Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Staatslotery

Totius het in Die Kerkblad van 1 November 1922 onder hierdie opskrif die onderstaande artikel gepubliseer. Ons kan dit vandag nog ter harte neem. Profetiese woorde verouder nie.

Gebruikmaking van die lot is ‘n baie ernstige saak. Die christelike moraliste of sedeleraars het dit beskou as ‘n sterk godsdienstige handeling waarby feitlik plaasvind ‘n aanroeping van die Here se hoogheilige Naam. Vandaar dat hulle die onderwerp behandel onder die derde gebod.

Uit die Heilige Skrif is ons drieërlei soort lot bekend:

  1. die lot van voorspelling,

  2. die lot van raadpleging en

  3. die lot van verdeling.

Die eerste het betrekking op toekomstige dinge. ‘n Voorbeeld van die loting vind ons in die raadpleging van die Urim en Tummim in die borslap van die hoëpriester (Num. 27:21; Ex. 28:30). Die tweede soort, naamlik die van raadpleging, vind ons in die geskiedenis van Israel toe deur loting vasgestel is dat Agan diefstal gepleeg het by die inneming van Jerigo (Jos. 7). Van die laaste soort lot, aangewend om tot verdeling of tot opheffing van ‘n geskilpunt of moeilikheid te kom, vind ons ‘n voorbeeld by die apostelkeuse, toe tussen Josef en Matthias geloot is (Hand. 1:26). Dis die lot waarvan Salomo sê: ‘Die lot laat die geskille ophou en maak sterkes uitmekaar’ (Spr. 18:18).

Nou was dit die gevoele van ons groot moraliste dat vir die christen nog net die laaste soort loting geoorloof is, naamlik die wat oplossing bring in gevalle waarin daar vir ons geen ander oplossing moontlik is nie. Die ander twee hoort spesiaal by die diens, deur God vir die Ou Bedeling ingestel. Van dié twee soorte lot kom daar dan ook in die Nuwe Testament geen voorbeeld voor nie. Dit is wel opmerklik.

Alleen van die lot van verdeling mag dus deur ons gebruik gemaak word en onder bepaalde voorwaardes: Daar moet geen ander weg oop wees om die moeilikheid op te los nie; waarby ons dan nog vermaan word om met eerbied en vrees tot die lot te nader, omdat loting feitlik bid is om ‘n besondere openbaring van die Here se voorsienigheid. Ten laaste het ons sedeleraars nog gestel dat die lot alleen gebruik moet word by regverdige en geoorloofde, ernstige en belangrike sake. Ook hier geld die Skrifwoord: ‘Die Here is naby almal wat Hom in waarheid aanroep’ (Ps. 145:18).

Uit hierdie kort oorsig van wat Gods Woord ons openbaar aangaande die lot, moet dit vir die leser al duidelik wees dat ons teenswoordige geldlotery ‘n onnodige en ligsinnige spel is en sodanig deur Gods wet verbode. Onnodig, omdat hier geen geskil aanwesig is wat om dadelike oplossing roep nie. Ligsinnig, omdat die erns wat ons by die loting, net soos by die gebed pas, ten enemale ontbreek.

Geldlotery is ‘n misbruik van die lot: dis ‘n ydellike gebruik van die Naam van die Here, ‘n sonde dus teen die derde gebod.

Maar dis nie al nie.

Geldlotery ondermyn die ware godsdiens wat ons in die eerste gebod gebied word, deurdat in die plek van die lewende God geskuif word die fortuin, kans, toeval en deurdat die mens daarop sy vertroue stel in plaas van op die enige, waaragtige God.

Die hele toeleg van geldlotery is nie om in die weg van God se ordinansies, deur eerlike, deur God verordende arbeid nie maar om gou-gou, deur die gril van fortuin, geld te versamel en ryk te word.

Geldlotery weier dus om God te aanvaar as die Beskikker van ons lot. Dit stel ‘n ander god op, en dié heet: fortuin. In die loting word dié god se naam aangeroep en van hom spoedige uitkoms verwag.

Geldlotery sondig ook teen die wet van die liefde, want dit spekuleer op die swakheid van die naaste, om sodoende jouself met dié se geld te verryk. Geldlotery ondermyn verder die burgerlewe, deurdat die mens afgetrek word van strenge, troue arbeid, om dit nou met die luiaards-kwekende kansspel te probeer.

Eindelik lê daar ‘n prikkel in om die mens nog meer te dryf en te jaag na ‘n skat wat hy tog nie in die ware sin van die woord vind nie. Die stille lewe in huis en arbeid word verstoor en die wêreld nog onrustiger gemaak as wat hy reeds is.

Van watter kant ‘n mens dan ook lotery sien – dit is en bly in hoë mate ‘n onsedelike en ongodsdienstige handeling, en dit betaam ‘n christen nie om, in watter vorm dan ook, daaraan deel te neem nie.

Tog bly dié sonde voortwoeker in ons christelike maatskappy, en daar is christenlande waar die staatslotery al inheems is. Dieselfde sal met ons land gebeur as gehoor gegee word aan die stem van 150 000 mense wat onder ons by petisie om staatsloterye vra. Ook het invloedryke persone en korporasies hulle al ten gunste daarvan uitgespreek.

Nou weet ons dat daar sekere argumente gebruik word om die staatslotery by die mense aan te beveel en goed te praat, maar die argumente is konsensiepleisters.

Gewoonlik word beweer dat die mense tog speel, tog dobbel, en dat dit daarom beter is dat die staat dit reglementeer. Dan hou hy (die staat) sy burgers uit die kloue van geheime swendelaars, en hy gee aan die onderneming ‘n behoorlike vastigheid.

Maar as mens op dié manier wil argumenteer – waar sal jy dan uitkom? Dan moet die staat ook maar die ontug reglementeer, want – dis dan die redenasie – die mense wil nou eenmaal ontugtig wees. Vir die publieke gesondheid is dit dan beter dat die staat kontrole hou ook oor die oneerbaarheid!

Nee, al sou die private loterye toeneem as daar geen staatsloterye is nie, dan nog mag die staat geen sondige voorbeeld gee nie. Maar die omgekeerde is waar – as die staat voorgaan, sal die burger in sy private of halfprivate lewe des te harder volg.

Die oorsprong van staatsloterye is dan ook nie die toeleg om die volksonde van speelsug en hebsug te beperk nie, maar (net soos by ons) was die bedoeling om die staat uit finansiële nood te help.

‘n Ander argument is dat die geld van dobbelaars na die buiteland gaan as die staat self waartoe hulle behoort, geen lotery instel nie. Maar as die owerheid die geld binnelands wil hou, dan kan hy tog waarlik ander maatreëls tref om sy doel te bereik! Deur sonde by sonde te doen kom ons geen stuk verder nie.

Ons volk het waarlik in die laaste tyd genoeg gesak, sodat dit nie nodig is dat die staat die sedelike bewussyn nog meer sal bederf deur hom te bemoei met hasard- (kans)spel nie.

Ons hoop dan ook dat daar van die kerke insonderheid ‘n kragtige protes sal uitgaan teen die voorgestelde legitimering en reglementering van die speelsonde deur die staat. Dié sonde sal ‘n oorsaak te meer wees waarom die toorn van God van die hemel oor ons openbaar sal word.