Vier 'n Geestelike Feesmaal
Vier 'n Geestelike Feesmaal
Wie nadink oor die erediens, kry outomaties te doen met vraagstukke betreffende die viering van die heilige Nagmaal. Dit is duidelik uit die kerkgeskiedenis, waar aandag vir die liturgie onlosmaaklik in verband staan met belangstelling vir die nagmaalsviering in al sy fasette. So was die sestiende-eeuse Reformasie ʼn reformasie van die nagmaalsleer, wat weer praktiese gevolge vir die konkrete viering van die sakrament gehad het. In die nagmaal kom baie (essensiële) lyne en aspekte van die Christelike geloof bymekaar, en dit maak liturgiese vrae met betrekking tot hierdie sakrament dus ook boeiend.
Die omgekeerde is ook waar: om oor die nagmaal te praat en na te dink kan nie gebeur sonder om ook met die wese van die geloof in aanraking te kom nie.
Die nagmaal word hier belig vanuit die vraagstelling of dit passend is om hierdie sakrament op Goeie Vrydag te vier. Op hierdie vraag word deesdae teenstellende antwoorde gegee. Dit mag dalk lyk na ʼn kwessie van details, maar die antwoord op hierdie vraag hang ten nouste saam met die visie op die nagmaal.
Vroeë Kerk en Middeleeue⤒🔗
Vanaf die tyd van die vroeë Christelike kerk hou die kerk samekomste op Sondag, die dag van Christus se opstanding. Elke Sondag is gesien as ʼn getuienis van die oomblik toe Jesus die dood oorwin het. Die gewoonte om jaarliks die Paasfees te vier, is vermoedelik net so oud. Dis nie seker presies wanneer nie, maar al gou het die Vrydag voorafgaande aan Paassondag ʼn vasdag geword, dus ʼn dag wat in die teken van boete en berou gestaan het.
Waarskynlik reeds voor die vierde eeu is daar op die dag van Christus se lyde en sterwe ʼn Woorddiens gehou, waarby die voorlesing van die lydensverhaal uit die Johannes-evangelie sentraal gestaan het. In later tye het heelwat rituele rondom en op Goeie Vrydag ontstaan, waaroor nie nou uitgewei hoef te word nie.
Vir ons onderwerp is dit relevant dat die eucharistie (letterlik: danksegging) nooit op die “dag van bitterheid” – soos Augustinus Goeie Vrydag genoem het – gevier is nie. Ook in die Middeleeue het die kerk haar daaraan gehou om op daardie dag geen mis op te dra nie. Dit het te doen gehad met die eenheid wat hulle gesien het tussen Christus se lyde, sterwe, begrafnis en opstanding. Augustinus het dan ook gepraat van “die triduüm van die Gekruisigde, Begrawene, Opgestane”. Die Paasfees het uit drie dae bestaan: Vrydag, Saterdag en Sondag. Die nagmaal is gevier op die hoogtepunt van die fees: op Paasoggend. Dit is dus op die oomblik waarop die versoening en die oorwinning tot stand gebring is.
Die feit dat hulle die lyding en die opstanding van Christus as onlosmaaklik aan mekaar verbonde gesien het, ook in verhouding tot die viering van die nagmaal, kom duidelik na vore in die nagmaalsgebed uit die Traditio Apostolica van Hippolytus (derde eeu):
Toe Hy Homself vrywillig oorgegee het om die lydensweg te gaan, om die dood te vernietig, die hel met die voet te betree, die regverdiges te verlig, die geloofsreël te vestig en die opstanding te openbaar, het Hy die brood geneem, die danksegging uitgespreek en gesê: Neem, eet (…) Gedagtig aan sy dood en opstanding, bied ons U aan die brood en die beker…
In die lig van die hele ontwikkeling met betrekking tot die viering van die Paasfees (insluitende dus Goeie Vrydag) was dit in die eerste vyftien eeue van die Westerse kerkgeskiedenis ondenkbaar om op Goeie Vrydag die nagmaal te vier (oftewel: op daardie dag die mis op te dra).
