Bron: Kerk en Woord, 2004. 7 bladsye.

Twee Keer Kerk Toe

Waar in die Bybel staan dat ons twee keer kerk toe moet gaan? Ek weet nie of hierdie vraag meer dikwels gestel word as in die verlede nie. 'n Mens sou so dink, want deur heel wat kerkrade word 'n vermindering in die kerkgang waarge­neem.

Tog val te betwyfel of die vraag meer dikwels gestel word. Wat opvallend is, is dat gesprekke oor hierdie soort sake steeds minder op grond van die Bybel gevoer word. Of dit in die Bybel staan of nie, is vir baie mense nie meer van belang nie. Jy gaan doodeenvoudig of jy gaan nie. Dit hang eerder af van die vraag of dit jou raak en of dit vir jou lekker of mooi is of nie.

In hierdie artikel word doelbewus terug­gegaan na die Skrif. Ons is tog kerk van die Woord?!

Samekomste: Belydenis🔗

Vandag vorm die eie gevoel en die eie sosiale omgewing vir baie mense die grens van hul gedagtes en gesprekke. Hulle het 'n teësin in kwessies van breër belang en min belangstelling vir sake wat hulle nie eintlik raak nie. Hulle lewe volgens eie emosies en gevoelens, en laat hulle nie deur ander voorsê nie. Hulle wêreld is beperk tot hul eie kring.

Hierdie mentaliteit pas nie by die diens van die Here nie. Om te glo is uiteraard gerig op Iemand anders: jy glo in God! Jy leef vir Hom. Jy onderwerp jou aan Hom. Hy is jou Heer.

En dit is nie 'n saak van God en jou alleen nie. Wie glo, word ingelyf by Gods volk en vorm deel van sy werk, wêreldwyd en deur die eeue heen.

God se kinders ken dan ook nie net die eie verborge omgang met God nie. Kenmerkend van hulle is ook dat hulle "saamkom" (1 Korintiërs 11:17; 14:26; Hebreërs 10:25; Jakobus 2:2; Openbaring 1:3). In hul samekomste ontmoet hulle saam die Here en kry hulle saam deel aan sy werk en weldade.

Die samekomste is vir Gods volk so werklikheid dat menige Christen op die vraag waaruit sy geloof blyk, antwoord: dat ek op Sondae kerk toe gaan. Daaruit blyk dat hulle hul houvas en hul bestem­ming êrens anders soek as in hulself.

Elke gelowige kerkgang is 'n openbare eerbewys aan God en 'n belydenis van die Seun van die mens. Jy betuig aan God en aan die mense dat Christus jou Here en Verlosser is, wat die pad na die Vader geopen en gebaan het. In elke kerkgang gaan jy na die Here toe (Hebreërs 10:22). Jy skuil by Hom en proe sy genade en heil. Jy weet dat jy verbonde is aan en jy voeg jou by sy volk en werk van alle eeue (Hebreërs 12:22-24). Geen wonder dus dat die Psalms uitbundig kan sing oor die gang na die tempel: my siel dors na U (Psalm 42, 63); hoe lieflik is u woning (Psalm 84); ek was bly toe hulle vir my gesê het: Laat ons na die huis van die HERE gaan (Psalm 122); HERE, stuur u lig en u waar­heid, laat die my lei en my bring na u heilige berg (Psalm 43); ens. As hierdie God jou wil ontmoet, bly jy tog nie weg nie?!

Samekomste: Genademiddel🔗

Die reëlmatige kerkgang is ook die middel waardeur die Here die geloof in ons laat ontstaan en laat groei (Heidel­bergse Kategismus, Sondag 25).

Sonder om te ontken dat daar soms een of meer preke is wat 'n geweldige indruk op ons kan maak, is die pad wat die Here kies, die van "die prediking". Dit wil sê: van die diens van die prediking, van die reëlmatige diens van die verkondiging.

Vir die versterking en groei van ons geloof is ons nie afhanklik van die deurwerking van 'n aantal insidentele preke nie, maar van die patroon van die gereelde prediking in ons lewe. Saai en natmaak elke week weer: daardeur werk die Heilige Gees.

Dis nie verniet dat die Skrif ons oproep om die onderlinge byeenkomste nie te versuim nie (Hebreërs 10:25), maar om te luister na wat die Gees aan die gemeente sê, waar die geleentheid hom ook al voor­doen (Openbaring. 2:7, 11, 17, 29; 3:6, 13, 22).

