1 bladsye.

Volmaak

Wees dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.

Matteus 5:48

Die Bybel vra niks minder van ons nie as dat ons volmaak moet wees. In die bergrede sê Jesus: “Wees dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is” (Matteus 5:48).

Dit is duidelik dat dit ʼn absolute uitspraak is. Die uitspraak kan nie anders geïnterpreteer of omseil word nie. God stel met hierdie uitspraak ʼn radikale eis aan ons.

Ons moet onsself dus afvra wat bedoel word met die eis:  “wees dan volmaak”. Beteken “volmaak” dieselfde as sondeloos? Beteken “wees volmaak” dat ʼn mens perfek moet wees?

In beide gevalle is die antwoord: Nee. In die taal van die Bybel beteken die woord “volmaak” die volgende: om heel te wees, om onverdeel te wees, om in totaliteit te wees, sonder voorbehoude en konsekwent (altyd dieselfde).

God is die volmaakte God. God is in sy verhouding teenoor die mens heel, onverdeel, totaal, sonder voorbehoude en konsekwent. Ons moet die uitspraak van Jesus, wanneer Hy sê dat ons volmaak moet wees soos wat ons hemelse Vader volmaak is, nie in isolasie lees nie. Net voor hierdie vers (48) sê Jesus dat God sy son laat opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor die wat reg doen en oor die wat verkeerd doen (Matteus 5:45). God trek nie grense vir sy goedheid nie. God steek nie halfpad vas met sy goedheid nie. Juis dit is sy volmaaktheid.

Omdat God volmaak is, moet ons en mag ons dit ook wees.  In dieselfde verband  sê Jesus dat ons ons vyande moet liefhê en moet bid vir die wat ons vervolg  (Matteus 5:44).  Want, sê Jesus:  “as jy net hulle liefhet, wat vir jou lief is, watter loon kan jy nog verwag?” En “as julle net julle broers groet, wat doen julle meer as die ander?” (Matteus 5:46-47). Wanneer ons net liefhet tot op ’n sekere punt of binne bepaalde grense is ons nie volmaak in ons liefde nie. Wanneer ons liefhet sonder beperkings, het ons volmaak lief. So is God volmaak. So word ons dus ook geroep om volmaak te wees.

Ons kan nou sien dat die groot struikelblok in ons lewens juis hier lê. Ons trek elke keer grense.  Ons het elke keer voorbehoude. Ons bly elke keer halfpad vassteek in ons diens tot God en in ons liefde tot ons naaste.

Ons vertoon telkemale die beeld van die Galliese koning in die tyd dat die evangelie in Europa versprei het. Die evangelie is ook in sy gebied verkondig. Hy het onder die invloed van die evangelie gekom en wou hom laat doop. Hy het heeltemal in die water ingegaan, maar het sy swaard bo sy kop gehou.  Hy wou nie sy swaard laat doop nie. Hy wou die swaard in eie hande hou. God moes nie seggenskap oor sy swaard hê nie.

Die koning wou ʼn Christen wees, maar hy wou nie volmaak wees nie. Hy het geweier om ʼn konsekwente Christen te wees. Hy wou Christen wees met voorbehoude. Hy was verdeeld in sy Christenskap.

Ons word opgeroep om volmaak te wees. Teenoor God en teenoor die mense rondom ons. Dit beteken dus:  Ons word opgeroep om ons gedeeldheid en ons voorbehoude te laat vaar. Teenoor God en teenoor die mense rondom ons. 

Dit is net op een manier moontlik:  wanneer ons ons oog hou op God wat volmaak is. God is in sy verhouding teenoor ons onverdeeld en sonder voorbehoude. Dit het Jesus vir ons duidelik gewys, eens en vir altyd. Wanneer ons daarop begin let, sal ons leer om ons verdeeldheid en voorbehoude te laat staan. Dan word ook ons swaard gedoop! Dan leer ons hoe om volmaak te wees, soos wat God self volmaak is.