4 bladsye.

Sondag 5 Heidelbergse Kategismus

Lees: Matteus 3:1-17🔗

Die grootheid van ons verlossing verstaan🔗

Ons moet vir onsself die vraag bly afvra of ons die grootheid van ons verlossing werklik verstaan. Besef ons werklik die grootheid van ons verlossing? Besef ons werklik hoe 'n groot gebeurtenis dit was en is? Dink ons nog wel goed na oor wat alles moes gebeur sodat ons nagmaal kan vier? Sodat jongmense belydenis van hulle geloof kan aflê? Baie mense dink dat ons sommer maklik almal aan die nagmaaltafel gaan. Ons kan gou verdink word dat ons maklik verby ons eie sonde kyk en ewe maklik om vergifnis van ons sonde vra asof dit nie vir ons werklik 'n groot saak is nie.

En dit is sake wat ons nie sommer so van ons kan wegskuif nie. Want ons kan en moet altyd weer nadink of ons wel ons eie sonde ernstig genoeg opneem. Of ons nog in verwondering staan oor die grootheid van die verlossing wat ons geniet. Dit is die agtergrond waarteen ons die vrae moet verstaan wat in Sondag 5 van die Kategismus gevra word. "Aangesien ons volgens die regverdige oordeel van God die tydelike en ewige straf verdien het, hoe kan ons van hierdie straf bevry en weer in genade aangeneem word?" (vraag 12). Hier is 'n vraag wat ons wil laat nadink oor die grootheid van ons verlossing. Hoe kan ons weer aangeneem word?

Ons hoor nie hier iemand praat wat in desperaatheid soek na verlossing nie. Dit is eerder iemand wat die diepte, die geweldige rykdom, van God se verlossing vir sy kinders probeer verstaan. Terwyl ek eintlik die ewige dood en straf verdien, hoe kan dit wees dat ek weer in genade aangeneem word? Dit is die taal van geloof en liefde. Dit is soos wanneer 'n man nie kan verstaan dat sy vrou werklik vir hom lief is nie. Hoe kan dit dat hierdie vrou vir my so lief is? Hy verdien dit nie en gegewe sy gereelde mislukkings in die huwelik, moes sy vrou hom eerder gehaat as liefgehad het! Daardie verwondering hoor ons in hierdie vraag van die Kategismus. Al die vrae van hierdie Sondag is vrae wat ons laat erken dat ons God se regverdige oordeel verdien, maar ons ook tegelyk al meer die wonder laat verstaan van Christus wat in ons plek die straf van ons sonde gedra het. Dit gaan dus in hierdie Sondag oor die verstaan van die grootheid van ons verlossing.

Hoe kan ons weer in genade aangeneem word?🔗

Ons gaan in die eerste plek nou let op die vraag: Hoe kan ons weer in genade aangeneem word? Ons kan hierdie eerste vraag van Sondag 5 heel oppervlakkig gaan verstaan. Byna so iets soos: Hoe kan ons tog net aan die helse straf ontkom? Wat kan ons doen dat ons tog net nie gestraf word nie, dat ons uit die pad kan kom van die ewige toorn van God oor die sondes? Hoe kan ons daarvan wegkom? Maar so is hierdie vraag duidelik nie bedoel nie; dit is nie 'n vraag wat eintlik spreek van 'n ware Bybelse sondebesef nie. 'n Gelowige wil tog in die eerste plek dat aan God se wet reg moet geskied. Ons besef dat God nie onregverdig is, selfs wanneer Hy ons werklik sou veroordeel het nie. Vraag 12 is 'n erkenning dat ons die tydelike en ewige staf verdien. Ons erken daarmee dat God regverdig is, selfs ook wanneer Hy besig is met die tydelike tugtiging in my lewe. Selfs al moet ek baie ly in hierdie lewe. God is nie onregverdig nie. Selfs al moes ek ly wat Job gely het en nog veel erger, dan verdien ek dit en nog baie meer. Ek verdien selfs die ewige straf en oordeel van God. Ek verdien dat Hy al sy toorn op my uitgooi soos wat Hy vuur op Sodom en Gomorra laat reën het. Ons erken dit, dit verdien ons. Ons probeer nie daarvan wegkom nie.

