2 bladsye.

U Rollende Donder het Weerklink... (Psalm 77:19) Funksie van die ‘Amen’

donker lug

Wat is die oorspronklike funksie van die woord ‘amen’?
Hoe kan ons hierdie funksie in ons liturgie weer herstel?

‘Amen’ na die Lofprysing 🔗

Om hierdie vrae te beantwoord is dit goed om na 1 Timoteus 6:16 te kyk. Paulus praat daar oor God “wat alleen onsterflikheid besit en ’n ontoeganklike lig bewoon, wat geen mens gesien het of kan sien nie, aan wie toekom eer en ewige krag. Amen.”

Paulus spreek hier een van baie lofprysings uit. En hy sluit dit af met ‘n ‘amen’. Dit is ’n belangrike woord in die lewens van God se kinders, al dink ons nie so baie daaraan nie. As ons die woord ‘amen’ nie gehad het nie, wat sou ons dan nie alles kortgekom het nie? Dit is ’n wonder dat dit deel van ons woordeskat mag wees. Ons druk ons sekerheid en ons vertroue daarmee uit. ‘Amen’ (Amein) is ’n Hebreeuse woord wat ‘trou’, ‘waarheid’ beteken. Of soos die uitleg in Sondag 52 van die Heidelbergse Kategismus sê: ‘Amen wil sê: Dit is waar en seker’.

Die Christen het houvas. In tye van baie onsekerheid mag hy ‘Amen’ roep: dit staan vas! Dit is seker! ‘Amen’ is dus ’n blyk van hartlike instemming. Dit is ook die boodskap in 1 Timoteus 6:16. So – soos dit in die lofprysing gesê word – so is dit! Paulus het hierdie uitroep al eerder in hierdie brief gebruik: “Aan die koning van die eeue, die onverderflike, onsienlike, alleenwyse God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.” (1 Timoteus 1:17). Weereens na ’n lofsang op God se grootheid. Ons kry dikwels in Paulus se briewe lofprysings wat met ‘amen’ afgesluit word. (Sien Romeine 1:25; 11:36; Galasiërs 1:5; Efesiërs 3:21 om ’n paar te noem). Laat God se kinders in sy lof hul heil vind. So word die ou vertroue gevoed!

Die ‘Amen’ van die Gemeente🔗

Jy mag jou afvra: hoekom gebruik die apostel so dikwels die woord ‘amen’? Is dit om die lofprysing meer krag te gee? Wil hy deur veelvuldige gebruik hom as ’t ware opwerk tot sekerheid van die geloof?

Nee. Ons moet in ’n ander rigting soek. Die vraag: ‘hoe kan ons hierdie funksie weer herstel in ons liturgie?’ gee ons ’n leidraad. In die apostoliese tyd was die ‘amen’ hardop uitgespreek deur die gemeente. 1 Korintiërs 14 plaas ons op die spoor. Die apostel praat in hierdie hoofstuk oor die spreek in tonge. In vers 16 vra hy: ‘Anders, as jy met die gees dank, hoe sal hy wat die plek van ’n onkundige inneem, amen sê op jou danksegging, aangesien hy nie weet wat jy sê nie?’ Dit wys op die gewoonte dat die gemeente die ‘amen’ uitgespreek het. Paulus sou dit as ’n slegte saak beskou as hierdie gewoonte van die gemeente ontneem sou word net omdat daar in onverstaanbare tale gepraat sou word. Ook 2 Korintiërs 1:20 wys in hierdie rigting. Paulus skryf daar: ‘Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons.’

Hier word die sluier wat oor die erediens van die tyd hang, so effens opgelig. Die jong Christene het met hart en siel die prediking aangehoor en het dan met geesdrif die ‘amen’ uitgespreek. En nie sommer ligsinnig nie! Hulle het teruggegryp na ’n ou gewoonte in die sinagoge. Daar het die gemeente meer as eenkeer die ‘amen’ hardop gesê. In elk geval na elke lofprysing aan God en na die uitspreek van die seën. Dit het op sy beurt weer teruggegryp na die Ou Testament soos bv. 1 Kronieke 16:36.

Verdere Verloop🔗

In die oud-Christelike kerk van die eerste eeue na Christus het hierdie gewoonte in gebruik gebly. Hieronymus (340-420 nC) vertel ons hiervan. Hy noem dat die ‘amen’ van die gemeente in Rome soos donderweer weerklink het. Die geesdrif het nog lank nie verdwyn nie. In later tye word dit minder gehoor. Die ‘amen’ van die gemeente het verstom. Baie aktiwiteite in die erediens het na die priester beweeg. Die gemeente is van beide die sang en die ‘amen’ ontneem. Die gemeente se betrokkenheid by die erediens het afgevlak tot toeskouer. Die skouspel van die Roomse mis (die hoogtepunt in die Roomse erediens) is op ’n afstand waargeneem. Gelukkig het die Reformasie op hierdie punt baie herstel. Die gemeente het haar sang weer teruggekry, maar nog nie die ‘amen’ nie.

Amen

In Eer Herstel   🔗

Hoe kan ons die oorspronklike funksie van die ‘amen’ weer in die liturgie herstel? U sal begryp dat dit in die lig van die Skrif en van die geskiedenis ’n geldige vraag is. Daar is reeds gemeentes wat hierdie vraag beantwoord. Vier keer klink die ‘amen’ – na votum en seëngroet, na die preek en na die slotseën. In ander kerke weer sing die gemeente ‘amen’ aan die einde van die erediens. Dit is tereg ’n ou reg wat weer aan die gemeente terug gegee word. Die gemeente moet self haar vertroue in God met ‘amen’ beklink. Sy mag haar laat hoor in ’n wêreld waar daar soveel teenstemme teen God en sy Gesalfde klink.