Bron: Vox Viva. 3 bladsye.

Vir wie God 'n Vader is, sal die kerk 'n moeder wees

Hoeveel keer het jy dit al gehoor aan die begin van die eerste gebed in die erediens – dank word uitgespreek teenoor die Here dat Hy ons deur sy Heilige Gees weer as gemeente van Christus bymekaar gebring het? En so is dit ook. Maar besef ons nog wel wat ons bid? Sonder dat ons altyd besef hoe belangrik dit is, spreek ons daarmee ons geloof uit in die werk van Christus. Ons praat oor iets wat Chrístus doen – Hy vergader, beskerm en onderhou sy gemeente hier op aarde. Daar waar die gemeente van Christus onder die gesag van sy Woord en Gees vergader word. Ons sien tog nie alleen raak wat mense doen nie!? Die kerkraad roep die gemeente byeen vir ‘n erediens en die gelowiges kom! Maar dit wat só ‘n vergadering onderskei van ‘n vergadering wat bloot deur mense georganiseer is, is dat Christus ons bymekaar gebring het.

Christus bring ons by mekaar, want Hy is soos ‘n herder wat sy skape versamel. Hy wil ons versamel om, in die woorde van Heb. 2 : 12, die Naam van die Here aan sy broers te verkondig en in die midde van die gemeente wil Hy die Here prys. In Sondag 21 van die Heidelbergse Kategismus gaan dit oor die vraag : “Wat is die kerk?” Dikwels antwoord mense dit soos volg : die kerk is ‘n groep mense wat gemeenskaplike geloofsbelange het, hulle vrywillig onderwerp aan die bestuur van ‘n kerkraad wat hulle verkies het en hulle betaal ‘n vaste vrywillige bydrae. Dan lyk dit nogal so bietjie na ‘n godsdienstige vereniging. ‘n Vereniging van mense. Die kerk is egter ‘n saak van Christus. Daarom is dit ‘n saak van ons geloof. Ons kan oor die kerk nie in die eerste plek praat vanuit wat ek ervaar en dink nie, maar moet eerder praat en bely vanuit wat die Here ons in sy Woord, die Bybel, leer.

Ons belydenis oor die kerk van Christus - is dit wel belangrik? Word die plek wat ingeneem word deur die kerk in ons lewens, nie ook al hoe minder nie? Selfs wanneer ons dit nog belangrik vind om lidmaat te wees van ‘n gemeente, maak dit dikwels nie meer vir mense saak van watter gemeente hulle lidmaat is nie. Ouers voel dikwels dat as hulle kinders tog maar nog net gelowig is, dan is dit eintlik al so veel. Soms word die belangrikheid van die kerk openlik bevraagteken op die volgende manier : “Gaan alles nie uiteindelik maar oor ’n persoonlike verhouding met die Here nie? Is die persoonlike band met die Here Jesus Christus nie alles nie? Moet elkeen dit nie maar vir homself uitsorteer wat vir hom die beste is nie? Waarom sal ons selfs enigsins aan ‘n kerk verbind wees? Kan ons nie maar bietjie rond-‘shop’ by ‘n kerk wat my behoeftes bevredig nie?”

Hierdie gedagtegang klink baie aantreklik en vang baie in ‘n strik van die satan. Dit is tog om puur vanuit ons ervaring te praat en nié vanuit die Woord van die Here nie. Christus praat in sy Woord totaal anders oor sý kerk. Ons kan die deel wees van ‘n gemeente nie losmaak van ons verlossing deur die Here Jesus nie. Elkeen wat ‘n geloofsband het met Jesus Christus, het ook ‘n band met ander gelowiges. Christus vergader sy kinders. Hy maak hulle bymekaar. Só word die volk van die Here reeds in die O.T. genoem. Hulle is die “vergadering” van die Here. En wie deel kan wees van hierdie vergadering, was in die hande van die Here. Hý het bepaal wie daarby hoort. Om die volk Israel te laat verstaan dat elkeen van hulle nie maar sonder meer toegang het tot die vergadering nie, stel die Here spesifieke toelatingsvereistes. ‘n Melaatse of ontmande kom nie in die Here se vergadering nie – die Here kies self uit en Hý vergader sy volk.

Só vergader die Seun van God ‘n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is. Selfs voor die bestaan van die volk Israel. Van die begin van die wêreld af. Mense begin na die sondeval om die “Naam van die Here aan te roep” (Gen. 4:26). Daar kom weer verlossing van sondes. Maar hierdie verlossing was nie maar sommer-so op straat te kry nie. Die genade word uitgedeel daar waar saam geleef word uit die Woord van die Here se genade. Dit beteken nie dat ons moet praat van ‘n “saligmakende” kerk, asof die kerk ‘n mens van jou sonde kan red nie. Natuurlik maak die kerk ons nie salig nie. Dit doen Jesus Christus alleen. Hý is die Herder wat sy lewe aflê vir die skape. En tog deel Christus daardie verlossing aan ons uit in sy kerk. Die kerk red niemand, tog deel Christus sy verlossing nie buite die kerk uit nie. En dan moet ons maar ophou om te praat van “my kerk” en “ons kerk”. Daar is net een Hoof van die kerk en dit is Christus. U en ek mag wel hoort by die kerk, maar dit behoort nie aan ons nie – dit is nie ons s’n nie! Daarom gaan ons in geen hoogmoedige taal praat oor “ons/my kerk” wat ‘n saligmakende kerk is nie.