In die sewende of agste eeu is wel daartoe oorgegaan om op die Donderdag voor Goeie Vrydag (die sg. Wit Donderdag) ʼn dankseggingsdiens te hou, onder andere ter gedagtenis aan die instelling van die nagmaal.
Origens het dit in die Middeleeue algemene praktyk geword dat baie Christene amper nie meer aan die kommunie deelgeneem het nie. Die viering van die hostie het ʼn belangriker plek ingeneem as die daadwerklike ontvangs van die brood. Dis kenmerkend dat die Vierde Lateraanse Konsilie (1215) gelowiges opgeroep het om ten minste met Paasfees aan die kommunie deel te neem.
Die Reformasie←⤒🔗
Tydens die sestiende-eeuse Reformasie is heelwat nagedink oor die vraag hoe dikwels en wanneer die nagmaal gevier moet word. Alle reformatore het gepleit vir ʼn meerdere viering van die nagmaal as wat tot dan toe gebruiklik was. Omdat dit vir ons huidige situasie die mees tersaaklike is, word hier gekonsentreer op die Zwingliaanse en Calvinistiese tradisie.
In die Zwingliaanse reformasie het die gewoonte ontstaan om met Paasfees, met Pinkster en met Kersfees die nagmaal te vier. Tussen Pinkster en Kersfees was daar egter ʼn lang tydperk (ongeveer ʼn halfjaar) waarin geen nagmaalsviering sou plaasvind nie. Daarom het die gebruik ontstaan om ongeveer in die helfte van daardie tydperk – in September – ook een keer die nagmaal te bedien.
In die gereformeerd-protestantse tradisie het dit in die reël ook gebruiklik geword om vier keer per jaar die nagmaal te vier. Teen die wil van Calvyn in het die kerkraad van Genève besluit om die Zwingliaanse gewoonte te volg. Daardie besluit was nie vreemd nie, want maatskaplik en polities was Genève destyds sterk onder die invloedsfeer van die Zwingliaanse Bern.
Calvyn was egter die mening toegedaan dat dit in lyn was met die Skrif en die gebruik in die ou kerk om in elk geval – dus: minstens – elke Sondag die nagmaal te vier. Maar vanweë die “swakheid van die volk” (ʼn weeklikse viering sou maklik lei tot misbruik en veragting van die sakrament) wou hy voorlopig as kompromis met ʼn maandelikse viering genoeë neem. Die bediening van die sakrament moes dan egter nie in die drie kerke van Genève op dieselfde Sondag bedien word nie, maar om die beurt. So sou in elk geval op drie Sondae in die maand die nagmaal in ʼn stadskerk bedien word.
Ondanks herhaalde pogings kon Calvyn selfs ʼn maandelikse viering in Genève nie laat realiseer nie, laat staan ʼn weeklikse viering. Die owerheid van Genève het gehou by ʼn viermaandelikse viering. In 1561 het die reformator nog eens die wenslikheid van ʼn maandelikse viering onderstreep. Daarby het hy beklemtoon dat dit, wat hom betref, die minimum was en dat die kerke in die toekoms hopelik die moontlikhede sou sien om die nagmaal meer dikwels te vier.
Nederland←⤒🔗
Die wens van Calvyn is in elk geval nie in die Nederlandse kerke verwesenlik nie. Kort na die Reformasie was daar nog geen sinodale bepalings oor die frekwensie van die nagmaalsviering nie. Die Provinsiale Sinode van Dordrecht het in 1574 bepaal dat die kerke sover as moontlik elke twee maande die nagmaal van die Here sal hou. Hierdie besluit is verskeie kere herhaal, onder andere deur die nasionale sinodes van Dordrecht (1578), Middelburg (1581) en Den Haag (1586). Laasgenoemde sinode het bowendien bepaal dat die nagmaal gevier sou word op “den Paesdagh, Pinxter-dagh ende Christ-dagh”. Dit is dus die Zwingliaanse gewoonte soos hierbo genoem.