Dit is juis hier waar ons nie altyd die taal van geloof en liefde van die Bybel praat nie. Want hoe dikwels sal ons steeds wanneer teëspoed ons tref, die vraag onmiddellik vra: "Verdien ek werklik dat dit nou weer oor my kom?" Dit kan wees in gevalle van ernstige siekte of ekonomiese terugslae. Dan kan ek gaan vra: "Wat het ek tog verkeerd gedoen dat dit op my pad kom?" En dan sê ons dit met die bedoeling dat die Here iets oor ons laat kom waarmee Hy, volgens ons mening, nie reg aan ons laat geskied nie. God laat nie aan my reg geskied nie. Dit verdien ek tog nie werklik nie. Wanneer ek voel dat ek op watter manier ook net nie gekry het wat ek dink my regverdige deel in die lewe is nie, is ek sommer maklik in opstand. Besoedel met die humanistiese gedagte van die regte van die mens, bevraagteken ons dan God se reg. Dit is wanneer ek in die eerste plek nie oog het vir God se reg wat moet geskied nie. Daarom is die eerste vraag van Sondag 5 nie 'n vraag wat handel oor eie selfbehoud nie.

Geen selfbehoud nie🔗

By ons mag sug na selfbehoud geen rol speel nie. Vraag 12 vra nie hoe ek myself kan behou nie. Maar die vraag is wel hoe ek weer in genade aangeneem kan word. Dít is die vraag wat die Kategismus vra. Ons moet baie mooi daarop let! Hoe kan ek weer in genade aangeneem word? Selfbehoud en selfhandhawing is nie 'n soeke na die genade van die Here nie. Selfbehoud vlug weg van God af. Net soos wat Adam na die sondeval gedoen het. Hy veg om selfbehoud, hy wou steeds homself handhaaf. Selfhandhawing dryf ons weg van God af, nie na God toe nie. Maar hierdie vraag vra: Hoe kan ek weer terugkom by God? Hoe kan ek weer in genade aangeneem word? Genade, en soeke na genade, laat ons nie wegvlug van God vir ons behoud nie, maar laat ons teruggaan na Hom toe om weer in genade aangeneem te word.

Elkeen wat werklik verlos wil word, elkeen wat werklik na die Here wil terugkeer, wil dat God se reg gehandhaaf word. Dit is waarom dit in hierdie Sondag gaan. Hy wil nie maar op watter manier dan ook al net die straf ontvlug nie. Hy wil by God self uitkom en wil daarom nie by God terugkom, sonder om werklik met God versoen te word nie. Hoe vernietigend is dit nie byvoorbeeld vir 'n vriendskap wanneer een party in die vriendskap verkeerd opgetree het en dan met die vriendskap wil voortgaan asof die vriendskap nie eers weer werklik herstel hoef te word nie. Is dit nie verlammend vir so 'n verhouding nie? So, asof die persoon maar net ignoreer dat daar iets verkeerds plaasgevind het. "Ag, ons vergeet maar wat gebeur het en ons laat dit daar", en gaan dan maar net eenvoudig aan. Nee, ons wil ook dat reg geskied. Ons wil met die persoon versoen wees. En so gaan dit ook in ons verhouding met die Here. Ons wil met God versoen wees. Ons wil na Hom toe terugkeer. Daarom gaan ons nou vervolgens let op wat dit beteken om weer in genade aangeneem te word.

Wanneer Johannes die Doper besig is om in die Jordaan te doop, kom daar ook Fariseërs na hom om gedoop te word. Hy het reeds aan die begin van sy prediking gewaarsku teen die komende oordeel van die Here, en die komende oordeel kan nie sommer so ontkom word nie. Sy hele boodskap was dat bekering nodig is. Mense moet hulle sondes besef, besef dat hulle skuld voor God het. Hy roep Israel op om hulle gereed te maak vir hulle Groot Koning wat op pad is na hulle. Jesaja het van Hom gepraat en gesê dat die weg van die Here berei moet word. En die manier waarop die volk hulle moes gereedmaak vir die koms van die koninkryk van die hemele, was deurdat hulle hul eie skuld en ongeregtigheid moes erken en dat die sondes dan simbolies afgewas moes word deur na Johannes toe te kom om hulle te laat doop. Want hulle moet gereed wees om die komende Here te ontmoet. Christus, die Here self, is op pad na Israel toe. Mense moes hulle eie skuld erken. Mense uit Jerusalem en die hele Judea en die hele omtrek van die Jordaan het uitgegaan na hom toe. Hulle is dan deur Johannes gedoop met belydenis van hulle sonde. Hulle erken hulle skuld voor God.

