4 bladsye.

Sondag 6 Heidelbergse Kategismus

Lees: Filippense 3🔗

Kennis van Christus🔗

Die apostel Paulus ag alles skade ter wille van die kennis van Christus Jesus, sy Here. Ter wille van hierdie Christus het hy alles prysgegee en beskou hy dit as drek, sodat hy Christus as wins kan kry. Die een groot dryfveer in die lewe van die apostel is om Christus te ken. Om Hom te ken en al die geskenke wat Hy vir ons gee as ons aan Hom behoort. Kennis van Christus. Dit is uiteindelik waaroor dit gaan in die evangelie. Want as ons Hom ken, ken ons deur Hom ook die Vader, en om Hom te ken, is die lewe. Dit is waaroor dit gaan in Sondag 6 van die Kategismus.

Die vraag is wel aan ons, of ons Christus ken. Wat weet ons werklik van Hom wat ons Middelaar is? Wat weet ons van Hom wat dit vir ons moontlik gemaak het om in vrede met God te leef? Van Hom wat dit vir ons moontlik gemaak het om weer kinders van God te wees? Dit kan gebeur dat ons sommer maklik geïrriteer kan word deur die vrae van Sondag 6. "Waarom moet ons Middelaar 'n ware en regverdige mens wees? Waarom moet Hy ook gelyk ware God wees?" Nou kan ons wel reageer en sê: Wat het dit nou eintlik met ons geloof te doen? Ons weet mos Wie ons Middelaar is — dit is Jesus Christus! Wil ons nie nou kom en 'n mooi eenvoudige saak heel ingewikkeld voorstel deur hierdie vrae te vra nie?

Maar die hele lewe van geloof gaan egter juis daaroor dat ons hierdie Middelaar ken! Dat ons nie net sy Naam ken nie, maar dat ons weet Wie Hy is, wat Hy is. En elke keer wil ek hierdie Middelaar weer beter leer ken. Soos wat dit gaan in 'n verhouding tussen 'n man en 'n vrou. 'n Man is tog nooit daarmee tevrede om net die naam van sy vrou te ken nie. Dan weet hy nie alles van haar nie. Elke dag wil hy meer en meer van haar ontdek. Wanneer 'n jongmeisie haar hart op 'n jongman verloor, wil sy hom al beter leer ken. Sy wil veral weet waarom dit is dat hy so lief is vir haar. Waarom het hy nou juis vir haar gekies? Wat is dit nou eintlik in haar wat hom opgewonde maak? Ons wil alles van mekaar weet in so 'n verhouding waarin ons leef, nie waar nie?

Dit is om hierdie rede dat ons ook vir Christus beter wil leer ken. Waarom het Hy, wat self waarlik God is, mens geword vir my? Waarom moes Hy self waarlik 'n sondelose mens wees om my Verlosser te wees? Sien u die tipe vraag? Dit is nie sommer nuuskierigheid nie. Nee, dit is om hierdie Bruidegom van my te ken in sy liefde vir my en om te verstaan waarom Hy so lief is vir my én wat dit Hom gekos het om sy liefde vir my te bewys. As ons antwoorde op hierdie vrae kry, dan weet ons Wie hierdie Middelaar is — en dit is pragtig hoe die Kategismus dan ook antwoord op die vraag: Wie is hierdie Middelaar? Hy is ons Here Jesus Christus; my Here Jesus Christus wat God vir my gegee het om by my te pas. Waarom: om by my te pas? Omdat ek 'n spesifieke nood het, 'n spesifieke behoefte. Hy is vir my gegee tot wysheid, geregtigheid, heiligheid en tot volkome verlossing.

Ons hoop op verlossing is tog geen vae hoop wat ons het dat God ons tog uiteindelik genadig sal wees nie. Ons kan alleen 'n hoop op verlossing hê, as ons Christus leer ken het! As ons Hom leer liefkry het. Want hierdie Middelaar, van Wie ons praat in Sondag 6 van die Kategismus en van Wie Paulus met soveel liefde en dringendheid spreek in Filippense 3, hierdie Middelaar is ons Man! Hy is ons Bruidegom! Dit is tog nie moontlik om te glo, sonder dat ons kan sê ons ken Christus nie!? Hoe kan ons na die Vader kom deur Jesus as ons Middelaar, maar ons ken Hom nie? Ons Middelaar kan nie vir ons 'n vreemdeling wees nie. Onmoontlik!

