4 bladsye.

Sondag 49 Heidelbergse Kategismus

Lees: Hebreërs 10:19-39; Dordtse Leerreëls, hoofstuk 3/4, paragraaf 11🔗

Volharding🔗

Ons sou Hebreërs 10:36 só kon vertaal: "Wat julle nodig het, is volharding, om so te volbring wat God wil en wat God beloof het, in besit te neem." God se wil vir ons lewens — dit is iets wat te doen het met lewe en dood. Daaraan is selfs die belofte van die ewige lewe verbind. Ons moet volhard om die wil van God te doen, want dan sal ons dít wat God beloof het, ook ten volle kry. Dit maak natuurlik hierdie gebed, die derde bede, ook so dringend: "Laat u wil geskied, soos in die hemel, net so ook op die aarde", net so ook in ons lewe. Die wil van die Here word in ons lewens nie uitgevoer sonder 'n geweldige stryd nie. Om die waarheid te sê, ons sal die wil van God nooit uit ons eie krag kan doen nie. En tog kan ons nie gered word sonder om die wil van God te doen nie. Volharding in die wil van God om dit te doen, so moedig die Hebreër¬skrywer ons aan, dit is wat julle nodig het om in besit te neem wat vir julle beloof word.

En tog is dit juis hier waar daar 'n geweldige spanning in die lewe van God se kinders kom: die goeie — die goeie wil van God — wat ek wil, dit doen ek nie, terwyl die kwade altyd by my is (Romeine 7:15). Waar kom hierdie spanning vandaan? Is dit nie juis hieruit dat ons glo dat ons duur gekoop is met die bloed van Christus en daarom nou aan die Here behoort om sy wil te doen nie? Ons is nie ons eie eiendom of die eiendom van die satan nie. Ons is gekoop om die wil van die Here te doen. Om dit te doen waarvoor ons oorspronklik deur die Here gemaak is. Juis omdat Hy my vrygekoop het, wil ek nou so graag sy wil doen, dit wat volgens sy volmaakte wil is.

Dit is opvallend dat hoe vaster my geloof in sy liefde vir my, hoe vaster my geloof daarin dat Hy my vrygekoop het, hoe sterker is die begeerte om Hom ook nou volgens sy wil te dien. En daarom ook: hoe sterker is die stryd. En nou is dit juis hier waar die stryd teen my eie wil inkom. Juis wanneer ek glo. Die ongelowige ken nie hierdie stryd nie. Hy is verkoop aan sy eie wil. Hy het geen probleem daarmee nie, hy verlustig hom selfs daarin. Maar die gelowige besef dat hy vrygekoop is uit die mag van die satan om God se wil te doen. Want ons is nog nie finaal vry van die krag van ons eie sonde in ons lewe nie. In hierdie geweldige stryd roep ons as kinders tot ons hemelse Vader: "Laat u wil geskied, ook in my lewe. Help my om my eie wil prys te gee. Help my om aan u wil, wat alleen goed is, sonder enige teëpratery gewillig gehoorsaam te wees." Omdat dit so 'n swaar stryd is, gaan die ongelowige gou opgee en nie hierdie gebed bly bid nie. Hy gaan sê: "Dit is onmoontlik om nie my eie wil te doen nie, tensy God dit verander." En hy laat dit vir wat dit is. Dit is net die gelowige wat werklik glo dat hy vrygekoop is, wat hierdie gebed bid. Juis hy gaan bid: "Here, laat u wil in my lewe al meer en meer geskied. U wil alleen, wat volmaak, goed en regverdig is." Hy gaan hierin volhard. Die skyngelowige hou op om te probeer om die Here gehoorsaam te wees — hy sal tevrede wees met die gebruik van die Naam van die Here, wat hy wel op sy lippe neem, maar sonder konkrete gehoorsaamheid in sy daaglikse lewe.

Sê Christus self dit nie in die bergrede soos volg nie: "Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is."? Dit beteken nie dat ons gehoorsaamheid volmaak sal wees nie. Jesus praat self van 'n seun wat eers gesê het: "Ek wil U nie gehoorsaam wees nie", maar later berou gehad het en dit wel gaan doen het — dit was die tolle¬naars en die sondaars wat hulle bekeer het en gaan doen het wat Jesus gesê het. Maar Hy praat ook van ander wat gesê het hulle sal dit gaan doen en dit dan nie gedoen het nie — dit was die Fariseërs wat verdrink het in hulle eie vroomheid, maar God se wil geïgnoreer het. Met die oog op hierdie stryd gee Christus vir ons hierdie derde bede om te bid: "Laat u wil geskied ...", ook in my lewe.

