4 bladsye.

Volharding

Ek het dikwels op die Maasrivier, langs die dorpie waar ek gebore is en grootgeword het, groot skepe sien vaar. Sommige met vreemde, maar ook baie mooi name – name wat waarskynlik iets weerspieël het van die innerlike lewe van die eienaar of die kaptein. Een van my gunstelingname wat ek my kan herinner, was ‘Die Volharding’. Ek het my ʼn bekende ervaring van die vroeëre skeepskapteins voorgestel: na ʼn pragtige somersdag pak die donker, byna swart wolke saam. Hulle grou koppe kom dreigend hoër op. Die natuur word stil. ʼn Bietjie later hoor jy die gerammel van onweer in die verte. Die kaptein weet dat hy nie die hawe betyds gaan bereik nie, en tref sy maatreëls. Met geweld ratel die ysterkettings oorboord. Die swaar anker soek sy pad die diepte in. Hoe die stormwind ook aan die skip mag ruk, as die anker in die bodem vasgetrek lê, sal die skip nie begin dryf en te pletter geslaan word nie.

As die stormwind woed🔗

Die Christenlewe kan vergelyk word met die vaart van ʼn bootjie op die lewenssee. Dit is juis die wind wat die geloofseile laat bol en die lewensskip sy vaart gee. Soms is die weer rustig en gaan alles voor die wind. Maar wanneer ʼn storm opsteek, word ʼn veilige anker belangrik. So is daar in die lewe van ʼn Christen ook teenkragte aan die werk. Dit kan van buite kom, maar ook van binne kan dit storm en tekere gaan. Dink maar aan die aanvegtinge wat jy as Christen het in die verleidings van die wêreld wat op jou afkom. Die duiwel is daarop uit om ons anker los te ruk. En kry hy nie dikwels in ons hart ʼn vatplek vir sy verwoestende werk nie? Vandaar die bede in die gebed wat Jesus sy dissipels geleer het: “lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose” (Matteus 6:13). Die Kategismus noem hierde teenkragte ons doodsvyande, en noem hulle op: die duiwel, die wêreld en ons eie sondige vlees. Hoewel oorwonne, is die duiwel ʼn sterk vyand wat raas en tier en soek na wie hy van sy geloofsekerheid kan losruk. Die wêreld is soos ʼn instrument wat deur Satan geblaas en bespeel word, wat met krag en mag op die gelowige lostrek. Maar dit is in ons eie vlees, in wat nog nie van die sonde verlos is nie, waar ons die sterkste teenkrag teen God se genade kry. En hoe dikwels waai die stormwind nie uit alle hoeke tegelyk nie? Sou ons deur eie krag staande kon bly? Hoe sal ons volhou, volhard? Wat is die vaste grond waarin ons ewige anker vaslê?

Die sekerheid van die volharding🔗

Die Griekse woord wat in die Nuwe Testament met volharding vertaal word, kan onder meer herlei word na ʼn grondbetekenis van ‘daaronder bly’, ‘dit daaronder uithou’. Om by die beeld van skeepvaart te bly, kan ons hier dink aan die pilare onder ʼn groot brug oor ʼn rivier. Hoe swaar die verkeer oor die brug ook is, die brug hou, omdat die pilare daaronder bly staan. Vir die pilare is dit weer van beslissende belang dat hulle ʼn stewige en sterk fondament het.

Pilare wat self nie op vaste grond staan nie, kan geen brug ophou nie. Hierdie beeld laat ons dink aan die vaste fondament van die geloof. Om in die geloof te kan volhard, om onder swaar weer en swaar laste te kan stand hou, moet ons lewe gefundeer en geanker wees in die Here Jesus Christus. Hy is die fondament wat deur God self gelê is en wat altyd vastigheid bied (1 Korintiërs 3:11). Soos ʼn pilaar vastigheid kry van die grond waarop dit rus, so het ook die gelowige nie vastigheid uit homself nie, maar vind dit alleen in Jesus Christus. Die sekerheid van volharding is dan ook nie geleë in menslike standvastigheid nie, maar in Goddelike trou. Die volharding van gelowiges rus op die heil wat God in Christus vir sy kinders berei het, en wat Hy vir hulle bewaar. Die basis van alle geloofsekerheid rus op die vastigheid van God se verbond en van sy troue liefde. Het u die vaste grond gevind? Is u lewe met Christus in God geborge en veranker? Dit is net op dié basis wat ons kan volhard!

