Bron: Kompas, 2006. 2 bladsye.

Is Vergewing Voorwaardelik of Onvoorwaardelik

Moet ons altyd iemand wat teen ons gesondig het vergewe? Dalk het iemand jou tot in die diepste van jou wese beskadig of is jy ʼn slagoffer van molestering. Moet jy jou molesteerder vergewe? Ook indien daardie persoon geen berou toon nie? Dis vrae waaroor die sinode van die Free Reformed Churches of Australia in 2003 haar, na aanleiding van beswaarskrifte, besin het. Die groot vraag was: Moet ’n mens die ander onvoorwaardelik vergewe (d.w.s. sonder dat daar sprake van bekering en belydenis van skuld is) of is die vergewing voorwaardelik (d.w.s. afhanklik van bekering)? Kom ons luister na wat ons Australiese susterkerke hieroor gesê het.

Vergewing beteken in die Skrif primêr kwytskelding van sonde en verwydering van skuld. Die woorde wat daarvoor gebruik word fokus op die opheffing, verwydering, kwytskelding of vrye vergifnis van skulde. Die gevolg van die vergewing is dat die skuldige vry is van die las van sy sonde of oortreding.

Vergewing kos ʼn prys. Sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie (Hebreërs 9:22), want die loon van die sonde is die dood (Romeine 6:23). Die diereoffers van die Ou Testament getuig daarvan. Ons Verlosser het gekom om hierdie offers te vervul. Hy het vergewing verwerf deur sy dood aan die kruis.

In sy Institusie gee Calvyn hierdie algemene omskrywing van ons vergewing:

Nie dat dit ons toekom om die skuld vir ’n oortreding of vergryp te vergewe nie, want dit is God se voorreg alleen. Ons vergiffenis is daarin geleë dat ons toorn, haat en wraakgierigheid uit ons harte moet laat vaar en die herinnering aan sulke onregte tot niet moet maak deur vrywillig daarvan te vergeet.(III.20.45)

In sy kommentaar op Matteus 18:14 maak Calvyn egter ’n tweevoudige onderskeid betreffende die manier waarop vergrype vergewe word:

In ʼn sekere sin moet vergrype onvoorwaardelik (sonder bekering en belydenis) vergewe word. Hierdie vergewing behels dat jy geen wraak soek nie (Deuteronomium 32:35; Romeine 12:19), dat jy die onreg met vriendelikheid beantwoord (Romeine 12:17), dat jy in jou hart geen haat teen die oortreder koester nie, maar dat jy hom wat jou bewus tart, liefhet (Matteus 5:43, 44), terwyl jy deur elke soort van goeie werke sy guns en lof probeer wen (Romeine 12:21). In hierdie sin moet ons vergewe ook al het die oortreder hom nie bekeer nie. Maar waar daar geen bekering is nie, is daar ook geen versoening nie, want ons mag nog ’n ongunstige opinie oor hom hê, volgens wat hy verdien (2 Timótheüs 4:14). In hierdie geval, waar daar geen bekering en geen begeerte na versoening is nie, sal die vergewing gevolglik baie beperk wees. In ’n ander sin, behoort vergrype voorwaardelik (waar daar berou is – Lukas 17:3, 4) vergewe te word. Hierdie vergewing bestaan daarin dat jy ’n broeder gunstig ontvang (Matteus 18:15), dat jy die onreg vergeet en gunstig van hom dink terwyl jy oortuig is dat die herinnering aan sy vergryp voor God uitgewis is. In hierdie geval moet ons gereed en bereid wees om vergewing te skenk, so dikwels as wat die sondaar hom bekeer. In die lig van die Skrif is dit aanvegbaar of Calvyn se eerste omskrywing van ons vergewing van ander eintlik “vergewing” genoem kan word. Die gesindheid en dade wat Calvyn as ’n vorm van vergewing beskou (geen wraak soek nie, onreg met vriendelikheid beantwoord, geen haat koester nie, elke soort van goeie werk probeer doen) kan beter beskryf word as die nodige gesindheid van een wat gewillig en bereid is om te vergewe. Hierdie houding kan bekering by die ander bevorder. Die tekste (Lukas 23:34, Handelinge 7:60) wat Calvyn aanhaal om die idee van onvoorwaardelike vergewing te verdedig, staaf dit egter nie. Eerstens het geeneen van die bogenoemde tekste te doen met die situasie van een mens wat ’n ander mens vergewe nie. Albei tekste is gebede waarin God gevra word om die sondes van die oortreders te vergewe. Hierdie gebede moet in die lig van die hele Skrif gelees word, waarin duidelik geleer word dat God net vergewe op die voorwaarde van bekering en belydenis. Christus en Stefanus bid albei dat God hul vervolgers wil vergewe en hulle hul sondes nie wil toereken nie. Die liefde wat Christene vir hul vyande moet toon, word hier sigbaar (Matteus 5:44 vv.). Sulke gebede, ten aanhore van hul moordenaars, maak ’n groot indruk! Maar waar daar geen persoonlike oortuiging van skuld is nie (Handelinge 2:37), waar bekering (Handelinge 8:22) en die belydenis van skuld (1 Johannes 1:9) en geloof in die soenoffer van Jesus Christus (Handelinge 10:43) ontbreek, daar is by God vergewing onmoontlik. Immers, selfs nadat Jesus vir vergewing gebid het (omdat hulle nie geweet het wat hulle doen nie) het sy apostel Petrus, deur sy Gees, daardie Jode nog vir hul misdaad aanspreeklik gestel (Handelinge 2:23). Die Here het die gebed van ons Heiland verhoor toe Hy die genade van bekering gegee het aan baie van die Jode in Jerusalem (Handelinge. 2:37-41, Handelinge 6:7) waarvan sommiges dalk ook Christus se dood versoek het (Markus 15:11). Die Here het die gebed van Stefanus verhoor toe hy die bekering van Saulus, wat Stefanus se dood goedgekeur het (Handelinge 8:1), gegee het (Handelinge 9). Hierdie tekste, wat ons leer om ons vyande lief te hê en vir hulle te bid, moet op ’n pastorale manier gehanteer word. Mense wat ’n groot trauma ondergaan het, soos hulle wat seksueel misbruik is, kan deur sulke lerings nog dieper in die put gedryf word. Dit vat gewoonlik tyd voordat slagoffers die punt bereik dat hulle vir hulle daders kan bid. Nogtans moet ons aanhou om dit skandelik te noem dat een Christen die ander seksueel misbruik. Dit sal ook skadelik wees as ons weier om saam te werk sodat die burgerlike owerhede en die kerkraad die skuldiges respektiewelik regtelik en geestelik straf; of as ons so saamwerk dat die skuldiges die vergewing van Christus vir hulleself opeis terwyl hulle probeer om ’n eerlike en ruimhartige belydenis van skuld te ontwyk.

