Bron: Kompas, 2003. 3 bladsye.

Teenoor die Islam Bely Ons die Drie-Enige God

Die Moslems verwerp net soos Christene ’n veelgodedom. Hulle lê baie klem op die feit dat daar maar een God (Allah) is. Die eerste deel van hul belydenis: “Daar is geen god, behalwe God (Allah) nie,” is ’n Arabiese vertaling van Deuteronomium 6:4. In die Koran vind ’n mens ook allerlei name, begrippe en uitsprake wat ons ook in die Bybel vind. Die Koran praat van God die skepper van hemel en aarde, God wat as regter optree, God wat die sonde toereken of vergeef. Wat is dan die verskil tussen die Islam en die Christendom? Kom ons kyk na sekere sentrale temas.

Allah die Ontoeganklike God🔗

Die Koran benadruk Allah se skeppende krag. Dit leer dat nie net die goeie nie, maar ook die kwaad, ook die slegte dade van mense, deur Allah geskep is. Allah laat dwaal wie hy wil en plaas op die regte pad wie hy wil. Daarin handel hy na eie goeddunke. Allah sal eendag oor jou dade oordeel. As ’n ontoeganklike, onbewoë regter. Hier lê die groot verskil tussen Allah en ons God. Op geen enkele plek noem die Koran Allah Vader nie. Die verhouding met Allah word ook nooit omskryf as ’n persoonlike verhouding van liefde nie. Die verhouding tussen Allah en sy volgelinge is eerder die van heer teenoor sy slaaf. Om Moslem te wees, is ’n kwessie van onderwerping. Die woord Islam beteken dan ook onderwerping.

Allah se almag word benadruk. Die almag is iets wat ’n mens met angs en vrees vervul. Volgens die Islam is dit absoluut onmoontlik dat God ons sou verhoor of dat God na ons hulpgeroep sou luister. Allah is ontoeganklik, ondeurgrondelik. Hy laat nie sy hart sien nie. Daarom maak die gelykenis van die verlore seun groot indruk op Moslems wat hulle tot die Christelike geloof bekeer. Hulle kan eers nie verstaan hoe dit moontlik is dat ’n vader onvoorwaardelik sy arms uitstrek na ’n kind wat hom so in sy eer aangetas het nie. Dat God so ’n hemelse Vader vir die gelowiges kan wees is vir hulle ’n openbaring.

Die Vergewing van Sondes🔗

Die Koran ken geen erfsonde waarmee alle mense gebore is nie. Elke sonde staan op homself. Dit blyk ook uit die sonde van Adam. Volgens die Islam het Adam se sonde geen diepgaande gevolge vir ander gehad nie. Die mens is nog steeds in staat om met die regte leiding van God op die regte pad te bly.

Om die vergewing van sondes te kan ontvang, moet aan sekere voorwaardes voldoen word. Daarvoor moet jy die pligte van die Islam (waaronder die rituele gebede, vas en die gee van aalmoese) nakom.

’n Tweede komponent van die vergewing is dat dit aan Allah se geregtigheid ondergeskik is. Volgens die geregtigheid beloon Allah die goeies en straf hy die boses. In sy regverdigheid weet net Allah wie werklik vroom is en wie genoeg goeie werke gedoen het om in die paradys te kom. Op grond van sy kennis sal hy ’n regverdige loon gee en al of nie toegang tot die paradys verleen. Ongelowiges en mense met te min verdienste word aan die hel oorgegee.

’n Derde komponent van die vergewing is dat dit aan die almag en wil van Allah onderworpe is. Dit bly die belangrikste en beslissende faktor. Niemand het egter insig in Allah se almag en wil nie, selfs nie die profeet Mohammed nie. Dit maak die vergewing baie onseker.

Oor die samehang van vergewing en liefde praat die Koran nie, behalwe dat God die ongelowiges nie liefhet nie. Die verkondiging van Paulus “maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (Romeine 5:8) ontbreek volkome.

Versoening🔗

Bo alle ander geloofsuitsprake van die Moslems staan die leer van die absolute eenheid en almag van God. Dit sluit die moontlikheid uit dat Christus middelaar sou wees en in ons plek sou intree. Die Koran leer wel dat die sondaars voor God nie kan bestaan nie, maar die Koran praat nie van die blye boodskap van Christus wat sonde vir ons gemaak is, sodat ons geregtigheid van God in Hom (2 Korintiërs 5:21) kan word nie. Die Islam kan vir die God van Jesus Christus geen begrip opbring nie, omdat die versoening aan die kruis en die plaasbekleding vir hom vreemd gebly het.

Fundamenteel in die Skrif is dat die versoening oftewel, genoegdoening volledig deur God se liefde bewerkstellig is, sonder toedoen van mense (Romeine 5:6-10). Ons mense kon dit nie doen nie, aangesien ons van nature goddeloos en vyande van God is. Die versoening het geskied deur die offer en bloed van Christus, sonder enige prestasie van ons kant. God handel hier in Christus. Christus is die Middelaar. Dit word ook benadruk in 2 Korintiërs 5:17-19. Daar is die swaartepunt: wie in Christus is, is ’n nuwe skepping, aangesien God in Christus die wêreld met Homself versoen het.