Twee kante van een saak🔗

Die woord wat ons met volharding vertaal, beteken ook ‘lydsaamheid’ of soms ‘standvastigheid’. Dit is duidelik dat volharding ʼn passiewe en ʼn aktiewe element inhou. Hierdie twee elemente het volledig op mekaar betrekking.

In die Ou Testament lees ons byvoorbeeld: “Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die HERE!” (Psalm 27:14). Met die ‘wag op die Here’ gaan dit hier oor ʼn gelowige wat in benoudheid verkeer. Hy keer hom tot God, omdat hy sy beloftes gehoor het en van Hom hulp en uitkoms verwag. Die gelowige sien in die moeilikhede van sy lewe geen moontlikheid meer om hom uit eie krag te red nie. Die enigste wat hom nog kan help, is die Here. Daarom wag hy God se hulp af. En die wonderlike is dat hy in sy afhanklikheid sowel die moed as die krag vind om die verdrukkinge te verdra, in die vaste verwagting van God se uiteindelike uitredding. Die wat op die Here wag, kry nuwe krag (Jesaja 40:31). Is hierdie wag slapheid of berusting? Is dit ʼn passiewe houding? Glad nie! ʼn Christen kan erken: ‘Ek het dit verloor’, maar hy sê nie ‘ek is verlore’ nie. Volharding is lewe met hoop! Gelowiges is mense wat steeds bly uitsien na meer.

Geloof in die toekoms🔗

In die Nuwe Testament is die verwagting van die gelowiges gerig op (die wederkoms van) die Here Jesus. Die lyding van die teenwoordige tyd kan verduur word vanuit die perspektief van die reeds aanwesige, en straks volkome wordende, verlossing (Romeine 8:1 e.v.). Nadat Paulus ʼn aantal verskrikkinge opgesom het (verdrukking, benoudheid, vervolging, honger, naaktheid, gevaar en swaard), sê hy: “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het” (v. 37).

Die geheim van oorwinning, die geheim van die volharding, lê in die laaste woorde: ‘deur Hom (die Here Jesus) wat ons liefgehad het’. Ons kan in die stryd oorwin, omdat Hy in alles oorwin het. Die geloof van die Christen is ʼn lewensverbintenis met die Here Jesus Christus. Ons kan daarin volhou wanneer ons die aandag gevestig hou op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof (Hebreërs 12:2). So is God se werk in Jesus Christus die grond vir volharding, en ons geloof die pad wat God met ons loop om in die vaste grond veranker te word en te bly. Die geloof is die anker wat in die vaste grond van God se beloftes vasheg.

Stil maar, wag maar ...🔗

Tog is daar Christene wat hulle lewensskip ‘Die Berusting’ gedoop het. In die moeilikhede van die lewe kan hulle niks beter doen as om te sug dat ’n mens niks daaraan kan doen nie. Hulle lê hulle by die lyding neer, en berus daarin as ʼn soort noodlot wat oor hulle kom. Dit is nie die Bybelse weg nie! ʼn Christen het met baie verdrukking, teenstand en selfs vervolging te doen (Handelinge 14:22), maar die Bybel roep ons op om die wedloop wat voor ons lê, te voltooi. Daarby pas nie lydelike berusting nie, maar aktiewe volharding. Ons lees in sterk terme daarvan as ‘weerstand bied’ en stry ‘ten bloede toe’ (Hebreërs 12:4; Efesiërs 6:13). Om te volhard in die geloof, is om staande te bly in tye waarin dit lyk asof alles saamspan om die gelowige tot afval te bring. In die geestelike stryd word ʼn Christen bedreig deur die versoeking om maar op te gee. Juis dan kom dit aan op volharding, die vermoë om uit te hou en nie te beswyk nie. Alle kragte van die geloof moet gebruik word om te oorwin in die geveg teen die versoeking tot afval. Volharding is die geloof in sy volle aktiwiteit, die krag van die heil in werking. Skakels in die ketting wat volharding genoem word, is die gebed, die lewensheiliging en lofprysing. Die volharding van die gelowige rus in God, bou op God en oorwin deur God. ʼn Meer dinamiese lewe is nouliks denkbaar!

