Bron: Kerk en Woord. 2 bladsye.

Sondag, Rusdag, Feesdag

Die Fariseërs het van God se Sabbatsopdrag ’n verskrikking gemaak. Hulle het dit opgekap in honderde voorskrifte, gebod-op-gebod en reël-op-reël. Om iemand te help wat sy been gebreek het, was byvoorbeeld verbode; hy is immers nie in lewensgevaar nie. Jy mog iemand net help as hy in lewensgevaar is. Of om meer as 800 meter te loop, ’n Sabbatsreis, was verbode. Maar as jy 800 meter geloop het, kan jy 10 minute rus en dan kan jy weer 800 meter loop en jy het nie die gebod oortree nie. Met al hulle voorskrifte het hulle van die fees van die Sabbat ’n kruis gemaak.

Jahwe leer sy volk om op die Sabbat fees te vier dat hulle verlossing by Hom gekry het (Deut 5:14,15), maar die Fariseërs het die volk soos in ’n konsentrasiekamp met ’n doringdraadheining opgesluit. Oral het die volk hulle vasgeloop in wat hulle op die Sabbat nie mag doen nie.

Die Christelike rusdag is dikwels in die verlede ook met al sulke Farisese mag-nie’s en moenie’s tot ’n dag van pyniging, eerder as ’n vreugdedag gemaak: Daarom is die vraag wat dikwels op verenigings bespreek word: Mag ons op Sondag dit? Mag ons op Sondag dat? Jy hoor daarin die vrees dat ons ons dalk aan een of ander Sondagse bepaling of voorskrif kan skuldig maak. Ons hoor in Sondag 38 van die kategismus wat ons op die “rusdag” MOET DOEN en nie wat alles nagelaat moet word nie.

In sy oorspronklike uitgawe praat Sondag 38 nie van “rusdag” nie, maar van “Feiertag”, d.w.s. feesdag. Sondag, die eerste dag van die week, is ’n dag dat die Nuwe Testamentiese kerk hul verlossing vier, die bevryding van sonde en dood deur Christus. Daarvoor kom ons spesiaal onderling byeen op die plek van fees!

Op die Sabbat is die OT kerk elke sewende dag saamgeroep. Númeri 10 vertel daarvan. Vroeg die oggend is daar op ’n silwertrompet geblaas. Dan het niemand na sy gewone dagtaak gegaan nie.

Die Here het gesê: Dit moet ’n dag van volkome rus wees (Ex 23:12). Almal moes asem skep, hulle kragte herwin, selfs die slawe en vreemdelinge in die land. Niemand mag slaaf word van hulle werk nie. Hulle mag nie die indruk kry dat hulle voortbestaan van hulle gespook en gespartel afhanklik, is nie. God se volk hoef nie hulself te red nie. Inteendeel, hulle kon soos Jesaja dit noem (Jes 58:13), hul verlustig in hulle God, in sy wonderdade vir hulle. Die Sabbat was ’n hemelse geskenk - nie net om asem te skep en te rus van die werk nie, maar om onlosmaaklik daarmee saam jou aan die HERE te wy. Die HERE het gesê: As jy uitrus en kans het om weer tot jouself te kom, moet jou gedagtes uitgaan na My, die HERE jou God, en my wonderlikebevrydingswerk. So moet dit ’n dag word van fees met My.

So het die volk saamgestroom op Sabbat, een vrolike menigte, groot en klein. En dan was dit fees.

Die volke rondom het geweet: Hierdie volk leef in ’n verbond met Jahwe, die God wat Hemel en Aarde gemaak het, wat vir sy volk rus berei het, wat uitnemend vir hulle sorg. Al die Sabbatte, ook die sewende jaar en die jubeljaar as hulle hul lande laat rus, hul broeders hulle skuld kwytskeld en aan die wat hulle grond deur skuld verloor het, dit weer teruggegee het, was dit ’n teken van hulle verbondenheid aan die God. (Ex 31). Die Sabbat was soos ’n verloofring. ’n Verloofring is ’n teken van ’n liefdesverbintenis tussen ’n jongman en meisie. So het God die Sabbat, a.h.w. sy verloofring, aan Israel gegee. Daarom kon Hy dit nie verdra as ’n Israeliet die Sabbat ontheilig nie. Met die dood is dit gestraf. (Núm 15:3-36) Want so ’n persoon het hom aan die verbond met die HERE afgevee, God se liefde geminag!

Die Nuwe Testamentiese kerk het ook Gods verloofring, teken van ons verbondenheid aan Hom, die Sondag. Dit is nie meer die Ou Testamentiese Sabbat, die feesdag op die sewende dag nie. Nee, weekliks, op die eerste dag van die week, vier ons fees. Dan verlustig ons ons in die HERE. Dan dink ons daaraan dat Hy ons rus gegee het van alles wat boos en sleg is, dat Hy sy eie Seun gestuur het om die rus vir sy volk te koop met sy lewe. So het Hy tussen sy Vader en die kerk ’n ewige verbond bewerkstellig. Met sy opstanding het Christus die ewige Sabbat vir ons laat begin. Kyk, dit is wat ons op Sondag vier en dan moet ons ons aan Hom toewy!

Teen verwringing van die Sabbatsgebod het Christus te velde getrek. Hy het self die Sabbat onderhou en duidelik gemaak dat dit ’n gebod is om van te geniet. Die Sabbat was ter wille van die mens en die mens mag nie opgeoffer word aan die Sabbat nie. Dit laat Hy duidelik sien in die genesing van die man met die verdorde hand en met die verwysing na Dawid wat die toonbrode geëet het. Dit was nie net die bedoeling van die Sabbat nie. Dit is ook die bedoeling van die Sondag. Sondag is die Dag van die Here. Rus van ons werk en saamkom as God se verlostes om sy Naam groot te maak - dit is wat Christene se Sondag regtig ’n feesdag maak.

As ons vra: Hoe moet ons nou hierdie feesdag, die viering van ons bevryding, inklee; dan gee Sondag 38 ons die feesprogram. Dit kom reëlreg uit die Nuwe Testament. Dit vermeld geen mag-nies en moenies nie, maar, dat die prediking op Sondag voorrang sal geniet. Sondag wil die Here dominees op die preekstoel sien. En hulle moet preek. Daarvoor offer verloste kinders graag. Daarvoor onderhou hulle teologiese skole. Want die skole moet leraars vorm, diensknegte, wat vertel van God se groot verlossingswonder aan sy volk. God gebruik hulle en so kom Hy tot ons. So maak Hy by ons die vreugde wakker dat ons ons in Hom gaan verlustig. So help Hy ons waarlik feeshou.

As Sondag aanbreek, redekawel jy nie oor een- of twee keer kerk toe kom nie. Jy slaap nie laat nie. Want daar is niks beters as om naby God te wees en jou in Hom te verlustig nie. Daarom, jy staak alle werk! En ywerig kom jy met God se ander kinders saam. En dis vir jou ’n voorreg om graag jou vrye dag op te offer vir jou Vader in die hemel en sy Naam in gebed en gesang groot te maak. Maar dit kan mens nie anders doen as saam met sy ander kinders nie. Daarom skaar jy jou saam met jou broeders en susters ander sy Woord. Verder wil jy uit dankbaarheid vir jou verlossing dit ook vir jou Vader se kinders wat dit moeilik het, goed maak. Daarom op die dag van die Here graag ons liefdesgawes vir hulle. In die Ou Testament al het die HERE so telkens gesê dat Hy nie offers op die Sabbat wil hê nie maar barmhartigheid.

As dit deurgaans ons gesindheid is om so die Dag van die Here deur te bring, maar ons vanweë afgematheid en omdat ons moeggetob is, ’n keer net moet wegkom en dan oor ’n naweek byvoorbeeld ’n staptoer maak, om in die natuur te ontspan en tot onsself te kom, en ook daar op die rusdag die tyd neem om die Here se groot genade aan ons te herdenk, gaan ons mekaar nie veroordeel of voorskryf nie.

Sou dit gereeld gebeur en nie by wyse van ’n noodgedwonge uitsondering nie, dan sou dit nie goed te keur wees nie. Want die groot saak is dat die rusdag en die genadewonders van die Here in sy Seun in die lewe van die Christene die plek sal hê wat Here bedoel het.