Onmoontlik?🔗

Maar is dit nie onmoontlik om die wil van die Here te doen nie? Is gehoorsaamheid nie maar altyd net iets wat ons begeer, maar nooit werklik ook doen nie? Die wonder is dat dit gelukkig nie so is nie. Ons bely juis in die Dordtse Leerreëls, hoofstuk 3/4, paragraaf 11 dat, wanneer die evangelie aan ons verkondig word, dan bly dit by ons nie iets "uiterliks" nie. Die evangelie is nie net 'n uiterlike krag nie. Nee, dit kom juis tot in die diepste wese van ons bestaan. Die krag van die Heilige Gees, wat vir ons die wedergeboorte skenk, dring deur tot in "die binneste dele van die mens", tot binne in ons hart. In ons wil, wat verslaaf was aan die satan en ons eie begeertes, kom gee die Gees van die Here nuwe eienskappe. Hy maak "die wil, wat dood was, lewend; wat sleg was, goed; wat onwillig was, gewillig en wat ongehoorsaam was, gehoorsaam." So kom maak die Here ons wil onderworpe aan sy goeie en volmaakte wil, sodat ons Hom werklik gehoorsaam kan wees.

En hoe gebeur dit? Deur die evangelie wat aan ons verkondig word! Ons word nie gewillig om die wil van die Here te doen wanneer ons met 'n nuwe slawerny gedreig word nie. Maar wanneer ons geleer word dat ons met groot vrymoedigheid na God kan gaan deur die bloed van Jesus (Hebreërs 10:19) en ons groot geloofs¬versekerdheid het dat ons verhoor sal word ter wille van Hom, dan word ons aangespoor tot gehoor¬saam¬heid. Ons word daar ook aangemoedig om die wil van God te gaan doen. "Kom nou, is julle nie besprinkel met die bloed van Christus nie? Daar is krag vir julle. Julle is tog skoongewas van die mag van die satan oor julle? Doen dit ter wille van God, sodat julle ook werklik alles wat God beloof het, in besit kan neem." Dit is juis ons wonderlike verlossing wat ons uit genade ontvang, dat die Here ons wil wat gebonde was aan die sonde en die satan, kom vrymaak om Hom te kan dien.

Dan beteken dit nie dat ons 'n "vrye wil" moet "prysgee" om aan die Here te kan behoort nie. Nee, die evangelie wat ons verkondig kan hoor, is juis die bevryding van ons eie wil uit die mag van die bose wat dit gevange geneem het tot ongehoorsaamheid. Die Here wil deur die verkondiging van die evangelie ons wil weer gehoorsaam aan Hom maak. Dink maar hoe Adam sy vrye wil onderwerp het aan die duiwel wat hom mislei het. Daar het Adam, en ons as sy nageslag, ons vrye wil verloor. Ons het nie 'n vrye wil nie. Dit is gebind aan die krag van die sonde. Die wonder van die evangelie is juis dat dit aan ons verkondig word in die krag van die Gees, wat ons in ons diepste bestaan kom bevry, wat hierdie wil weer nuwe eienskappe gee, sodat ons die wil van God weer sal begeer en weer volgens dié wil gaan leef, sodat ons wil weer vry kan wees en aan die Here self onderworpe. In die Dordtse Leerreëls, hoofstuk 3/4 bely ons dat die geloof 'n gawe van God is, nie omdat dit aan die vrye wil van die mens aangebied word nie, asof God se genade 'n geskenk is wat langs ons neergesit word, en waaroor ons as magtige heersers besluit of ons dit sal aanvaar al dan nie. Dit is nie hoe die evangelie aan ons verkondig word nie. Nee, die evangelie kom juis in die krag van die Gees in ons harte in om ons wil met daardie evangelie te verander. Hy wil ons bevry van ons slaafse wil, sodat ons Hom ook werklik wil dien.

Wat wil U hê moet ek doen?🔗

Is dit nie opvallend wat met Paulus gebeur in sy ontmoeting met Christus op die pad na Damaskus nie? Hy vra aan Christus: "Here, wat wil U hê moet ek doen?" (Handelinge 9:6). As Paulus werklik die verhoogde Christus ontmoet, is dít sy vraag. Geen magswoord van Paulus dat hy tog vir Christus 'n plekkie in sy lewe sal gee nie. Inteendeel! "Here, U is die verhoogde Christus; voor U moet ek buig. U regeer vir altyd aan die regterhand van die Vader ... wat wil U hê moet ek doen? Laat u wil geskied in my lewe."

Waar word die manier waarop die Here ons verlos om Hom te dien, duideliker as juis in sy verbond van genade wat Hy met ons en ons kinders kom sluit? Terwyl ons dood lê in die sonde en nie in staat is om die wil van die Here te doen nie, maar net die kwaad —  want dit is waartoe ons en ons kinders in staat is: alleen om kwaad te doen — dan kom die Here met sy geweldige beloftes na ons toe, sy beloftes van bevryding, van genade en vergifnis en vernuwing. Hy kom belowe om ons God en Vader te wees. Hy wil ons met alle goeie dinge versorg en alle kwaad van ons afweer of tot ons beswil beskik. Hy koop ons los van die oordeel oor ons sonde en was ons in die bloed van sy Seun. Hy wil ons in sy Seun weer as kinders aanneem. Hy wil deur sy Gees in ons kom woon en lewende lidmate van Christus maak. As dit die wil van God is, watter heerliker gebed is daar dan as om te bid: "Laat u wil geskied!" As dit is wat God alles vir ons en ons kinders wil gee, wat wil ons anders begeer as juis dit!

