3 bladsye.

Transformasie of Reformasie?

Om dieselfde ‘jy’ anders te maak. Dit is wat transformasie is. Alles en almal moet deesdae transformeer. Ook die kerk van Christus moet sy deeltjie in verband met transformasie doen. Hoe lyk die nuwe ge-Transformeerde Kerke van Suid-Afrika (TKSA) en wat het dit met die Gereformeerde Kerke te doen?

Die transformasie van die kerke is nie maar soos ’n slang wat sy vel afskud vir ’n nuwe seisoen nie. Transformasie is nie hier om droogskoongemaakte dogmas as ’n nuwe-mode winterbaadjie te dra nie. Transformasie is ’n ander evangelie.

Hoe Lyk ’n Getransformeerde Kerk?🔗

Transformasie in die kerke het bepaalde kenmerke. Transformasie kom altyd onder druk na vore. Dit kan ekstern of intern wees, of so ’n knippie sout van albei. Druk van buite die kerk kom in die vorm van ’n pasboek-stelsel vir die kerk. Dit is waar die van-nie-kerks in die samelewing die kerk na ’n lokasie verban waaruit jy net mag kom as jy die regte, goedgekeurde gestempelde, werkspermit het. Die kerk word doelbewus geïgnoreer en word ’n kort spreekbeurtjie gegun slegs as aan die eise van transformasie voldoen word. ’n Getransformeerde kerk het ’n gedrukte pasboek. Hy kan nie meer van Christus praat voor almal nie, want in sy pasboek staan hy mag slegs van ’n getransformeerde Christus praat wie se volgelinge help om transformasie te bewerk en in stand te hou. Transformasie het tans ideologiese afmetings aangeneem: die onderskeid tussen goed en kwaad word gemeet aan of dit transformasie aanhelp of nie. En ses, ja sewe weë oor jou as jy sonder ’n pasboek in transformasie st(r)aat gevang word...

Voorgeskryfde Agenda🔗

Die kerk se agenda word aan hom voorgeskryf. Kort-kort moet jy lees en hoor wat sê die kerk hieroor of daaroor. Nié omdat die keiser se manne belangstel in hemelse leiding nie, maar om te verneem hoe die ‘hemelinge’ hier op aarde gaan handjie bysit met die transformasie van die aarde na die standaarde van die aarde. Die keiser het die swaard en die beursie. Tans gebruik hy sy subsidiestelsel ten opsigte van hoër onderwys om die kerk se agenda subtiel te bepaal. Hierdie tentakel het baie diepe rykwydte. Die navorsingsareas in die teologie word (mede-) bepaal deur die politieke korrektheid daarvan. Tekste word al hoe meer aan transformasie vasgeplak. Hierdie truuk is nie nuut nie. Hitler het dit al laat doen.

Talle kere het die kerk al geswig om die Woord te laat buikspreek vir die ideologie. Die getransformeerde kerk word vir alle praktiese doeleindes aangewend en bestuur as ’n nie-regerings-organisasie (NGO in Engels). Die getransformeerde kerk mag/moet voorbehoedmiddels en komberse uitdeel sonder om iets te rep oor God se sewende huwelikswoord, of om Christus se barmhartigheid met vertroosting uit die Skrif te laat skitter. Wat in die gesubsidieerde klaskamer in buitengewone dogmatiek geleer word, word spoedig op die getransformeerde kansel gepreek.

Ek is ’n ubuntu mens deur ander mense − soos die ou trouliedjie lui: en ons sê almal so, en ons sê almal so. Buikspraak word buikloop in die getransformeerde kerk met sy getransformeerde valse-christusse.

Beestelike Vernuwing🔗

Die getransformeerde kerk is die dier wat uit die aarde uit opkom. Dit ken geen geestelike vernuwing van die Heilige Gees nie, maar dierlike vervorming − beestelike transformasie. Dit het die stem van die draak aangeleer. ’n Stem uit die aarde vir die aarde. Binne die kerk word die druk vir transformasie ook aangevoel. Kwistig word die relevansie-kwas gebruik. So word gereeld gesê: As die kerk nie nou transformeer nie, gaan hy vir altyd alle relevansie in die wêreld verloor. Kerkvernuwing word sosiologiese studies. Uit die sakewêreld en ander hulpwetenskappe word allerhande vindingryke handgrepe gemaak waardeur die kerk homself herontwerp om met sy modieuse snyerspakkie in die wêreld te wees − maar ook natuurlik en na-dier-lik van die wêreld.

