4 bladsye.

Sondag 50 Heidelbergse Kategismus

Lees: Eksodus 16:23-36🔗

Bid of werk?🔗

Bid ons nog vir ons brood? Is dit regtig nodig? Dit het vir baie van ons moeilik geword, omdat ons meestal hierdie gebed bid wanneer ons rondom 'n gedekte tafel met heerlike kos sit. Dan is dit moeilik om die gebed te bid, want hoe bid 'n mens nou eintlik as jy redelike oorvloed ken? Hoe vra 'n gebore sakeman vir "daaglikse brood"? Aan 'n tafel waar daar genoeg is om tot oordadigheid te eet, bid 'n mens dan mos moeilik: "Gee ons ...". Dit klink dan so 'n klein bietjie "gemaak" vroom — of tog nie? Dit klink dan so 'n bietjie oordrewe. Ons vra dat daar vir ons gegee moet word, terwyl die kos op die tafel gereed staan om geëet te word! En hoe sal ons bid vir vandag se brood? Ons het nie alleen vir vandag reeds voor ons nie, maar ons het ook voorsiening gemaak vir môre en oormôre. As die brood nie reeds daar is nie, het ons finansiële voorsiening vir die toekoms gemaak. En sal ons nog bid vir brood by 'n tafel waar daar vleis en nagereg is?

Baie mense los die probleem op deur te glo dat ons eintlik nie van die Here vra om vir ons te "gee" nie, maar in ons daaglikse gebed om brood net sy seën vra oor wat ons eet. Want, en dit erken ons, sonder die seën van die Here sal die voedsel in ons maag ons liggame nie kan versterk nie. Maar dit is nie wat ons bid nie. Ons vra heel konkreet: "Gee ons vandag ons daaglikse brood." En dit bid ons terwyl die Here reeds vir ons gegee het en beloof het dat Hy altyd sal gee.

Die manna in die kruik🔗

Laat ons nou gaan let op die manna in die kruik, waarvan ons gelees het in Eksodus 16. Een saak moet nou reeds vir ons duidelik wees: niemand kan hierdie gebed bid sonder geloof nie. Nie omdat ons die brood op ons tafels sien nie, maar omdat die Woord van die Here ons leer om te vra vir ons daaglikse brood. Daarom sal ons bid dat Hy self ons versorg met alles wat ons vir ons liggame nodig het. Met ons gebed erken ons dat God alleen die Bron is van elke goeie gawe wat ons ontvang (vraag en antwoord 125). Op 'n heel sigbare manier moes die volk van die Here in die Ou Testament dit (letterlik!) voor oë hou.

Terwyl die volk nog op pad was na die berg Sinaï waar hulle die wet van die Here sou ontvang, moes hulle reeds leer hoe God self vir hulle sorg en hulle bevry. Die Here is nie soos 'n generaal wat 'n weermag met huursoldate opbou en van die soldate eis dat elkeen vir homself sorg nie, vir sy eie rantsoen, wapens en ammunisie. Nee, Hy lei sy kinders uit Egipte om Hom te dien. Maar die Here wil nie slawediens hê nie. In die woestyn hoef hulle nie vir hulself te sorg nie. Hy het hulle nie in die woestyn ingejaag en toe gesê: "Sien en kom klaar" nie. Reeds op pad na die groot erediens wat by die berg Sinaï gehou sou word, gee die Here vir hulle die rusdag, die sabbat, waarvan ons lees in Eksodus 16, sodat hulle kan weet dat hulle nie soos slawe in Egipte hoef te werk nie. Maar meer nog as die sabbat. Terwyl hulle in die woestyn op pad is na die beloofde land, sal Hy vir hulle sorg, wys die Here hulle. Hy het hulle in die woestyn gebring om Hom te dien, daarom sal Hy vir hulle sorg. En daarom gee Hy vir hulle in die woestyn die manna: brood uit die hemel.

Maar van daardie eerste manna moes Moses 'n gomer vol bewaar. Dit was vir die volgende geslagte. Hulle moes die brood sien wat die Here sy kinders in die woestyn laat eet het. Want die Here se sorg hou nie in die woestyn op nie. Dit hou nie op as hulle uit daardie dorre landskap kom in 'n land vol melk en heuning, in 'n land waar oorvloed is nie. Ook daar laat die Here hulle nie aan hulself oor nie. Hy sê nie: "Gaan julle maar en vergryp julle daaraan." Nee, hierdie gomer manna moes saam met die volk die beloofde land in. "Onthou altyd dat Ek vir julle sorg." Die kruik vol manna moes in die Allerheiligste van die tabernakel geplaas word, "voor die aangesig van die HERE". Hier is 'n sigbare waarborg, 'n getuienis, vir die volk dat die Here altyd vir hulle sal sorg. Hy lei hulle nie op enige pad, selfs nie in die woestyn, nie, waar Hy nie vir hulle sorg nie, waar Hy nie vir hulle hul daaglikse brood sal gee nie. Terwyl die volk in die tabernakel of tempel vir hul daaglikse brood gebid het, kon hulle weet van die kruik vol manna wat voor die aangesig van die Here was in die Allerheiligste; daar voor die getuienis, binne in die verbondsark; daar waar ook die verbondsboeke gebêre is. Wat 'n sekerheid, reeds in die Ou Testament, wat 'n aanmoediging vir die volk van die Here as hulle in broodnood is of dors het, om te kom vra wat God reeds beloof het!