Verwondering oor sy liefde🔗

Daarom gaan ons nou in die volgende plek kyk hoe ons ons gaan verwonder oor sy liefde vir ons. Ons begin ons te verwonder oor sy liefde vir ons wanneer ons nadink oor die feit dat Hy mens vir my geword het. Want dit het vir Hom nodig geword om mens te word, omdat ek nie self my eie skuld teenoor God kon betaal nie. Ons wat self sondaars is, kan nie vir onsself of enigiemand anders betaal nie. En tog moes dit, die evangelie eis dit, 'n mens wees wat vir ons sonde betaal. Nou ken ons ons Middelaar soveel beter. Want kyk wat 'n liefde het Hy vir ons dat Hy daardie werk kom doen het, hierdie werk wat niemand anders ooit kon doen nie! Daar was geen ander mens om dit te doen nie. Nie my vader of moeder nie, nie my man of vrou nie, nie ons kinders nie. Maar Christus het gekom om dit te doen. Sien u, nou begin ons verstaan hoe uniek Hy is, dat Hy gekies het om vir my 'n Middelaar te wees. Dat Hy gekies het om 'n mens te word, vir my. Hy kon doen wat niemand anders kon of wou doen nie. Ons kan nie ons skuld betaal nie; inteendeel, ons maak dit elke dag net nog groter! En tog moet ons skuld betaal word. Die Here red ons nie van ons sonde deur ons sonde te ignoreer nie. Ons word van ons sonde gered, deurdat die skuld daarvoor werklik betaal word.

En dit kan ons nie. En daarom moet ons Middelaar nie alleen mens nie, maar ook self God wees. Net deur die krag van sy Godheid kon Hy ook as mens die straf van God en die las van die toorn van God teen ons sonde dra. Ons hoor hier wat Paulus bedoel wanneer hy verklaar dat hy alles van homself, selfs sy grootste inspanning om die Here te dien, as drek beskou. Met sy grootste en mees intense pogings om die Here te dien, was dit steeds voor God uiteindelik net iets om oor verleë te wees. Wat nodig is, is dat ons Jesus Christus sal leer ken, soos die apostel Paulus ook hier verduidelik, met sy geregtigheid. Wat ons nodig het, sê Paulus, is 'n geregtigheid wat UIT GOD is (Filippense 3:9). Niks minder as dit nie. Ons het 'n geregtigheid nodig uit God uit. Daarom moes Christus ook werklik God wees. 'n Goddelike geregtigheid, want ons kan niks doen nie. Alles moet van God kom. Daarom moes ons Middelaar, wat self God is, mens word.

En was daar enige wins vir Christus daarin? Was dit vir Hom 'n verheerliking dat Hy mens geword het? Nee, Hy moes Homself verneder. In Filippense 2:6 lees ons van Christus Jesus wat in die gestalte van God was, wat dit geen roof geag het om aan God gelyk te wees nie. Hierdie Christus het Homself ontledig deur die gestalte van 'n dienskneg aan te neem, en in die gestalte van 'n dienskneg het Hy aan sondige mense, aan u en aan my, aan ons, gelyk geword. En in die gestalte van 'n mens het Hy Homself verneder. Hy het gehoorsaam geword in ons plek tot die dood toe. Tot die dood aan die kruis, 'n vervloekte dood. Vervloek in die Naam van die Here. Hy sterf 'n dood aan die kruis, sê Paulus duidelik in Filippense 2. Daarom dat die Vader Hom verhoog het en Hom 'n Naam gegee het wat bo elke naam is. En daardie Naam is: ons Here Jesus Christus. Hy is ons Middelaar. Hy, wat hierdie Naam gekry het omdat Hy, wat God was, Homself kom verneder het. Voor daardie Naam moet elke knie van dié wat in die hemel en dié wat op die aarde en dié wat onder die aarde is, buig. Om ons skuld te dra, het Hy Homself verneder.

ONS Here Jesus Christus🔗

As ons Christus beter wil leer ken, dan moet ons verstaan wat Hy vir ons kom doen het. Daar is maar net Een wat vir ons kom doen het wat Hy gedoen het. Wie sou hierdie werk kon doen? Niemand nie! Maar meer nog, wie sou hierdie werk vir ons wou doen? Niemand nie, want dit is 'n werk van vernedering. Is daar werklik iemand op aarde wat dit gewillig vir ons, opstandige, rebelse sondaars, wil doen? Geen ander mens nie. Maar daar is werklik Iemand wat dit vir ons gedoen het. Ja! God se geskenk aan ons — ons Here Jesus Christus, wat deur die Vader vir ons gegee word, maar wat ook Homself gewillig vir ons kom gee. Hy is ons s'n. Hy is vir ons gegee, omdat ons Hom, en niemand anders nie, juis so nodig gehad het. Hy is God se grootste geskenk vir 'n verlore wêreld! Vir ons wat die ewige straf verdien en geen woord daarteen sou kon sê nie. Ons ontvang Christus as 'n geskenk van die Vader!