Die Fariseërs kom nou ook om gedoop te word. Maar nie as erkenning van hulle eie sonde en ongeregtigheid nie, en daarom reageer Johannes dan op die volgende manier: "Addergeslag, wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan kom is?" (Matteus 3:7). By hulle ontbreek skuldbesef en hulle is steeds selfvoldaan. Hulle is mos kinders van Abraham. Maar juis hierdie kinders van Abraham moes hulle bekeer in gereedmaking op die koms van Christus. Want Christus kom om te doop met die Heilige Gees en met vuur. Hy is gereed om te kom oordeel. Hy kom na sy volk om sy eie volk te oordeel. Johannes se doop was geen manier om die komende straf te ontvlug nie. Johannes se doop is die erkenning dat selfs nie eers die nageslag van Abraham weer met God versoen kan word sonder 'n Middelaar nie, sonder die Here wat self kom om versoening te doen vir sy volk se sondes nie. Dít is wat erken moes word: Iemand anders moet vir my sonde versoening doen.

Die Fariseërs het gedink dat hulle reg kan laat geskied sonder om die Here se reg op hulle te erken. In liefde en gewillige onderwerping aan die Here moet ons ons verlaat op sy liefde wat reg sal laat geskied. Wat ons hele lewe moet beheer, is die begeerte, nie om soos die Fariseërs maar net die staf te ontvlug nie, maar juis om weer in genade aangeneem te word. Nie weg van die Here nie, maar juis nader aan Hom. Ons moet besef dat ons sy liefde verbeur het, en dat ons daardie liefde weer moet terugkry. Dan begryp ons die grootheid van sy liefde wat ons weer in genade aanneem as kinders. Wanneer ons dan om vergifnis van ons sonde vra, doen ons dit met geen gevoel van selfversekerdheid en selfbehoud nie. Wanneer ons as kinders van die Here ons sondes bely, dan kom ons heel nederig voor die Here om te vra of Hy nie uit genade en ontferming wil gee wat ons nooit self sou kon verdien nie. En as ons vergifnis van ons sondes kry, dan is ons dankbaar, nie om ontslae te wees van lastige skuldgevoelens nie. Maar dan is ek dankbaar dat ek weer versoen met my hemelse Vader mag lewe. Dit is tog waarom dit gaan in die vergifnis van ons sondes. En dan sien ons in die volgende plek dat ons God weer moet dien.

Ons moet God weer dien🔗

Maar kan ons vir onsself betaal? Dit is die volgende vraag van die Kategismus. Nee, ons kan nie! Ons erken ons kan nie. Om die waarheid te sê, ons maak elke dag ons eie skuld net nog groter. Is dit nou 'n saak waarin ons net eenvoudig berus? Ons kan nie. Nou ja, hulpeloos trek ons nou maar die skouers op. Ons kan nie. Wil ons nou daarmee sê dat die verantwoordelikheid gelukkig nou van ons skouers af is? Nee, die Verlosser en Middelaar wat ons nodig het om ons weer met God te versoen, is Een wat die las van die ewige toorn van God teen ons sonde vir ons kan dra. Maar dan beteken dit nie dat ons op 'n ongelowige manier sê dat Christus vir ons sondes betaal het en nou is ek vry van die verantwoordelikheid nie.

Die manier waarop daar betaal word vir die straf wat op ons rekening was, is nie bloot dat Iemand anders die verantwoordelikheid in ons plek neem nie. Wanneer daar aan God se geregtigheid voldoen moet word, moet ons betaal. Die verantwoordelikheid bly altyd ons s'n! En daarom is die antwoord van vraag 12 juis pragtig geformuleer as daar staan: ons moet betaal — òf deur onsself òf deur Iemand anders! Ons kan nie hier die verantwoordelikheid wegskuif van ons af nie; ons kan selfs nie ons verantwoordelikheid oorskuif op Christus nie! Want weer eens, ons wil nie én God wil nie dat die rekening bloot betaal moet word nie, hoe dan ook al. Dit gaan daaroor dat ons met God versoen moet word. Dat ons Hom weer kan dien soos dit hoort.