Ons het die reëlmatige kerkgang ook nodig. As jy daagliks jou kruis moet opneem, en as elke dag van die week genoeg het aan sy eie kwaad, dan is dit heerlik as jy ook een dag per week het waarop jy die Here twee keer mag ont­moet en jy jou twee keer kragtig mag versterk in Hom.

En hoe meer die hedendaagse mens vir homself tot 'n wet word en weier om te luister na 'n Ander, hoe belangriker word die Sondag as 'n dag waarop ons telkens weer leer om te luister en te buig voor Gods Woord.

Onderlinge Gemeenskap: Mekaar🔗

'n Tweede opvallende kenmerk van ons samelewing is die voortdurende individu­alisme. Mense het min steun aan mekaar. Die ander een is veral 'n "konkurrent" op die "mark" van die lewe.

Jy maak jouself tot 'n maatstaf van alle dinge en meet alles af teen: wat Bewaar ek daarvan, wat bring dit my in die sak?

In die Bybel gewaar ons 'n heel ander klimaat. Kenmerkend van die Christe­like lewe is woorde soos "mekaar" en "saam". As gelowige kan jy nie sonder mede-Christene nie. In Hebreërs 10 kom die woord "mekaar" voor in die verband van "ons onderlinge byeenkoms". Ons moet op "mekaar" ag gee en "mekaar" aanspoor tot liefde en goeie werke (vers 24).

Ons moet so doen aan ons mede-Chris­tene en mede-kerkgangers. Maar ons moet dit ook deur ander aan onsself laat doen. Dit vereis dat jy self toeganklik is en jou broeders en susters opsoek. Jy stel jouself oop vir hulle en hul toesig. Jy ont­trek jou nie aan die kontak met hulle nie. En jy ken ook jou taak ten opsigte van hulle en hul nut en saligheid.

Juis vir hierdie onderlinge stimulering is dit nodig dat jy die onderlinge byeen­komste nie versuim nie. Watter stimulering gaan daar in elk geval uit van 'n "leë" kerk, ook na jou broeders en susters?

Hierdie onderlinge aansporing en saam­buig onder die norm van God se Woord is onmisbaar, aangesien daar in ons almal 'n neiging tot die kwaad is: in sonde ont­vang en gebore (Psalm 51:7), 'n hart wat verduister is (Efesiërs 4:17-19), 'n wet wat in ons binneste 'n stryd voer teen die wet van God (Romeine 7:13-26).

Onderlinge Gemeenskap: Saam🔗

Die kerk is nie 'n hoop los klippe nie, maar 'n huis; nie 'n aantal loslopende skape nie, maar kudde. In die kerk deel jy saam in die skatte en gawes van Christus.

As gemeente vorm ons saam die liggaam van Christus (1 Korintiërs 12). Saam het ons die taak om die waarheid te dra en te bewaar (1 Timoteus 3:15) en die belydenis van ons ewige toekoms vas te hou (Hebreërs 10:23). Daarom kan 'n Christen nie 'n individualis wees nie!

Vandag maak die woordjie "self" groot opgang. In werklikheid ken die Bybel ook hierdie woord: nie net ander nie, maar ook ons self is verantwoordelik voor God; God soek nie net ander met sy beloftes nie, maar ook ons self.

Maar in ons tyd word die woord "self" dikwels op 'n verkeerde manier gebruik: in die lyn van selfgenoegsaamheid en self­sug. En dit bots met die Evangelie! Met ons kerkgang wys ons dat ons nie selfgenoegsaamheid is nie.

Ons kan nie sonder die diens en gawes van ons broeders en susters nie.

Ons weet dat ons aan ons broeders en susters verbonde is en ons weet dat ons geroepe is om aan hierdie verbondenheid uiting te gee.

Daarom is dit nodig dat ons mekaar gereeld sien en dat ons 'n gemeenskaplike "fonds" het. Dat ons ons soveel as moont­lik laat voed deur dieselfde Evangelie. En dat ons soveel as moontlik saam tot die Here bid, sing en bely.

Dit bind saam. Dat jy dieselfde Woord van God hoor, sodat jy in die omgang met mekaar daarop kan terugval. En dat jy saam bid en sing en op dieselfde genade aangewese is, slaan die toon aan van alle broederlike omgang.

