Bron: Kerk en Woord, 2003. 3 bladsye.

Van Pasga na Nagmaal

En Hy sê vir hulle: Ek het baie sterk verlang om hierdie Pasga met julle te eet voordat Ek ly. Want Ek sê vir julle; Ek sal sekerlik nie meer daarvan eet voordat dit in die koninkryk van God vervul is nie.

Lukas 22:15 en 16

Die Viering van die Pasga🔗

Tydens sy lewe as mens op aarde het Jesus hom gehoorsaam gehou aan die Mosaïese wette en voorskrifte. So vier Hy, ook op die dag voor sy sterwe, die Pasga saam met sy dissipels.

Die instelling van die Pasga vind ons in Eksodus 12:1-28 en verskeie ander plekke in die boeke van Moses. In die maand van die uittog uit Egipte het die Here Moses en Aaron beveel om aan die hele vergadering van Israel te sê dat elke huisgesin 'n lam moes neem. Dit moes 'n lam wees sonder gebrek, 'n jaaroud rammetjie van die skape of bokke.

Op die veertiende van die maand Abib, die maand van die uittog (later Nisan genoem), moes die lam "teen die aand" geslag word. Van die bloed van die lam moes aan die twee deur­poste en aan die bodrumpel van hulle huise gesmeer word. Die vleis moes in dieselfde nag saam met ongesuurde brood en bitter kruie geëet word.

Die lam moes oor die vuur gebraai word. Geen been daarvan mog gebreek word nie (Eksodus 12:46). Verder moes die volk sewe dae lank ongesuurde brode eet, en alle suurdeeg moes uit die huise verwyder word. Alle onreinheid moes verwyder word, "want julle is 'n heilige volk" (Eksodus 12:15 en 18).

Die bitter kruie by die Paasmaaltyd herinner aan die bitter verdrukking in Egipte. Die Pasga is die herdenking van die heilsfeit dat die Here die volk gespaar het: "…as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan" (Eksodus 12:13). Deur die bloed van die lam word die volk gespaar van die oordeel wat die Here oor Egipte gebring het in die tiende plaag: die dood van die eersgeborenes.

Die Pasga herdenk ook die verlossing uit die land van dood en verdrukking deur die Here:

Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawe­huis, uitgelei het.

Die Pasga teken die verlossende dade van die Here. Dit kenmerk die heils­karakter van die viering van die Pasga. Verder wys dit sinnebeeldig heen na die ewige verlossing deur die Lam van God, ons Here Jesus Christus en na die bruilof van die Lam. Dit kenmerk die eskatologiese karakter van die viering van Pasga.

Verder is daar die gemeenskapska­rakter. In ons huidige kultuur is die hoofdoel van 'n maaltyd om voedsel in te neem. Dikwels haastig. In die Bybelse tye het 'n maaltyd 'n totaal ander karakter gehad. Dit was 'n gebeurtenis, want by 'n maaltyd kry die gemeenskap van almal wat saameet, gestalte.

In ons tyd, met sy kafeteria-menta­liteit van kitskos en TV-maaltye, het hierdie gemeenskapskarakter van 'n maaltyd grotendeels verdwyn. Dit kry nog steeds gestalte in ons Nagmaalsviering: 'n kosbare gebeurtenis en getuie­nis van ons gemeenskap met Christus en mekaar.

In die Ou Testament vind dikwels na 'n verbondsluiting 'n maaltyd plaas (byvoorbeeld in Genesis 26:30 en Genesis 31:46). Die maaltyd beteken daarby niks minder as die beseëling van die verbond nie. So is ook die Nagmaalsviering steeds weer 'n beseëling van die verbond wat die Here met ons gesluit het.

In die prediking van die profete word die heil wat in die vooruitsig gestel word, herhaaldelik geteken met die beeld van 'n oorvloedige maaltyd. So word in Jesaja 25:6 geprofeteer:

En die Here van die leërskare sal op hierdie berg vir al die volke berei 'n maaltyd van vetspyse, 'n maaltyd van ou wyn, van vetspyses vol murg, van gesui­werde ou wyn.

Dit teken vir ons iets van die heerlikheid van die Godsryk wat kom.

Daar is dus drie kenmerke wat vir die Pasgaviering en ook vir ons Nagmaalsviering bepalend is:

  • Die heilskarakter

  • Die gemeenskapkarakter

  • Die eskatologiese (die wederkoms, herskepping, bruilofsmaal van die Lam) karakter.

