Bron: Kompas. 3 bladsye.

Verskille in die gemeente

Ondanks die gesamentlike wil om te bou op die een fondament van die kerk en om ons gereformeerde belydenisskrifte te handhaaf, is daar tog verskille in die gemeente van Christus. Verskille in die manier waarop ons uiting gee aan ons geloof. Verskille oor die invulling van die Christelike lewenstyl. Die verskille kan soms baie onrus en verwydering veroorsaak. Hoe moet ons daarmee omgaan? Ja, hoe moet ons in verskille met mekaar omgaan? Hierdie artikel fokus veral op die uitgangspunte.

Verwondering oor die eenheid wat Christus gewerk het🔗

Ons is nie die eerstes wat met verskille in die gemeente te doen het nie. Die briewe van die Nuwe Testament laat ons sien dat daar ook in die eerste Christelike gemeentes verskille was. Paulus moes dit dikwels genoeg aanspreek. As ons sy briewe lees, dan is dit opvallend hoe Paulus sy briewe begin. Ondanks die verskille en die moeites waarmee Paulus te doen gekry het, begin hy al sy briewe (behalwe die een aan die Galasiërs) op 'n positiewe noot. Hy vestig eers die aandag op God se genadewerk. Dit is ook waarmee ons moet begin.

Christus bly sy kerk vergader in die eenheid van die ware geloof. Deur geloof verenig die Heilige Gees ons met Christus sodat ons een liggaam vorm, die liggaam van Christus. (Sien 1 Kor. 12:13 en Ef. 4:4.) Daarom is dit een Here (wat ons dien), een geloof (wat ons bely), een doop (waardeur ons in die Christelike kerk ingelyf word), een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is (Ef. 4:5,6). Die eenheid van die ge­loof is dus 'n wonderwerk van God.

Wat ons dus as eerste moet doen, is om op ons knieë te gaan en om God te dank en te aanbid vir sy genade-werk wat bv. uitvoerig beskryf word in Ef. 1-4. Hy het ons in Christus uitverkies voor die grondlegging van die wêreld (1:4). Hy het ons wat dood was, lewend gemaak saam met Christus en ons so uit genade gered (2:1-10). Hy het die evangelie aan ons verkondig, ons die verborgenheid van God se wj| bekend gemaak, ons deur Christus versoen sodat ons, van heidense oorsprong, nou medeburgers van die heiliges en huisgenote van God mag wees (1:9; 2:11-3:6). Elkeen wat glo is 'n wonderwerk van God! Dit sa! ons houding teenoor mekaar moet bepaal. Daar moet in die eerste plek 'n blydskap van herkenning wees.

Groei🔗

Die eenheid van die geloof is nie 'n statiese iets nie. Dit is 'n progressiewe werklikheid. Ons moet daarin nog saam groei. So skryf Paulus in Ef. 4:13 aangaande die gelowiges dat hulle nog moet kom "tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot 'n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus." Hulle het -die evangelie in geloof reeds aanvaar (1:15; 2:8,19) en is reeds een in geloof (4:3). Die bestaande eenheid is egter nog nie volmaak nie. Hulle moet groei na volwassenheid, na die volmaaktheid toe. Hulle moet groei in geloof (2 Kor. 10:15; 2 Thess. 1:3) en in kennis (1 Kor. 13:12). In Fil. 3:8-14 sien ons iets dergeliks wanneer Paulus skryf dat hy nog nie die kennis van Christus en van die krag van sy opstanding gekry het nie en nog nie volmaak is nie, maar dat hy daarna jaag of hy dit ook kan gryp.

Ons belydenisskrifte erken ook hierdie proses of groei. In antwoord op die vraag wie na die Nagmaalstafel van die Here moet kom, sê die Kategismus o.m.: "die wat ook begeer om hulle ge­loof hoe langer hoe meer te versterk en hulle lewe te verbeter." (Antw. 81). In Sondag 33 word gesê dat die afsterwing van die ou mens beteken dat ons "ook hoe langer hoe meer die sonde haat en daarvan wegvlug."

Antwoord 115 is baie duidelik in hier­die verband. In antwoord op die vraag waarom God die Tien Gebooie nog so streng aan ons voorhou, sê die Kategismus: "Ten eerste sodat ons gedurende ons heie lewe ons sondige natuur hoe langer hoe beter kan leer ken en met groter verlange na die vergewing van sondes en na die geregtigheid in Christus kan soek. Ten tweede moet ons ons sonder ophou beywer en God om die genade van die Heilige Gees bid sodat ons altyd meer en meer na die ewebeeld van God vernuwe mag word totdat ons na hierdie lewe die volmaaktheid as doel bereik."

Die sendingsopdrag van Matt. 28:19 laat ook blyk dat die gelowiges 'n proses van groei deurmaak. Die aanvaarding van die apostoliese leer, wat impliseer dat iemand tot geloof kom en 'n dissipel van Christus word, word gevolg deur die doop as teken van die inlywing in die Christelike kerk. Daarna moet sulke lede nog voortdurend geleer word om alles te onderhou wat Christus beveel het. Met ander woorde, as ons deur 'n ware geloof in Chris­tus ingelyf is, dan het ons nog nie die eindpunt bereik nie. Ons benodig almal verdere onderrig en groei.