Hierdie Jesus Christus wat aan my gegee is, het my kom vasgryp; en daarom, omdat Hy my kom vasgryp het, sal ek Hom dan nie ook gryp met al sy rykdom en gawes vir my nie?! Daarom sê die apostel Paulus: Alles buiten Christus laat ek staan en ek laat dit los, sodat ek hierdie Christus kan kry, sodat ek Hom kan vashou. Want hoe kan ons Jesus Christus vashou as ons hande vol is met al ons eie besittings? Los dit daarom. Werp dit agter u, sodat u twee hande het om Christus vas te hou. Dít is wat Paulus vir ons sê, hier is die geskenk van die Vader. Hoe sal ons dan nog ander dinge in ons hande hou? Ons eie werke, ons eie geregtigheid, ons eie volmaaktheid en heiligheid? Sal ons dan nie ook die dinge wat agter ons is, vergeet en ons uitstrek na wat voor ons is nie? Sal ons dan nie ook die hoë roeping van God in hierdie Christus najaag nie? Hy het vir ons kom doen, wat vir niemand anders moontlik was nie en wat niemand anders bereid was om vir ons te kom doen nie. Dit is genade! Daarom is daar in die gemeente van Christus geen plek vir hoogmoed nie. Die gemeente van Christus is 'n leerskool waar ons hoe langer hoe meer Christus in al sy rykdom leer ken. En ek leer dit deur die geloof. En omdat Hy vir ons is, daarom is ons vir Hom.

Hier in die gemeente leer ons van Christus wat sy liefde vir ons kom gee het; liefde waardeur Hy vir ons gesterf het toe ons nog opstandige sondaars was. Al was ons hoe magteloos in ons sonde, het Hy Hom juis oor ons ontferm, sodat Hy ons kon bevry uit ons magtelose situasie. Sonder dat daar vir Hom enige voordeel in was. Nêrens anders leer ons daarom van so 'n liefde nie, 'n liefde vir Wie dit soveel gekos het om dit te bewys en 'n liefde met soveel voordele vir dié vir wie Hy dit wil gee — nêrens anders as by ons Middelaar nie. Een wat volmaak mens is, 'n volmaak regverdige mens, en wat ook volmaak God is. Nêrens anders leer ons liefde ken as juis by Hom nie.

Christus as wins🔗

Wat moet ons doen om Christus as wins te kry, om al hierdie geskenke te ontvang en ryk te wees? Sal ons dan nie alles gee om Christus as wins te kry nie?! Want Christus is werklik vir ons 'n wins. As ek Hom leer ken het, leer ek ook die krag van sy opstanding ken en die gemeenskap aan dit wat Hy vir ons gely het, en ek leer ook die voordeel van sy dood vir ons, sê Paulus in Filippense 3:10. Wanneer Christus vir ons betaal het, verkry Hy vir ons 'n klomp skatte en rykdom. Die Heidelbergse Kategismus noem dit in die woorde van 1 Korintiërs 1:30: "wysheid van God, geregtigheid, heiligmaking en volkome verlossing". Dit is die rykdomme wat vir ons uitgedeel word.

Maar nie almal beskou egter Christus as so 'n groot wins nie. Inteendeel, Paulus waarsku dat daar baie is wat lewe as vyande van die kruis van Christus (Filippense 3:18), as vyande van Hom wat gekom het om Homself vir ons te verneder. Vir baie is die kruis van Christus geen wysheid van God nie, maar 'n groot dwaasheid. Dit is iets om 'n bespotting van te maak. En daar is ook vandag 'n geweldige verset teen die wysheid van Christus as versoening vir ons sonde. Volgens baie het Christus nie as volkome mens en God vir ons sonde kom betaal nie. Christus is nie vir ons 'n geregtigheid voor God nie. God wil, volgens hulle, ons alleen maar verander deur Christus. Daar kan daarom ook volgens hulle1 geen versoening wees deur Christus wat vir ons sonde voldoening gebring het nie. Versoening kan alleen maar kom deur verandering by ons. Ons moet dus verander word deur Christus se optrede, waardeur versoening iets word wat deur ons bereik word.

