2005. 4 bladsye.

Vertel dit aan die kinders

Oor die vertelling as ʼn waardevolle middel in die geloofsopvoeding🔗

“Seuns en meisies, pak weg! Johan, neem jy gou die boeke in. Elkeen se tafel moet skoon wees. Dit is amper tyd.”

Dis Vrydagmiddag, en almal sien altyd daarna uit. Nie net omdat dit dan amper naweek is nie. Die laaste kwartier van skool op Vrydae is altyd die lekkerste kwartier van die hele week, want dan vertel meneer sy vervolgverhaal. Elke Vrydag weer is daar ʼn nuwe episode. Saam beleef hulle spannende avonture, en dis wat Vrydagmiddae by die skool so besonders maak. Ander kere word daar nooit so vinnig en so netjies weggepak nie. Maar hoe vinniger dit gedoen word, hoe langer kan die verhaal wees. Eintlik is die tyd vir die verhaal veels te kort. Die tyd vlieg verby. Vanaf die eerste woord hang die hele klas aan die verteller se lippe. Weet hy ooit self hoe die verhaal volgende week verder gaan?

Elkeen het seker ʼn gelyksoortige herinnering aan sy skooljare. Die meneer of die juffrou wat goed kon vertel, dis diegene wat jy die beste onthou. Die vertellings is dikwels die aangenaamste herinnerings aan hom of haar. Wat maak die vertelkuns so besonders? Hoekom bly die verhale en die mense wat hulle vertel, so lank helder in jou geheue voortbestaan? In hierdie artikel gaan dit oor die belang van die vertelling vir die geloofsopvoeding. Daar word gekyk na: wat is dit om te vertel, wat gebeur, hoekom is dit so belangrik vir geloofsoordrag (asook vir jouself) en ten slotte hoe kan jy self vaardig daarin raak. Dalk is dit nie alles onbekende dinge nie, maar dit is tog goed om af en toe weer van bepaalde dinge bewus gemaak te word.

Wat is dit om te vertel?🔗

In wese is vertel ʼn manier van oorbring van kennis, van gebeurtenisse. Die besondere van vertel is dat jy self daardeur meegevoer raak. Jy kan amper nie buite jouself om vertel nie. Dit is dikwels goed om agter te kom wat die verhaal aan jouself doen. Anders gestel: as jy vertel, dra jy ook emosies oor. Jy gee iets van jou identiteit weg as jy vertel. Om te vertel is om ʼn verhouding aan te knoop.

Jy kan ʼn berig bloot meedeel, maar as jy dit as ʼn verhaal vertel, kan jy verseker wees van ʼn groter gehoor. Dan dramatiseer jy die berig min of meer. Jy boots na wat gebeur het.

Wat gebeur?🔗

As jy vertel, knoop jy in die eerste plek verhoudings aan. Jy leef jouself in, in ʼn persoon of in die gebeurtenis. Jy kies bewustelik ʼn posisie al dan nie. Van daaruit laat jy die luisteraar saamkyk. Net soos die fotograaf van ʼn koerant, kies jy ʼn invalshoek. Dis byvoorbeeld jou keuse om ʼn afstandelike toeskouer te wees, of om jou in te leef in die rol van een van die persone in jou verhaal. Kies jy vir laasgenoemde, beteken dit dat jy ʼn verhouding met daardie persoon aanknoop. Jy probeer om hom/haar so goed as moontlik tot lewe te bring in jou verhaal. Jy probeer jou voorstel hoe hy/sy die gebeurtenis beleef het. Wat daardie persoon sou gevoel of sou gedink het. Vir ʼn rukkie word jy die ander persoon. Dit het ʼn invloed op jou emosies om iets te vertel. Jy is bedroef of bly, jy kry seer, jy word kwaad. Jy ervaar die emosies van die ander persoon oor wie jy vertel.