Hierdie manna, die daaglikse brood, beloof die Here vir sy kinders, want dit is wat hulle nodig het om Hom elke dag te dien. Dit sou ontrou van God wees as Hy hulle nie brood gegee het nie. Hy het hulle gered. Waarom? Om weer slawe te word, slawe van hul mae, van hongerpyne en dors daar in die woestyn? Die volk het die Here daarvan beskuldig: "Neem ons liewers terug na Egipte toe." Maar die Here sê: "Nee, Ek het julle juis kom vrymaak om My te dien, en daarom gee Ek julle wat julle daarvoor nodig het." Sal Hy ons roep tot diens aan Hom en dan nie ook vir ons sorg nie? Ons mag dus in hierdie gebed alles, maar dan ook alles, vra wat ons nodig het vir sy diens, en die Here sal dit vir ons gee. Ons bestaan mos nie vir onsself nie, ons is mos nie ter wille van onsself verlos nie! Nee, ons bestaan vir Hom en ter wille van Hom — uit Hom, deur Hom en tot Hom is alle dinge.

Orreldraaiers?🔗

Maar tegelyk beteken dit nie dat ons dus nie van die Here hoef te kom bid vir ons daaglikse brood en vir alles wat ons nodig het, wat Hy ons beloof het, nie. Ons reaksie kan wees: "Die Here sal vir sy volk op aarde sorg. Hy hou self sy eredienste in stand. Dit is sy saak. Daarom hoef ons nie van die Here te vra nie, want Hy sal gee." Nee! Ons dink hopeloos te maklik aan gebed as bloot 'n middel om weer iets van die Here te kan kry. Asof ons moet vra om maar net weer te kan ontvang. Daarom vra ons ook nie dikwels van die Here nie. Ons dink dat Hy in elk geval wel sal gee. 'n Skrywer gebruik die mooi voorbeeld van 'n orreldraaiertjie wat sy liedjie voor iemand se deur kom speel totdat hy die geldstuk in sy hoed het en dan skielik sy wysie stopsit. Of ook die bedelaar wat sy blikkie skud en raas om aandag te trek en dan ophou die oomblik waarop hy 'n gewillige gewer sien, want dan is dit mos nie meer nodig nie! Sal ons so bid vir ons daaglikse brood? Is dit hoe ons moet kyk na gebed?

Maar by 'n kind van God werk dinge tog totaal anders, nie waar nie? 'n Kind wat aan tafel sit, weet dat sy ouers graag vir hom alles te ete sal gee wat hy nodig het, maar hy vra nogtans "asseblief". Die tafel staan voor hom gedek en nogtans vra hy of hy dit of dat kan kry. Hy sal ook kry wat hy nodig het sonder dat hy gevra het en miskien deur net heel botweg aan te wys wat hy nodig het, maar dit spreek nie eintlik van eerbied vir sy ouers nie. Sê sy houding dan eintlik nie veel van sy nie verstaan van die liefde van sy ouers nie? So is dit met hierdie gebed om ons daaglikse brood. Dit is nie 'n gebedel soos die orreldraaiertjie nie en nog minder soos die hebsugtige gryperigheid van 'n swak-gemanierde kind nie. Ons gebed vir daaglikse brood is 'n kinderlike eerbetoon en 'n ootmoedige onderwerping aan ons hemelse Vader wat graag en oorvloedig alles wat ons nodig het, uitdeel in sy huis. Ons kom nie soos bedelaars nie.

Ons moet dus nie soos die orreldraaiertjie wees wat dink dat ons gebed die enigste oorsaak is dat ons van God ontvang nie. By 'n kind aan 'n gedekte tafel is dit anders — daar is die vader en moeder van plan om alles vir die kind te gee, maar hulle leer hom om te ontvang nadat hy beleefd gevra het. Die ete word gereed gemaak vir die kind, maar hy word geleer om aan tafel te vra. Dit is wat die Here ons wil leer: om in geloof te vra. "Kom vra aan my gedekte tafel in geloof en Ek wil dit vir jou gee." Laat ons nie gryperig soos 'n ondankbare kind wees nie.

