Bron: Desiring God Ministries. 3 bladsye. Vertaal deur Charlotte Roestorff.

"Vergeef Ons Ons Skulde Soos Ons Ook Ons Skuldenaars Vergewe"

 ‘n Oordenking van Matteus 6:12🔗

Matteus 6:14-15  “As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”

Markus 11:25  “En wanneer julle staan om te bid, en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredings vergewe.” (Die Nuwe Vertaling, 1983, het die volgende voetnoot: p) ‘Sommige manuskripte voeg by: “Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die hemel is, ook julle oortredings nie vergewe nie.”, vgl. Matteus 6:15’).

Matteus 18:34-35  “Die koning was woedend en het hom oorgegee om gemartel te word totdat hy al die skuld betaal het. So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.”

Daar is geen onversoenlike mens in die koninkryk van God nie. Maar wie kan dan gered word? Vir mense is dit onmoontlik, maar nie vir God nie (Markus 10:27). Maar maak God ons dan volmaak in hierdie lewe sodat ons nooit nalaat om te vergewe nie? Bring Hy ons onmiddellik daartoe dat ons reaksie op elke persoonlike belediging of onreg nooit, nie vir een enkele oomblik, gekrenktheid, woede, wraak of selfbejammering is nie? 

Om tot die Kern van Onversoenlikheid deur te dring🔗

Om te antwoord op bogenoemde vraag, kom ons vra: Is vergifnis ‘n unieke deug onder al die eienskappe wat Jesus van sy dissipels vereis het? Met ander woorde, is dit die enigste eienskap waarvan die Vader se vergifnis afhang? Nee! Ons moet aan al Jesus se gebooie voldoen om nie verlore te gaan nie. Met ander woorde, dit is nie net ‘n onversoenlike gees wat ‘n kloof tussen ons en God laat ontstaan nie; dit is sonde. As jou regteroog jou laat struikel, haal hom uit, anders sal jou Vader jou nie jou oortredings vergewe nie (Matteus 5:29). As jy jou broer uitskel vir ‘n gek, sal jou Vader jou nie jou oortredings vergewe nie (Matteus 5:22). As jy jou vyand nie liefhet nie, sal jou Vader wat in die hemel is, jou nie jou sondes vergewe nie (Matteus 5:44). Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van my Vader afvallig maak, sal nie deur my Vader vergewe word nie (Matteus 18:6). Bo elke gebod van Jesus staan die woorde “As jy dit nie doen nie, sal jy nie in die koninkryk ingaan nie”, wat op dieselfde neerkom as om te sê dat die Vader jou nie sal vergewe nie (Matteus 7: 21-23).

Daarom is die gebod “Vergewe sodat jy vergewe sal word”, net een voorbeeld van die hele etiese eis van Jesus. Dit is nie die uitsondering nie; dit is die reël. Soos Jesus in Johannes 8:34 e.v. sê:

Elkeen wat sonde doen, is ‘n slaaf van die sonde. ‘n Slaaf bly nie vir altyd by ‘n huisgesin nie.

Of, soos Johannes in sy Eerste Brief sê:

julle weet dat Hy verskyn het om sondes weg te neem, en geen sonde is in Hom nie. Elkeen wat in Hom bly, sondig nie. Elkeen wat sondig, het Hom nie gesien en Hom nie geken nie... Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore.

1 Johannes 3: 5-6) 9; vgl. 3:14, 16; 4:7,8,12, en 16 Ou Vertaling, 1953.

Of, soos Paulus sê:

Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: ...vyandskap, haat, naywer, woede... Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie.

Galasiërs 5:19-21, vgl. 1 Korintiërs 6:10; Romeine 8:13

Of, soos die skrywer van Hebreërs sê: “Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ‘n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie,Hebreërs 12:14, vgl. 10:26 e.v.; 6:4 e.v.). Daarom, wanneer Jesus sê: “As julle die mense nie hulle sondes vergewe nie, dan sal julle Vader julle ook nie vergewe nie”, sê Hy niks anders nie as wat die hele Nuwe Testament bevestig. 

Is Daar enige Teenstrydigheid?🔗

Is dit ‘n opdrag dat ons volmaak sondeloos moet wees om gered te kan word? As dit so sou wees, wat sou die sin daarvan wees om te bid: “Vergeef ons ons sondes”? Of wat sou die sin van die vermaning om ons sondes te bely (1 Johannes 1:9) dan wees? As ‘n dissipel uiteraard iemand sou wees wat nooit sonde gedoen het nie, waarom sou Jesus dan vir hom leer om te bid: “Vergeef ons ons sondes” (Lukas 11:4)?

