1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Twee Sakramente

Waarom is daar twee sakramente, en waarom net die twéé? Die vraag moet beantwoord word in die lig van die Roomse dwaling met sy sewe sakramente en die neiging in sommige Protestantse groepe om dinge soos voetwassing, slangbeswering en ander rites op gelyke voet met die sakramente in die kerk te plaas.

Hoe weet ons wat ʼn sakrament is? Die antwoord hierop is dat dit ʼn simboliese ritueel, deur Christus self beveel en deur die voorskrif of praktyk van die apostels bevestig, moet wees. Ons verwys hierna as die “instelling” van die sakramente. Dit sluit voetwassing, wat, hoewel dit deur Christus verrig is, nie deur Hom vir die kerk beveel is of deur voorskrif of voorbeeld van die apostels bevestig is nie, uit.

Dit is duidelik dat die sakramente wat deur Rome bygevoeg is, net so min as voetwassing aan hierdie maatstaf voldoen. Aanneming van kinders as lidmate, boetedoening en geestelike ordes is nie van enigiets simbolies nie, en praktyke soos die laaste oliesel word nie deur Christus óf die apostels beveel nie. Die huwelik, hoewel dit simbolies is, is ook nie deur Christus of die apostels as ʼn kerklike sakrament vereis nie (1 Kor. 7:1, 6-8, 25-27, 32-34).

Die voorafgaande beantwoord nog nie die vraag oor twee, en net twee, sakramente nie. Waarom dié twee — die doop en die nagmaal van die Here? Hierdie vrae moet beantwoord word sodat ons met des te meer vrug die sakramente sal gebruik.

Die rede waarom daar net twee sakramente is, word in die sakramente self gevind. Hulle simboliseer tesame ons hele Christelike lewe. Die doop simboliseer ons toetrede in die verbond en heil van God en die wyse waarop ons daarvan deel word. Die nagmaal van die Here simboliseer ons lewe binne daardie verbond, waarin ons die vreugde en heil wat Christus vryelik aan ons gegee het, uitleef. Daar is dus nie behoefte aan, of plek vir, ander sakramente nie, want daar is niks meer om te simboliseer nie.

Die wonderlike van die sakramente is dat die uitbeelding van hierdie twee aspekte van ons christelike lewe ʼn eendragtige getuienis van Christus gee. Tesame sê hulle dat alles wat ons het van Hom, deur Hom en in Hom is; dat sonder Hom ons niks is en niks het nie. Saam sê hulle wat Petrus in Handelinge 4:12 sê: “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie”. Hulle getuienis is dié van Paulus in Efesiërs 1:3, dat ons “alle geestelike seëninge in die hemele in Christus” het.

Die sakramente praat van die dood en bloed van Christus wat sentraal staan. Die doop herinner ons daaraan dat ons die Christelike lewe net deur die bloed en offer van Christus ingaan. Die nagmaal van die Here voeg hier by dat wanneeer ons die gemeenskap van God deelagtig is, ons deur die bloed en offer van Christus leef en beweeg en ons geestelike wese, krag en voedsel ontvang. Die offer van Christus is vir ons alles.

Watter wonderlike gawes het God aan ons in die sakramente gegee. Laat ons dit nie onverskillig of troueloos gebruik nie.