Tekens van die Tye
Tekens van die Tye
ʼn Groot natuurramp moet in die lig van die Bybel gesien word as een van die tekens van die tye. In die vorige uitgawe van “Die wekker” is breedvoerig ingegaan op ʼn aantal vrae met betrekking tot so ʼn ramp. Die waarom-vraag kan nie beantwoord word nie. Daar is wel iets meer te sê wanneer ons die betekenis van die Bybelse spreke oor die tekens van die tye probeer verstaan. Ek gee hieronder ʼn aantal hooflyne.
Geen Verklaring Nie⤒🔗
Dit gaan vir my nie om ʼn verklaring van rampe en katastrofes nie. Daar vind gereeld katastrofes in die wêreld plaas. Vir sommige rampe kan ʼn oorsaak van menslike tekortkominge aangewys word. Vanuit wetenskaplike gegewens kon ons ook wel iets sê oor rampe wat deur natuurgeweld veroorsaak word. Sulke verklaringe het binne hul eie grense hul betekenis. Maar baie mense voel ʼn behoefte aan ʼn verdere vraag. Slagoffers het origens nie allereers verklaringe nodig nie, maar hulp, gebed en barmhartigheid.
Karakter←⤒🔗
Jesus het gepraat van die tekens van die tye. Hoewel die term slegs een keer in die Nuwe Testament voorkom (Matt. 16:3) is die saak op meer as een plek aan die orde. Dink aan al die gedeeltes wat oor die (nabye) toekoms gaan. Die boek Openbaring kan genoem word.
Deur die eeue heen was daar tekens van die tye en sal daar wees tot by die wederkoms van Christus. Hiermee is tegelyk iets belangriks gesê nl. dat die tekens van die tye altyd te doen het met die regering van die Here Jesus Christus en met Sy wederkoms.
Dit is kenmerkende tekens, wat ʼn aankondiging van beslissende tye is. Daar kom ʼn tyd wat beslissend vir elke mens persoonlik en vir die hele mensheid in sy geheel sal wees. Dié deurslaggewende tyd is die wederkoms van Jesus Christus. Die tekens van die tye is openbaringe en waartekens van die koningskap van Christus in strafgerigte en tugtigings, evangelieverkondiging en beproewinge. Dit lewer ʼn kragtige appèl op mense, om hulle op die weg van bekering en geloof tot Jesus Christus te plaas. Hý is die komende Koning-Regter-Redder. Daar is in die eindtyd tye van God se welbehae en tye van God se toorn. Elke tydperk het ʼn eie karakter van ontwikkeling of verval, kentering ten goede of ten kwade. Daar bestaan nooit en nêrens ʼn ‘neutrale’ tyd nie.
Die Skrif sê dat die verset teen die Evangelie van Jesus Christus en Sy mag sal toeneem.
In watter vorm die verset sal wees, is nie nou ter sake nie. Dit gaan om die verwerping van God se Gesalfde. Mense wil nie hê dat Jesus Christus die Here van hulle lewens sal wees nie. Die Evangelie word wêreldwyd verkondig as ʼn blye boodskap. Die verkondiging van die Evangelie kan die belangrikste teken van die tye genoem word. Elke tyd het ʼn verband met die Evangelie en die verkondiging daarvan. Die mense moet geestelik wakker geskud word. Hulle is almal op pad na die beslissende ontmoeting met Jesus Christus, die Here. En in dié ontmoeting kan ʼn sondige mens alleen gered word as hy of sy in hierdie lewe tot bekering en geloof gekom het. Die prediking van die Evangelie bedoel juis hierdie bekering tot God en die geloof in Jesus Christus. Natuurlik bedoel die prediking van die Evangelie ook ʼn lewe wat ʼn vrug is van hierdie bekering en die geloof. Dit word ʼn nuwe lewe waarin die Heilige Gees die leiding gekry het. Dit is bevrydend om op te merk hoe in die Nuwe Testament die leiding van die Heilige Gees en die belewing van die eie verantwoordelikheid nie met mekaar bots nie. Die Evangelie kom tot alle mense sonder onderskeid. God bied Sy welbehae in Christus, Sy liefde, genade en ontferming in die Evangelie aan elke mens aan. Daarin is geen beperking nie.
Waarskuwingseine←⤒🔗
Die tekens van die tye is dus verbonde aan die prediking van die Evangelie. Miskien vra ʼn leser hoe lyk die tekens van die tye? Ek noem die volgende tien tekens: die verbondsoordeel oor Israel en die kerk; die vals messiasse: figure wat ʼn valse heilsverwagting voorhou; oorloë en hongersnode; aardbewings; verdrukkinge van die dissipels van Jesus; onderlinge haat en verraad onder die volgelinge van Jesus; vals profete, vals predikante en vals priesters; ontaarding en afkoeling van die liefde; trou en geloofsvolharding; die wêreldwye prediking van die Evangelie.
Die tekens van die tye dien vir die mensdom as waarskuwingstekens. As Christus deur die Evangelie die versteende harte nie bereik nie, is daar vir Hom ook ander middele tot Sy beskikking om Sy doel te bereik, nl. honger, ekonomiese depressie, oorloë, epidemies en natuurgeweld. Dr. B Wentsel skryf: “Die baie rampe in die vyf kontinente moet dan ook gesien word as tugmiddele om die volkere te leer dat hulle nie sonder die hulp van die Almagtige tot welvaart kan kom nie, en dat hulle die reg moet betrag” (Dogmatiek, deel 4c).