Verskille🔗

Ook al het die gelowiges almal die apostoliese leer, die leer van die Skrifte aanvaar, blyk daar nog dikwels 'n verskil van mening en van gedrag te wees. In die kerk van Rome was daar 'n verskil van mening oor die onderhouding van bepaalde dae en oor die onthouding van vleis en wyn (Rom. 14:1-15:13). In die gemeente van Korinte was daar 'n verskil oor die eet van voedsel wat aan die afgode geoffer was. Bowendien was daar 'n verskil van mening oor die geestelike gawes.

Hoekom hierdie verskil in oortuigings onder mense wat een in die geloof is? Dit het te doen met die feit dat alle gelowiges deur 'n proses van groei in geloof en kennis gaan. Die saad van die evangelie wat deur die prediking in die harte van die gelowiges geplant is (1 Pet. 1:23,25b) groei nie in elke gelowige op dieselfde wyse en in dieselfde tempo nie. Dit is nie vanweë die evangelie nie, maar vanweë die 'grondsoort' en die 'weersomstandighede'. Hierdie verskille stel die gelo­wiges nie skuldig nie, behalwe wanneer die verskille in groei in 'n verskil van rigting ontwikkel. Om hierdie ontwikkeling teen te gaan en om die gemeenskaplike rigting te bewaar, benadruk Paulus herhaaldelik die roeping van beide die sterkes en die swakkes om tot eer van die Here te lewe (14:4,6-12,18; 15;5-7) en die roe­ping van die sterkes om die swakkes te ondersteun en van die swakkes om die sterkes nie te veroordeel nie. Dit is nie die verskille as sodanig nie, maar die omgaan van die lede met die verskille, die wedersydse veroordeling en veragting, wat die kritiek van Paulus oproep.

Ons houding🔗

Wat moet ons houding wees teenoor verskille van mening en praktyk? Die Here leer ons in die Skrif om op die eenheid van die geloof goed ag te gee. Die eenheid moet bewaak word. Dwaalleer mag nie getolereer word nie. Die vergadering van Hand. 15 word belê omdat sommige geleer het: "As julle nie besny word volgens die gebruik van Moses nie, kan julle nie gered word nie" (15:1,5). Paulus en Barnabas verset hulle daarteen (15:2). Wanneer Judaistiese Christene aan die gemeente die besnydenis wil oplê, dan trek Paulus 'n onverbiddelike grens (Gal. 5:1-11; Fil. 3:1-11). Waar die evange­lie van redding uit genade alleen in geding is, daar toon Paulus geen enkele toleransie. Daarom ook die skerp woorde van Paulus in sy brief aan die Galasiërs.

Die Here leer ons egter ook om ruimhartig te wees as dit gaan oor bepaalde histories gegroeide praktyke of opvattings, samehangend met die pad waarop die Here sy gelowiges en sy kerk gelei het. As die prinsipiële posisie van Paulus en Barnabas eers eenmaal erken is (Hand. 15:22-31) en as die evangelie nie in ge­ding is nie, dan tref ons die soepelheid van Paulus aan. Dit blyk byvoorbeeld uit die besnydenis van Timoteus "ter wille van die Jode" (Hand. 16:3), terwyl Titus nie besny is nie "vanweë die ingesmokkelde valse broeders" (Gal. 2:3,4). Paulus ontsien en respekteer kennelik ook daardie praktyk wat nog onder die Joodse Christene heers. Ons sien selfs dat hy die praktyk van die gelofte met die daarby behorende gebruike nog in ag geneem het (Hand. 18:18; 21:23 e.v.).

Paulus het geen beswaar daar­teen om die broeders in Jerusalem in daardie dinge tegemoet te kom nie, as die vryheid van die heiden-Christene maar gerespekteer word. Hul vryheid mag nie deur praktyke voortspruitend uit 'n ander geskiedenis aangetas word nie. Vir die heiden-Christe­ne geld wat die vergadering van Hand. 15 uitgespreek het. In daardie verband is dit duidelik dat die genoemde praktyke ook leerstellige implikasies vir die Joodse Christene gehad het. Tog is Pau­lus bereid om dit onder hulle te tolereer, solank as hulle maar nie die evangelie van genade alleen verloën nie.

Ons moet nooit vergeet dat God in die lewe van sy kerk en kinders die God van die geskiedenis is nie. Hy behandel ons in ooreenstemming met die lig wat ons ontvang het. Vanweë die eie ge­skiedenis wat God met elkeen van ons deurloop en vanweë ons eie onvolmaakte staat moet ons baie versigtig wees om nie ons verworwenhede op ander te lê nie. Ons aanvaar mekaar nie op grond van praktyke of insigte wat deur die jare heen onder ons posgevat het nie. Ons aanvaar mekaar op die basis van God se Woord, soos ons dit bely in die Drie Formuliere van Eenheid. Laat ons dan versigtig wees dat ons nie gewetens wil bind bo die Skrifte uit nie. Laat ons die les van die Vrymaking van 1944 nie vergeet nie. Wat was die oorsaak van die Vrymaking? Nie soseer die verskille in insig oor die verbond nie. Die verskille was daar al sedert 1892 en veral na 1905. Die saak wat die Vrymaking genoodsaak het, was die feit dat die sinode die gewetens gebind het aan die een Kuyperiaanse opvatting, terwyl dit nie vanuit die Skrif bewys kon word nie en bo Skrif en belydenis was. In sy genade het die Here ons toe bevry van 'n nuwe slawerny sodat ons gereformeerd kon bly, vergader op die een fondament van die Woord van God. Hier geld dan die woord van God uit Gal. 5:1: "Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie."