Bron: Wegwijs. 4 bladsye. Vertaal deur Neels Kornelius.

Vier Fees met die HERE

Die Here is ‘n God wat sy volk laat feesvier. Hy het op die almanak ‘n hele aantal feesdae vasgestel. Hoofstuk 23 van Levitikus bevat ‘n hele aantal afsprake om fees te vier. God het daar ‘n agenda bepaal, die ritme van ‘n week en ook die jaarlikse feesdae vir Sy verbondsvolk. God het gesê: Saam met My is daar lewe en word die lewe ‘n fees. By My mag julle werklik lééf. Die slawerny van Egipte lê nou agter julle; julle is vrygemaak om My te dien. Geen stresvolle samelewing meer nie; nie meer altyd maar net werk nie. Elke week gee Ek ‘n rusdag, die Sabbatdag: daarmee begin hierdie hoofstuk met die rus- en feesdae (Levitikus 23:3). Die gedagte wat die offers, die Sabbat en die feesdae wil deurgee, is: leef met My! En ten spyte van al die verskille tussen hierdie feeswette vir die eenvoudige, plattelandse samelewing van die Ou Testament en die moderne globale ekonomiese opset van vandag, meer as 2 000 jaar na Christus, is dit steeds die boodskap: julle mag saam met My leef – dag in dag uit, week in week uit, die hele jaar deur. Gód laat ons feesvier, want Hy versorg ons ons hele lewe. Dis ‘n fees saam met Hom!

Dis baie menslik om fees te vier. Elke kultuur en elke godsdiens het sy eie feeste. Maar met hiérdie God is daar werlik léwe en is daar rede om fees te vier!  Erken sy betrokkenheid by jou hele daaglikse lewe, vier sy bevrydende dade vir sy volk. Dit is eers regtig lewe. So verskyn op die almanak ‘n kombinasie van oesfeeste (Loofhuttefees en Pinksterfees) en feeste van die heilsgeskiedenis (Paasfees-Uittog). Vier fees – dankbaar en vol verwagting. Verwag alles van God!

Ek het onlangs in Veendam (Nederland) ‘n reeks preke gelewer oor ‘die Joodse feeste”. Ter wille van die skakeling met die skooljaar (wat in Nederland op 1 September begin) het ek met die Joodse Nuwejaar begin, die sewende maand. Ek hou ook hier by daardie volgorde: Loofhutte, Paasfees en die Fees van die Weke.

Die Groot Versoendag: groot erns🔗

Die siviele jaar het met die sewende maand begin en is op die eerste dag ingelui met die geskal van ramshorings (Rosj Hasjana, Levitikus 23:23-25). Daar was twee groot feeste in hierdie maand (September/Oktober): Die Groot Versoendag (die 10de, Levitikus 23:26-32) en vyf dae later die Loofhuttefees (15de tot 22ste, Levitikus 23:33-44). Dis ‘n groot kontras: diepe erns én uitbundige vreugde.

Lees gerus die hele ritueel van die Groot Versoendag, beleef die spanning en die erns daarvan. Eers die offer vir die hoëpriester, dan vir die hele volk. Die hand op die kop van die dier, wat vir ons sondes sterf. Dat ons mag leef en feesvier met God is ‘n wonder van genade – wat God ons op hierdie dag laat beleef. Hy baan self die weg: naby Hom, op die versoendeksel, word ons skuld bedek, versoen, gereinig. Dan is die sondes voor die Here regtig weggeneem. Dit mag Israel goed besef, wanneer hulle die ander bokram die woestyn in sien hardloop. Dis regtig weg.