Die tweede verhouding wat jy aanknoop is met die gehoor. Hulle kyk na jou. Hulle verwag iets van jou. Maar jy kyk ook baie goed na hulle. Hoe reageer hulle? Raak hulle meegevoer met jou verhaal? As dit nie die geval is nie, verloor jy as verteller meestal vir ʼn rukkie konsentrasie. Jy kry warm en probeer dan op ʼn ander manier. As jy egter agterkom dat jou luisteraars meegevoer raak, dan raak jy self ook steeds meer verdiep in jou verhaal. Dan gaan dit steeds beter. Vooraf beskou jy reeds jou luisteraars: is dit jong of ouer kinders? Hoe is die stemming? Hoe skep ek die regte atmosfeer? Hoe kan ek die beste by hul gedagtewêreld aansluit? Vir die tweede keer moet jy jouself inleef.

Die tweede ding wat by ʼn vertelling ʼn groot rol speel, is dat dit intiem is. Dit het te doen met die feit dat jy iets van jouself in ʼn verhaal insit. Sodoende kom verteller en luisteraar nader aan mekaar. Net soos die klas in die voorbeeld hierbo. Die leerders sien uit na die tydjie wanneer daar vertel word. Want dan belewe hulle saam iets wat spannend of ontroerend is. Dit bevorder samehorigheid. As jy ʼn verhaal aan klein kinders vertel, kruip hulle meestal styf teenaan jou. Hulle wil jou ook voel. Dit bied aan hulle daardie lekker “knus” veiligheid.

Dit lyk soms of kinders passief is wanneer ʼn verhaal vertel word, maar meestal is die teendeel waar. In hul koppe speel die draaiboek van jou verhaal. Hul verbeelding neem vrye teuels. Jy het hulle saamgeneem na ʼn ander wêreld. Hul energie word behoorlik getap, want dis uitputtend om te reis.

Tegelykertyd kan dit ook baie ontspannend wees. Dis nie verniet nie dat kinders reeds tydens die verhaal of net daarna in ʼn diep slaap kan val nie. Die luisteraar kan daarom nie passief bly nie. Jy word as vanselfsprekend in die verhaal ingetrek. As toehoorder knoop jy dus ook verhoudings aan: eerstens met die verteller, want jy gee jouself aan hom oor. Jy volg hom, jy neem waar, jy kruip so te sê in hom in. Hy neem jou saam “op sy reis”. Verder knoop jy ʼn verhouding aan met die persone wat in die verhaal ʼn rol speel. Deur “in jou verteller in te kruip”, kry ʼn mens werklik kontak met mekaar. Die hoofkarakter van die verhaal het byna net so tasbaar geword as die verteller wat hier voor jou staan.

Al hierdie elemente bymekaar – die verhoudings, die intimiteit en die betrokkenheid – lei daartoe dat die luisteraars in die verhaal inkom. In wese belewe hulle self ook die gebeurtenisse.

Die verteller het daarin voorgegaan. Want ʼn verhaal kan net goed vertel word as die verteller reeds self “daardeur gekruip” het. Die voorstellingsvermoë van die verteller moet eers deeglik aangespreek wees.

Dit lei daartoe dat die vertel van verhale dubbel rykdom oplewer. Eers word die verteller self verryk. Hy doen ʼn ervaring op, kruip heeltemal daarin, word so te sê een daarmee. Vervolgens deel hy hierdie belewenis met sy hoorders. By die vertelling kruip hulle op hul beurt weer daardeur. ʼn Mens sou kon sê dat ʼn gebeurtenis deur ʼn vertelling ʼn nuwe werklikheid word.

Hoekom vertel?🔗

Dit behoef waarskynlik geen betoog nie hoe belangrik en invloedryk ʼn vertelling is. Uit eie ervaring weet jy waarskynlik reeds dat die luister na verhale meestal ʼn spannende, uitdagende en aangename ervaring is. En ʼn verdere dimensie word nou toegevoeg: by die vertel van ʼn gebeurtenis word dit feitlik opnuut beleef. Dit bring die gebeure baie naby aan die luisteraar. Tydens die vertelling word nie net feite oorgedra nie, maar emosies kom ook daarmee saam. En dit lei daartoe dat verhale dieper en intenser by mense binnedring. Terwyl iets aan jou vertel word, vorm jy in gedagte self beelde. Hierdie beelde word gevorm met behulp van jou geheue en jou verbeelding. Alles wat jy self skep, steek beter in jou geheue vas.