Sabbat: Alle Dae🔗

Vandag verkeer die Sondag en die kerk­gang onder druk. Wat is so besonders aan die Sondag? Is dit ooit die dag van die vierde gebod? Ken die nuwe verbond nog 'n aparte heilige dag? En waar in die Bybel staan dat ons op Sondag twee keer kerk toe moet gaan?

Dis eintlik opvallend, al hierdie aandag vir die "een heilige dag". Die Bybel leer ons eerder dink vanuit die heiligheid van “alle dae”.

Toe God die mens geskape het, was dit besonders dat Hy in die mens 'n skepsel geformeer het waarmee Hy in 'n verbond kon en wou lewe. As mense is ons geskape vir die omgang met God en om ons lewe met Hom te deel. In daardie verbond is elke dag 'n "dies Domini", 'n dag van die Here.

Adam en Mannin het die daaglikse omgang met God belewe in die aandwind­jie (Genesis 3:8). Vanaf Genesis 1 het die HERE ten doel gehad die ewige en vol­maakte rus met sy volk (Hebreërs 4).

Israel het die bepaling van die Mosaïese wet geken dat daar elke dag 'n more­ en 'n aandoffer aan die HERE gebring word (Eksodus 29:38-46). In daardie daag­likse offer het die HERE die daaglikse ontmoeting met sy volk gesoek. Let daarop dat die Here dit uitdruklik sê: Hy sal daagliks met die Israeliete "saamkom" om met hulle te spreek (vers 42,43).

Die Here Jesus het ons geleer om "daag­liks" te bid vir ons brood en vir alles wat nodig is vir Gods eer en ons lewe. Hy het belowe om met ons te wees "al die dae" tot aan die voleinding van die wêreld (Matteus 28:20). En eendag, op die nuwe aarde, sal daar nie 'n dag verbygaan waarop ons die HERE nie sien en Hom nie vereer nie: dit is die ewige Sabbat (Hebreërs 4:9); en selfs die potte wat daagliks deur Gods volk gebruik word en die klokke van die perde sal vir die HERE heilig wees (Sagaria 14:20 e.v.). Op alle dae openlike omgang tussen die HERE en sy volk.

In die ou verbond het dit by die tempel gebeur, waar die priesters en die Leviete by die HERE "gewoon het" en Hom "voort­durend" geloof het. Die daaglikse offers is namens die volk gebring. En dié wat in die omgewing was en kon, het gekom.

In die begin van die nuwe verbond hoor ons dat die dissipels van die Here "elke dag" saamgekom het in die tempel of aan huis om die Here te loof (Lukas 24:53; Handelinge 2:46; 5:42).

Dat ons by die vierde gebod nie moet dink vanuit een spesifieke dag nie, maar vanuit alle dae van die week as "dae vir die ontmoeting en omgang met God", word deur die Kategismus mooi weerge­gee: ek moet "veral" op die Sabbat, dit is die rusdag, ywerig met die gemeente van God saamkom (in dié tyd is daar ook in die week kerkdienste gehou), en ek moet "elke dag" van my lewe van my bose werke rus en die Here deur sy Gees in my laat werk (Sondag 38). Kerkgang hoef nie beperk te wees tot die Sondag nie!

Sabbat: Een Dag🔗

Tegelykertyd is dit so dat na die sonde­val nie elkeen elke dag aan 'n samekoms van die Here met sy volk kan deelneem nie. Daar moet hard gewerk word, met sweet en trane. En die HERE, aan wie alle dae behoort en wat vryliks daaroor kan beskik, skep duidelik ruimte daar­voor: ses dae mag jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die Sabbat van die HERE, jou God, dan mag jy geen werk doen nie (Eksodus 20:9 e.v.).

Daarby verwys die HERE na sy eie "voorbeeld" by die skepping: ses dae werk en op die sewende dag rus. Daar is dus niks minderwaardigs of profaans daaromtrent nie! Inteendeel, die Sabbat is 'n "geseënde" en "geheiligde" dag. Met 'n heerlikheid soos van die paradys.

In die rus van die Sabbat gaan dit om 'n gekwalifiseerde rus: iets anders as "niks doen nie". Op die Sabbat moet Israel in al sy woonplekke saamkom voor die HERE (Levitikus 23:1-3; vgl. Lukas 4:16) en moet die gewone daaglikse offers verdubbel word (Numeri 28:9 e.v.). Die rus van die Sabbat is daar ter wille van die diens van God.

