3 bladsye.

Verbasing oor Bybelse Orde

Eens op ʼn tyd was daar rabbi’s wat hulle volgelinge geleer het om soos volg te bid: “Ek loof u, O God, en dank U dat U my nie as ʼn heiden, slaaf of vrou geskape het nie.” Jy moet bly wees dat jy nie ʼn vrou is nie. Want moet ʼn vrou nie onderdanig wees nie? En wie wil nou onderdanig wees? Ons is eerder ons eie baas. Gelykheid klink tog vir ons beter. In die vervolg wil ons aandag gee aan teksgedeeltes uit die Skrif om te wys hoe goed en mooi God alles geskape het.

Leemte Gevul🔗

Ons begin in Genesis 2. Die HERE God sê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ʼn hulp maak wat by hom pas.” (vs 18)

Wanneer die HERE die vrou gaan skep, doen Hy dit weloorwoë. Die HERE laat dit duidelik blyk dat Hy hierdie saak goed oordink het. Eers laat die HERE Adam self agterkom dat hy iets mis. Dat alleenwees nie altyd die beste is nie. Adam sou definitief geniet het van die diere vir wie hy name moes gee. Maar hy kom ook agter dat daar geen dier was waarmee hy kon praat nie. Geen dier wat saam met hom oor dinge kon dink nie. Die diere was nie vir Adam geskikte geselskap nie.  Adam het ʼn passende hulp kortgekom.

En die HERE skenk dan ʼn hulp. Adam word in ʼn diep slaap geplaas. Die HERE neem ʼn rib uit Adam se liggaam en bou die rib op tot ʼn vrou. Die HERE gebruik nie towerkuns om die vrou te bou nie. Hy bou sorgvuldig. Sy word nie ʼn kopie van die man nie. Sy kry haar eie unieke liggaam. ʼn Tipiese vroulike liggaamsbou. ʼn Vroulike liggaam. ʼn Vroulike gees. Anders as die man. Nie presies dieselfde nie. Ook nie minderwaardig nie. Ten volle gelykwaardig. Daarom hoef ons ook nie te streef na gelykheid nie. Hierdie verskille kan nie uitgewis word nie. En dit is eintlik ook wat so mooi is: God se skepping van mense (manlik en vroulik [!]) voorkom eensydigheid en eentonigheid in die lewe. Daar is ryke variasie.

Maar is die aanduiding wat die vrou aandui - ‘hulp’ - dan nie ʼn neerhalende beskrywing nie? Kry sy daarmee nie ’n totaal ondergeskikte plek nie? Word sy dan nie gou as ‘bediende’ (in die huishouding) gesien nie?

Dit wat mooi is van die woordjie ‘hulp’, is dat dit niks sê oor rangorde nie. Dit sê sekerlik nie dat die vrou onder die man staan nie. Dat die man baas moet wees nie. Iemand wat jou help, kan immers iemand wees wat bo jou in die rangorde staan! ʼn Leermeester help sy leerling. Die HERE maak Homself bekend as Helper van Sy volk. Elke kerkdiens begin ons tog met die woorde: “Ons hulp is in die Naam van die HERE.” Die woordjie ‘hulp’ kom een-en-twintig keer voor in die Ou Testament, en sestien keer daarvan as aanduiding van die HERE.  Die beskrywing vir die vrou as ‘hulp’ is dus allermins neerhalend. 

Die titel ‘hulp’ kry nog meer dimensie as mens Genesis 2:18 in sommige van die baie ou vertalings naslaan. Daar gaan dit nie net oor “ ’n hulp wat by hom pas nie”, maar “ ʼn hulp teenoor die man.” Daar is mans wat dink dat ʼn huishoudelike hulp genoeg is. Maar die HERE het meer ingedagte. Die “teenoor” sê iets meer oor die manier waarop die vrou ʼn hulp sal wees. Sy is nie iemand wie se mening net geïgnoreer kan word nie. Sy kan ‘teenoor’ haar man te staan kom. Sy is ʼn gelykwaardige ‘teë-party’ vir hom. Sy kan haar man lynreg in die oë kyk. Haar man ontvang in haar iemand op sy eie vlak. Sy kan saamdink en hom iets leer. Sy is gemaak om op hom gerig te wees. Man en vrou is op mekaar aangewys.

Dit is presies wat Adam by die diere gemis het. In die bou van die vrou is daar ʼn leemte by die hulpbehoewende man gevul. Die vrou is “ter wille van die man” geskep (1 Korintiërs 11:9).

Onderdanig: Net Aan Mekaar?🔗

Kom ons kyk nou na Efesiërs 5. Dit is ʼn belangrike hoofstuk as dit gaan oor onderdanigheid. Ons het gesien dat die vrou ʼn hoë posisie van die HERE ontvang het. Beteken dit nou dat onderdanigheid net ʼn kwessie van onderlinge onderdanigheid kan wees? Dit word soms so gesê met ʼn beroep op Efesiërs 5:21: “Wees aan mekaar onderdanig in die vrees van God.” In die huwelik is julle immers vennote?