Dit gee aan ʼn vertelling ʼn voorsprong bo bv. die kyk na films op televisie. Want dan is dit nie meer nodig om self veel te doen nie. Iemand anders (meestal die regisseur) het reeds vir jou die beelde uitgedink. Uit navorsing onder ʼn aantal leerlinge het geblyk dat amper 80% van ʼn televisieprogram na ʼn uur reeds uit hulle geheue verdwyn het. Fyner besonderhede is waarskynlik nooit opgemerk nie. Daarom geniet ʼn vertelling voorkeur. Want by ʼn vertelling het jy in ʼn sekere sin jou eie regisseur geword.

Bybelverhale🔗

In die kader van hierdie artikel word die aandag vernaamlik bepaal by die belang van die oordrag van Bybelverhale d.m.v. vertelling.

Met bostaande gegewens in gedagte blyk dit dat die vertel van die Bybelverhale die belangrikste middel is om Bybelkennis oor te dra. Dit kan nie nader aan die hoorders gebring word nie. Tydens die vertelling beleef die hoorders die gebeurtenis opnuut, hulle kruip daardeur, hulle word ʼn onderdeel daarvan. Hulle was as ‘t ware self daar. Veral deurdat hulle dit self beleef, dring hierdie belewenis diep in die hoorder in. Daar ontstaan ʼn verhouding. En hierdie verhouding kry ʼn intieme dimensie.

Die Here ons God weet natuurlik ook dat dit op hierdie manier by sy skepsele werk. Dis nie verniet nie dat Hy sy volk voorhou: vertel dit aan die volgende geslag. ʼn Paar voorbeelde waar Hy ons daartoe oproep:

  • Deuteronomium 4:9 – Neem jou net in ag en wees terdeë op jou hoede, dat jy die dinge nie vergeet wat jou oë gesien het nie, en dat hulle uit jou hart nie wyk al die dae van jou lewe nie; en jy moet dit aan jou kinders en jou kindskinders bekend maak.
  • Josua 4:21-24 – En hy het met die kinders van Israel gespreek en gesê: Wanneer julle kinders later hulle vaders vra en sê: Wat beteken hierdie klippe? dan moet julle dit aan julle kinders bekend maak en sê: Op droë grond het Israel deur hierdie Jordaan getrek, deurdat die HERE julle God die water van die Jordaan voor julle uit laat opdroog het, totdat julle deurgetrek het, soos die HERE julle God gedoen het met die Skelfsee wat Hy voor ons uit laat opdroog het, totdat ons deurgetrek het; dat al die volke van die aarde kan weet dat die hand van die HERE sterk is, sodat julle die HERE julle God altyd mag vrees.
  • Psalm 78:3-4 – Wat ons gehoor het en weet en ons vaders ons vertel het, sal ons nie verberg vir hulle kinders nie, maar aan die volgende geslag vertel die roemryke dade van die HERE en sy mag en sy wonders wat Hy gedoen het.

Hierdie opdrag aan die Israeliete om die groot dade van die HERE deur te vertel, is nie net gerig op die oordrag van die feite as sulks nie. Dit gaan ook oor die manier waarop dit gedoen word: vertel dit! Hy ken ons, want Hy het ons gemaak. Hy weet hoe alles binne-in ons werk. Nie net die feite moet bekend wees nie, maar ook die warmte, die intieme verhouding moet oorgedra word.

Om te vertel is die beste🔗

Wat van voorlees? Hoe mooi sommige mense dit ook kan doen, dit kom nie naastenby by ʼn verhaal wat self vertel word nie. ʼn Voorbeeld: Op pad huis toe is jy betrokke in ʼn kettingbotsing. As gevolg daarvan kom jy eers laat by die huis en is die kinders al in die bed. Jy gaan kry pen en papier en gaan sit by die tafel. Dan skryf jy alles neer wat jy beleef het: die mis, die harde slag, hoeveel motors daarby betrokke was, hoe jy dit ervaar het, die wegsleep van jou motor en hoe jy by die huis gekom het. Die volgende oggend aan tafel lees jy aan die kinders voor wat jy die vorige aand neergeskryf het. Dit werk mos nie so nie. Selfs al sou ʼn foto daarby wees. Jy moet die verhaal tog self vertel. Eers dan maak dit werklik indruk.

