Bron: Die Kerkblad, 1985. 2 bladsye.

Valse Vraag: Wie is My Naaste?

Die verhouding tussen die Jode en die Samaritane was tydens die lewe van die Here Jesus glad nie goed nie. Hiervoor kan enkele insidente uit die Skrif genoem word.

  • Christus het in sy omwandeling by Sigar, 'n dorp in Samaria, gekom en daar van 'n vrou water gevra — omdat Hy moeg en stellig ook dors was (Johannes 4). Sy self merk met verbasing op dat Hy as Jood vir haar as Samaritaanse iets vra; en die Evangelis voeg by dat die Jode en Samaritane nie met mekaar omgaan nie.

  • Wanneer Jesus vasbeslote op Jerusalem begin aanloop het (Lukas 9), was daar 'n sekere Samaritaanse dorp waar Hy wou oorbly — maar daardie inwoners wou Hom nie ontvang nie! Daarom wou die "manne van die donder" (Markus 3) — Jakobus en Johannes — vuur uit die hemel op hulle afroep om hulle te verteer.

  • Nadat Jesus tien melaatses genees het (Lukas 7) draai net een Samaritaan terug om God te eer — en die Here sê nogal daarby dat daardie man nie eers 'n Jood is nie. En as die Jode Hom wil uitskel, sê hulle oor Jesus dat Hy 'n Samaritaan en duiwelbesete is (Johannes 8).

    'n Terugkyk in die geskiedenis dui wel aan hoe hierdie slegte verhouding tussen twee bevolkingsgroepe in die land van Israel gekom het.

  • Na die verowering van die gebied van die Tien stamme van die Noordelike Ryk (met Samaria as hoof­stad) het die Assiriese konings heidense inwoners in die leë stede geplaas en mettertyd het daar 'n mengsel­godsdiens ontstaan (2 Konings 17).

  • Toe die Jode na die ballingskap weer Jerusalem en die tempel wou opbou, het hulle ook van hierdie Samari­taanse inwoners heftige teenstand gekry (Esra 4; Nehemia 4).

  • In die tyd van die Makkabeërs (tussen Ou en Nuwe Testament) is Samaria as stad en hulle tempel op Gerisimberg verwoes. (Tans is daar glo nog 'n klein res van hierdie groep by die huidige dorp Nablus, waarvan ons soms in nuusberigte hoor.)

Die hele prentjie word so helder: daar was geen liefde verlore tussen die Jode en Samaritane in Jesus se tyd nie. Die haat en skelwoorde het dus dik geloop — eintlik veel erger as tussen groepe tans in Suid-Afrika.

Hierdie dekor of agtergrond van die drama moet ons goed in gedagte hou as ons by die verhaal van die barm­hartige Samaritaan kom (Lukas 10). Die aanleiding hiervoor was 'n strikvraag van 'n wetgeleerde aan Jesus — en hy was juis as wetgeleerde dus goed in die Ou Testament geskool en stellig een van die vooraanstaan­des onder die Jode. Die strikvraag gaan oor die wesenlike vertolking van die Wet — en die Here Jesus vind selfs sy antwoord in die kol, maar Hy gee Hom die ver­dere opdrag om hierdie regte kennis in die praktiese lewe te gaan toepas. Die antwoord het gehandel oor lief­de tot God en tot die naaste, maar in sy poging om hom­self te handhaaf (of regverdig) vra hy van Jesus wie eintlik sy naaste is.

Dit is noodsaaklik om goed daarop ag te gee dat die man se vraag oor sy naaste homself in die middelpunt plaas. Hy vra tog: "Wie is my naaste" — watter mens staan dus naby my vir wie ek moet liefhê?

Dan vertel Jesus die bekende gelykenis van die barm­hartige Samaritaan.

Daarin moet die oog veral op bepaalde trekke val… 'n Man verval (sonder sy skuld) onder rowers wat hom beseer en besteel.

Eers kom 'n priester verby — dus een wat die Wet goed ken, dit vir die volk moes uitlê en van wie priester­like medelyde verwag kon word — maar hy laat die ellendeling net so bly.

Dan kom 'n Leviet daarlangs — en so een, weet ons, was ook besig met heilige dienswerk en was veronder­stel om ook in sy lewe iets van die genade van God te laat deurstraal — maar die arme slagoffer word weer eens ongehelp gelaat.

Eindelik kom 'n Samaritaan verby en juis hy gaan uit sy pad om te help, met persoonlike ongerief en teen 'n geldelike verlies, plus die belofte om selfs vir toekom­stige koste in te staan.

Daarop stel Jesus aan hierdie wetgeleerde die beslis­sende vraag: Wie van die drie was die naaste van die slagoffer? Ons moet daarop let dat die vraag só gestel word dat daardie ander man in die sentrum kom. Toegepas dus: Nie wie is my naaste nie, maar wel: Vir wie is ek 'n naaste. En dit is natuurlik enigeen wat God op jou lewenspad plaas vir wie jy kan help of van waar­de wees.

Die wetgeleerde het (weens die veragting vir Samari­tane) nie durf sê: "Die Samaritaan nie" hy antwoord onpersoonlik: "Die man wat medelye bewys het". Dit is tog soos wat die Here Jesus self vir verlore mense, sy vyande, gedoen het! Daarom behoort dit die lewens­wyse van elke Christen te wees, juis ook in ons tyd in Suid-Afrika.

Sou dit nie gebeur nie, dan kan ook vir sulke mense geld wat die Here Jesus in 'n soortgelyke situasie gesê het: "Jy is nie ver van God se koninkryk nie." (Markus 12) — maar "nie ver nie" is nog steeds buite!