Dit alles is deur die beroemde Dordtse Sinode van 1618/1619 oorgeneem. Sedertdien het as artikel 63 in die ou Nederlandse Kerkorde gestaan: “Die nagmaal van die Here sal eenmaal in twee maande, vir sover dit moontlik is, gehou word; en dit sal stigtelik wees; en as die kerke die geleentheid daartoe het, sal op die Paasdag, die Pinksterdag en die Kersdag dieselfde geskied. Maar hier ter plaatse waar nog geen Kerklike orde is nie, moet eers ouderlinge en diakens, indien moontlik, aangestel word.”
Die ideaal van die sinode was dus dat die nagmaal nege keer per jaar gevier sou word: een keer in twee maande sowel as op die drie Christelike feesdae.
In die Gereformeerde Kerke in Nederland het hierdie bepaling in die Kerkorde gebly tot die Algemene Sinode van Utrecht in 1905. Toe is die Kerkorde-artikel aangepas by die situasie wat op daardie stadium in die meeste gemeentes aangetref is: “Die nagmaal van die Here sal ten minste elke twee of drie maande gehou word.” Hierdie artikel het dus beteken dat die frekwensie van die nagmaalsviering amptelik verlaag is. Ook is die bepaling oor die viering van die nagmaal op die drie Christelike feesdae geskrap.
In die uitgawe van die Kerkorde wat in die Gereformeerde Gemeentes in 1907 vasgestel is, is die oorspronklike artikel uit die Dordtse Kerkorde behou.
Negentiende Eeu←⤒🔗
Tydens die Reformasie is die nagmaal nóg in Nederland nóg in die buiteland op Goeie Vrydag bedien. Sterker nog, in die gereformeerd-protestantse tradisie was dit tot laat in die negentiende eeu ʼn onderwerp van bespreking of Goeie Vrydag ooit as ʼn Christelike gedenkdag aangedui mog word en of daar op dié dag ooit ʼn erediens belê mog/moes word.
Hoewel daar uitsonderings was, was dit tot ongeveer 1800 in Nederland nie gebruiklik om eredienste te hou op die Vrydag voor Paasfees nie. Vanselfsprekend is hulle dus ook nie gekonfronteer met die vraag of ʼn viering van die nagmaal op Goeie Vrydag wenslik en paslik is al dan nie.
In die laaste jare van die agtiende eeu het daar in Delft ʼn (nie-kerklik gebonde) godsdienstige genootskap ontstaan wat verbetering van die kerkdiens ten doel gehad het. Op 6 April 1798 het hierdie genootskap, genoem “Christo Sacrum”, vir die eerste keer op Goeie Vrydag die nagmaal gevier om “ter versterking van die geloof die gedagtenis aan die saligmakende dood van Jesus Christus deur brood en wyn te verlewendig.”
Sowel die hou van eredienste op Goeie Vrydag asook om tydens hierdie dienste die nagmaal te vier, het in die negentiende eeu al meer na vore gekom. Die wens om nagmaal op Goeie Vrydag te vier, is ʼn verskynsel wat in daardie eeu in nie-ortodokse stromings ontstaan en wortel geskiet het.
Die negentiende-eeuse moderniste het egter onverskillig teenoor die sakramente gestaan. Die nagmaalsviering het by hulle dus al minder en minder voorgekom. En wanneer hulle wel die nagmaal gevier het, het dit dus dikwels uitsluitend op Goeie Vrydag gebeur. In vrysinnig-protestantse kringe was die nagmaal veral ʼn maaltyd ter herinnering aan ʼn gestorwe vriend.
Hierdie visie op die nagmaal is uiteraard ʼn voortsetting van die vrysinnige gedagtegang. Want as Jesus nie die Christus is nie en ook nie uit die dood opgestaan het nie, soos daar gestel is, bly daar van Hom nie veel meer oor nie as dat Hy net ʼn mens was wat ʼn goeie voorbeeld gestel het, maar wat ondanks sy onskuld tragies tot sy einde gekom het. Binne hierdie visie kon die nagmaal natuurlik nie langer gesien word as die maaltyd van die Opgestane nie (Paasfees), maar slegs as ʼn herdenkingsmaaltyd aan ʼn oorlede mens (Goeie Vrydag). Die sterfdag van Jesus was by uitstek geskik om hom by brood en beker te herdenk.
Ortodoks-Protestantse Kringe←⤒🔗
In die negentiende eeu was daar ook ortodoks-protestantse persone en kerklike vergaderings wat gedink het dis ʼn goeie idee om op die Vrydag voor Paasfees die nagmaal te vier. In sy strewe dat Goeie Vrydag “meer en meer na waarde gevier” sou word, het die hervormde sinode (Nederland) van 1853 die viering van die nagmaal beskou as ʼn bruikbare middel om die gepaste waardigheid aan die erediens te gee.
Almal was egter nie gelukkig daarmee nie. In die tydskrif Ernst en Vrede (1858, p. 165) het D Chantepie de la Saussaye, destyds predikant te Leiden, geskryf:
…by die toenemende afsondering van Goeie Vrydag, ook wat betref die viering van die Heilige Nagmaal, wil ek die vraag na vore bring: of ʼn mens hierdeur nie aanleiding gee tot die voorstelling van die Nagmaal as slegs ʼn herinnering aan die dood van die Here nie, met die tersydestelling van ʼn meer evangeliese en baie ryker denkbeeld van gemeenskapsbeoefening met die lewende Here, waartoe die Paastekste soveel te meer aanleiding gee.
Soortgelyke proteste het egter nie gebaat nie: rondom 1900 was dit in die Nederlandse Hervormde Kerk oor die algemeen gebruiklik om op Goeie Vrydag die nagmaal te vier. Dikwels is dit selfs beskou as die belangrikste nagmaalsviering van die jaar.
Afskeiding en Doleansie←⤒🔗
In die kerke wat uit die Afskeiding en Doleansie ontstaan het, is gedebatteer oor die vraag of en in hoeverre Goeie Vrydag as ʼn kerklike gedenkdag gehou mog word. Oor die algemeen was die situasie so dat die afgeskeie kerke sterk gekant was teen Goeie Vrydag as gedenkdag waarop ʼn erediens belê is, terwyl die kerke wat in 1886 met die Doleansie saamgegaan het, reeds ʼn paar dekades lank vertroud was met eredienste op Goeie Vrydag. In die dolerende kerke was daar meer begrip vir die verskynsel, maar ook hier het die sinode in 1890 uitgespreek dat om “’n viering” van Goeie Vrydag in te voer, nie aanbeveel word nie.
Die vraag of die nagmaal ook op Goeie Vrydag gevier kon word, is binne die gereformeerde kerke nadruklik negatief beantwoord. Byvoorbeeld: in 1887 het die Nederduitsche Gereformeerde sinode uitgespreek: “Ooreenkomstig die Kerkorde sal die Heilige Nagmaal in elke kerk ten minste sesmaal per jaar, en nie op die Goeie Vrydag nie, bedien word.”
Soos hierbo reeds vermeld, is in 1905 in die Gereformeerde Kerke in Nederland die bepaling oor die nagmaalsviering op die Christelike feesdae uit die kerkorde geskrap. Die oorspronklike bepaling uit die Dordtse Kerkorde waarin die nagmaalsviering op die Christelike feesdae aanbeveel word, word vandag nog net in die kerkorde van die Gereformeerde Gemeente gevind.
Goeie Vrydag as gedenkdag is in die sewentigerjare van die twintigste eeu in die vrygemaak-gereformeerde kerke amptelik kerklik vasgestel: in die Kerkorde (1978, art. 68) staan die dag by die feesdae waarop die kerkraad die gemeente moet saamroep vir ʼn openbare erediens. Ook die Voortgesette Gereformeerde Kerke in Nederland vermeld in hul kerkorde (konsep-uitg. 2004, art. 60) Goeie Vrydag by die feesdae waarop die kerkraad die gemeente moet saamroep.
Die idee om op Goeie Vrydag die nagmaal te vier, is na die Tweede Wêreldoorlog herhaaldelik deur die sinodaal-gereformeerde kerke geopper. In die vrygemaak-gereformeerde kerke word hierdie idee veral in die laaste twee dekades soms genoem.
Passie en Paasfees←⤒🔗
Dit spreek vanself dat die inhoudelike motivering om te pleit vir ʼn nagmaalsviering op Goeie Vrydag, by gereformeerdes totaal anders is as by die vrysinniges in die negentiende eeu.
Dat sommige gereformeerdes die nagmaal op Goeie Vrydag wil vier, kom hoofsaaklik voort uit die gedagte dat dit passend is in ʼn diens waarin die lyding en sterwe van die Here spesifiek aandag kry. Die nagmaalsviering is mos die verkondiging van die dood van die Here (1 Korinthiërs 11:26). Christus het Homself vir ons oorgegee in die dood: dit word deurvertel so dikwels as wat die nagmaal gevier word. Die bestanddele van “brood” en “wyn” word deur Jesus Christus aangedui as sy gebreekte liggaam en sy vergote bloed, wat ook onmiskenbaar heenwys na sy lyding en veroordeling.
Die “gedagtenis”-deel in die klassiek-gereformeerde nagmaalsformulier vertolk op ʼn onnavolgbare manier die onverbreeklike verband tussen Christus se lyding en sterwe en die viering van die nagmaal:
So dikwels as wat julle van hierdie brood eet en uit hierdie beker drink, sal dit vir julle soos ʼn betroubare pand wees, wat julle aan My hartlike liefde en trou jeens julle herinner en daarvan verseker. Ek het mos vir julle, wat anders die ewige dood moes sterwe, my liggaam aan die kruishout in die dood gegee en my bloed gestort. En Ek voed en verkwik julle hongerige en dorstige siele met my gekruisigde liggaam en uitgestorte bloed tot die ewige lewe. Dit is ewe seker as die brood wat voor julle oë gebreek word en die beker wat aan elkeen gegee word en julle tot my gedagtenis daarvan eet en daaruit drink.
Lyding, Dood en Opstanding←⤒🔗
Dit lyk dus asof daar steekhoudende argumente is om die nagmaal op Goeie Vrydag te vier. Tog is die onderbou daarvan onvoldoende en nie deurslaggewend nie. Daar word naamlik te eensydig geargumenteer vanuit die verhouding tussen die nagmaal en die heilsfeite wat op Gólgota plaasgevind het. Die nagmaal word te beperk beskou as gedagtenis aan Hom wat gely en gesterf het.
Uit die Skrif leer ons dat Christus se lyding en sterwe nie losgemaak kan word van sy opstanding nie. Hierdie eenheid word onder meer verwoord in Romeine 6:
Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ʼn nuwe lewe kan wandel. Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding. Romeine 6:4-5
ʼn Entjie verder in die Romeine-brief skryf Paulus selfs: Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.Romeine 8:34
Die gemeente deel in Christus se lyding én verheerliking. Deur die Gees laat Christus “ons in ware gemeenskap met Hom lewe en in al sy rykdom, die ewige lewe, geregtigheid en heerlikheid deel.” (nagmaalsformulier). Hier kan ons ook dink aan wat die kerk bely in Sondag 17 van die Heidelbergse Kategismus: deur die opstanding het Christus die dood oorwin, “sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig kon maak.”
Die eenheid in die Bybel tussen die sterwe en die opstanding van Christus het Calvyn as volg onder woorde gebring:
Laat ons daaraan dink dat, so dikwels as wat van die dood alleen melding gemaak word, terselfdertyd daaronder verstaan word dit wat eie is aan die opstanding, en dat ook, so dikwels as wat die opstanding afsonderlik genoem word, net so ook daaronder verstaan word dit wat in die besonder by die dood pas.