Hermeneutiese Sonkrag of Batterye?🔗

Die grootse transformele verraad van die kerk het die afgelope dekades in die hermeneutiek (verstaankunde) plaasgevind. Met getransformeerde implemente (geleen uit die heidense filosofie en meer spesifiek kenteorieë) is gepoog om gereformeerde teologie te bedryf. Die heidense kenteorieë, in al hulle variasies en mutasies, het egter een saak in gemeen: almal rus op skeptisisme, dat die goddelike werklikheid eintlik onkenbaar geword het. Die heidene sê jy kan buite die werklikheid niks werklik ken nie, en binne die werklikheid is die betekenis van dinge nie aan jou gegee (geopenbaar) nie, maar ken jy betekenis toe en gee jy sin aan jou lewe en werklikheid. Jy maak die werklikheid wetenskaplik oop om vir jouself betekenis toe te ken aan jou lewe.

Die kerk het in hierdie franchise ingekoop en ontvang elke maand getrou sy nuutste katalogus vir betekenis toekenning. In die getransformeerde teologiese klaskamer beteken dit dat die taalteorie die hermeneutiek bepaal. Die filosofie sê wat die kerk is, en die kerk sê nie meer wat ware hermeneutiek is nie. Die instrument is so gekalibreer dat dit nie openbaring kan ontvang nie, want dit werk nie op sonkrag (die son van geregtigheid, Maleági 4:2) nie, maar dit werk met menslike batterye. Die huidige hermeneutiese taal- en verstaan-instrumente sê jy kan God nie eintlik ken behalwe wat jy self daaraan toeken nie. Hoekom is ons dan verbaas as God se lig, die son van geregtigheid, Jesus Christus, nie meer oor en op en vanuit die getransformeerde kansel skyn nie? Dit kan nie anders nie, want die stem van die draak en die dier wat uit die aarde opkom, word getransformeerd voorgehou as die stem van die goeie Herder. As gesê word ons moet hermeneuties met Paulus doen wat Paulus aan Dawid gedoen het, beteken dit niks anders nie as dat ons ’n transformasie testament naas die Ou en die Nuwe Testament skryf.

Transformasie en Tradisie🔗

Die ge-transformeerde kerk treur oor die belydenisskrifte soos oor ’n geliefde ou moeder se graf wat besoek word. Of nog erger: ’n treurige ontsteltenis wat by die leë(g gemaakte) graf sê: Hulle het my Here gevat en ek weet self nie waar ek Hom neergesit het nie. Die belydenisskrifte word as sentimentele tradisionele bakens hanteer. Soos om heimwee te kry om jou hand liefderyk oor ’n ou landmeterskaart te stryk, maar om te ‘weet’ dat die ou kaart - hoe goed ook al bedoeld - effens onakkuraat is, en dat jy die getransformeerde moed aan die dag moet lê, om met die ou kaart in jou sak, hom nie te volg nie. Getransformeerde kerklike meer-weterige vergaderings sal sê dat die belydenis die taal van my tradisie is, die stem van my geliefde ou moeder (1859-2003) wat tog maar effe naïef was in haar verknogtheid aan die ou kaartjie. Ek sal die landkaart nooit weggooi nie, ek is te lief vir haar; ek sal die kaart nooit meer kan volg nie, ek is te slim vir haar.

Sien hoe hou ek die liefde en die waarheid vas. Ek is lief vir die kerk. Dit is my gereformeerde tradisie. Ek hou vas aan die waarheid wat ek self met my nuwe lees en karteer-instrumente oopgemaak het. Dit is my transformasie-styl. Dit is al wat dit is, ’n nuwe styl. My hart sit nog op die regte plek. Ek kan selfs vir ’n stemtoets gaan - ek en jy, duisend demokraties maal, sal stem op meerdere vergaderings en toets wat ons dink die stem van die Herder is. Natuurlik kan ons nou nie meer die Skrif se stem toets nie, want jy weet self hoeveel meerstemmige interpretasies daar is. Ek is net so lief vir my geïnterpreteerde christus as wat jy seker vir joune is. Nee, al wat sal help is dat ons mekaar moet bly liefhê en vashou en saamstem oor die waarheid. Die getransformeerde kerk stem demokraties oor die waarheid en stem nie meer in met die waarheid nie. Ook dit het ’n ryke tradisie in die mensdom se geskiedenis.

Is dit nie wonderlik om te sien hoe die getransformeerde kerk die wêreld oorwin nie? Toe ons klaar gestemtoets het, sien ons die wêreld was toe al die tyd ook reg. Toe die getransformeerde hermeneutiek die kerk se beleid geword het, is aan die kanon gepeuter en het die kalibrering verskuif uit die hemel na die aarde.

Grense het toe ook verskuif. Die grens tussen kerk en sekte, tussen ware kerk en valse kerk, tussen kerk en wêreld, tussen demoon en engel, tussen God en mens het verskuiwend in die niet getransformeer. ’n Getransformeerde kerk is ’n kerk sonder grense. En ’n kerk sonder ware grense is ’n kerk sonder ware mense.

Die getransformeerde kerk is nie die gereformeerde kerk nie.