Hierdie artikel handel oor vas, en die geestelike doel van vas. Dit ondersoek ook die vraag of vas vandag as 'n gebod van die Here gesien moet word.

Bron: Nader Bekeken, 2015. 3 bladsye. Vertaal deur Neels Kornelius.

Vas vir ‘n geestelike doel

'Vas' is: om vir ‘n tyd geen kos in te neem vir ‘n bepaalde doel. In die Bybel is dit altyd ‘n geestelike doel. Ek reken dat dit in ons kerke nie dikwels voorkom nie. Maar dit lyk of dit stadigaan begin verander. Al meer van ons gemeentelede hou hulle tog wel daarmee besig of dink daaroor na en oorweeg dit soms. Veral ook in die veertig dae voor Goeie Vrydag.

Ons lees deur die hele Bybel oor persone wat vas. Gewoonlik kom dit dan voor in kombinasie met gebed: dit maak dan die gebed meer intensief. Jy sonder meer tyd af vir gebed. Jy hou op met eet, om so aan meer belangrike goed aandag te gee.

Dikwels gaan dit dan oor skuldbelydenis, oor berou oor die sonde, om te wys dat jy daardie sondes regtig betreur. Dat dit nie vir jou daaroor gaan om net gou te bid en vergewing te vra om dit agter die rug te kry nie. Regte berou beteken tog ‘n gebroke hart (Ps. 51). Jy is diep geraak deur jou sonde en wil dit wys deur nie te eet nie.

Vas is dus ook ‘n teken van nederigheid, van klein word voor die Here, van afhanklikheid. Dat jy nie wil en kan klaarkom sonder God nie.

Profete🔗

Die profete van die Ou Testament het dikwels opgeroep tot bekering. Hulle het die volk dan opgeroep om te bid en te vas, om so die Here te smeek om die onheil af te wend. Byvoorbeeld wanneer die Here gedreig het om hulle te straf vanweë hulle sondes.

‘n Baie duidelike voorbeeld hiervan vind ons juis by ‘n heidense stad, naamlik Nineve, in die tyd van Jona. ‘n Goddelose stad. Maar toe Jona vir hulle God se oordeel aankondig, het die koning van Nineve ‘n vastyd uitgeroep, selfs ‘n baie streng vastyd, nie maar net minder eet nie, maar glad nie eet nie. En selfs nie drink nie. Bedoel vir jonk en oud en selfs die diere. Want dit het oor lewe en dood gegaan. So het hulle hulself verneder voor die Here, hulle bekeer van hul sonde en om genade gesmeek.

En, ja, toe vergeef die Here hulle. En Hy het hulle nie gestraf nie. Want so is Hy, sê Jona: ‘’n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde en wat maklik afsien van die straf’ (Jona 4: 2).

Nie ‘n gebod nie🔗

Die punt is nie dat ‘n mens iets hiermee by die Here sou kan verdien nie. Die leë maag moet juis duidelik laat blyk dat jy met leë hande voor God verskyn. Jy wil slegs maar smeek om genade, oor jou sondes.

Dis opvallend dat daar in die Ou Testament geen gebod is om te vas is nie. Daar is maar net een vasdag deur die Here ingestel: die Groot Versoendag. Op daardie dag is elke jaar soenoffers gebring om daarmee simbolies die sondes van die hele volk te versoen. Verder het die Here ook voorgeskryf dat dit ‘n rusdag moet wees en dat die volk moet bid en vas. Maar verder was vas maar menslike optrede, soms op inisiatief van leiers of profete, tydens een of ander benouende situasie. En soms sluit die Here daarby aan met ‘n oproep om te vas (Joël 2:12).

Uit Jes. 58 blyk dat vasdae ‘n vaste gewoonte of instelling geword het en daar word dadelik ook die nadeel van so iets aangetoon: Jy doen dit omdat dit nou eenmaal so hoort, maar jy doen dit nie met jou hele hart nie en jou lewenswandel is daarmee in stryd.

Wanneer jy só vas, het dit vir God geen waarde nie, inteendeel.

Soos in die tyd van Jesus se omwandeling toe ernstige Jode, soos die Fariseërs, elke Maandag en Donderdag gevas het. Maar hulle het dit heel opsigtelik gedoen: Almal moes bemerk hoe vroom hulle was. Daarom het hulle dit gedoen, om deur mense daaroor vereer te word. Jesus berispe hulle dan ook daaroor: Wie so optree, kan nie verwag dat God daardie bid en vas sal beloon nie.

Die hoop op die Messias🔗

‘n Laaste rede waarom daar in die Ou Testament gebid en gevas is, was omdat die mense uitgesien en verlang het na die koms van die beloofde Messias. Dink aan die profetes Anna, wat in die tempel die kleine Jesus ontmoet het. Haar gebede en vas is verhoor. Die Messias het gekom!