Dit is byvoorbeeld die hele teologie wat onderliggend is aan die optrede van die Waarheids- en Versoeningskommissie wat in ons land besig was. Versoening kom nie deur voldoening vir ons sondes nie, maar versoening kom deurdat daar by die mens wat verkeerd gedoen het, 'n verandering moet kom. Dit moet dan kom deur sy sondes te bely, nie teenoor God nie, maar teenoor sy medemens vir wie hy kwaad aangedoen het. Dan kom daar verandering, en deurdat daar verandering is, kom daar versoening. Deur Christus? Nee, maar deur u en deur my. Dan is Christus weer nie my geregtigheid nie, nie 'n volmaakte versoening nie. Dan is die versoening weer teruggegooi in u en my skoot. Ons moet dit bewerk deurdat ons moet verander na Christus se voorbeeld vir ons.

Die versoening wat die apostel Paulus verkondig, is egter totaal anders. Paulus sê Christus self is ons volkome versoening by God. Versoening het gekom deur sy betaling vir ons sondes. Versoening het aan die kruis van Christus vir ons gekom. Daarom verkondig Paulus niks anders nie, as die kruis van Christus, en daardie kruis alleen. Maar dit was dwaasheid vir die filosofie van die wêreld en 'n struikelblok vir die godsdienstige Jode. Maar, volgens Paulus, is juis hierdie boodskap van die kruis God se wysheid vir ons. Christus se sterwe aan die kruis vir ons as sondaars. Die vraag is egter, glo u dit nog? Glo u nog dat dit die wysheid van God is? Is hierdie Christus wat daar aan die kruis gehang het, ook jou Here Jesus Christus wat so 'n groot wysheid van God is dat jy Hom elke dag beter wil leer ken? Het jy so 'n begeerte na Hom; is Hy jou Here Jesus?

Maar Hy is meer as net wysheid vir ons. Hy skenk ons ook geregtigheid. Dit wat ons self nooit kon doen nie, omdat ons met elke daad ons eie skuld net groter by God maak, dit kom doen Hy vir ons. Al ons sondes word ons ter wille van Christus vergewe. Daarom behandel Hy ons asof ons self sy wet volmaak gehoorsaam het en geen skuld teenoor Hom het nie. Dit omdat Christus vir ons die wet volbring het. Maar daar laat Christus ons nie, want Hy gaan ons ook nou anders laat lewe. Want Christus is ook vir ons gegee as heiliging. Wanneer ons hierdie Christus aan die kruis leer ken het, begin ons ook nou om volgens die hele wet van die Here te lewe. Die krag van Christus se opstanding uit die dood werk ook in my lewe, sodat ek 'n nuwe lewe begin te leef.

God self sê so🔗

Nou is die laaste vraag nog net: hoe weet ons dat dit alles so seker is? Hoe kan ék weet dat dit so seker is? Dan is die antwoord: God sê so! Hoe weet ek dat Christus die groot skat is waarmee ek kan leef? Wat gee ons die versekering dat dit nie maar alles oëverblindery is nie? Wat gee ons die versekering? Hoe kan ek weet dat ek nie op een of ander manier weer sal moet verantwoording aflê van al my sondes nie?

Dit kan ons alleen weet uit die heilige evangelie. Ons weet dit is so, want die evangelie is God se Woord! Dit het Hy reeds in die paradys bekend gemaak aan die eerste twee mense, Adam en Eva. Daarna het die Here dit op baie ander maniere deur die aartsvaders bekend gemaak. Hy het dit deur die profete laat verkondig. Die Here het allerlei seremonies en offers vir Israel ingestel om dit alles sigbaar aan ons uit te beeld. Wanneer die diere geoffer en die bloed oor die altaar gesprinkel is. Wanneer die hande van die priester en van die sondaar gelê is op die sondebok en die sondebok weggestuur is in die woestyn om die sondes weg te dra. Dit alles is vir ons reeds in die Ou Testament sigbaar uitgebeeld. Dit is die evangelie wat God deur al die eeue vir ons kom leer het. En dit alles vervul God self uiteindelik deur sy Seun wat ons Here Jesus Christus is. Die evangelie is nie iets wat geleerde teoloë bedink het nie. Ons hoor dit alles uit God se mond. En daaroor gaan dit alles uiteindelik.

Die ongelowige wil God nie glo nie en verwerp God se Woord wat na ons toe kom. Vir die gelowige egter is die evangelie die blye boodskap waardeur ons Here Jesus Christus elke dag beter geken kan word. En hierdie geloof in Christus is uit die gehoor en die gehoor is uit die verkondiging van God se Woord. Vir ons is daar maar een weg tot sekerheid: dat hierdie evangelie vir ons 'n vaste fondament is en dat ons onvoorwaardelik sal vertrou op die getuienis wat die Gees van God vir ons gee in en deur die Woord wat God vir ons gegee het.