2 bladsye.

Tot Hoe Lank?

Met moderne geneeskundige tegnieke het dit moontlik geword om terminaal siek pasiënte baie langer aan die lewe te hou in vergelyking met die beperkinge van vroeër. ’n Pasiënt met dikdermkanker sou dan byvoorbeeld al baie gouer weens die siekteproses gesterf het. Hoe ver mag ons gaan en waar moet ons ophou?

Die Here gee aan ons die sesde gebod. ’n Gebod wat ook in die gesondheidsorg geld: Jy mag nie wederregtelik doodmaak nie. Ons wys gevolglik alle vorms van aktiewe eutanasie af. Maar sou die onttrekking of weerhouding van behandeling in die geval van ’n terminaal siek pasiënt ook op wederregtelik doodmaak neerkom?

Kom ons neem ’n voorbeeld. Meneer X word gediagnoseer met pankreaskopkarsinoom (kanker van die pankreas). Dit is nie meer moontlik om die kanker te verwyder nie, omdat veelvuldige verspreiding reeds na die lewer plaasgevind het. ’n Ernstige siekte met ’n prognose van vyf maande oorlewing vir meeste pasiënte. ’n Kanker wat die galafvoerbuise van die lewer steeds meer toedruk sodat gal nie meer van die lewer na die derm afgeskei kan word nie. Die gal begin dus stelselmatig in die liggaam ophoop en is verantwoordelik vir slegte newe- effekte. Hy kla oor naarheid en braking met elke maaltyd en erge jeuk. Sy gelaat word steeds meer geel van kleur en hy kla met tye van erge rugpyn en buikpyn. Meneer X kan menslik gesproke nie meer genees word nie. Sy behandeling word nou toegespits om simptome te bestry en om te sorg dat hy in die laaste maande van sy lewe nog sy God kan dien.

In die verlede sou Meneer X met verskeie plantaardige middels behandel kon word om die simptome te bestry. Soms sou hierdie behandeling tydelik verligting bring, maar die simptome sou dikwels baie erg wees. Uiteindelik sou die ophoop van gal in die liggaam sodanig sy breinfunksie aantas, dat hy in koma sou gaan en na verloop van tyd sou sterf.

Wat sou vandag beskikbaar wees om Meneer X te behandel? Chemo- en radioterapeutiese middels word vandag in die stryd teen kanker gebruik. Meneer X is egter nie geneesbaar nie. Daarom sou die onkologiese behandeling toegespits wees om die grootte van die kanker te verklein sodat die drukking en sodoende obstruksie op die galweë verminder kan word. Dit sal die ophoping van gal in die liggaam verminder en die simptome baie meer draaglik maak.

Daar kan verder operatief ’n ‘stent’ (rigiede buisie) in die galweë geplaas word, wat die galweë oophou en sodoende sorg dat die gal dreineer na die derm. Dit is ’n operasie onder algemene narkose en gaan gepaard met die normale risiko’s van ’n buikoperasie.

Middels wat die jeuk en naarheid teenwerk kan binnespiers en in die bloedstroom toegedien word. Hierdie middels het ook hul beperkings en werk gewoonlik die beste nadat een of ander prosedure gevolg is wat die obstruksie van galdreinasie verlig.

Meneer X se toestand versleg sodanig dat die simptome baie erg word en dat hy gedisoriënteerd raak. Daar word operatief ’n ‘stent’ ingeplaas om die galdreinasie te verbeter, waarna hy na ’n tydperk van ’n week weer beter word en weer helder kan dink en kommunikeer. Hy is egter nou meer bewus van die pyn en morfien word eers met medikasie per mond beheer, maar moet later konstant onder die vel toegedien word. Ten tyde van hierdie behandeling ervaar hy min newe-effekte van die morfien en kan hy nog rondbeweeg, met sy kinders en kleinkinders praat en selfs in die huishouding en werksaamhede help.

Na ’n paar weke versleg sy toestand egter enorm weens die verspreiding van die kanker en sterf hy.

