Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Verandering en Reformasie

Die ou Grieke van die antieke wêreld het in hulle tyd geworstel met die onsekerheid wat verandering bring. Hulle het God immers nie geken nie. Eeue lank was hulle, in die woorde van die apostel Paulus aan die Efesiërs, "sonder hoop en sonder God in die wêreld" (Efesiërs 2:12). Sonder die kennis van die ware God was hulle 'n soekende beskawing — op soek na ankers in die onsekerhede van die lewe.

Die Ou Griekse Wysgere🔗

Geen wonder nie dat die Griekse wysgere hulle juis met die sekerheidsvraag besig gehou het: Wat is vas en seker? Wat is konstant en onveranderlik in 'n wêreld vol verandering? Hulle het ook by verskillende antwoorde uitgekom.

Sommige van hulle het gesê dat bepaalde dinge in die wêreld nooit verander nie, dinge soos water of vuur of aarde of lug (byvoorbeeld Thales en Anaximenes). Ander, by name Herakleitos, het tot die slotsom geraak dat daar net een saak is wat nie verander nie, en dit is die feit dat alles verander. "Alles vloei, niks bly staan nie" het Herakleitos gesê. Vir hom was die voortdurende verandering van alle dinge 'n wetmatigheid — 'n móét.

Die Onveranderlikheid van God🔗

Sedertdien het die evangelieboodskap van God oor die wêreld uitgegaan. Die mosterdsaadjie het 'n groot boom geword. Aan miljoene der miljoene mense is bekend gemaak dat die Drie-enige God, Skepper en Onderhouer van alle dinge, dat Hy onveranderlik is. Jakobus 1:17 getuig van die Vader van die ligte by wie daar geen verandering is nie, nie eens 'n skaduwee — 'n sweempie — van omkering nie. Op spoor van die Skrif bely ons saam met artikel 1 van die Nederlandse Geloofsbelydenis: "God is ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik ..."

En tog, ten spyte van hierdie belydenis, ten spyte van die waarheid wat aan ons bekend gemaak is, worstel ons steeds met die kwessie van verandering. Sekerlik so in ons gebrokenheid. By selfondersoek lyk dit asof ons in baie opsigte weer terug is by wat die ou Griekse wysgere gesê het.

Veranderingstraagheid🔗

Aan die een kant is daar by ons steeds die neiging om vas te hou aan die sigbare dinge om ons. Ons beskou sekere dinge in hierdie wêreld dikwels as onveranderlik. Dinge soos gewoontes, gebruike, tradisies, sisteme en selfs owerhede. As iets hiervan sou verander, so voel ons, stort ons hele wêreld in duie.

Natuurlik is dit so dat 'n mens se kulturele erfenis vir jou kosbaar behoort te wees en dat 'n mens daarom 'n taak het om dit te beskerm. Maar wie sodanige erfenis as enigiets anders as onveranderlike anker in die lewe beskou, het die waarheid van God vergeet en bevind in die geselskap van die ou heidense filosowe soos Thales en Anaximenes.

Hierteenoor het ons die woorde van Psalm 146 om na te luister: "Moet op prinse nie vertrou nie, by wie niemand heil kan vind." Ons moet ook bid dat God sal gee dat ons, ons vertroue van alle skepsele sal aftrek en op Hom alleen stel (Heidelbergse Kategismus, Sondag 50).

Veranderingsdrang🔗

Aan die ander kant is daar die neiging om alles te wil verander. Ons aanvaar nie maar net dat alle geskape dinge kán verander nie. Ons wil hê dit móét verander. Verandering is dan vir ons 'n wetmatigheid. Soos vir Herakleitos van ouds. Niks van die verlede mag bly staan nie. Met hierdie slagspreuk word daar as't ware teen elke staande gewoonte, tradisie, instelling en sisteem te velde getrek.

'n Uiterste vorm van die veranderingsdrang word hedendaags by die New .Age-aanhangers gevind. Volgens hulle het alle dinge 'n inherente drang na verandering en gevolglik is alles onafwendbaar in 'n voortdurende proses van verandering. Ook die Evolusionisme glo dat alles voortdurend moet verander, en boonop dat die nuwere altyd 'n "Verbetering op die oue” is. Uiteindelik is al hierdie idees maar net nuwe variasies op die ou tema van Herakleitos. Nuwe variasies, maar steeds nie 'n verbetering nie!

Die drang ná verandering kan ook op gelowiges 'n houvas kry en in die kerk gestalte vind. Uiteindelik word dit 'n strewe daarna om dinge in die kerk te verander. In die proses kom alles onder skoot: die inrigting van die erediens, die prediking, die viering van die sakramente, die kerksang, selfs die Belydenisskrifte en die Skrif self. Die verandering word gedryf, teen wil en dank, met of sonder rede. Verandering ter wille van verandering word dit genoem. Hierteenoor hoor ons die woorde van die apostel Paulus in 1 Korintiërs 10:23: "Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie; alles is my geoorloof, maar nie alles stig nie."

Reformasie🔗

Maar selfs al sou 'n mens die nuttigheid van bepaalde veranderinge kon aantoon, of die voordeligheid, is dit nog nie genoeg rede om sodanige verandering deur te voer nie. Vir die gelowige is daar 'n ander oorweging, 'n belangriker oorweging wat by verandering geld. Dit is naamlik die vraag na die eis van Gods Woord. Want soos God is sy Woord onveranderlik. In Psalm 119:89 skryf die digter: "Vir ewig, o Here, staan u woord vas in die hemele". En die apostel Petrus skrywe: "Die woord van die Here bly tot in ewigheid" (1 Petrus 1:25). As verandering die toets van die Woord kan deurstaan, is dit goed en reg. Dan moet dit. Dit noem ons dan reformasie. So nie is dit blote mutasie (verandering ter wille van verandering).

Gereformeerde kerke verander dus waar en hoe God in sy Woord dit vereis. Gereformeerd wees is dus nie om verby die punt van verandering te wees, asof die kerk klaar gereformeer is en nou daarby bly vassteek nie. Gereformeerde kerke is immers immer-reformerende kerke.

Aan die ander kant is gereformeerd-wees nie om in 'n voortdurende proses van verandering te wees nie. 'n Altyd-reformerende kerk beteken nie 'n altyd-veranderende kerk nie. Alle verandering is nie noodwendig reformasie nie. Dikwels is dit deformasie — weg van die Woord. Verandering in die kerk moet 'n beweging altyd nader aan die Skrif wees. Eers dan is daar sprake van reformasie.

Waar mense in alleryl probeer om alies te verander, weet ons van 'n ander verandering wat aan die kom is. Alles sal verander já, alles sal nuut word. Maar dit gebeur nie deur die hande van mense nie. Dit is God se werk. In Openbaring 21:5 hoor ons Hom wat op die troon sit, sê: "Kyk, Ek maak alles nuut". Na die laaste oordeel sal God hemel en aarde nuut maak, en die nuwe Jerusalem uit die hemel laat neerdaal. Trane en droefheid, en die dood sal daar nie meer wees nie. God sal alles nuut maak, volkome, heilig, om Hom te dien in ewigheid.