Aanvaar die lyding ...🔗

In ʼn aantal Bybelverse val die nadruk op ʼn ander kant, nl. die passiewe kant van die begrip volharding. In sy eerste brief moedig Petrus die gelowiges aan vanuit die genade en ter wille van die Here Jesus, om slegte en onregverdige behandeling te verdra. Dit het Jesus ook gedoen, en Hy het gesê dat sy volgeling Hom daarin moet navolg. Om leed te verdra terwyl jy goed doen, dit noem die apostel genade! (1 Petrus 2:19-24). Sulke leed kan in allerlei vorme voorkom, soos smaad, laster (1 Petrus 3:16) en selfs mishandeling. Die Bybel roep ons op om leed wat die Christen ten onregte oorkom, te aanvaar en verduur. Die gesteldheid moet nie een wees van tandeknersend ingehoue woede nie, maar van “dit oorgee aan Hom wat regverdig oordeel” (1 Petrus 2:23). Dié opdrag is moeilik om te verstaan – dit gaan dwars teen ons menslike gevoelens in. Volharding is dan ook allermins ʼn vanselfsprekende aangeleentheid. Dit kan alleen gebeur vanuit die hegte geloofseenheid tussen ons en Hom wat ons daarin voorgegaan het.

Die lede van die Christelike gemeente word opgeroep tot volhardende nederigheid in hulle omgang met mekaar. ‘Dit mag miskien so wees, maar ... ‘ sal iemand sê. Maar dit is die Bybel se opdrag dat ons sonder om te mor, moeite van mekaar verdra. Die skrywer van Hebreërs prys die eerste lesers van sy ‘preek’ vir hulle vroeëre voortreflike gedrag: hulle het blymoedig die berowing van hulle goed aanvaar, omdat hulle geweet het van ʼn beter en blywende besit in die hemel (Heb. 10:34). Nuwe lyding het nou weer oor hulle gekom en hulle het opnuut volharding nodig. Hulle sal weer alles in die werk moet stel (aktief) om die lyding met aanvaarding te ondergaan (passief). So doen ons die wil van God. Dit is duidelik dat dit deur menslike kragsinspanning onmoontlik is.

Om in sulke omstandighede blymoedig te wees, is net moontlik in ons noue verbintenis met die Here Jesus Christus. Dit is die vrug van die kruis in die lewe van ʼn kind van God; dit is die vrug van ʼn keuse, ʼn beslissing wat voor God gemaak word. ʼn Christen aanvaar die kruis en volhard in die dra daarvan, omdat hy in gemeenskap met die Gekruisigde lewe.

God is getrou🔗

Volharding in die geloof en in die stryd vir toenemende gehoorsaamheid is egter nie ʼn saak van eie inspanning nie. As dit so was, sou ons net so ondergaan soos Petrus op die golwe (Matteus 14). Volharding is ten diepste ʼn saak van die troue God wat sy kinders tot die einde toe met krag bewaar. Dit is die uitreikende hand van Jesus wat ons, soms sinkende hand vasgryp. In volharding blyk dat God se genade sterker is as die stormwinde van sonde en die golwe van aanvegtings. Wie deur God bewaar word, word goed bewaar. Die Here trek nie sy hand terug van sy kind nie. Waar die saad van die wedergeboorte ʼn mens eenmaal vernuwe het, gaan die genade nooit weer weg nie. Dit gebeur nie vanself nie. God en mens is voluit daarby betrokke. Maar agter alle geestelike lewe klop die hart van God se barmhartigheid. Wat die Here God begin, sal Hy voleindig (Filippense 1:6). Hy gee genade op genade, die een genade op die ander. Ons het dit nodig! Net soos dit genade is om genade te ontvang, is dit ook genade om in die genade te bly. So is volharding dan ʼn proses vol spanning; dit is ʼn geskenk wat die gelowiges ten deel val terwyl hulle op die pad is van gelowige toewyding aan die roeping van God. Ons ervaar hier, soos dikwels in die Christelike geloof, ʼn bepaalde spanning tussen gawe en opdrag, tussen geskenk en roeping. Dit is die spanning tussen rus in God se beloftes, en lewe in die krag van die Heilige Gees!