Hierdie gevalstudie toon iets van die dilemma waarmee in mediese praktyk geworstel word ten opsigte van die grense en moontlikhede van behandeling van terminaal siek pasiënte. Dit gaan hier oor ’n terminaal siek pasiënt. Dus nie ’n pasiënt waar daar medies gesproke ’n goeie kans op genesing en herstel bestaan nie.

Eerstens moet ons stel dat daar geen swart-wit lyne getrek kan word ten opsigte van die aanvang, weerhouding en staking van behandeling in terminaal siek pasiënte nie. Elke pasiënt moet individueel hanteer word.

Tweedens mag ons sonder skroom gebruik maak van pyn- verligtende en simptoomverligtende middels wat beskikbaar is. Die Here het hierdie middels ook in sy skepping gelê om deur die mens gebruik te word, sodat die mens daarmee sy God kan dien. As dit beteken dat ’n operatiewe ingreep wat tydelik (weke of maande) verligting bring en breinfunksie verbeter, mag ons dit sien as ’n gawe van die Here om ook in die laaste tyd van lewe op aarde nog optimaal die Here te kan dien. Dit mag iemand in staat stel om nog laaste werk op aarde te verrig, om nog goeie gesprekke met sy kinders en kleinkinders te voer. Gesprekke wat die Here kan gebruik om die voortgang van sy werk in hierdie wêreld stukrag te verleen.

Dit mag die sieke in staat stel om nog in die laaste weke van sy lewe God se Woord te bestudeer, gerig te bid vir die uitbreiding van God se koninkryk, saam psalms te sing tot eer van die Here en miskien selfs nog kerk toe te gaan. Dit mag iemand in staat stel om laaste werk in God se koninkryk te doen, die laaste afrondingswerk aan ’n boek wat hy geskryf het byvoorbeeld, die skryf van briewe, die bestuur van sy finansies in diens van God se koninkryk as hy nie meer daar is nie.

Maar sou operatiewe ingreep en bestraling met die oog op simptoomverligting nie weer ander simptome op die voorgrond plaas nie, soos wat die naarheid, jeuk en deurmekaarheid van Meneer X deur hierdie behandeling verlig is, die pyn weer meer op die voorgrond gebring het nie? Sou daar in elk geval glad nie met hierdie behandeling moes begin gewees het nie?

Weereens kan ons nie ’n reël neerlê nie, maar moet ons pasiënte individueel behandel. Dit mag in die een geval inderdaad nie gedoen word nie en glad nie neerkom op eutanasie nie. In ’n ander geval mag sodanige ingreep tot goeie verligting van simptome aanleiding gee en kan ander middele gebruik word om weer die pyn te bestry, soos in die geval van Meneer X. Ons mag die middele wat die Here gee, verantwoordelik gebruik. Daarmee is niks fout nie. Hy gee dit immers. Maar dan kom die uitkoms van die behandeling neer op die feit dat dit nou vir die pasiënt moontlik is om sy God te dien op die plek waar die Here hom gestel het, al is dit in daardie stadium sy siekbed en die vier mure van die kamer. Die behandeling word nie gegee weens ’n krampagtige vashou aan die lewe en ’n altyd maar uitstel van die sterwe nie.

Derdens moet ons ook die grense van behandeling ken. Indien Meneer X in die laaste week longonsteking sou opdoen en daarvoor gehospitaliseer sou moet word, kan met reg gevra word of dit nog sinvol is? Mag ons nou nog aktief ingryp, terwyl dit duidelik is dat die Here nou besig is om sy kind tot hom te neem? Is dit nodig om nou weer ’n drip op te sit en antibiotika te gee? Sou die weerhouding daarvan neerkom op eutanasie en dus teen die sesde gebod wees? Geensins. Ons moet ook die beperkings van mediese handelinge ken. God vra dit van ons. Ons mag nie lyding onbepaald verleng deur hospitalisasie en ingrepe nie. Laat iemand as dit duidelik is dat God besig is om hom tuis te haal, rustig sterwe, as dit kan in die bekende omgewing van sy huis en omring deur sy kinders.