Ook in die Nuwe Testament is daar aanvanklik op verskillende dae heilige samekomste (Lukas 24:53; Handelinge 2:46; 5:42), maar langsamerhand kry die eerste dag van die week 'n spesiale plek (Handelinge 20:7; 1 Korintiërs 16:2; Openbaring 1:10), en weer het die Here die voorbeeld gestel (Johannes 20:19,26).

Die een "Sabbat" in die week dien dus geen doel op sigself nie. Dit staan eintlik vir alle dae van die week, wat ons aan die Here moet wy. Die Sabbat staan dus nie "bo" ander dae nie en verwys na meer as na homself: na die diens van Christus deur die hele lewe. In Israel het die Sabbat dan ook deurgewerk na die feeskalender (elke nuwe maand en die groot feeste), die maatskaplike lewe, die sorg vir die armes en die landerye (Sabbatsjaar).

Vanuit hierdie agtergrond is dit dan ook vreemd om vandag te wil torring aan die een rusdag in die week en die tweemalige kerkgang. Want op hulself vorm hulle reeds 'n (deur die Here gewettigde en aan­gegewe) "inkorting". Wie dan ook nog wil stry oor Sondagsrus en kerkgang, soek na minder as die minimum!

Dit doen 'n mens in elk geval ook as jy op Sondae twee keer "netjies" in die kerk sit, maar in die week die HERE nie eer nie en Hom nie soek in die oordenking van die Evangelie en in gebed nie. Dan handel jy asof die Sabbat of rusdag 'n doel op sigself is en nie verwys na die dien van die Here "elke dag" nie.

Hoe meer die Naam van die Here uit die openbare lewe weggedring word, hoe belangriker word die (openbare) kerkdienste om van daaruit die Naam van die HERE weer op te hef al die dae van die week.

Twee Keer: Die Dag🔗

Maar hoekom is daar dan twéé kerk­dienste op 'n Sondag? Daar kan tog ook net één gehou word? Dit vind ons tog ook in die Bybel: één samekoms op die Sabbat (Levitikus 23)?

Omdat dit vir die gewone Israeliet nie elke dag van die week Sabbat – met die bewuste gerigtheid op die HERE – kan wees nie, volstaan die HERE daarmee om een dag daarvoor te bestem. Maar dit is dan ook 'n dag: van die oggend tot die aand. Die hele "dag" is deur die HERE "geseën en geheilig": 'n dag van vreugde en werk van sy Gees!

Die vierde gebod lui dan ook nie: gedenk die "samekoms", nie; maar: gedenk die "Sabbatdag", dat jy dit heilig. Dit is 'n dag waarop jy jou verwonder oor God se voortgaande werke, om dit te ondersoek en vreugde daarin te vind (Eksodus 20:11; Deuteronomium 5:15; Psalm 27:4; 92; 104:31-35; Efesiërs 1:3-14; 1 Petrus 1:3-5).

In Israel het dit gebeur deur middel van die heilige samekoms van daardie dag, maar nie net daardeur nie: ook deur middel van die dubbele daaglikse offer en die streng arbeidsverbod op die Sabbat. Dit moes werklik 'n dag heeltemal vir die HERE wees. 'n Dag waarop sy ver­bond openlik sentraal gestaan het, van die oggend tot die aand.

In die Nuwe Testament merk ons aanvanklik maar min van 'n aparte Sabbatdag. In die Romeinse Ryk het hulle geen vry "Sabbat" geken nie en het hulle gedurende die hele week meer dikwels as gemeente saamgekom as net op die "Sabbat". Hulle het 'n week geken waar in beginsel elke dag samekomste van die gemeente kon wees en ook was, in watter vorm dan ook al.

Langsamerhand begin die samekomste hul egter konsentreer op en word uitein­delik beperk tot die Sondag. Maar dit staan nie teenoor die feit dat elke dag 'n "dag van die Here" sou moes wees: daar­die een dag van samekoms staan eintlik vir die hele week!

In Israel was daar op die Sabbat maar net een samekoms op die verskillende plekke. Dit lyk asof dit as rede aangevoer kan word vir 'n eenmalige kerkgang. Tog kan hierdie gevolgtrekking nie gemaak word nie. Want behalwe hierdie een plaaslike samekoms op die Sabbat, was daar elke dag in die tempel die openbare môre- en aandoffers, waarby 'n groot deel van die volk aanwesig was (vgl. Lukas 1:21; Handelinge 3:1,11). Ook daar het die HERE met die Israeliete saamgekom (Eksodus 29:42 e.v.).

