Bron: Die Kerkblad, 2007. 3 bladsye.

Vergifnis na Geweld - So het die Here My Daardeur Gelei

Hoe kry mens dit reg om so te vergewe dat jy nie geestelike letsels oorhou nadat jy gewelddadig aangerand en beroof is nie?

Die redakteur het my gevra om iets te vertel van hoe die Here my deur so ’n ervaring gelei het.

Voorbereiding in die Binnekamer🔗

Ek glo dat die Here my in sy genade vir hierdie ervaring voorberei het Op Vrydagoggend 23 September 2005, voordat dit alles gebeur het, het ek vroeg die oggend om 03:00 wakker geword en kon nie verder slaap nie. Ek het in my studeerkamer gaan sit en lees. Ek lees toe uit ’n boek met gebede van die Puriteine die volgende woorde:

Vernietig in my elke hooghartige gedagte.
Verbrysel sondige trots in skerwe en waai dit weg in die wind.
Wis elke oorblywende greintjie van eiegeregtigheid in my lewe uit.
Vestig in my ware nederigheid van gees.
Leer my om te walg in myself vanweë my sonde.
Laat ’n fontein van trane van berou oor sonde in my ontspring.
Breek my en verbind my dan weer,
Sodat my hart voorberei kan word as ’n woonplek vir my God.
Dan kan die Vader in my woon.
Dan kan Jesus deur sy Gees my aanraak met sy genesende krag.
Dan kan die Heilige Gees in my neerdaal met heiligmakende genade.
O Heilige, Drieënige God, maak van my ’n woning, ’n tempel toegewy tot u eer.Eie vertaling van “Valley of Vision”

Uit my Bybellees tref 1 Petrus 2:24 opnuut die oggend: ... toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel; wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is.

Ek sit ook met verbasing en lees uit ’n boek van Norman Geisler en Frank Turek, Defending the Faith: Twelve Points that show that Christianity is True. In die lig van navorsing oor marteling en kruisigingsmedotodes in die tyd van die Nuwe Testament en moderne mediese kennis beskryf hulle Jesus se lyding en sterwe.

Hulle beskryf in fyn detail hoe ’n sweep gelyk het waarmee Romeinse soldate destyds iemand gegesel het. Dit was ’n sweep van leer met ronde metaalballetjies en skerp skaapbeentjies aan die punte. Wanneer iemand se hande bo sy kop aan ’n paal vasgemaak is en oor sy nakende rug met so ’n sweep geslaan is, is sy hele rug oopgekloof met diep wonde waaruit die vleis gehang het, terwyl bloed oor sy hele liggaam gestroom het. Daarna het hulle die pers mantel oor sy liggaam gegooi, Hom gespot, op Hom gespoeg en toe die kroon van dorings op sy kop geplaas. Hulle het die stok uit sy hand geruk en Hom daarmee oor sy kop geslaan om die dorings in sy skedel in te dryf. Dit moes opnuut geweldige bloeding veroorsaak het, omdat nêrens anders op die menslike liggaam are so naby aan die oppervlakte is as juis op jou kop nie.

Langs die Pad, Sondagmiddag, op ’n Stillerige Plekkie🔗

Sondag 25 September 2005 het ek, soos meeste Sondae die afgelope 14 jaar, by ’n kerkdiens in KwaNdebele opgetree. Die middag moes ek op ’n plek waar ek selde kom, ’n evangelis gaan ontmoet. Soos wat ek so dikwels gedoen het, hou ek by ’n stil plekkie langs die pad stil om koffie te drink en ’n toebroodjie te eet. Drie mans kom na my toe aangeloop en ek groet hulle nog ewe vriendelik. Die volgende oomblik rig hulle ’n rewolwer op my, begin op my skree en dop my sakke om, om my beursie, selfoon en horlosie te gryp. Hulle dwing my terug agter in die kar en ry in die veld in. Hulle beveel my om my kop laag te buig, en toe ek dit nie vinnig genoeg doen nie, slaan hulle my met die rewolwer oor die kop. Verbaas voel ek hoe my hemp nat word van bloed wat van my gesig af oor my bolyf drup.

Skielik dink ek aan alles wat ek twee dae gelede in die vroeë oggendure gesit en lees het.

Toe gaan die gedagte deur my kop: “Wat ek nou beleef, is absoluut niks in vergelyking met wat Jesus tydens sy lyding deurleef het nie.”

’n Ent verder stop hulle, stamp my uit die motor uit, stroop my kaal van al my klere, terwyl een steeds die rewolwer op my gerig hou en dan ry hulle weg. Ek moes in my geboortepakkie omtrent 2 km terugstap na die pad. Toe ek daar kom, kom daar ’n man aangery met ’n bakkie. Toe hy my sien, hou hy dadelik stil en vra wat aangaan. Ek vertel hom dat ek beroof en my motor gekaap is. Hy trek dadelik sy eie hemp uit en bied dit aan om my naaktheid te bedek. Daarna neem hy my na die polisiestasie in Siyabuswa. Die polisie gee my ’n ou polisie-uniform om aan te trek. Nadat die saak aangeteken is, gaan laai hulle my af by ds. Moukangwe se huis, een van die predikante wat by Mukhanyo afstudeer het. Hy reël dat ek teruggeneem word na Mukhanyo waar my vrou my kom haal het en huis toe geneem het.

Genade om dit te kan Verwerk🔗

Dinsdag is ek terug by my werk (my motor is teruggevind en ek het die hele Maandag nodig gehad om dit te gaan uitken en deur al die nodige regsprosesse weer in besit te neem). Die eerste drie gereformeerde dominees van KwaNdebele wat by Mukhanyo afstudeer het, wag vir my. Hulle kom sit in my kantoor, lees vir my voor uit Psalm 121: “Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom?... Die HERE sal jou bewaar vir elke onheil; jou siel sal Hy bewaar. Die HERE sal jou uitgang en jou ingang bewaar, van nou af tot in ewigheid.”

Studente wat ek as ‘t ware grootgemaak het, wat by my geleer het om berading te doen, bemoedig en vertroos my uit die Woord: “As jy nou met jou werk hier volhou, sal jou geloofwaar­digheid sterker wees as ooit tevore. Ten spyte van alles, hou vol met jou roeping ...” Een na die ander doen elkeen ’n gebed. Met betraande oë sing ons saam ’n Psalm.

Verskeie predikante en oudstudente en kollegas bel, en skryf briewe en betuig hulle deelname. Sommige mense het laat deurskemer hulle dink die Here straf my oor sonde in my lewe. Maar ek ervaar die vrede van God in my binneste. As Hy my ooit moes straf oor al die sonde in my lewe, sou ek tienduisend maal erger moes ly. My troos is dat ek aan Hom behoort wat namens my, in my plek, reeds die toorn van God oor my sonde gedra het. As Hy tug, is dit liefdestug (Heb 12:5, 6).

Wat het Ek in die Proses Geleer?🔗

God gee sy kinders “pre-traumatiese stres”-terapie in die binnekamer. Wat ’n genade dat ek die gewoonte ontwikkel het om so gereeld as moontlik vroeg in die môre tyd te spandeer met Bybellees, gebed en meditasie. In sy oneindige liefde berei die Here jou daar voor vir dit wat Hy op jou pad gaan bring. In die proses van trauma is Hy steeds by jou. Hy sal jou nooit begewe of verlaat nie.

In sulke tye word die troos en bemoediging van medegelowiges soos God se hande en voete en stem en sy eie bewoë hart wat jou geestelike wonde verbind en jou weer perspektief laat kry en heel laat word. Vir ’n tyd lank het ek soms onverwags nog snags angsdrome gehad, maar dit het gou heeltemal opgehou.

Die evangelie van God se genade vir sondaars is al wat werklik perspektief gee. Die mense wat my aangeval het, is ongelowiges wat nie weet wat hulle doen nie. Hulle het die evangelie nodig. Toe Stefanus met klippe doodgegooi is, het hy sterwend gebid: “Here, moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie!” (Hand 7:60).

Ek hoop om nog eendag in daardie gebied met studente ’n evangelisasie-kampanje te gaan hou …

Ek het ook geleer dat mens met onversigtigheid in die huidige klimaat van kriminaliteit eenvoudig roekeloos is as jy alleen op ’n eensame plek stilhou. Stop eerder in ’n publieke plek om jou middagmaal te geniet.

Hierdie land het optimistiese realiste nodig. Realisties oor sonde en armoede, geweld en kriminaliteit. Optimisties, omdat ons weet ons Here leef en sy Woord is magtig om sondaars te bekeer en te verander. Sy koninkryk is besig om te kom. Jesus Christus regeer. Die evangelie is magtiger as geweld. Die sending-geskiedenis bewys dit telkens. Kannibale is verander in nederige, selfverloënende kinders van God. Ons roeping is om ligdraers te wees te midde van ontaarde en korrupte mense (Filip. 2:15).