Loofhuttefees: uitbundige vreugde🔗

Die Loofhuttefees was ʼn dankfees vir die oes in die beloofde land wat ‘n week geduur het. Die volk het hutte gemaak van takke van loofbome en teruggedink aan God se versorging gedurende die reis deur die woestyn, toe hulle in hutte of tente gewoon het, en hul kos en water uit God se hand ontvang het. Die oes is ingebring en verwerk: koring en gars is op die dorsvloer gedors, die olywe is gepluk, die druiwe is gepars. Uit dank bied die volk aan God geskenke daarvan aan (Deuteronomium 16:17). Ook noudat ons in die beloofde land gevestig is, en self werk vir die oes, het ons steeds alles aan God te danke (Deuteronomium 11:10-12). Sien jy dit voor jou: almal wat ‘n week lank saam in loofhutjies kamp!? Hoe moes die kinders dit nie geniet het nie. Iemand het geskryf: die hut is ‘kosher’ as dit voldoende wankelrig is: ‘n mens moet dit kan skud, want ons daaglikse bestaan is kwesbaar, wankelrig. En ons bly pelgrims op pad na God se koninkryk.

Die Skrif en (Joodse) tradisie🔗

  • Die manier waarop die Jode vandag nog hierdie feeste vier, is baie leersaam. Let veral op die verskil tussen die feeswette van Levitikus 23, eeue voor Christus, en die latere rabbynse voorskrifte van eeue na Christus. Met die hedendaagse Jode voel ons verbondenheid: hulle vier die fees uit Levitikus, maar ook pynlike afstand: die paaslam kom kort; vir hulle omdat daar geen tempel meer is nie, vir ons omdat Christus geslag is.
  • Daar bestaan ook ‘n Joodse tradisie tussen die Ou en Nuwe Testament, dis begryplik. Deur die eeue van die Ou Testament het tradisies ontstaan rondom die feeste. Een daarvan is die gebruik by die Loofhuttefees van die waterdra-seremonie, wat ons uit buite-Bybelse bronne ken. Priesters het die laaste water uit die fontein by Siloam in ‘n optog na die tempel gedra en gebid vir reën vir die nuwe seisoen. Dan verstaan ons skielik waarom Jesus tydens die Loofhuttefees uitroep: ‘As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.’ (Johannes 7:37,38). Dis pragtig hoe Jesus by hierdie tradisie aansluit en dit op Homself van toepassing maak.

Paasfees: dié bevrydingsfees🔗

God het die lyding van Abraham se nakomelinge in Egipte, waar hulle erg verdruk is, ter harte geneem. Die Here maak ‘n nuwe begin in die heilsgeskiedenis en bevry die volk Israel. Vir die eerste keer is daar sprake van ‘die volk’. Die maand waarin die Eksodus begin, word dan ook, op God se bevel, voortaan die begin van die jaar. Vier die Paasfees in die eerste maand, dit is in Maart/April (Levitikus 23:5-8 en Eksodus 12).

Telkens van voor af is die verhaal van God se bevryding vertel. Gedurende die paasmaal (die Seder) as antwoord op die vraag van ‘n seun: ‘Wat se aand is hierdie? Waarom is hierdie aand anders as ander aande?’ Dan word daar vertel van daardie eerste nag, die eerste Paasfees, van die bloed van die paaslam op die deurkosyn en dat God Egipte so gestraf het, maar Israel gespaar het.

Israel is nie maar net ‘n ‘vry’ volk nie, ook nie net ‘n ‘bevryde’ volk nie, maar ‘n ‘gespaarde’ volk. Die oorsprong van die bestaan van die volk is God se reddende ontferming. Later sou Israeliete hulle hierop beroem: ‘God het óns gered uit Egipte’ (vgl. Amos 9:7). Net asof God hulle nie ook maar moes spaar nie.

Matzos – die brood sonder suurdeeg🔗

By die uittog moes die Israeliete die maaltyd haastig eet: reg om te vertrek. Daar was nie tyd om deeg te laat rys nie, die brood is sonder gis, sonder suurdeeg gebak. Dit het geloof benodig, vertroue dat God hulle nog daardie nag sou bevry.

Een van die bakkers in Veendam maak nog elke week ‘suurdeegbrood’. Dit is brood wat nie met gis gebak word nie, maar met suurdeeg. Elke dag sit hy ‘n bietjie ou deeg in ‘n aparte bak, met telkens ‘n bietjie water, vir ‘n hele week. Hierdie deeg begin dan ‘verrot’ of fermenteer. Deur die fermentasie begin dit dan rys, maar ruik dan ook sleg. Dan begryp ons dat suurdeeg (chametz) ‘n simbool is van die sondes, wat ‘n mens se lewe bederf. Later het die Jode hulle voorberei met ‘n groot huisskoonmaak elke lente. Die kinders moes dan help deur die (soms versteekte) brood- en koekkrummels te soek

Paulus het dit ook op ons nuwe, heilige lewe in Christus van toepassing gemaak: ‘Verwyder dan die ou suurdeeg, sodat julle nuwe, ongesuurde deeg kan wees, en dit is julle ook. Ons paaslam is immers geslag: dit is Christus (1 Korintiërs 5:7). Dit is in ‘n brief aan die gemeente in Griekeland, waar baie lidmate oorspronklik heidene was en hierdie fees nie geken het nie

Vervulling in Christus, ons Paaslam🔗

Jesus die Messias is die uiteindelike vervulling van die Paasfees. Die bevryding van skuld deur Christus, die Lam van God, wat die sonde van die wêreld wegneem. Die Christelike kerk is ‘n ‘gespaarde’ volk. Gedagtes aan ‘‘n reg op redding’ is taboe. God het selfs sy eie Seun nie gespaar nie. Prof. F Viljoen skets in besonder hoe letterlik die vervulling deur Christus verloop het, byvoorbeeld:

  • Die lam moes op die tiende dag afgesonder word:
         Die vorige Sondag het die intog in Jerusalem plaasgevind.
  • Die lam is goed versorg en ondersoek tot die veertiende dag – dit moes sonder gebrek wees:
        Die laaste week voor Sy kruisiging het die Fariseërs en Saduseërs probeer om Jesus met vrae in ‘n val te lok; die Joodse Raad soek beskuldigings teen Hom; die Romeine het Hom ondervra en Pilatus kom tot die slotsom: ‘Ek vind geen skuld in hom nie’. By hierdie Lam is geen gebrek te vind nie.
  • Op die veertiende dag is die Pasga gevier en is die Paashallel (Psalm 113-118) gesing:
        Jesus het met sy dissipels die Pasga gevier, die nagmaal ingestel en hierdie psalms gesing – die Lam het Sy eie lyding besing!
  • Vanaf 9 uur is die lam voorberei:
        Jesus is om 9 uur die oggend gekruisig.
  • Om 3 uur is die lam geslag:
      Jesus het om 3 uur gesterf.
  • Geen beendere van die lam mag gebreek word nie:
      Die soldate het opdrag gekry om die bene van die gekruisigde mans te breek, sodat hulle gouer kon sterf, maar Jesus het toe reeds gesterf (Johannes 19:36).
  • Daar mag niks van die paasmaal oorbly tot die volgende dag nie:
        Jesus is van die kruis afgehaal voor die begin van die sabbat.
  • Die bloed van die lam moes aan die deurkosyn (of die altaar) gesmeer word:
        Jesus se bloed het oor die kruis gevloei.
  • Die wat agter die bloed van die lam geskuil het, is nie deur die oordeel getref nie:
        Die wat in vertroue skuil agter die bloed van die Lam, is bevry van die oordeel!

Die Fees van die Weke: die Pinksterfees🔗

Direk aansluitend na die Paasfees is ‘Die fees van die Eerstelinge’ gevier; die eerste gerf van die garsoes is as beweegoffer aan die Here gewy (Levitikus 23:9-14). Eers dankie sê, dan eers eet – in die vertroue dat die hele oes vanaf die Here ontvang sal word.

Na daardie dag is sewe weke getel tot by die volgende fees: ‘Die Fees van die Weke’ (Shavo’ot; Levitikus 23:15-22), wat dus op die vyftigste dag (7x7+1) na Paasfees geval het. In Grieks is 50 ‘pentakosta’ en ons woord ‘Pinkster’ is daarvan afgelei. Die Ou Testament het dus ook ‘n Pinksterfees geken: Die Fees van die Weke. Dan is die eerstelinge van die koringoes aan God gewy. Die Israeliete mog nie met leë hande voor die Here verskyn nie.

As die Here eerste kom in jou lewe, dan het jy ook ‘n gevoel vir jou naaste. Dit is dus nie verniet dat die boek Rut tydens die Fees van die Weke gelees is nie!

Die Pinksterdag van die Nuwe Testament val op dieselfde dag as die Pinksterfees, die Fees van die Weke, van die Ou Testament. Na Jesus se hemelvaart het die gelowiges in Jerusalem gewag op ‘die belofte van die Vader’ en is toe ‘verras deur die Gees’. Is daar ‘n spesiale betekenis in die feit dat die Gees juis op Pinksterfees uitgestort is? Of was daar ‘n meer praktiese rede: dat juis die groot aantal feesgangers deur die Gees kon hoor van die opstanding van Jesus, die Messias?

Nou dat die Messias van Israel sy bevrydingswerk volbring het deur sy bloed, die hemelse heiligdom binne gegaan het, en sy Gees uitgestort is – as ‘eerste gawe’ (Romeine 8:23), begin die tyd van die groot oes: uit alle volke word die gelowiges versamel vir die ryk van die Messias. Dit is meer as slegs die vervulling van die Fees van die Weke. Nou dat Christus gekom het, word die doel van die hele ou verbond bereik: met ‘n nuwe verbond.

Feeskalender deur die Gees🔗

Vier dus nou dat God die Draer van ons lewe is. Dit is die blywende boodskap van hierdie drie ‘groot feeste’. Loofhutte: God die Vader se versorging in ons daaglike lewe. Paasfees: Versoening met God deur Christus, die Paaslam, God se Seun. Pinkster:  Die Gees as die eerste gawe op pad na die Messiaanse ryk.

In die tydperk na Christus, die tyd van Pinkster, skryf God nie meer ‘n feeskalender voor nie. Dus ook nie die viering van die Christelike feesdae soos Kersfees, Goeie Vrydag, Paasfees of Pinkster nie. Dit is wel ‘n mooi uitbreiding daarvan. Maar dit gaan om veel meer. Dis nie voldoende om net die verband tussen die Joodse feeste en Christus te verstaan nie. Ondersoek die verband, via Christus, met jou hele lewe. Christus is die brandpunt waar al die seremonies en feesdae van die Ou Testament saamkom en nou, in die tydperk ná Pinkster, uitbrei na alle aspekte van ons daaglike lewe en ook die toekoms.

Vier die groot dade van God deur Christus. Vier dit nie net gedurende kerkdienste nie, maar in jou hele lewe. In die tydperk na Christus, mag ons, gelei deur die Gees, self ook vorm daaraan gee, op maniere wat eie is aan ons tyd en ons kultuur. Die oestyd was in die vroeë samelewing dikwels van uiterste belang vir die welvaart. In ons moderne samelewing is ander ekonomiese faktore belangrik. Vier egter dat God ons dra en, in Christus, Sy liefde en genade bewys. Bepaal self op watter wyse jy dit graag wil toepas – in jou persoonlike lewe, en ook saam met ander gelowiges, met verjaarsdae en ander herdenkings. Ook as gemeente. Ook wanneer jy jou maandlikse salaris ontvang, ‘n bonus of dertiende tjek. Vier dit met God en met mekaar. God dra ons deur ons hele lewe en in ons toekoms