Dit is dan ook die rede wat Jesus aanvoer waarom nie verder gevas hoef te word nie (Mark. 2:18 e.v.). Die koninkryk van God het naby gekom. Die Messias is gebore. Jesus het sy werk op aarde begin. En sy volgelinge is soos bruilofsgaste wat hulleself mag verheug oor die teenwoordigheid van die Bruidegom.

In Markus 2 spreek Jesus nie negatief oor vas in die algemeen nie. Hy sê slegs dat dit nie die regte tyd is nie (vs. 19). Wat verder dan impliseer: Daar sal nog genoeg paslike geleenthede kom!  Want die Bruidegom word binnekort van julle af weggeneem. Dan sal daar ‘n tyd kom om te vas.

En dit gaan hier ook nie net oor die gebeure op Goeie Vrydag, toe Jesus gesterf het nie. Dit verwys eintlik na die tyd wanneer Jesus nie meer op aarde is nie, die tyd dus na Sy hemelvaart. Van toe af is Hy wel nog in die Gees by ons (Mat. 28:20) maar fisies is Hy nie meer op aarde nie. Dis die tyd wanneer dit gepas is om te vas. Die Godsryk, wanneer alles volmaak sal wees, moet immers nog kom.

Ons is tans op weg. Maar op ons pad kan baie dinge met ons gebeur, ook moeilike en hartseer dinge. Daar is genoeg redes om aan te hou met bid, om geloof, om krag, om uitredding, om vernuwing. En ook om vergewing van sondes. Daar is ook gereeld aanleiding om te vas. Om so ons gebede te beklemtoon. Uiteindelik gaan dit tog by die vas om jou verhouding met God en, vanaf die tyd van die Nuwe Testament, ook om jou verhouding met Christus.

En vandag?🔗

In die Nuwe Testament sien ons dat gelowiges ook wel vas: In die eerste Christelike gemeentes, byvoorbeeld, by die verkiesing van ampsdraers. Dit is deesdae maar moeilik om broers (of susters) te vind wat bereid is om die amp van ouderling of diaken te aanvaar. Dit bly maar ‘n probleem vir baie gemeentes. So word dit iets om oor te bid!  Miskien ook iets om oor te vas?

Wie wil groei in geloof, behoort te bid dat die Gees van God in sy/haar hart sal werk. En ook daar mag dit gepas wees om te vas, maar nooit as ‘n verpligting en nooit as maar slegs ‘n formaliteit nie. En ook beslis nooit om mense te laat sien hoe vroom jy is nie. Nee, dit moet juis ‘n teken van nederigheid wees. Jy sal net vas as jy innerlik sterk daartoe gedring word, met ‘n vurige verlange na vergewing en vernuwing – gemotiveer vanuit jou hart.

Dink ook aan tye wanneer ingrypende besluite of keuses gemaak moet word: Watter rigting wys God aan? Dan mag jy bid en ook vas om duidelikheid te kry. Dit geld vir ons persoonlik, maar ook vir ‘n gemeente. Wanneer moeilike probleme of swaar tye opduik, kan ons ons ‘verootmoedig’, klein word voor God, op Hom konsentreer en op sy Woord. Kerke kan ook onder mekaar reël vir ‘n biddag of ‘n dag van ‘verootmoediging’ wanneer iets ingrypends gebeur het in die kerk of die samelewing of wanneer ernstige probleme ontstaan. So kan ons laat sien dat ons nie op eie krag staatmaak nie, maar in alles van die Here afhanklik is. Soos Jesus gesê het: “Sonder My kan julle niks doen nie”.

Uitsien na die wederkoms🔗

Jesus het self ook gevas: veertig dae in die woestyn. So maak Hy, nie net aan Satan nie maar ook aan ons, duidelik dat die mens nie van brood alleen leef nie, maar van elke woord wat God spreek!  En by die instelling van die nagmaal, net voor Hy sou sterf, het Hy vir sy dissipels gesê: “Van nou af sal Ek nie weer van hierdie wyn drink nie tot op die dag wanneer Ek saam met julle van die nuwe wyn in die koninkryk van my Vader sal drink” (Mat. 29:29).  Vir Hom word dit dan, in sekere sin, ‘n tyd om te vas. Want Hy sien uit na die tyd wanneer ons weer naby Hom sal wees: dat ons ook kan wees waar Hy is (Joh. 14:3).

Dit is ook vir ons nog ‘n rede om te bid vir Sy wederkoms. Ons sien uit daarna. Ons verlang daarna. Dit is ook ‘n rede om gereeld te vas – omdat so ‘n gebed ons erns is; omdat ons verlang na die Bruidegom en die bruilof van die Lam. Want dan sal al die gebrokenheid van hierdie wêreld finaal verby wees. Dan is ons aardse weg op sy einde. Dan sal ons vir altyd tuis wees, in die huis van ons hemelse Vader.