Dieselfde geld vir die voorlees van Bybelverhale. Daarmee bly jy meer op ʼn afstand. Deur jouself goed in te leef in ʼn verhaal en dit dan vanuit jouself te vertel, kan jy dit baie nader aan die kinders bring. Is dit moeilik? Dit kos wel baie moeite. Jy moet tyd daaraan bestee. Maar om te vertel as sulks is nie so moeilik nie. Elkeen van ons vertel elke dag oor iets wat hy of sy ervaar het. Jy dink nie eers daaroor na nie. Dit gaan as vanselfsprekend. Dus, basies het jy die vertelkuns in jou. Is dit lastig? Ja, in baie gevalle is dit seker so.

As ʼn mens nader daarop ingaan, blyk dat dit die lastigste is dat jy iets van jouself moet gee. Maar dit geld vir elke diepgaande gesprek met jou kinders oor die ware dinge van die lewe. Die basis van die oordrag van jou geloof lê daarin dat jy die Bybelverhale self eenvoudig vertel.

Daarom verdien dit aandag om jou daarin te bekwaam, in die belang van die gelowige opvoeding van jou kind.

Vaders wat vertel🔗

Jy kan die vertellings oorlaat aan die onderwysers by die skool of aan die moeder van die gesin. Maar dan bly ʼn wesenlike deel eenkant lê. Die opdrag om te vertel oor die groot dade van God is in die eerste plek aan die vaders gegee! (Kyk o.a. Josua 4:21). Die geloofsopvoeding begin in die gesin. Daar word die grondslag gelê. Ondersoeke het aan die lig gebring dat die ouers die meeste invloed het as dit kom by geloofsoordrag. En van die ouers het veral die vader die grootste invloed. Daarom die oproep: Vaders en moeders, laat jou kinders jou geloof sien. Vertel aan hulle daarvan. Waar die hart van vol is, daaroor kan die mond tog nie swyg nie.

In elk geval sal dit dubbele wins oplewer: Jy as verteller word self eers ryker deurdat jy jou in die Bybelverhaal inleef. En daarna kan dit nie anders nie: hierdie rykdom word uitgestraal na die hoorders, groot en klein. Daarom word met nadruk weer na vore gebring: laat ons hierdie ou, beproefde tegniek, die opdrag van God, weer ons eie maak. Tot heil van die volgende geslag.

Elkeen kan dit doen!🔗

Hoewel elkeen die vertelkuns van nature in hom moet hê, het die meeste mense dit verleer. Ons is amper te bang om dit te doen. En dit is jammer. Erger nog, dit is ʼn geleentheid wat verbygaan! Want elkeen kan vertel.

Hier volg tien wenke om ʼn paar stappe in die regte rigting te doen:

  1. Om te vertel verg voorbereiding. Lees die verhaal in die Bybel goed deur en probeer om agter te kom wat die bedoeling daarvan is. Wat moet ek vertel? Hoekom?
  2. Gebruik die kinderbybel net ter wille van die wyse van vertelling en nie vir die inhoud nie, aangesien dit nie altyd korrek is nie.
  3. Leef jou in die verhaal in en kies ʼn posisie van waaruit jy vertel. As jy bv. kies om die posisie van toeskouer in te neem, let daarop dat dit so bly gedurende die hele verhaal tot die einde.
  4. Wie is die hoofkarakter? Probeer om soveel as moontlik oor hom of haar te wete te kom, sodat jy die persoon goed kan plaas.
  5. Vertel in die teenwoordige tyd.
  6. Gebruik kort sinne.
  7. Bring die karakters al pratende in. Speel hulle na.
  8. Lyk bly as jy oor vreugdevolle dinge praat. Lyk kwaad en praat kwaai as kwaadheid ter sprake is. Oefen vooraf voor die spieël.
  9. Kyk na jou luisteraars. Hulle wil jou ook graag sien.
  10. Sluit die verhaal duidelik af. Sprokies eindig meestal met die sin: en hulle het nog lank en gelukkig geleef. Dit pas nie by Bybelverhale nie. Kies egter ʼn gepaste sin waarmee jy die verhaal afsluit. Dan kan die luisteraars stoom afblaas en reageer. Want dit sal hulle graag wil doen.

Dis dalk ʼn mooi uitdaging om tydens die Kerstyd te probeer vertel aan die hand van die Kersevangelie.