Bron: Waarheid en Dwaling. 2 bladsye.

Standhoudend

Deur die eeue en oor alle kontinente is daar al verskeie pogings aangewend om die karakter van die ware kerk en die ware geloof te beskryf. Binne die afbakening van die leserskorps van ons blad, asook binne die afbakening van ons blad se naam, sou ‘n mens graag die woord ‘gereformeerd’ wil gebruik; gereformeerd volgens die definisie wat die Sinode van Dordrecht 1618-19 daaraan verleen het en soos wat dit in die bevestigings-en ondertekeningsformuliere asook in die openlike verklaring by meerdere vergaderings uitgedruk word.

Daar is ook ander populêre betitelings wat aan die ware geloof toegeskryf word - sekerlik opreg bedoel, maar jammerlik eensydig. ‘n Voorbeeld is die benaming ‘konserwatief’ teenoor ‘liberaal’ of ‘progressief’. ‘n Ander poging is die term ‘behoudend’ wat teenoor ‘loslatend’ afgespeel word. Nog ‘n uitdrukking is ‘fundamentalisties’ wat teenoor ‘vrysinnig’ te staan kom. Alhoewel al hierdie karakteriserings iets van die waarheid bevat, is die nadeel dat dit grootliks met die dampkring van die wêreldse politiek geïdentifiseer word en daarom ook met die negatiewe konnotasies daarvan besmet is. Nodeloos om hiervan te sê dat dit nie eintlik ‘n wesentlike bydrae tot die kerklike gesprek lewer nie.

Nie lank gelede nie het, op ‘n spontane wyse in ‘n gesprek met ‘n medebroeder, ‘n ander treffende karakterisering vir die ware geloof en die ware kerk uit die mond geglip: ‘standhoudend’. Dit laat ‘n mens onwillekeurig aan die onstuimige worstellied van Psalm 46 dink. Terwyl die vyande aanstorm dat die aarde waggel en die berge bewe en hulleself in die see stort dat sy waters bruis en skuim, is daar kalmte in die hart van Jerusalem. ‘Die stroompies van ‘n rivier maak die Godstad bly, die heiligste van die woninge van die Allerhoogste. God is daar binne-in, dit sal nie wankel nie; God sal dit help as die dag aanbreek’ (Psalm 46:5, 6). Die bron van die ware geloof en van die lewe van die kerk is standhoudend. Soortgelyk is die karakterisering van die Bybelse regverdige in Psalm 1:3: ‘En hy sal wees soos ‘n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.’

Die geloof put deur die eeue uit ‘n standhoudende Bron. Dit is God wat Homself as die Drie-enige openbaar het en wat ons salig maak deur die geregtigheid wat Christus vir ons bewerk het. Die Hebreërbrief getuig van Christus: ‘Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.’ Hierdie vaste betroubare waarheid laat hom direk hierna vir die gelowiges sê: ‘Moenie rondgeslinger word deur allerhande en vreemde leringe nie’ (Hebreërs 13:8, 9).

Die gevolgtrekking kan gemaak word dat die standhoudende Bron van die kerklike lewe daartoe aanleiding gee dat die kerklike lewe self ook standhoudende karaktertrekke deur alle eeue heen kan behou. Om waarlik kerk te wees vereis dat die kerk in God en sy Woord gewortel en gegrondves lewe. Wanneer die kerk haar standhoudende karakter verloor, is dit omdat sy nie meer alleen uit die suiwer lewensbron put nie; nie meer alleen Christus, alleen genade, alleen geloof, alleen die heilige Woord, alleen aan God die eer nie.

Standhoudend kom ook in ander kontekste voor, byvoorbeeld in militêre sin. In dié verband sou eintlik eerder gepraat word van standvastig. Die kerk van die Here Jesus word in Efesiërs 6 as die leërmag van die Here Jesus beskryf, toegerus met die volle wapenrusting van God. So word hulle met krag versterk en staan vas teen die liste van die duiwel en sy magte. Dan beteken standvastig om op ‘n betroubare manier volgehoue weerstand teen die vyand te bied en hom effektief te neutraliseer. Paulus dui hier aan hoe dit vir die strydende kerk moontlik is om standvastig te kan bly. ‘Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte’ (Efesiërs 6:10).

Wanneer ‘n gemeente standhoudend is, is hulle ‘n gemeenskap ‘wat nie meer kinders is wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring nie’. In liefde betrag hulle die waarheid en so groei hulle in alles op in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus (Efesiërs 4:14, 15).

Omdat, en vir sover, die gemeente vanuit haar Lewensbron leef, kan sy die troos hê dat sy ‘n ware gemeente van die Here Jesus is. Dwalings en afval vind plaas wanneer die gelowiges van hulle Lewensbron afgetrek word; sodra hulle voeding en krag uit (God-)vreemde bronne begin put. Aanvanklik word nog wel saam uit die suiwer Bron geput, maar stelselmatig al hoe meer vanuit die mens. ‘Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word’ (2 Timoteus 3:13).

Die ware kerk wat die Woord suiwer, dit is met ‘n onverdeelde hart vashou, luister na die betroubare waarskuwing van Paulus aan Timotheus: ‘Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus’ (2 Timoteus 3:14, 15).

So bly die bekende historiese slagspreuk ook steeds aktueel: ‘ad fontes!’, terug na die Bron! Dit is wat voortdurende reformasie is. In hierdie sin is die ware kerk en die ware geloof standhoudend deur alle eeue tot op die dag dat dieselfde Christus in Wie die kerk en die geloof haar begin te danke het, op die wolke verskyn.