Geen hoogmoedige taal nie, maar wel die taal van verwondering dat die Here tog aan my sy genade uitdeel daar waar ook ek ‘n plek gekry het in die vergadering. Uit genade alleen. Daarom praat ek nie ligtelik oor die kerk asof elke samekoms van mense kerk van Christus is nie. Of asof die kerk van Christus vir my nie belangrik is nie. Asof dit ‘n vereniging is wat deur ‘n vorige geslag bymekaar geroep is nie. Maar ek is dankbaar dat die Seun van God uit die hele menslike geslag vir Hom ‘n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is, vergader, beskerm en onderhou. Dat ek daarvan ‘n lid mag wees en ewig mag bly. Daar wil Hy ook vir my sy verlossing uitdeel.

In Hebreërs 2 : 12-13 sien ons dat die verlossing wat ons in die kerk ontvang, te danke is aan die feit dat die Here sy Woord dáár laat verkondig. Christus wou baie kinders na die heerlikheid van verlossing bring. Hierdie verlossing het Hy self vervolmaak deur sy lyding (vs. 10). Hy het Hom nie geskaam om ons, sondaars, sy broers te noem nie. Hy het wel alle rede daarvoor gehad. Maar Hy skaam Hom nie vir ons nie, want Hy wou die woorde van Psalm 22 : 23 vervul. Hy het Hom nie vir u en my geskaam nie, toe Hy gesê het : “Ek sal U naam aan My broers verkondig, in die midde van die gemeente sal Ek U prys” (vs. 12).

Dit is nou die geweldige van die kerk – Christus laat sy Woord dáár verkondig. Die verlossing wat Christus vervolmaak het deur sy lyding, verkondig Hy self aan sy gemeente – in die midde van die gemeente. Deur sy Gees. In die midde van sy gemeente sê Christus : “Hier is die kinders wat God my gegee het” (vs. 13 b). En dan is hier nie sprake van ‘n gesiglose onbepaalde gemeente nie. Dit is die kinders van Abraham, die verbondsgemeente, wat saam in ‘n erediens vergader. Wat saam om ‘n Nagmaaltafel gaan sit. Dit was nou juis die probleem van die gelowige “Hebreërs” aan wie die brief gerig is - hulle was besig om van hierdie Christus weg te dryf. Nee, nie in die eerste plek in hulle “persoonlike verhouding” met die Here nie. Maar hulle het nie meer geluister na die Seun van God wat in die midde van die gemeente die Naam van die Here aan sy broers verkondig nie. Dwarsdeur die hele Hebreërbrief hoor ons gedurig hierdie vermaning om te luister na hierdie Christus wat in sy gemeente die lof van die Here verkondig het. In hoofstuk 10 (vs. 25) hoor ons dan ook die vermaning : “…en laat ons die onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom”.

Op hierdie manier weet ons dan ook of ons werklik lidmaat in die regte kerk is. Die Here Jesus het gesê dat ons eenvoudig moet luister na sy stem. Die skape herken die stem van die goeie Herder. Die skape volg Hom omdat hulle sy stem ken. Hieraan is die ware kerk van Christus ook uit te ken – jy moet kan hoor of Christus self aan die woord kom. Kom die boodskap van verlossing wat Hy deur sy lyding vervolmaak het na jou deur die prediking? Is Christus self besig om daar waar ek lidmaat is, vir Hom ‘n gemeente bymekaar te maak?

Juis daar wil die Here met ons besig wees. Hy wil as Goeie Herder ons in sy kudde bymekaar maak. Daarom moet ons, ons ook gehoorsaam láát vergader. Kerklidmaat wees, is ‘n saak van gehoorsaamheid. Sodat u self kan sê : ek glo dat ek van Christus se kerk ‘n lewende lid is en ewig sal bly. Hierin moet ons Christus nie teenstaan nie. Ons mag daarom nie eenkant van die gemeente gaan staan nie. Jy bly nie op jouself nie. Wanneer jy dit sou doen of deel van ‘n kerk bly wat nie die verlossing in Christus aan jou uitdeel nie, kan jy nie meer deel in daardie verlossing nie. In Hebreërs 6 word selfs heel ernstig gewaarsku teen so ‘n afstand neem van Christus.

Die kerk is daarom nie maar die onderneming van enkele entoesiastiese broeders of susters nie. Die kerk is nie die produk van die insette van mense nie. Dit is juis andersom. Die kerk is soos ‘n moeder wat kinders voortbring. So skryf Paulus ook oor die kerk : “Jerusalem daarbo is ons moeder”. (Gal. 4:26). Die kerk is soos ‘n moeder wat haar kinders versorg en koester. Calvyn sê dan ook tereg : “vir wie God ‘n Vader is, sal die kerk ‘n moeder wees.”