Bowendien het Israel op die Sabbatdag self nie net die een samekoms geken nie, maar is ook die môre- en aandoffer verdubbel (Numeri 28:9 e.v.) en het 'n streng werkver­bod vir die hele Sabbat gegeld, strenger as wat ons dit in die nuwe verbond ken (vgl. Kolossense 2:16 e.v.). Wie vanuit Levitikus 23 vir 'n eenmalige kerkgang wil pleit, moet wel besef dat die wet van Moses baie meer oor die Sabbat en die samekomste van die Here en sy volk te sê het!

Twee Keer: Rus🔗

Wat betref die gebod om te rus: dit gaan nie oor "rus" in die sin van "in die bed lê" nie, maar oor "rus" vind in die HERE, rus van alles wat in die pad van sy diens staan. Die dag was deur die HERE "geseën en geheilig" en het as sodanig nie 'n vleeslike nie, maar 'n Geestelike bestemming.

Dit blyk ook uit die konflik tussen die Here Jesus en die Fariseërs oor die Sabbat. Die Sabbat is nie 'n dag van "niks doen en lui wees" nie, maar 'n dag "vir die mens" (Markus 2:27 e.v.), d.w.s. vir die mens soos hy in die paradys geskape is, insluitende sy "amptelike" diens aan God. Die Sabbat is daar sodat die mens hom op die Here van die Sabbat kan rig.

Vir ons geld nog altyd dat elke dag 'n dag van die Here moet wees. Maar ook nou kan nie elke dag 'n "Sabbat" wees nie. Daarom ken ons ook een dag wat spesi­aal daarvoor bestem is. Sedert Golgota ken daardie dag geen daaglikse offers in 'n tabernakel of tempel meer nie (Matteus 27:51; Johannes 4:21-23).

Maar daardie dag moet dan wel "van die oggend tot die aand" (dink aan die dubbel Sabbatsoffers) in die teken staan van die rus, van die gerigtheid op die Here en van die samekoms. Na Christus is hierdie dag die Sondag: die dag van die opstanding van die Here Jesus, wat in Openbaring 1 "die dag van die Here" genoem word (vers 10).

Juis in die tweemalige kerkgang beant­woord die Sondag aan sy doel: rus, hei­liging, samekoms, verwagting en voorsmaak van die "ewige Sabbat". Juis die tweemalige kerkgang werk daaraan saam dat die hele dag van die Here in die teken van sy diens staan.

Juis die tweemalige kerkgang gee die nodige diepte aan die dag: om nie maar net vry te wees en jou oor te gee aan wêreldse vermaak nie, maar om op die Here gerig te wees, sy stem te hoor, die rus van sy vergewing te ontvang, te geniet van sy voortgaande werke van skepping, uittog, opstanding (Eksodus 20:11; Deuteronomium 5:15; Lukas 23:56b-24:3; 1 Petrus 1:3-5) en om besig te wees in sy diens (Markus 2:23-28; Lukas 2:49; 4:16; 1 Korintiërs 16:2). Juis die tweema­lige kerkgang voorkom dat die Sondag 'n "halwe rusdag" word en dit bewerk dat die ritme van die werkweek werklik onderbreek word en dat dit ons "onthaas".

Wie die tweemalige kerkgang loslaat en met 'n eenmalige kerkgang volstaan, maak dit vir homself baie moeilik om die karakter van die hele Sondag as dag van die Here te bewaar. Die kerkgang word dan maklik 'n verpligte ritueel wat sog­gens "gou-gou" afgewerk moet word, en die res van die dag word getipeer deur aktiwiteite of ontspanning los van die Here. En dan het ons van die Bybelse "sewe dae vir die HERE" beland by die moderne "halwe dag ter wille van religi­euse pligpleging".

Die Kerkdiens: Bekering🔗

Wat verwag ons van die kerkdiens? Aan watter vereistes moet dit voldoen?

Sonder dat ons daarvan bewus is, blyk die indruk te bestaan dat die kerkdienste vroeër sonder moeite aangesluit het by die heersende kultuur en tydsgees, en dat dit in ons tyd anders is. Wat ons tans as 'n "juk" ervaar, het vroeër vanself gekom.