Daar is ʼn bedekte waarheid in hierdie siening. Ook in die huwelik moet jy die ander uitnemender ag as jouself. Tog is daar iets meer wat ons moet sê na aanleiding van hierdie gedeelte. In Efesiërs 5 lees ons iets oor die man, wat ons nie oor die vrou lees nie. Die man word die hoof van die vrou genoem. Juis daarom sal die vrou onderdanig wees aan haar man. Daar staan nie dat die vrou ook hoof van die man is nie. Die twee terme: hoof en hulp, is nie onderling uitruilbaar nie. 

Hoof: Geen Status, maar Verantwoordelikheid🔗

Voordat ons nou verder gaan oor die ‘onderdanig-wees van die vrou’, praat ons eers oor die betekenis van die ‘hoof-wees van die man’. Wie Efesiërs 5 lees, kom agter dat dit nie oor die beveiliging van ʼn status of ʼn posisie vir die man gaan nie. Dit gaan eerder oor ʼn opdrag wat gerealiseer moet word. Die man se verantwoordelikheid is om leiding te gee. Hy moet bereid wees om te lei. Hy moet inisiatief neem. Hy moet voorloop in die gesin. Hy moet karakter en moed wys. Hy moet bereid wees om die regte leefwêreld vir sy gesin te skep.  Hy moet beskerming en geborgenheid bied. En die man word hierby gewys op die Here Jesus Christus, wat as Redder van sy kerk ook opgestaan het vir sy kerk: dit is Hy wat sy liggaam (Sy kerk) in stand hou. ʼn Man mag nie sy huwelik gebruik vir eie gewin nie. Hy moet sorg dat sy vrou en kinders ʼn goeie lewe het – ’n goeie lewe soos wat die Bybel daarvan praat. Die man sorg soos wat Christus sorg dat ons ʼn goeie lewe by Hom het. Christus wil alles tot ’n goeie einde volbring saam met sy gemeente. Dat die gemeente soos ʼn stralende bruid voor Hom sal staan. Smetteloos. Rimpelloos.    

Hierdie verantwoordelikheid is dan ook ʼn besonderse een, omdat die huwelik nie op eie bene kan staan nie. Die regte verhouding in ʼn huwelik wys immers na die besondere verhouding van Christus en sy gemeente. Jou huwelik sal ʼn rigtingwyser wees na die wonder van die verbond waarin die Here Homself aan ons verbind. Aan die manier hoe jy in jou huwelik met mekaar omgaan, sal jou kinders (as jy kinders van die Here ontvang het) en jou onmiddellike omgewing kan sien hoe dit werk in die nog veel groter en besondere verhouding van die verbond van die Here met ons. Hoe dit in hierdie verhouding werk, moet gesien kan word in hóé die man die beste vir sy vrou soek. Hoe hy haar oppas of haar kan vergewe. Dit moet ook gesien kan word aan die manier hoe die vrou haarself skik na die orde soos wat die Here dit bedoel het.

Onderdanig: om Jouself Verwonderd te Skik na die Orde wat die Here Bedoel het🔗

Uiteindelik kom ons nou by die betekenis van die woord ‘onderdanigheid’. Onderdanig wees, ontsag hê, beteken iets soos: jou skik na, jou onderwerp aan die orde van die Here. Efesiërs 5:24 voeg nog spesifiek by: “in alles”. Jou hele lewe en werke, asook jou omgang met jou naaste moet hierdeur gekenmerk word. Uiteraard: so lank as wat dit nie in stryd is met wat die Here van jou vra nie.

Ons kyk ook nog vinnig na die woorde “soos aan die Here” (vs 22): as vrou word jy aangespreek op jou verhouding met die Here. Jy het tog diepe ontsag vir die Here? Jy ervaar dit tog lewenseg dat jy ʼn kind van die Here is? Jy wil jouself tog onderwerp aan sy sorgsame leiding? Dan moet dit ook uitkom in die verhouding met jou man. 

ʼn Mens leer om respek te hê. Onderdanigheid gaan hand aan hand met respek (vs 33). ʼn Vrou moenie bang wees vir haar man nie. Onderdanigheid is nie kruiperigheid nie. ʼn Man wat homself in liefde vir sy vrou gee, in liefde verantwoordelikheid op hom neem, wek ontsag by sy vrou op: sy staan stil van verwondering vanweë die feit dat sy bemin word. 

Mense wat leer om hulself so te skik na die orde van die Here, ontdek dat onderdanigheid partydigheid uitsluit. Julle is nie mekaar se teëstanders nie. Julle is één vlees. Daar is ʼn intieme lewensgemeenskap. ʼn Man sal “sy vrou aankleef” (vs 31 met verwysing na Genesis 2). Hier staan ʼn woord wat beteken: die twee word aan mekaar vasgeplak;  ʼn onlosmaaklike eenheid. Daarom kan ʼn mens ook sê: “Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief” (vs 28). En die omgekeerde is ook waar:  iemand wat sy vrou nie liefhet nie, breek sy vrou. Maar hy verniel ook sy eie lewe! Juis daarom moet die vrou gekoester en gevoed word (vs 29). En Paulus verwys ons dan weer na ons Here Jesus Christus, wat sy gemeente voed en koester met die evangelie van sy genade. Die evangelie, wat aan mense wat dit in hulle het om verhoudings stukkend te breek, tog weer nuwe ruimte en genesing gee om saam verder te gaan.