nou al Koning is, en tog moet sy ryk nog kom. Die opstanding van dié wat in Christus ontslaap het, is verseker. Christus onderwerp sy vyande as Een wat oor hulle regeer. Hy regeer ook oor die swakhede en sondes in die lewens van sy kinders. Daarom is ons stryd teen ons sondes en al ons swakhede nie verniet nie. As Christus nie daaroor regeer het nie, was dit 'n uitsiglose stryd, een wat uitgeloop het op die dood. Maar noudat Christus regeer, is dit 'n stryd met uitsig op die lewe, selfs op die ewige lewe. Omdat Christus Koning is, mag u in hierdie bede vra vir die vernietiging van die werke van die satan in u lewe. En u kan reken op beantwoording. Terwyl u liggaam ly onder swakhede en siektes, kan u in die bede om die koms van die koninkryk van die Here reken op herstel van u liggaam. Selfs al moet ons wag tot die dag van die opstanding met nuwe liggame. Want ons stry nou nie teen die swakhede en afbraak van ons liggame soos mense sonder hoop nie, maar as mense wat uitsig het op die ewige lewe. Uitsig deur die verwagting dat ons swakke liggame weer sterk gemaak sal word. Dat ons 'n nuwe liggaam sal kry.

Waarop stuur die beantwoording van ons gebed om die koms van die koninkryk van die Here af? Dit stuur daarop af dat Christus as ons Verlosser Hom onderwerp aan die Vader, sodat Hy wat alles aan die Seun onderwerp het, weer alles in almal kan wees (1 Korintiërs 15:28). Sodat die volmaakte heerskappy van God weer herstel is, soos dit was voor die sondeval. Dan onderwerp Christus Hom weer aan die Vader. Nie omdat Christus as ons Middelaar onttroon sal word nie, want die Lam regeer vir ewig in die nuwe Jerusalem. Maar dan het Hy ons gebring by dit waartoe God ons wou verlos: gehoorsame onderdane wat die Here vir ewig mag dien deur 'n volmaakte Middelaar. Halleluja!