Die nagmaal is 'n maaltyd waarin die heil van die enigste offer van Jesus Christus vir ons sondes, sigbaar aan ons verkondig word; waarin gemeen­skap met Hom en deur Hom met mekaar beleef word. Wat heenwys na die komende Messiaanse ryk van ewige vrede.

Pasga na Nagmaal🔗

Jesus gee aan Petrus en Johannes die opdrag: "Gaan berei die Pasga vir ons, dat ons dit kan eet." Hulle vra vir Jesus: Waar wil U hê moet ons dit berei? 'n Logiese vraag, want Jesus en sy leerlinge het geen vaste verblyfplek in Jerusalem gehad nie. Sonder dat hulle daarvan bewus was, blyk dit dat Jesus reeds reëlings getref het.

Petrus en Johannes kry 'n kode van Jesus om die plek te vind.

As julle in die stad ingaan, sal 'n man julle ont­moet wat 'n kruik water dra; volg hom na die huis waar hy ingaan

Die Here gee hulle nie 'n straatadres of die naam van 'n persoon nie, maar 'n geheimsin­nige aanduiding. Waarom?

Die mees waarskynlike rede is dat Jesus wou voorkom dat hulle tydens die Paasmaaltyd deur verraad van Judas gesteur sou word. Judas mog daarom nie vooraf weet waar Jesus met die dissipels die Pasga sou gaan vier nie.

Christus self het daarvoor gesorg dat Hy hierdie laaste Paasfees met sy dissipels ongehinderd kon vier. Hy het geweet wat die tydskedule van sy Vader was. Christus gaan, as die Ver­vuller van die Wet, die Pasga vier onder en volgens die wet.

Tydens sy laaste maaltyd op aarde, gaan Hy die nagmaal instel. Hy staan op die punt om die hele wet volmaak te vervul. Hy wil sy dissipels, nou op 'n sigbare wyse, nogmaals leer waarvoor en waartoe Hy as volkome mens op die aarde gekom het.

Dit is daarom dat Hy baie sterk daarna verlang het om hierdie Pasga saam met sy dissipels te eet. In die ver­trek waar Jesus en sy dissipels aansit, ontmoet en kruis die twee lyne van die oue en die nuwe verbond mekaar: die lyn van die nuwe verbond deurbreek die ou lyn. Die wissel word verstel om van die ou na die nuwe verbond, van die ou bedeling na die nuwe bedeling te beweeg.

Jesus staan op die punt om deur sy gewillige en gehoorsame offer aan die kruis op Golgota die Ou-Testamentiese beloftes volkome te vervul. Hy, ons Borg en Middelaar, ons Verlosser is bereid tot diensvervulling in volkome gehoorsaamheid.

As Jesus die vertrek binnekom, is die rituele lam reeds geslag. Hoogswaar­skynlik het Petrus en Johannes die nodige voorbereidings getref en so ook 'n lammetjie na die tempel geneem om daar deur die priesters geslag te word. Daarom het hulle dit gebraai.

Die Lam van God gaan aansit aan 'n tafel waarop in skadubeeld, in die vorm van 'n geslagte en gebraaide lamme­tjie, na Homself verwys word. Ook die brood, kruie en wyn en moontlik ook nog die vleis vir 'n dankoffer is gereed. Die tafel is gedek: Kom almal, genooi­des.

Jesus het gesê dat Hy daarna verlang om hierdie Pasga met sy dissipels te eet. Daarmee berei Hy die dissipels voor op die verandering na 'n ander Pasga. Jesus neem afskeid van hierdie Pasga wat nog 'n onvervulde karakter het. Wat nog verwys na die uittog en verlossing uit Egipte en na die bloed wat die Israeliete vrygestel het van die dood.

Deur sy volkome vervulling van die wet, gee Christus uitsig op die bevry­ding van God se volk vir 'n ewige lewe in die koninkryk van God. Jesus verwys daarna:

Ek sal sekerlik nie meer daarvan eet voordat dit in die koninkryk van God vervul is nie.

Hierdie laaste paasmaal is 'n fees halfpad geleë tussen die uittog en die Godsryk wat kom. Die historiese oomblik het nou aangebreek dat dit getransformeer word na 'n maaltyd in glorie. Die eet en drink van hierdie Pasga, gaan vervang word deur "eet en drink aan my tafel in my koninkryk" (Lukas 22:30).

Hier is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem besig om sy volkome vervulling van die wet te illustreer vir sy dissipels en deur hulle vir ons, sy volk.

Doen dit tot my gedagtenis." Ons sal eet en drink aan sy tafel in sy koninkryk. Daar sal ons die volheid van die heil beleef!