Dit is 'n misvatting! Met sy kultus het Israel totaal alleen gestaan in die wêreld rondom hom. In die Ou Testament is Israel daarteen gewaarsku om die litur­giese gebruike van die heidense volke nie oor te neem nie. Dit wat vir hulle religi­eus en opwindend was, moes deur Israel vermy word.

Die diens van die HERE was uniek en het sy eie reëls en eredienste gehad. Hier kan byvoorbeeld gedink word aan die plek en die vorm van die altare en aan die verbod op beelde en seksuele rituele wat in Kanaän in gebruik was.

Ook in die Nuwe Testament het die eredienste vir die Here 'n eie karakter. Die Jode wil tekens he en die Grieke debat en teorie. Maar Paulus kom met die pre­diking van die gekruisigde Christus. In ander godsdienste het alles gedraai om ekstase, om "sien", om orgies, om sprekers wat hul gehoor meevoer.

Maar dit alles word deur die apostels afgewys. Die Christene word uitdruklik opgeroep om die Beeste te beproef, en nie hul eie eer te soek nie, maar die eer van God en die opbou van die gemeente. Hulle moet bid en praat vanuit die hart en by hul volle verstand.

Ook vandag is daar geen kerkgang sonder bekering nie. Jy moet jou afwend van dit wat die wêreld vir vermaaklik en aanspreeklik hou, en jou inspan om te luister na die lewende God en om Hom te loof. Dit vereis werklik 'n breuk!

Die Kerkdiens: Inhoud🔗

As dit gaan om die vorm van die kerkdiens, is daar talle moontlikhede. Binne ons kerke ken ons reeds variasies, maar dit word meer opvallend as ons kyk na kerkdienste in die buiteland en in ander kulture. Ons moet "gereformeerd" nie afskaal tot 'n eng keurslyf van 'n aantal vasgestelde reëls nie. En ons moet daar­voor oppas dat kerkdienste nie vasgeknel raak in krampagtigheid nie.

Wat wel vasstaan is dat ons kyk na wat die Bybel aandui as klimaat en inhoud van die kerkdienste. Dit verhinder opper­vlakkige blydskap en 'n "uit jou vel spring".

In die kerkdiens gaan dit om verge­wing van sondes en lewensvernuwing, om vreugde en verootmoediging, om 'n lewe beheers deur en vol van die Gees.

Tipies van die kerkdienste in die Nuwe-Testamentiese tyd is nie die uitlewing van onsself nie, maar die sentrale plek van die Woord van God en die omgang met God. Die vreugde in en die lof vir God is gevoed en het na vore gekom in die lees van en die luister na die woorde van die profesie (Openbaring 1:3), die volharding in die leer van die apostels (Handelinge 2:42), die vashou van die belydenis van die Chris­telike hoop (Hebreërs 10:23), die onderhou van die gemeenskap met die broeders en susters (Handelinge 2:42; 1 Korintiërs 11:17-34), die gebede en gesange (Handelinge 2:42; Efesiërs 5:19; Kolossense 3:16), die gebruik van die sakramente (Handelinge 2:42; Hebreërs 10:22). 'n Kerkdiens sal altyd in al sy onderdele sy diepte en kleur moet ontleen aan die Woord van God.

Waar dit gebeur, gebeur daar nie iets wat vervelig is nie, maar iets wonderliks: jy kom by die berg Sion, by die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem, en by tienduisende engele, en by 'n fees­telike en plegtige vergadering van eersge­borenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God, die Regter oor almal, en by die geeste van die regverdiges wat die voleinding bereik het, en by Jesus, die Middelaar van 'n nuwe verbond en by die bloed van die besprenkeling wat van beter dinge spreek as Abel (Hebreërs 12:22-24).

Om daardie wonder te sien en die vreugde daarvan te geniet, is niks minder nodig as geloof en bekering: deur die Gees verligte oë van die hart!

Slotsom🔗

Die huidige praktyk van die Sondag as rusdag met twee kerkdienste is Skriftuur­lik verantwoord.

In albei kerkdienste gaan dit om gesa­mentlike ontmoetings van God se kinders met hul hemelse Vader. Ook die diens waarin die kategismusprediking plaas­vind (art. 66 KO), moet nie die karakter van 'n kognitiewe kursus hê nie, maar van 'n samekoms van die God van die verbond met sy volk, waarin nie die "teo­retiese" nie, maar die gesondmakende leer van die Evangelie ons op die hart gedruk word.