Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Voel soos 'n Christen, Dink soos 'n Humanis

In 'n onlangse nuusbrief van die Frontline Fellowship (nr. 4 van 1992) maak 'n sekere ds. J. Hegger die volgende bewering: "Baie mense voel soos Christene maar hulle dink soos humaniste." Hierdie woorde van ds. Hegger bied 'n verklaring vir 'n groot deel van die verdeeldheid onder moderne Christene, en kan daarom nie onopgemerk by ons verbygaan nie.

Ons moet toegee dat Christene in ons tyd dikwels verskillende standpunte het, en weliswaar ook op verskillende maniere dink. Kan dit wees omdat sommige Christene nie regtig soos Christene dink nie maar eerder soos humaniste'?

Wat is die Humanisme?🔗

Om die Humanisme onder 'n enkele kombers toe te maak, is bykans onmoontlik. Dit neem op verskillende tye en plekke verskillende gestaltes aan. In die tyd van die Renaissance (14e - 16e eeu) was die Humanisme verbind aan 'n herleefde belangstelling in die Klassieke oudheid; in ons tyd is dit vir baie mense niks meer nie as "mensliewendheid", terwyl ander dit weer as 'n moderne ideologie beskou.

Inderwaarheid is die Humanisme soos 'n monster met baie koppe: hy het verskillende gesigte, maar net een hart. Wat die hart van alle Humanisme is, word duidelik as 'n mens na die woord self gaan kyk. Die woord kom van die Latynse humanum wat "menslike" beteken. Alle humaniste het dit met mekaar in gemeen dat die mens en die menslike vir hulle in die sentrum staan. Die humanis beskou die mens as vry en outonoom — op elke terrein van die lewe staan die mens in die middelpunt. In sy wese is die Humanisme dus 'n ideologie wat die mens verabsoluteer.

Verskillende Gestaltes🔗

Juis omdat dit soveel verskillende gestaltes kan aanneem, is die Humanisme in staat om soos 'n dief in die nag op 'n mens af te kom. Die mees verraderlike gestalte is wanneer dit die skaapsklere van die Christendom aantrek — 'n uitrusting wat die Humanisme soos 'n handskoen pas! Want leer die Bybel dan nie ook van naasteliefde nie? En van vryheid en geregtigheid en van die volwassenheid van die mens nie?

Op baie bedrewe wyse het die Humanisme bepaalde Bybelse begrippe opgeneem, dit met tipies humanistiese denkbeelde ingekleur, en dit dan onder die vaandel van die Christendom verkwansel. So gebeur dit dan dat mense humanistiese idees opneem en, salig onder die indruk dat dit eg Christelike denkbeelde is, voel hulle diep oortuig van hulle eie "Christelikheid". Hulle voel soos Christene, maar dink soos humaniste!

Die Bybel deur 'n Humanistiese Bril🔗

Sulke gelowiges lees die Bybel met ywer, en bestudeer dit, maar doen dit deur die bril van die Humanisme. Skrifdele wat lyk of dit die mens hoog aanslaan, word as die sleutel tot die verstaan van die Bybel beskou (byvoorbeeld Psalm 8:6 "U het die mens weinig minder gemaak as 'n goddelike wese .. ."). Maar ander dele van die Bybel wat 'n minder goeie getuigskrif van die mens gee (byvoorbeeld Psalm 53:4 "Almal het afgedwaal, die laaste een het ontaard, daar is niemand wat goed doen nie, selfs nie één nie"), skep vir sulke mense probleme, en word daarom op een of ander manier opsy geskuif. Geen wonder nie dat daar in ons tyd selfs gereformeerdes is wat beswaard voel oor die leer van die verdorwe natuur van die mens (Sondag 2 tot 4 van die Heidelbergse Kategismus). Sulke gereformeerdes voel soos Christene, maar hulle dink soos humaniste.

'n "Christelike" Humanisme🔗

Die gevolge van sulke "Christelik"-humanistiese beskouings werk deur op elke terrein van die lewe.

  • In die opvoedkunde word die inherente goedheid van die mens as "Christelike" uitgangspunt geneem en word tug en dissipline sonder meer verwerp.

  • In die wysbegeerte word die mens se verstand tot enigste maatstaf vir die "Christelike" waarheid verhef.

  • In die etiek word die outonomie en vryheid van die mens gehandhaaf, en is daar slegs een onvergeetlike sonde, en dit is die sonde teen die mens.

  • Op politieke gebied word menseregte die nuwe uitgangspunt van die "Christendom", in plaas van die geregtigheid van God se koninkryk.

  • Ook in die kuns word Bybelse norme oorboord gegooi, en is dit die mens se gevoelens en begeertes wat die botoon voer.

Dit alles word gedoen deur mense wat voel (en sê) dat hulle Christene is maar wat eintlik soos humaniste dink!

Hand in Eie Boesem🔗

Die bedoeling is egter meer as om maar net die vinger uit te steek en te sê: daar is hy, so lyk die gevaar! Ons moet bereid wees om hand in eie boesem te steek en te erken as dit melaats te voorskyn kom. Hoe gereformeerd ons ook al mag wees, is die kans groot dat die humanistiese denkbeelde ook aan ons kan afvryf en in ons denke kom nesskop. Daarom moet ons onsself hierin bly ondersoek: ons voel wel soos Christene — maar dink ons ook soos Christene? Het ons werklik nog die vermoë om waarheid en dwaling te onderskei, of word ook ons saam gesleep om te glo dat humanistiese denkbeelde eg Christelik is?

Die Humanisme se slagspreuk is; "Uit die mens, deur die mens, tot die mens is alle dinge". Hierteenoor bely ons as Christene onomwonde: "Uit God, deur God en tot God is alle dinge" (Romeine 11:36). In alles wat ons dink, in alles wat ons doen, in alles wat ons sê of besluit, het ons as Christene net een doel voor oë: die eer van ons God en Here!