Normaalweg praat die Skrif oor die vergewing van sondes soos dit genoem word in die tweede aspek van Calvyn se definisie. Wat die vergewing van sondes deur mense betref, het Jesus geleer dat ’n persoon wat verontreg is, moet gaan en hom wat teen hom gesondig het moet bestraf (Matteus 18:15-18). As hy nie luister nie, laat dan getuies (Deuteronomium 19:15-21) kom sodat die saak regtelik kan vasstaan. Opnuut word die kwaad of onreg, wat die getuies kan bevestig, aangespreek. Jesus herhaal dit in Lukas 17:1-4 wanneer Hy sê: “As jou broeder teen jou sondig, bestraf hom; en as hy berou kry, vergewe hom.” Ons moet selfs bereid wees om dit sewe maal op ’n dag te doen (vers 4). In Mattheus 18:22 benadruk Jesus dit nog sterker deur te sê dat ons dit selfs tot sewentig maal sewe keer moet doen. Let daarop dat vergewing die sonde nie ignoreer of tolereer nie. Vergewing vra erkenning en bekering van die sonde. Hoewel dit vandag norm is om nie veroordelend te praat nie, leer die Bybel ons dat God boetvaardige sondaars hul tekortkomings en oortredings vergewe op grond van Christus se kruisdood (Handelinge 2:37-38). Dieselfde beginsel geld ook wanneer mense mekaar se oortredings vergewe. Skuldige gewetes (bv Psalm 38 en Ps. 51) moet deur belydenis en vergewing ontlas word (Jakobus 5:16-18). Dit sou daarom volgens die primêre betekenis van die woord vergewing verkeerd wees om te sê dat vergewing geëis word selfs voordat ’n sondaar hom bekeer. Dit sou beteken dat geëis word dat die skuld of oortreding weggestuur of opgehef word ook al bly die sondaar in sy sonde volhard. Dit is nie reg nie. Aan die ander kant beteken dit nie dat ons in die aardse gebrokenheid van die lewe nie in liefde ’n oortreding kan bedek nie (Spreuke 10:12; 19:11; 1 Petrus 4:8). Dis inderdaad reg om te leer dat Christene, terwyl hulle hulle daarop voorberei om ander te vergewe, moet leer om wraaksug sowel as haatgevoelens en selfmedelye weg te doen. Hulle moet leer om nie kwaad met kwaad te vergeld nie, maar om daarna te strewe om die broer wat gesondig het te wen en vir hom te bid. Hulle moet ook gewillig wees om hom te help en volkome bereid wees om in hul hart die oortreding te vergewe, ook voordat die sondaar sy skuld erken (Romeine 12:9-21; 13:8-10; HK 40; 51). Dit kan ’n hele proses wees, veral waar baie diep seergemaak is, soos in die geval van seksuele misbruik. Die sondaar moet sy sonde bely, in sy hart en lewensstyl hom bekeer en die vergewing van die hemel en van die verontregte party op aarde soek (Jakobus 5:16; Lukas 15:21). As daar skade is wat betaal moet word, moet hy dit doen (Eksodus 22:1; 2 Samuel 12:6 en Spreuke 6:31), soms selfs bo dit waartoe hy verplig is (bv Saggéüs, Lukas 19:8; vgl. Levitikus 5:16 en Numeri 5:5-10). Hul gewetes, geleer deur God en sy Woord, dring hulle daartoe om hemel en aarde in die oë te kyk deur vergewing te soek. ’n Sondaar mag nie toegelaat word om met sy sondes aan te gaan nie, aangesien dit net veroordeling oproep (1 Korintiërs 5; 6:8-11; Galasiërs 5:19-21; HK 32, V&A 87).