Op die vraag waarom bepaalde dele van die wêreld baie meer as ander dele getref word, kan ons geen bevredigende antwoord gee nie. In geen geval mag mens sê dat daardie mense ‘slegter’ of ‘sondiger’ is as dié mense wat met minder (natuur)rampe te doen kry nie. Die tekens van die tye raak alle mense, ook wanneer hulle nie direk getref word nie. Dié wat nie getref word nie is ewe skuldig of onskuldig as dié wat wel getref word. Ook volgelinge van Jesus word deur bepaalde rampe getref. Daar is baie broers en susters onder die rampslagoffers. Die reaksie van christene beïndruk ons. Hulle kom nie in opstand teen God nie. Hulle gee God nie die skuld nie. Hulle bestorm Hom nie met waaromvrae nie, al sal die vraag na die ‘waarom’ wel onder hulle bestaan. Maar dan leef die vraag in dié sin dat hulle soek na ʼn antwoord wat hulle help om nog meer vir die Here en Sy diens te lewe. Hulle soek hulle steun en oorgawe by Hom in Wie hulle geglo het en in Wie hulle bly glo. Hulle trou en volharding is één van die tekens van die tye. In hulle trou en gebed en liefde word aan Christene in ander dele van die wêreld ʼn spieël voorgehou. Die houding van hierdie broers en susters is ʼn appèl op die ongelowige wêreld.
Roepstem←⤒🔗
In die tekens van die tye is daar ʼn roepstem vir elke mens. So is dit ook onder Christenmense wat hiervan nie wil weet nie of waarmee hulle hul nie wil vermoei nie. Die Bybel is hierin duidelik. Wie hom nie aan die roepstem steur nie, spreek teen die Skrif in. Die manier waarop iemand hom van die roepstem, wat almal persoonlik aangaan, distansieer, is nie die belangrikste nie. Mense kan hulle op growwe maniere daarvan distansieer, nl. om aan die een kant spottend of vloekend op te tree, of aan die ander kant op ʼn diepsinnig deurdagte wyse alles of niks met ʼn aantal teologiese argumente af te maak. Die mens kom egter nie weg van dít wat die Skrif sê nie. Met eerbied gesê: van ons afstootlike houding is Christus nie onder die indruk nie. Die waarheid van die Skrif laat hom nie wegstoot nie. Die waarheid sal aan die lig kom.
Een van die ergste uitwerkings van die tekens van die tye is dat die mense hulle nie bekeer nie (sien die slot van Openbaring 9). Die mense maak daarvan ʼn verklaring. Hulle verklaar die erns weg. Hulle wil aangaan met hulle lewens soos tot hiertoe. Diegene wat direk na die ramp maak asof niks gebeur het nie, is daarvan ʼn voorbeeld. Een van hulle sê: ‘ons lewe tog almal vir onsself’. Duideliker as wat die Skrif sê kan dit nie beskryf word nie, nl. “en hulle het hulle nie bekeer nie”.
In die ‘Christelike Aanval’←⤒🔗
Hierdie ingesteldheid maak die oordeel onvermydelik. Die geregtigheid sal oorwin.
Vanuit Christus gedink: “Hy moet verheerlik word”. Hy moet as Koning heers te midde van al Sy vyande. Wie ʼn vyand van Hom bly sal deur Hom oorwin word en van ontslae geraak word. Harde woorde vir ʼn beskaafde maar ongelowige volk. Soos ek al vroeër geskryf het, dreig ons om Bybelse – en dus ook konfessionele – duidelikheid kwyt te raak. Die verkondiging van die Evangelie is vol genade, ontferming, liefde en hulp.
Die keersy daarvan is wel die oordeel. Die geloof in Jesus Christus is geen stokperdjie van ʼn groepie mense nie. Dit is geen geloof wat jy kan aanneem wanneer jy oor ʼn bepaalde genetiese aanleg daarvoor beskik nie. Die geloof in Jesus Christus as Saligmaker en Here is noodsaaklik vir elke mens, sonder enige uitsondering. Ons moet weer meer in die openbaar tree met die getuienis van die Evangelie. Daar is oorgenoeg tyd vir die ‘Christelike aanval’!
Ons hoef ons nie in ʼn hoek te laat vasdruk asof ons niks te sê het nie. Die saak is of ons self nog gewortel is in die Woord en of ons die ontsag vir die heilige en hoë God ken? Dit gaan nie oor die angs vir God nie. God wil ons genadig wees. Dit is nog altyd die dag van genade vir elke mens. Die vraag is wat ons daarmee doen, persoonlik, maar ook as Christene tussen die volk waaraan ons verbonde is? As Christene ken ons ʼn verbondenheid met meer volke as net ons eie volk. ‘Eie volk eerste’, is nie ʼn leuse vir ʼn Christen nie.
Ook die teoloë mag en moet met meer beslistheid in die openbaar spreek as dit gaan om die wesenlike sake in die Skrif. Ons het ons al genoeg laat ontneem. Ons het al te slap en beskeie geword. En intussen gaan die saak verlore; kerklik en maatskaplik. Ook dít is ʼn teken van die tyd. Die liefde van die meeste sal verkil. Dit kan ook met my liefde gebeur! Wanneer ons met meer beslistheid in die openbaar gaan praat sal die verset daarteen toeneem. Laat dit so wees. Dan is ons in elk geval besig met sake wat vir elke mens belangrik is.
Jesus Christus is nie slegs maar net ʼn moontlikheid nie; Hy is ook geen waarskynlikheid nie.
Hy kan daar wees, maar Hy kan ewegoed nie daar wees nie. Nee, Hy ís daar! Sy bestaan en sy regering berus op harde heilsfeite wat histories verifieerbaar is. Wie in Hom glo, ken Hom. Sy Gees getuig immers van Hom in ons harte. Dit moet ons bang maak dat ons as kerke oor die hele linie dié getuienis van die Heilige Gees verloor het of byna verloor het. Daarvan moet ons terdeë bewus wees.