Daarom leer die Here sy volk dan ook om Hom nie te vergeet wanneer hulle in die beloofde land ingekom het nie. Wanneer hulle alles het wat hulle harte begeer en die "land" sorg vir alles, moet hulle nie word soos die heidene en God vergeet nie. Daaraan moes die kruik vol manna hulle ook herinner. Die manna is net geëet totdat hulle die land ingegaan het, maar hulle is in die vrugbare land nie minder afhanklik van die Here nie. Ook dan moet hulle erken dat dit die Here is wat hulle krag gee om rykdom te verwerf. Indien Israel die Here nie op hierdie manier bly dien nie, sal Hy hulle behandel net soos al die ander volke. Want die Here is nie ons God sodat Hy ons ryk kan maak nie, maar Hy sorg vir ons sodat ons Hom kan dien. Hy maak ons ryk sodat ons nuttige en bruikbare instrumente in sy hande kan wees. Ons erken dat dit die Here is wat my kliënte gee vir my besigheid. Dit is Hy wat my van 'n werkgeleentheid verseker. Dit is die Here wat my goeie beplanning seën en gee dat ek goeie wins mag maak. Dit is Hy wat my groente laat groei en my diere vrugbaar maak.

Direk gee🔗

Soms laat die Here ons baie hard werk vir ons daaglikse brood. Maar Hy kan dit ook heel direk gee, soos met die manna in die woestyn, sonder dat daarvoor gewerk is. Daarvoor het die Here die volk in die woestyn gebring. Om te wys: Ek het vir julle 'n tafel gereed gemaak. Die volk moes leer dat dit die Here is wat vir ons sorg — ook as die diakonie elke maand vir ons moet help om die begroting te laat klop. Dan sien ons hoe afhanklik elkeen van ons van die Here is. Hy kan gee sonder dat ons daarvoor gewerk het. God sal voorsien. Soms op 'n wonderbaarlike manier, soos in die tyd van Elia. Tydens die hongersnood het die kraaie vir Elia vleis aangedra. Natuurlik is dit — die sorg van die diakonie — nie 'n geleentheid om die volk van die Here te leer om nie te werk nie. Maar sodat ons kan weet dat ons almal van God se barmhartigheid afhanklik is. Is dit daarom nie pragtig dat ons juis aan die nagmaaltafel 'n dankoffer vir die diakonie mag opneem nie? As 'n belydenis dat ons alles van die Here ontvang! Dat ons van Hom afhanklik is!

Geen reën?🔗

Daar was selfs 'n tyd in die geskiedenis van Israel dat die profeet Elia gebid het dat die Here die reën van die land sal weghou, vir drie jaar lank, sodat Israel nie meer hul daaglikse brood sal ontvang nie, sodat hulle weer sal leer besef waarvoor hulle bestaan. Die rede was dat Israel nie meer geleef het vir die doel waarvoor die Here hulle na die beloofde land gebring het nie. Hulle het vergeet dat hulle 'n koninklike priesterdom was wat aan die Here behoort het om heilig te wees soos wat Hy heilig is. 'n Volk wat daar was ter wille van God, om Hom te dien. Toe hulle dit vergeet het, het hulle geword soos die heidense nasies, wat vir hulself geleef het. Dan bid Elia: "Here, ontneem hulle hul daaglikse brood." En dan ly die profeet saam met die volk. Maar juis dan sorg die Here ook vir hom deur die kraaie met vleis te stuur. Waar die vertroue op die Here verdwyn, het die gebed om daaglikse brood ook verdwyn. Dan moes die volk weer leer dat dit die Here is wat reën gee en reën weerhou.

Dit is nie Israel self wat in die eerste plek vir hul brood sorg nie. Dit is die Here wat ete en drinke gee. Dit moet ons in ons gebed — "gee ons vandag ons daaglikse brood" — bely en erken. Selfs al gaan dit hoe voorspoedig, ook met my besigheid. Want die Here stuur sy oordeel oor ondankbaarheid. Dit kan wees dat ons dan werklik sterf van die honger, soos baie in die tyd van Isébel en Agab. Of die Here kan ons laat verdrink in ons oorvloed as ons Hom nie meer erken as die Gewer van alle goeie dinge nie. Hoe ernstig moet ons dan nie gaan besin oor die manier waarop ons omgaan met die goed wat Hy aan ons gegee het nie! Besin ons in die proses oor ons roeping voor God om diensknegte van Hom te wees, of sien ons Hom as 'n dienskneg van ons behoeftes? Sien ons ons besittings as 'n aanmoediging tot groter diensbaarheid aan die Here?