Tussen die rotse deur🔗

Wanneer ʼn mens deur die genade van God standvastig bly in sy geloof en tot die einde toegewy bly, dan is dit volharding. Oor hierdie durende aspek van die geloofslewe word baie vrae gevra. Sal iemand wat ʼn Christen geword het, dit altyd bly? Met ander woorde, sal ʼn gelowige wat waarlik wedergebore is, deur God geregverdig en verenig is met Jesus Christus, dit kan volhou? Hierdie vrae is vir die praktiese Christenlewe van groot belang. As daar nie sekerheid is oor die blywendheid van ons verlossing nie, sal dit immers gevolge hê vir die uitwerking van die Christen se opdrag in die daaglikse lewe. Onsekerheid en angs sal die geestelike krag verlam en selfs vernietig. Hierteenoor staan onverskilligheid en laksheid, wat die gevolg kan wees van ʼn mens se absolute sekerheid van sy verlossing afgesien van wat hy in die lewe doen of nalaat; dan kom ons in elk geval mos daar, en maak dit nie soveel saak hoe ons met die morele en geestelike waardes van die Evangelie omgaan nie. Om met ons skip tussen die twee rotse van onsekerheid en onverskilligheid deur te vaar, is ʼn Bybelse kaart vir die geloofslewe noodsaaklik.

Daar is ʼn oorweldigende aantal Bybeltekste waarin ons die sekerheid van God se bewaring van die gelowiges vind. Wat ʼn troos is daar in Jesus se voorbidding, soos dit beskryf word in Johannes 17!. Wat ʼn hulp is daar in die gawe van die Heilige Gees en sy blywende gemeenskap! (Johannes 14:16,17; Efesiërs 1:13). Wat ʼn sekerheid gee die belofte van God se trou! (Filippense 1:6; 1 Petrus 1:4 e.v.). Wat ʼn rus is daar in die wete dat God met sy plan met die lewe van sy kinders voortgaan! (Romeine 8:29,30). Wat ʼn vreugde is dit nie om tot die kudde van die Goeie Herder te behoort en te weet dat Hy gesê het: “My skape ... sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie” (Johannes 10:27,28).

Maar in direkte verband met hierdie heerlike trooswoorde is daar ook ʼn groot aantal Bybeltekste waarin ons opgeroep en vermaan word om te volhard en te bly in die werk wat God in ons begin het.

Daar is die ernstige waarskuwing, wat ons op verskeie wyses in die Hebreërboek vind, om nie in die genade van God te veragter nie. In hierdie boek word oor die hoogste verhewenheid van Christus geskryf, maar, daarmee verweef, word die gelowiges ook aangespoor om in Christus volwasse te word en ʼn einde te maak aan hulle geestelike armoede en afval. Die Hebreërskrywer wissel sy positiewe weergawe van die oppermag van Christus af met ten minste vyf ernstige waarskuwings teen die gevaar om van Hom weg te draai (2:1-4; 3:7-4; 5:16-6:20; 10:19-39; 12:25-29). Hoe droewig is die geskiedenisse van Ananias en Saffira (Handelinge 5), van Alexander en Himenéüs (1 Timoteus 1:20; 2:17) en van Demas (2 Timoteus 4:10). Met watter kragtige woorde roep die Bybel die gelowiges op om vol te hou en nie af te dwaal of onderweg te stop nie! Die roete vir die vaart van volharding is duidelik uitgemerk met bakens en ligte wat die gevaarpunte aangee. Elke gelowige het ʼn stuurman aan boord wat hulle veilig deur elke storm lei. Daar is nie vir ons ʼn kalm vaart beloof nie, maar wel ʼn veilige aankoms! Dit alles roep ons op tot ʼn radikale toewyding aan die genade en liefde van God. Volharding bewerk groot ontvanklikheid vir die Woord van God en diep verlange om in die krag van die Heilige Gees op sy pad te gaan. Sonder die aansporings kan ons klaarblyklik nie waardig aan die Here op sy voetspoor loop nie. Laat ons al tydens ons reis, reeds voor die veilige aankoms, aan God alleen al die eer gee!

Soli Deo Gloria.