Bron: Vox Viva. 2 bladsye.

Uitverkiesing is evangelie!

Eintlik bestaan daar nie iets soos “die uitverkiesing” nie – so asof dit iets is wat op sy eie selfstandige bene in die Bybel staan nie. Nee: “uitverkiesing” is die ruggraat van die hele Blye Boodskap van die Skrif, naamlik dat God die mense éérste liefgehad het (1 Joh. 4:10) – Hy het nie gewag om eers te kyk wat hulle maak nie. Hy het die mense gekies, nie hulle vir Hom nie (Joh. 15:16). Hy het hulle gaan soek (Gen 3:9). Hy het nie êrens weggekruip totdat hulle Hom eendag vind of na Hom gelei word nie! Dit is die blye boodskap waarmee ons na mense toe wil hardloop om dit te gaan vertel.

Uitverkiesing is nie 'n grillerige dreigende ding van 'n God wat met 'n dobbelrekenaar sit en 'n toevallige klomp name trek en met siniese leedvermaak lag vir dié wat minder gelukkig is nie! Dit beteken nie dat God sekere mense bestem het vir die hemel en sommige vir die hel nie. God het álmal vir die hemel bestem, maar toe draai álmal hulle rug op Hom en verkies self om hel toe te gaan. Terwyl Hy hulle álmal moes los dat hulle op hulle hellevaart voortgaan, het Hy NOGTANS besluit om vir Hom - uit hierdie gespuis - 'n bruid te red. Weergalose genade, want Hy was onder geen verpligting om dit te doen nie.

'n Mens kan nooit die diepte van Gods verkiesing verstaan solank as wat jy oor die gevalle mens met 'n “foeitog, die arme mens”-idee dink nie. So asof die mens 'n slagoffer (soos 'n drenkeling) is en eintlik verdien om gered te word. Indien God hom nié red nie, is Gód in die beskuldigde bank en is Hý onregverdig en skuldig aan diskriminasie. Die deursnee mens dink soos volg: dit is totaal onregverdig as iemand verlore gaan, maar dat iemand die saligheid verkry is baie normaal! Die mens verdien dit so half en half! Die heilige Skrif draai dit om: dat God iemand laat bly in die selfgekose verderf... DIT is volkome normaal en regverdig! Die Bybel teken nie die gevalle sondaar as 'n “arme sondaar” nie, maar as 'n opperste skurk – 'n rebel - wat skuldig is aan 'n staatsgreep teen dié God wat hom vir die hemel bestem het (Rom 3:23, 5: 12e.v). God is nie verplig om enigiemand te red nie. Hy is wél verplig om álmal verlore te laat gaan, volgens hul eie opstandige keuse. Ons behoort onsself aan te kla, nie vir God nie! Niemand sou Hom van onreg kon beskuldig indien Hy dít sou doen nie.

Maar toe gebeur die onverklaarbare wonder: Hy kies om - vanuit die ganse verlore mensdom wat doelbewus téén Hom kies - 'n hemel-vol mense te begenadig en die Seun van Sy liefde van Sy hart af te skeur en Hóm die behandeling te gee wat die rebelle verdien sodat die skurke só met Hom versoen word. God se liefde is nie 'n stroperige sentimentele foeitog-gevoel nie, maar 'n daadwerklike keuse vír mense wat besig is om Hom passievol te haat. Dát Hy die ander rebelle laat blý op die pad wat hulle sélf kies (die verwerping), is Sy volste reg. Hy veronreg hulle nie, want hulle kies self om Hom te haat en net hullesélf lief te hê.

Wie verlore gaan, gaan dus verlore uit eie keuse en nie omdat God dit so bestem het nie. Wie gered word, word nie gered uit eie keuse nie, maar omdat God hulle gekies het.

Die Bybel praat nooit oor Gods verkiesing op die manier waarop dit in hierdie artikel gedoen word nie – so asof dit iets is wat klinies - soos 'n wiskundesom - ontleed kan word nie. Die Bybel praat oor Sy verkiesing binne die konteks van lofprysing (Efesiërs 1). Die soort mens wat die uitverkiesing die beste verstaan is die mens wat in die modder lê, wat handdoek ingegooi het en wéét hóé hopeloos hy/sy is. Ons hardloop na só 'n mens met die blye boodskap van die uitverkiesing – nie met die dreigement dat hy/sy moet regkom óf hel toe gaan, nie. Maar, ons hardloop na hom/haar met die verbysterende boodskap dat God mense met Jesus gered het terwýl hulle Sy opstandige vyande was (Rom 5:10) en dat Hy hulle liefgehad het nog voordat Hy die wêreld geskep het (Efes. 1:4). Wanneer die mens-in-die-modder hierdie woorde werklik hóór, en hy/sy gló dit, sal hy opstaan en omdraai en 'n nuwe mens word – 'n dankie-sê mens wat nooit kan ophou om met verwondering daaroor te dink dat hý/sý weer toegelaat is tot die Vaderhuis nie – onverdiend, nét omdat Jesus plaasvervangend gesterf het.