Bron: Kompas, 2008. 3 bladsye.

Tussen Rome en die Reformasie

Moontlik gaan daar in Engeland hierdie jaar aandag gegee word aan die feit dat dit 450 jaar gelede is dat koningin Elisabeth I op die troon gekom het. So ’n herdenking sou heeltemal verklaarbaar wees. Is daar ook enige rede vir ons om hierdie feit te herdenk, en dan nog wel in die rubriek Kerkgeskiedenis? Inderdaad so. Ons hoor deesdae, ook in ons eie land, baie oor en vanuit die Anglikaanse kerk; en dit is hierdie kerk wat onder die regering van Elisabeth I sy finale vorm gekry het.

Die Voorgeskiedenis🔗

Die geskiedenis van die reformasie in Engeland is baie besonders. In die eerste plek kan ’n mens nie eintlik ’n spesifieke hervormer aanwys wat ’n deurslaggewende rol gespeel het nie. Belangriker nog is die feit dat aan die basis van die reformasie in Engeland baie min reformatoriese elemente gesien kan word.

Hendrik VIII, aanvanklik voorbestem vir ’n geestelike amp, word, deur die vroegtydige dood van sy ouer broer, troonopvolger. Sy vader het hom eintlik gedwing om met die tien jaar ouere weduwee van sy broer te trou. Maar Hendrik VIII is glad nie gelukkig daarmee nie. Boonop sterf die kinders van koningin Catharina baie jonk, behalwe een dogtertjie, Maria.

En Hendrik VIII soek ’n seun as opvolger. Hy wil van Catharina skei en met ’n hofdame, Anna Boleyn, trou. Dit is geen probleem nie; die pous kan dispensasie vir die egskeiding verleen en Hendrik het ’n goeie verskoning: op grond van Levitikus 20:21 sou die huwelik onwettig wees!

Waarskynlik het die pous geen probleem gehad om Hendrik sy sin te gee nie, maar op daardie oomblik was die pous so te sê die gevangene van Karel V van Duitsland en Catharina was Karel se tante! Die versoek van Hendrik VIII word dus van die hand gewys. ’n Probleem vir die koning en sy inmiddels swanger hofdame.

Hendrik VIII tree radikaal op. Hy maak die (Roomse) kerk in Engeland los van die gesag van die pous. Die aartsbiskop van Kantelberg (Canterbury) word die hoogste outoriteit en dié verleen toestemming tot egskeiding, en Hendrik en Anna trou.

Beoordeling🔗

Hierdie kort opsomming roep twee belangwekkende vrae op. Eerstens: die hele optrede van Hendrik VIII het mos niks met reformasie te doen nie? En verder: word dit sommerso aanvaar dat die kerk in Engeland los van Rome gemaak word?

Die antwoord op die twee vrae hou verband met mekaar.

In die laat Middeleeue het John Wycliff in Engeland opgetree, ’n man wat met ’n helder insig en sterk optrede die foute van die Roomse kerk en die pousdom aangetoon het. Wycliff se optrede het nie tot ’n werklike reformasie gelei nie, maar daar was ná hom ’n steeds aanwesige onderstroming van besware teen Rome en die pous. Om los te kom van Rome sou vir hulle die eerste stap kon wees op die pad van herstel van die kerk.

Daar was nie net Bybelse motiewe in die speelveld nie. Vir baie mense was dit ’n doring in die vlees dat van al die finansiële laste wat die bevolking opgelê is, driekwart na Rome gevloei het en slegs ’n kwart bestem was vir die Engelse koning en die eie regering. Gevolglik was slegs hulle wat belang by die pousdom gehad het, veral geestelikes en kloosters, gekant teen die besluit van die koning. En hoewel die daad self natuurlik niks van reformasie vertoon het nie, was dit vir mense wat die reformasie begeer het, ’n belangrike stap in die regte rigting.

Thomas Cranmer🔗

Die parlement word spesiaal byeengeroep om sake te legaliseer. Verskeie wette word aangeneem: die Engelse kerk is los van Rome; geen sent word meer oorsee gestuur nie; alle kloosters word gesluit en al hul kosbare besittings verbeurd verklaar; die koning word die opperste hoof van die kerk met die aartsbiskop van Kantelberg as sy uitvoerder.

So berus die leiding van die nuutgestigte Anglikaanse kerk by die aartsbiskop van Kantelberg, Thomas Cranmer. En Cranmer was ’n man wat die reformasie van harte toegedaan was. Hy was egter aarselend in sy optrede: hy wou graag reformeer, maar sonder om die koning, die adel en die volk te konfronteer. In sy beleid het hy sterk gesteun op die reformatoriese onderstroming wat van Wycliff se dae af bestaan het. Wycliff se Bybelvertaling is male sonder tal met die hand afgeskrywe (tot op vandag het nog 170 eksemplare daarvan bewaar gebly); daarby het die verskyning van die Tyndale-vertaling van die Bybel, wat in groot getalle gedruk is, sy weg na Engeland gevind. ’n Verdere aanvanklike steun was die deur Thomas More geleide humanistiese stroming wat met alle Middeleeuse vorms en leerstellings wou afreken.

Ook die koning self het by tye toenadering tot die protestante in Europa gesoek, nie uit oortuiging nie, maar vanweë politieke steun. So keur die koning ’n geloofsbelydenis goed wat duidelik protestants van karakter is. Hierdie sogenaamde Tien Artikels van 1536 praat byvoorbeeld van die regverdigmaking deur die geloof. Hierdie belydenis is nie lank gehandhaaf nie.