Die Bybelse gegewe van die onlosmaaklike band tussen Christus se vernedering en verhoging het in die vroeg-Christelike nagmaalsgebede gestalte gekry deur die sakrament op die volle heilswerk van Christus te betrek.
In die Vroeë Kerk het dit ook vorm aangeneem deur Goeie Vrydag en Paasfees as een fees te beskou. Die Paasfees het uit drie dae bestaan, en die nagmaal is gevier op die hoogte-punt van die fees: Paassondag. Op grond van die eenheid van Christus se lyding, sterwe en opstanding was daar geen sprake dat die nagmaal reeds op Goeie Vrydag gevier sou word nie.
Eeue later het Abraham Kuyper dieselfde standpunt verdedig. In 1888 het hy beswaar daarteen gemaak dat kruisiging en opstanding uit mekaar getrek word deur die nagmaal op Goeie Vrydag te bedien. Volgens hom moes die nagmaal op die Paasfees gevier word.
Gedenk die Léwende Here←⤒🔗
In die lig van die noue eenheid tussen Goeie Vrydag en Paasfees, is dit dus nie logies nie en nie gewens nie om die nagmaal op die lydensvrydag te vier nie. ʼn nagmaalsviering op Goeie Vrydag konsentreer ons gedagtes te eensydig op die verhouding tussen die sakrament en die lyding en sterwe van die Here. Dit is egter altyd die léwende Here wat sy tafel van die nuwe verbond berei. En dit is die gemeente wat as liggaam van die opgestane Here (1 Korinthiërs 12:27) die dood van die Here verkondig.
By die nagmaal gaan dit nie daaroor om maar net die herinnering aan Iemand wat gesterf het, lewendig te hou nie. Net so min is dit in die eerste plek die bedoeling van die nagmaal om ons aandag te bepaal by ʼn historiese heilsfeit (nl. die lyding en sterwe van Christus as versoening van die sondes). By brood en beker gedenk die gemeente Christus soos sy Hom ken en soos Hy is: die lewende Here wat gely het, gesterf het, opgestaan het en opgevaar het (vandaar: sursum corda – die harte omhoog!) en wat aan die regterhand van die Vader sit vanwaar Hy sal terugkom. In die gebed in die nagmaalsformulier word gesê dat nie die sonde nie, maar Christus in ons en ons in Hom moet léwe.
Vanuit ʼn ander gesigspunt gesien: die nagmaal is bo alles om gemeenskap met Christus te hê (1 Korinthiërs 10:16). Hierdie gemeenskap beteken nie net om te deel in die weldade van die gekruisigde Christus nie, maar ook van die verhoogde Christus. Daarom gaan dit nie net oor die gedagtenis aan die Here wat gely en gesterf het nie, maar ook oor Hom wat opgestaan het, na die hemel opgevaar het, sy Gees gestuur het en op die wolke sal terugkom.
Maaltyd: Verbond en Gemeenskap←⤒🔗
Christus het die nagmaal ingestel as maaltyd van die nuwe verbond. Van oorsprong sluit die nagmaal aan by die Bybelse gegewe dat ʼn maaltyd uiting gee aan verbond en verbondenheid. In die Skrif was die hou van ʼn maaltyd nou verbonde aan begrippe soos “gemeenskap” en “verbond”. Nadat Jakob en Laban ʼn verbond gesluit het, het hulle ʼn kliphoop as gedenksteen opgerig en “…daar op die hoop geëet.” (Genesis 31:43-46). Ons kan ook dink aan Exodus 24 (vs. 9-11) waar geskrywe staan dat Moses, Aäron, Nadab en Abíhu ná die verbondsluiting die berg Sinai opgeklim het, en “…hulle het God aanskou; daarop het hulle geëet en gedrink.”
So is ook die nagmaal ʼn maaltyd in die Oosterse sin van die woord: dit is die maaltyd waarin herstel van die gemeenskap met God gevier word, en as uitvloeisel daarvan: ook die gemeenskap met mekaar (diakonie!).
Ons sien dus dat die nagmaal méér is as die herdenking van Christus se lyding en sterwe. Dit is tegelyk die maaltyd van die opgestane Here en dit is ook die maaltyd waarin die gemeenskap met God en met mekaar gevier word.
Toekomsverwagting←⤒🔗
In die Skrif lees ons herhaaldelik dat die maaltyd oor die algemeen as ʼn feestelike gebeurtenis beskou is. Dit geld ook vir die nagmaal. Daar is blydskap oor die heil in Christus, oor die gemeenskap met God en met mekaar. En daar is blydskap oor die ryk van God wat eendag ten volle geopenbaar sal word.
Daarmee kom ons ʼn ander aspek teë wat fundamenteel is vir elke nagmaalsviering: die nagmaal is onlosmaaklik verbonde aan die Christelike toekomsverwagting en die besef dat die Messiaanse heilstyd aangebreek het. Die onverbreeklike verbondenheid van die nagmaal met Christus se toekoms en wederkoms blyk uit wat Paulus in 1 Korintiërs 11 skryf:
want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.
Christus self het ʼn noue verwantskap tussen die nagmaal en die koninkryk van God gelê. Daar is mos ʼn beker van die nuwe verbond. By die oorhandiging van die beker het Hy gesê: “…Ek sal van nou af nooit meer van hierdie vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader.” (Matteus 26:29; vgl. Markus 14:25; Lukas 22:15-17).
Die nagmaal is die maaltyd van die Messiaanse ryk wat deur Christus se dood en opstanding gevestig is en wat by sy wederkoms voltooi sal word. Nagmaal is die maaltyd van die voleinding; aan die nagmaalstafel ontvang die kerk ʼn voorsmaak van die bruilofsmaal van die Lam (Openbaring 19:9). Daardie bruilof gaan gepaard met blydskap, vreugde en lofprysing, soos duidelik blyk uit Openbaring 19:7. Nagmaalsviering is ʼn vreugdevolle gebeurtenis; dit is die “heerlike gedagtenis van die bittere dood” van Jesus Christus (gebed, klassiek-gereformeerde nagmaalsformulier).
Die sakrament kán nie – by wyse van variasie – ʼn vreugdevolle karakter kry nie, maar hét dit volgens sy aard altyd. Blydskap, vreugde en danksegging kenmerk nie maar net bepaalde oomblikke voor, tydens of na die nagmaalsviering nie, maar dit kenmerk die hele viering. Die naam “eucharistie” (= danksegging) wat in die kerkgeskiedenis vir die nagmaal gebruik is, is daarom ʼn pragtige benaming, omdat dit ʼn treffende tipering van die sakrament is.
Die heilige nagmaal is geen uitsondering op die Bybelse reël dat vreugde, blydskap en feesviering hand aan hand gaan met die bereiding van (fees)maaltye nie. Daarvan is daar baie voorbeelde, soos bv. Jesaja 25:6-12. Die vreugde oor die eskatologiese voltooiing bereik ʼn hoogtepunt wanneer die HERE op die berg Sion ʼn feesmaal vir alle volke berei.
In werklikheid is die nagmaal deur die Here Jesus ingestel tydens die pasga, ʼn onbetwisbare vreugdemaaltyd ter gedagtenis aan die uittog, die bevryding uit Egipte. So is die nagmaal ʼn vreugdevolle gedagtenis aan die uittog uit die ballingskap van sonde en dood. Dus: passie én Pase in een. Weer eens sien ons dat die nagmaal nie eensydig aan Gólgota gekoppel kan word nie.
Ons moet dus daarteen waak dat die vreugdevolle karakter wat eie aan die nagmaal is, nie te veel onder druk kom nie, bv. deur dit nou juis op Goeie Vrydag te wil vier.