Watter “skulde” of “sondes” sou Jesus insluit wat ons sou aanhou doen? Het Hy alle soorte sondes bedoel behalwe die versuim om te vergewe? Nee, Hy klassifiseer sondes nie op so ‘n manier nie. Maar nou is een van die “skulde” waarvoor ons vergifnis behoort te vra, ons onversoenlike gees, met ander woorde, ons versuim om te vergewe. Maar kyk nou wat gebeur as ons “ons versuim om te vergewe” vervang met “ons skulde” in die Onse Vader. Dit sou so lui: “Vergeef ons ons versuim om te vergewe soos ons ook ons skuldenaars vergewe”. Dit lyk egter na ‘n weerspreking: “soos ons ons skuldenaars vergewe” hou tog in dat ons wel vergewe. Maar ons bede: “Vergeef ons ons versuim om te vergewe” hou in dat ons nie vergewe nie. Die oplossing vir hierdie skynbare weerspreking is om in te sien dat die frase “soos ons ons skuldenaars vergewe” nie beteken dat ‘n gees van onversoenlikheid nooit tydelik die oorhand oor die dissipel kry nie. Wanneer Jesus ons gebied om te bid dat ons skulde vergewe word en wanneer een van hierdie skulde die versuim is om te vergewe, dan kan die frase “soos ons ook ons skuldenaars vergewe” nie verabsoluteer word om te impliseer dat net ‘n volmaakte gees van vergifnis God se vergifnis kan ontvang nie. 

Toe Jesus vir sy dissipels gesê het om te bid om vergifnis soos hulle andere vergewe, het Hy dan nie bedoel dat ek iets soos die volgende moet bid nie: “Vader, vergeef my vir my versuim vandag om vir Tom te vergewe. Ek was geïrriteerd en het heeltemal opgegaan in myself. En toe hy dit gesê het, was ek skielik onredelik kwaad vir hom en was heeldag gegrief, terwyl ek gedagtes gekoester het oor hoe ek sy foute sou kon uitbasuin, en bymekaar getel het hoeveel keer hy my al veronreg het. My gewete my vanmiddag begin pla toe U my herinner het aan die genade wat U voortdurend aan my bewys. Daarom het ek na hom toe gegaan en om verskoning gevra (Markus 11:25). Ek wil nie langer ‘n wrok teen hom dra nie. U het my bevry van my selfsugtige verontwaardiging en daarom vra ek om vergifnis vir my traagheid om vir Tom vandag te vergewe.  En daarom vra ek dat U my nie weer in hierdie versoeking sal laat val nie.”

Met ander woorde, “Vergeef ons ons skulde soos ons ook ons skuldenaars vergewe” beteken nie dat ons verlore is die oomblik dat die ou onversoenlike gees weer opduik nie. Dit beteken dat niemand wat ‘n grief teen ‘n ander koester na God toe durf gaan om genade te verkry nie. God behandel ons ooreenkomstig die geloof in ons harte: as ons glo dat dit goed en mooi is om wrokke te koester en boek te hou van al die onreg teen ons, dan sal God weet dat ons bede om vergifnis blote skynheiligheid is – want ons sal Hom vra om dít te doen wat ons as sleg beskou. Dit is ‘n verskriklike ding om te probeer om van God ‘n sentimentele, sagte malvalekker te maak. Met ander woorde om te probeer om sy majesteit, mag en heerlikheid te ignoreer deur van Hom te verwag om iets te doen wat jy minag, soos wat duidelik uit jou eie optrede blyk.

Uit Genade In Staat Om te Vergewe🔗

Om te vergewe is nie ‘n daad waardeur ons God se vergifnis verdien nie. Dit vloei voort uit ‘n hart wat vervul is met die besef van God se genade en wat juig omdat ons eie skuld van tien miljoen dollar gekanselleer is (Matteus 18:24). Vir die mens is dit onmoontlik, maar nie vir God nie. “Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi” (Matteus 7:19). Maar die plant wat bly dra, doen dit omdat God dit geplant het (Matteus 15:13). Niemand kan by God spog met verdienste wat hy self verwerf het nie (Lukas 17:10); en dit is nie die nougesette uitvoering van wetsvoorskrifte nie, maar ‘n gebroke gees en algehele vertroue op God se genade wat ‘n mens staande hou voor Hom (Lukas:18:9-14; Matteus 5:3).

Maar een ding is seker: die persoon wat, deur genade, uit God gebore is, kan nie meer dieselfde bly nie. Hy kan nie aanhou sondig soos tevore nie omdat “God se saad” in hom bly (1 Johannes 3:9, Ou Vertaling, 1953). Hy laat hom nie deur sy sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees (Romeine 8:4), want hy word deur die Gees gelei (Galasiërs 5:18). God werk in hom om hom gewillig en bekwaam te maak om sy wil uit te voer (Filippense 2:13). Wanneer ons “van harte vergewe” is dit die vrug van die Gees (Galasiërs 5:22). Ons is met Christus gekruisig; dit is nie meer ons wat lewe nie, maar Christus leef in ons (Galasiërs 2:20). Ons is nuwe skepsele (Galasiërs 6:15); en die teken van ons nuutheid is nog nie volkome sigbaar nie, maar wel ‘n volhardende geneigdheid om te vergewe, ‘n spoedige herstel van ons versuim om dit te doen en ‘n voortdurende smeking tot God om die sonde wat ons laat vaar, te verontagsaam.