Waarom is dit so belangrik dat ons sal raaksien dat die verantwoordelikheid nooit sal wegskuif op Christus nie? Ons skuif dikwels te maklik die verantwoordelikheid op Christus af en gaan staan dan eenkant as 'n toeskouer en kyk hoe Christus dan in ons plek as Middelaar optree. En dit kan nie! Christus het in ons plek kom lewe en sterwe. Wanneer Hy dan kom en volmaak die wet van God gehoorsaam, dan is dit in MY plek. Wanneer Hy aan die kruis ly en sterf, dan is dit in MY plek. Hy doen wat ek moes doen. Hy leef volmaak gehoorsaam vir my. Hy sterf 'n dood aan die kruis, vir my, in my plek. Hy het in Getsémané gebid, nie sodat ek nie meer hoef te bid nie, maar juis sodat ek weer kan bid. Hy was as kind aan sy ouers gehoorsaam, nie sodat ek nie meer my ouers hoef te gehoorsaam nie, maar sodat ek my ouers weer kan gehoorsaam wees. Hy het vurig daarna verlang om die wil van die Vader te doen, nie sodat ek dit nie meer hoef te doen nie, maar sodat ek dit ook weer kan doen.

Wanneer ons dit oordink dat Christus in ons plek kom leef en sterf het, dan word my sondebesef nie kleiner nie, maar groter. Nie omdat Christus my daardeur meer desperaat en verlore wil laat voel nie, maar ek besef dan dat dit my sonde is wat Hom deurboor het. Dit is my wellus wat Hom aan die kruis laat spyker het, my hoogmoed, my eiesinnigheid, my liefdeloosheid. Ek het Hom dit aangedoen. Want dit is ek wat nou moet betaal deur Iemand anders, deur Christus. Die verantwoordelikheid is myne. Ter wille van my het Hy die beker met die doodsgif in gedrink. Ek het sy Godverlatenheid aan die kruis noodsaaklik gemaak.

Wanneer ons in Christus glo, dan kan ons nie maar 'n toeskouer wees van sy lyding en dood nie. As ek in Hom glo, dan leef ek in Hom en Hy in my. Soos die Nagmaalformulier dit so pragtig sê: dan leef ons weer — Hy in my en ek in Hom. Dit is die evangelie. Saam met Paulus leer ons dan sê: "Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het" (Galasiërs 2:20). Ek leef daardie lewe. Dit is my verantwoordelikheid. Ek kan dit nie op Christus skuif nie. God gee Hom wel vir my as Middelaar, ja, en daarom kan ek nie ver van Christus bly staan nie. Ons moet ons eie skuld betaal ... deur Christus. En dit is die verlossing! Daarom moet ons naby aan Hom bly. Deur die geloof in Hom elke dag, elke oomblik 'n nuwe lewe vir die Here leef, in en deur Christus.

En daarom is verlange na Christus 'n kenmerk van 'n gelowige se lewe. Ons wil nie dat daar tekort gedoen word aan God se reg nie. Daarom wil ons deur Christus lewe. Hy in ons, en ons in Hom! 'n Ander mag nie vir my betaal nie. Maar Christus mag. Want Hy is my Middelaar. Hy is aan my deur God gegee. Johannes die Doper wou verhoed dat Christus gedoop word. Hoe kan Hy wat sonder sonde is en die Here self is, gedoop word? Hoe kan Hy Hom vereenselwig met hierdie sondaars wat nie meer aan God se reg kan voldoen nie? Maar Christus sê: dit moet, want dit is reg so. Hy word gedoop vir ons, sy kinders. En wanneer Hy dan gedoop word, kom Hy nie soos al die ander uit die water met belydenis van sy sonde soos die ander sondaars nie. Nee, Hy kom uit die water uit en dan gaan die hemel vir Hom oop. En die Gees daal op Hom neer. En daar kom 'n stem uit die hemele wat sê: "Dit is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het". Christus kom dan in ons plek uit die water op en God aanvaar Hom, want Hy gee Hom vir ons. Hy, vir Wie die hemel oopgaan, is die Een wat uit die hemel neergedaal het.

En nou kan en mag ons deur Hom aan God se geregtigheid voldoen. Hy is God se eie geskenk daarvoor vir ons. Hy mag dit wees en doen, want Hy het God se Gees self as waarmerk op Hom. Hy het die stem van God uit die hemel as goedkeuring ontvang. Deur Hom gaan dan ook die hemel vir ons oop, sodat ons met God versoen mag wees!