Die mense wat die Roomse leer van harte aangehang het en die egskeiding van die koning veroordeel het, begin ’n opstand. Hendrik VIII doen sekere toeseggings (wat hy nie nakom nie) en slaan vervolgens hard toe. Maar hy het die boodskap verstaan: los van Rome is een ding, wegdoen met die Roomse leer is iets heeltemal anders. Die Tien Artikels word vervang deur die Ses Artikels wat baie meer Rooms-ortodoks is. So bly onder Hendrik die Anglikaanse kerk beweeg tussen Rome en die Reformasie.

Edward VI🔗

Na die dood van Hendrik volg sy negejarige seun hom op. Hy aard nie na sy pa nie: hy was, ondanks sy leeftyd, vriendelik, gematig en standvastig in sy protestantse oortuiging. Sy opvoeder was dan ook Thomas Cranmer gewees wat ook onder sy koningskap baie invloed gehad het. Van 1547 tot 1553 regeer Edward en in dié tyd beweeg die Anglikaanse kerk duidelik in ʼn Calvinistiese rigting.

’n Belangrike oomblik was die vasstelling van die Common Book of Prayer. Hierin is die liturgie van die Anglikaanse kerk vasgelê en hierin word dus standpunte ingeneem oor sake soos sakramente, deelname van die gemeente, die gebruik van die Bybel, ens. Die aarselende Cranmer se eerste uitgawe het nogal kritiek gekry van die kant van Calvinistiese geloofsvlugtelinge in Engeland. Die tweede uitgawe was baie meer uitgesproke aan die kant van die Reformasie.

Die Book of Prayer word opgevolg deur ’n nuwe en uitgebreide geloofsbelydenis, die 42 Artikels, later die 39 Artikels. ’n Belydenis wat seker tot die gereformeerde belydenisse gereken kan word. Dit wil dus voorkom of die reformasie in Engeland versigtig maar seker in die regte rigting beweeg. Uiterlik wel, maar reformasie is in die eerste plek gerig op die verandering van die harte van die mense. ’n Gereformeerde belydenis is mooi, maar die Anglikaanse kerk het sy eie belydenis eintlik nooit werklik toegepas nie, was van die begin af nooit ’n voluit konfessionele of belydende kerk nie. Tekenend is dit dat die belydenis van die kerk in Latyn geskrywe was en eers twintig jaar later in Engels vertaal is.

Maria🔗

Edward sterf op 15-jarige leeftyd en sy oudste (half)suster volg hom op: Maria, die dogter van Catharina! Vurig Rooms en vol wraakgedagtes oor wat haar moeder aangedoen is, het sy maar een doel: die kerk terug na Rome. Dit is eenvoudig gestel, maar moeilik om te bewerk, want daarvoor moet groot weerstand onder die bevolking oorwin word.

Die vyfjarige regering van Maria word gekenmerk deur vervolging van almal wat haar kerklike politiek teengestaan het. Baie mense, onder wie ook Cranmer, eindig hul lewe op die brandstapel. Sy het baie leed veroorsaak en hard daaraan gewerk om haar lewensideaal te verwesenlik, maar om die Anglikaanse kerk terug te bring onder die gesag van die pous, daarvoor het sy geen kans gesien nie.

Elisabeth I🔗

In 1558 sterf Maria en sy word deur haar protestants opgevoede halfsuster (dogter van Anna Boleyn) opgevolg. Op haar wag die moeilike taak om Engeland weer te verenig. Maar die pous kom haar te hulp. Hy ekskommuniseer Elisabeth; as onwettige kind mag sy nie in Engeland – wat die pous as ’n leengoed van Rome beskou het – regeer nie. Elkeen wat ’n eed van getrouheid aan haar gesweer het, word daarvan ontslae verklaar. En juis dit gaan teen die Engelse volkswil in en die resultaat van die pous se optrede is dat die groot meerderheid van die bevolking die nuwe koningin steun.

Elisabeth was ’n merkwaardige vrou, ’n baie sterk persoonlikheid. Sy kon mense verstaan en aan haar kant kry, was gematig en suiwer Engels in voorkoms en optrede. Soos haar portrette uitwys, was sy ook geweldig ydel. Veral op die gebied van kleding en sierade was sy meer as oordadig. Maar die uiterlike kan bedrieg. Sy was uiters bekwaam en het ’n harde leerskool gehad.

Een van haar eerste probleme was om die kerklike toestand op te klaar. Protestants deur opvoeding het sy altyd die Roomse liturgie en gebruike bly waardeer. As koningin het sy besef dat ’n gematigde optrede in kerklike sake vir die Engelse nasie die beste was.

Sy handhaaf die breuk met Rome, sy handhaaf die gereformeerde belydenis en die Book of Prayer, en sy handhaaf tegelykertyd talle Roomse gebruike en uiterlikhede soos kerklike gewade, vaste gebede en rituele. Die Anglikaanse kerk beklemtoon die betekenis van die sogenaamde apostoliese suksessie, wat in die Roomse kerk tot die pousdom gelei het, maar verwerp die selibaat vir die geestelikes.

Vanaf die tyd van Elisabeth I dateer die Anglikaanse kerk as ‘kerk van die midde’, nie voluit Rooms en nie end-uit reformatories nie. Die kerk het ook ’n duidelike dubbele verskyningsvorm. In die groter sentrums is daar die Rooms-aandoende liturgie in die katedrale, die sogenaamde ‘high church’ of hoë kerk; en in die kleiner dorpe en plattelandse gebiede vind ’n mens die ‘low church’ of lae kerk met ’n baie sterker protestantse invloed en beklemtoning van die Woordbediening. Koningin Elisabeth het die Anglikaanse kerk laat verstar in ’n landskerk wat vir soveel as moontlik mense aanvaarbaar moet wees; daardeur het die ‘semper reformanda’, die deurlopend reformeer, verdwyn.