En wanneer ons vanuit hierdie evangelie lewe, dan gaan ons lewe ook werklik verander. As ons die belydenis vashou, sal ons ook aangespoor word om die wil van die Vader konkreet te doen. In die gewone dinge van ons lewe. In die manier waarop ek my huiswerk doen, in die manier waarop ek my motor in die verkeer hanteer. Hoe ek in my huwelik besig is met my lewensmaat. Wat ek maak met my sondige begeertes.

Selfverloëning🔗

Daarom is selfverloëning vir 'n Christen nodig. Jesus maak dit self ook duidelik dat niemand sy dissipel kan wees as hy homself nie verloën nie. Self¬verloëning beteken gewoon dat ons ons eie wil prysgee. As iemand agter Jesus aan wil gaan, moet hy homself verloën en sy kruis opneem. Want, sê Christus, elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor — elkeen wat aan sy eie wil bly vashou, sal op die manier sy lewe prysgee; maar elkeen wat sy lewe om Christus ontwil verloor, elkeen wat sy eie lewe om Christus ontwil kruisig, hy sal dit wen (Matteus 16:24 en 25). Verloën jou eie wil, sterf aan jouself, en jy sal jou lewe wen! As ons aan Christus behoort, dan behoort ons mos nie aan onsself nie. As ons aan God behoort, dan moet ons mos vir Hom lewe en vir Hom sterf. Hierdie oproep kan ons nie ligtelik opneem nie. Om ons kruis op te neem beteken dat ons moet sterf aan ons eie begeertes en die wil van Christus moet soek. Dit kos baie. Dit kan selfs ons lewe kos.

Maar hoe sal ons ooit op hierdie pad kan gaan? Uit eie krag? Nee, maar deur jou oog te hou op Christus wat Homself in jou plek verloën het. Hy het gewillig sy eie wil prysgegee en na Jerusalem gegaan om baie te ly onder die hande van die ouderlinge en owerpriesters en daar gedood te word. Hy het in Getsémané in bloedsweet gebid: "My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil." (Matteus 26:39). In die woorde van Lukas 22:42: "... Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied!" Daardie beker van uiterste selfverloëning het Hy gedrink vir u en vir my, in ons plek. Daarom moet ons uit Hom gaan leef, omdat Hy Homself vir ons verloën het. Ook wanneer jy faal in jou selfverloëning, wanneer jy aan jou eie wil vashou, kan jy weet dat daar vir jou vergifnis is; kan jy weet waar om die krag te vind om aan jouself te sterf.

Soos in die hemel ...🔗

Dit wat vir ons nou onmoontlik is en lyk, naamlik om ons eie wil prys te gee, dit is reeds in die hemel moontlik. Want ons bid: "Laat u wil in ons lewe geskied, soos in die hemel ..." Want wat het in die hemel gebeur? Was God se wil daar altyd volmaak gehoorsaam? Nee, want dit is die plek waar die engele, die duiwel en sy volgelinge, teen God in opstand gekom het. In hoogmoed, want hulle wou hulself nie verloën nie. En gedurende die hele tydperk van die Ou Testament was daar nog plek vir die satan in die hemel. Daar kon die satan nog verskyn om die diensknegte van die Here aan te kla. Maar Christus het, nadat Hy Homself volmaak verloën het, nou met sy offerbloed in die allerheiligste ingegaan. Ons het 'n groot Hoëpriester oor die huis van God. Met Christus se hemelvaart is daar geen plek meer vir die satan in die hemel nie, soos ons in Hebreërs 10 gelees het. Met sy liggaam wat vir ons geoffer is, het Hy nou agter die voorhangsel ingegaan, is Hy nou in die hemel.

In die hemel geskied die wil van ons Vader volkome. Daar is ware gehoorsaamheid. Dink maar aan die engele wat die Here gewillig dien. Hulle wat as diensknegte uitgestuur word ter wille van ons wat die saligheid sal erf. En nou, meer as ooit, het ons nodig om te bid dat die Vader se wil sal geskied, want die duiwel is op die aarde neergewerp en loop rond om te kyk wie hy kan verslind deur die sonde so aantreklik as moontlik voor te stel. Christus is in die hemel, in die huis van sy Vader, besig om vir ons in te tree. Hy bid vir ons, sodat God se volmaakte wil in ons gestalte sal kry. Op grond daarvan bid ons nou: "Laat u wil geskied, soos in die hemel, net so ook op die aarde". Laat ons daarom nie moeg word nie. Ons het geduld nodig, want dit is nog 'n klein tydjie en Jesus sal kom en nie langer wag nie. Intussen moet die regverdige uit die geloof lewe (Hebreërs 10:37 e.v.). As ons ons aan die Here onttrek, sal Hy geen behae in ons hê nie. Maar by ons is daar tog geloof tot behoud van die lewe!!