Jesus🔗

Elke Moslem weet dat Jesus (wat in die Koran Isa genoem word) uit die maagd Maria gebore is. Die geboorte van Jesus word met die skepping van Adam vergelyk. Beide Adam en Jesus het regstreeks ontstaan deur ’n magswoord van die Skepper.

Die maagdelike geboorte is in die Koran egter geen aanwysing vir die menswording van die Seun van God nie. Die Moslems beskou dit as godslasterlik om Jesus die Seun van God te noem. Dit sou volgens hulle impliseer dat God ’n huwelik aangegaan het. Hulle dink dan ook foutief dat ons leer van die drie-eenheid wys op Vader, Maria en Jesus. Maria sou God se eggenote wees deur wie God Jesus ontvang het.

Omdat die Islam ontken dat Jesus die Seun van God is, ontken hulle ook dat Christus self God is. Jesus word in die Koran beskou as ’n dienaar van God, ’n profeet wat opgetree het om die mense tot die ware godsdiens op te roep. Hy sou ’n besondere skakel wees in die lang ry profete van Adam tot Mohammed, wat die seël van die profesie genoem word.

Die Here Jesus het eens gevra: “Wie sê julle is Ek?” Die Moslem bely: “U is een van die groot profete.” “Nee,” bely Petrus en elkeen aan wie God die waarheid geopenbaar het,

U is die Christus, die Seun van die lewende God.

Die Moslems ken nie die goeie nuus van vergewing van sondes en ewige redding deur die geloof in Jesus Christus nie. Mohammed het sy volgelinge sonder Verlosser gelaat. Geen enkele godsdiens gee Jesus so ’n groot plek as die Islam nie. Maar daar is ook geen enkele godsdiens wat so duidelik en beslis die soenoffer van Christus verwerp nie. Dis die groot kloof tussen Christendom en Islam, tussen Christene en Moslems.

Kinders van die Slavin🔗

In Galasiërs 4:20-31 kontrasteer Paulus die twee seuns van Abraham. Ismael was die seun van die slavin Hagar en Isak die seun van die vrye Sara. Hierdie twee vroue met hul kinders word sinnebeelde van twee verbonde genoem. Hagar met haar kinders wys op die mense (in daardie tyd die Judaïste) wat deur goeie werke hul posisie as kinders van God wil verwerf, mense wat op die vlees vertrou. Hulle is slawe net soos Hagar. Sara met haar kinders wys op die kerk wat in Christus vrygemaak is, wat uit genade lewe.

In die Islam speel Abraham ’n baie belangrike rol. Terwyl die Skrif egter van die verbond van God met Abraham, Isak en Jakob praat, praat die Koran van die verbond van Allah met Abraham, Ismael, Isak en Jakob. Die seun van die slavin wat God weggestuur het, word hier ingevoeg in die ry van die aartsvaders. Ismael, en so ook sy afstammelinge, die Arabiere, word bo Isak geplaas. So word Abraham van Israel en die Christene weggeneem en volkome vir die Islam opgeëis.

Is dit nie baie verdrietig dat die Moslems wat ten dele oorspronklik nakomelinge van die slavin Hagar was, nou ook geestelik hulle as kinders van die slavin gedra nie? Hulle kies teen Jesus Christus, die seun van Abraham, Isak en Jakob. Jesus Christus wat werklik vry maak en verlos. Daardeur is hulle soos slawe wat die juk van hul verlossing self moet dra.

Ons Drie-Enige God🔗

’n Mens kan ’n vergelyking maak tussen die God van die Bybel en die god van die Koran. Daar is baie ooreenkomste in Bybelse begrippe. Tog is die eienskappe en wese van die god van die Koran radikaal anders as die van die God van die Bybel. Allah is nie die God wat Hom in die Skrifte as die Drie-enige bekend gemaak het nie. Die Moslems verwerp juis die een God wat in drie Persone onderskei kan word. Daarmee verwerp hulle hul verlossing. Juis in Christus leer ons God se liefde tot ons verlossing ken (Johannes 3:16). God het immers sy Seun oorgegee om verlorenes te red. Hy gee ook sy Gees om die verlossing in ons lewe waar te maak.

Die Koran benadruk Allah se mag as skepper en regter. Maar die verlossing en die heiligmaking? Dit lê op die skouers van die mens. Wat ’n verskriklike armoede! Jy kan nooit seker van jou verlossing wees nie. Jy moet maar sorg dat jy Allah se eise vervul. En jy moet maar wag om te sien of Allah werklik tevrede is met wat jy gedoen het.

Ons is so ryk met ons drie-enige God. In die drie Persone word nie net my skepping nie, maar ook my verlossing en heiligmaking gewaarborg. In Hom ontvang ek die ware, volle lewe. Ewige sekerhede. Die God van my skepping is ook die God van my verlossing en die God van my heiligmaking. Hy is die God wat die redding van verlore sondaars soek en bewerk. In Hom is alles gereed en seker.

’n Moslem wat God so as die drie-enige God leer ken, mag ervaar hoe die geloof ’n bevryding is. Die drie-enige God is nie ’n ontoeganklike god wat net onderwerping eis nie. Hy is die nabye Verbondsgod wat altyd aktief aanwesig is tot redding van sy kinders. Iemand het gesê: hierdie belydenis is soos ’n warm kaggel wat in die koue en eensaamheid van ons lewe, oral en na alle kante warmte uitstraal.