Ons moet gedurig so bid en leef en werk dat dit is vanuit die besef dat die Here my Versorger is, elke dag weer. My lewe is in sy hande. En dit leer ons deur dag na dag te bid: "Gee ons vandag ons daaglikse brood." Môre is 'n nuwe dag. Dan gee die Here weer. Dan kry ons weer wat ons nodig het vir die komende dag.

Beskeie🔗

Sien ons onsself nog as knegte in diens van die Here, wat ons oorlaai met goedheid sodat ons Hom diens mag bewys? Iemand wat tot die Here bid vir daaglikse brood, leer juis om beskeie te wees, wetende dat hy in diens van die Here is. Hy weet hy mag vra wat hy nodig het om te kan volhard as dienkneg. Ons mag reken op sy sorg vir ons. As ons onsself sien as diensknegte wat ter wille van Hom bestaan, dan sal dit ook die manier bepaal waarop ek van die Here vir my daaglikse brood kom vra. Ek kom vra nie maar net alles waaraan ek kan dink nie. Ek kry wat nodig is, sodat ek my dienswerk kan verrig, om my werk te kan doen. En die brood waarvoor ons bid, het niks te doen met "geestelike brood" wat ons elke dag nodig het nie. Brood is hier heel eenvoudig ons lewensonderhoud vir elke dag.

En hoe nodig het ons dit nie! Want ons het reeds gebid dat die Naam van die Here geheilig moet word, dat sy koninkryk mag kom en dat sy wil geskied. En dit veral in ons eie lewens. As ons ernstig is met hierdie gebed, hoeveel werk het ons dan nie te doen nie! As ons hier op aarde wil meewerk om God se koninkryk te laat kom, dan mag ons met vrymoedigheid vra: "Gee ons vandag ons daaglikse brood. Want u koninkryk moet kom, en u Naam moet geheilig word, u wil moet geskied hier op aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood, sodat ons hiervoor kan werk." Daarvoor het ons baie nodig. Krag en energie deur ons daaglikse brood. In ons gebed vir daaglikse brood vra ons dus alles wat nodig is om die Here te dien, sonder sorge en bekommernisse. Want watter soldaat in die stryd moet hom bekommer oor die voedsel wat hy nodig het? Is ons nie daarom so lam in ons diens aan die Here nie, omdat ons meer besorg is oor ons voedsel as oor die koninkryk van God, oor sy wil en die heiligheid van sy Naam? Oor daardie dinge, ons kos en klere, sê die Here, is die heidene besorg. Soek die koninkryk van God en die daaglikse brood sal vir julle gegee word. En dan mag ek die Here vra vir geld, sodat dinge gekoop kan word om die werk te doen. Ek moet geld hê om 'n bydrae te kan maak sodat die Evangelisasie kommissie die werk kan doen. Of vir wanneer daar gekollekteer word vir die sending, sodat daardie werk kan voortgaan. Of om geld vir my kerklike bydraes, sodat die erediens in stand gehou en die Naam van die Here geheilig kan word. Dit is geen selfgerigte gebed nie. Ek mag bid om geld te hê sodat ek genoeg het om my kinders se skoolgeld te kan betaal, sodat hulle behoorlike opvoeding en aanvulling tot die opvoeding mag ontvang. Vir al hierdie dinge het ons ons "daaglikse brood" nodig. Sodat ons die Here se Naam kan verheerlik. En sy koninkryk kan laat kom. En bekwaam kan wees om sy wil te gehoorsaam in ons lewe. Daarom lees ons in Spreuke 30: "Here, gee dat ons nie so arm is dat dit nodig is om te steel nie; dat ons met ons lewe aangaan téén die gebed wat ons bid: laat u wil geskied, nie." Die Here vra nie van my Gereformeerde onderwys vir my kinders en gee dan nie die middele daarvoor nie. Vra en Hy sal gee.

Dit gaan hier oor heel gewone dinge wat ons nodig het in ons diens aan die Here. En dan kan dit wees dat die Here veel meer gee as die minimum wat ons nodig het. Hy kan vir ons oorvloed gee, sodat ons nog meer vrugbaar kan werk. Ons word egter wel gewaarsku teen die sonde om ryk te wil wees. Dit is 'n verleiding van die satan.

Ons is op pad na die finale koms van Christus se koninkryk. Ons is reisigers — pelgrims. In die proses moet ons versigtig wees om nie te veel saam te wil neem nie, want dit kan ons uitput op die reis. Ons sien uit na die ewige Jerusalem wat ryk versier is met goud en edelgesteentes, die nuwe Jerusalem, waarin ons sal woon saam met ons Koning en waarin ons vir ewig sal feesvier en die oorvloed geniet wat Hy vir ons gereed gemaak het in die Allerheiligste.