ʼn Geestelike Feesmaal←⤒🔗
Die pleidooi om op die Vrydag voor Paassondag die sakrament te bedien, hang saam met ʼn visie op die nagmaal waarin die aspek van die verkondiging van Christus se lyding en sterwe oorheersend is. Vermoedelik speel die feit dat gereformeerdes meestal die selfbeproewing en die sondebesef in die kader van nagmaalsviering beklemtoon, ook hierin ʼn rol, wat vanuit die geskiedenis (met name die Nadere Reformasie) verstaanbaar is. Ook hierdie sake pas beter by Goeie Vrydag as by Paasfees.
In hierdie verband word daarop gewys dat die klassiek-gereformeerde nagmaalsformulier nogal nou aansluit by hierdie eensydige visie op die nagmaal. Al is die formulier ryk en mooi, tog word bepaalde aspekte van die nagmaalsviering, soos die onderlinge gemeenskap en die eskatologiese verwagting, onderbelig. Dit lê dus voor die hand dat die nagmaalsformulier een van die oorsake is dat die nagmaal meer geassosieer word met Goeie Vrydag as byvoorbeeld met Christus se wederkoms.
Hierdie visie op die nagmaal sal versterk word wanneer ons in die erediens op Goeie Vrydag die nagmaal sou vier. Dit sal verseker daartoe lei dat in daardie eredienste
-
as gevolg van die nagmaalsviering
-
iets van Christus se lyding op ʼn besondere manier ervaar word. Maar ʼn gevolg sal ook wees dat fundamentele aspekte van die nagmaal (nog meer?) op die agtergrond geskuif word of selfs uit die sig verdwyn.
Sodoende het die nagmaalsviering op Goeie Vrydag onherroeplik ʼn negatiewe effek op die vreugdevolle sowel as die eskatologiese karakter wat eie aan die sakrament is. Op die Vrydag voor Paasfees kom ons mos in die besonder byeen om die lyding en sterwe van die Here te gedenk. Binne hierdie liturgiese konteks word die nagmaal feitlik outomaties (te) eensydig beklemtoon as ʼn maaltyd ter gedagtenis aan Christus se lyding en sterwe. Soos blyk uit die geskiedenis van ander kerkgenootskappe, is dit nie denkbeeldig nie dat die viering van die heil dan te veel ontaard in rou oor Christus se dood. Die “geestelike feesmaaltyd” (NGB art. 35) kry ʼn sweem van rou en word op Goeie Vrydag onafwendbaar meer van ʼn “lydensmaaltyd”.
Slotsom←⤒🔗
Samevattend kan die gevolgtrekking gemaak word dat dit nie wenslik is om op Goeie Vrydag die nagmaal te vier nie. Die argument wat in die kerkgeskiedenis verskeie kere gehoor is, nl. dat Christus se lyding en sterwe dan te veel ontkoppel word van sy opstanding, is vandag nog net so sterk.
Bowendien het dit uit die geskiedenis geblyk dat ʼn nagmaalsviering op Goeie Vrydag die nagmaal te beperk belig vanuit Christus se lyding, waardeur ander ewe belangrike aspekte van die nagmaal nie of amper nie aan die lig kom nie.
Die gevolgtrekking staan ook in verband met die feit dat daar in die gereformeerd-protestantisme in die meeste eredienste geen nagmaal gevier word nie. Wanneer die nagmaalsviering wel die onderwerp van bespreking is, dan handel dit, heel tereg, oor die frekwensie van die viering. Sou die frekwensie vermeerder word, dan moet in die eerste plek nie aan Goeie Vrydag nie, maar wel aan Paasfees gedink word.
Uit die kerkgeskiedenis – ook die gereformeerde tradisie – het geblyk dat dit die praktyk (of eerder: die wens) was om in elk geval met Paasfees, Pinksterfees en Kersfees die nagmaal te vier. As ons vandag die nagmaal meer dikwels wil vier, dan moet dit in oorweging geneem word om eerder aan hierdie feesdae te dink.