Bron: Waarheid en Dwaling, 1999. 7 bladsye.

Voorgangers se Moederdiens Vier Sleutelwoorde dui Kernagtig op die Kragveld van die Gees: Woord, Kerk, Amp en Bely

Hierdie artikel gaan oor die roeping van ons voorgangers. Hoe wil die Heilige Gees ons predikante, ouderlinge en diakens in sy kragveld inspan? Wat mag en moet ons in die lig van die Skrif van hulle verwag? En hoe behoort ons die ampsdraers te ontvang?

Die HERE gee aan sy kerk verskeie name. Elke naam weerspieël 'n aspek van die heerlikheid, die hoë posisie van die kerk. Die kerk word in die Skrif onder meer getipeer as die volk van God,1 die eiendom van ons drie-enige God. Hierdie volk is die huisgesin van God (die Vader),2 die liggaam van Christus (God die Seun)3 en die tempel van God waarin die Heilige Gees woon.4

Vrou en Moeder🔗

Die naam wat die intiemste verhouding tussen die HERE en sy volk uitdruk, is die vrou- en moedernaam. Hierdie naam gee in die eerste plek perspektief by gesinsvorming in die kerk. Ons Verbondsgod leer ons om ons kinders te ontvang, te sien en te behandel as "jou seuns en dogters wat jy vir My gebaar het"5 Ons kinders is sy kinders. Hy verseël dit in die sakrament van die doop. Lees nog maar 'n slag die doopsformulier. Die vrou in die kerk word gered in haar moederskap "deur kinders te baar".6 Die verwagtende moeder dra 'n verbondskind, 'n kind van God onder haar hart. Kinderseën met die oog op die groei van die kerk en die bevolking van die nuwe Jerusalem! Elke moeder in Israel mag met dié perspektief verwag, geboorte skenk en opvoed. 7

In die vrees van die HERE. Die moedersmart in swangerskap en in die geboorte-uur8 gaan in die geloof gepaard met blydskap,9 vreugde in diensbaarheid aan Hom wat sy getal uitverkorenes ook deur geboortes vol maak.

Die vrou- en moedernaam vestig die aandag nie slegs op die moeders in die kerk nie, maar ook en veral op die afkoms en roeping van die kerk. Esegiël 16 vertel hoe die kerk die HERE se vrou geword het. Daar was in die vondeling van heidense oorsprong wat Hy langs die pad gevind het, niks wat Hom aangetrek het nie. Hy het Hom genadig oor daardie verstote kind ontferm. Hy het dit in guns aangeneem en – nadat Hy die dogtertjie grootgemaak het – 'n huweliksverbond met haar gesluit. Die verstoteling is verhef tot die eggenoot, die vrou van God.10Die kerk van alle tye en lande dank sy ontstaan aan God se verkiesende liefde. Ons – lidmate van die kerk ­geniet die hoogs denkbare voorreg.

Om die bruid, die vrou van die Lam te wees,11 skep ook – dit is vanselfsprekend – verpligtings. In God se verbond gaan elke gawe en belofte saam met 'n konkrete roeping. Die Maker van die kerk, haar Man,12 verwag dat sy vrou daadwerklik as sy eggenoot optree, trou sal wees in die huweliksverbond wat Hy met haar aangegaan het.

Een van die dienste wat die kerkvrou vir haar Man mag verrig, is die moederdiens. "Jerusalem daarbo (die waarlik Christelike kerk) is vry; en dit is die moeder van ons almal."13 Die moederdiens van die kerk bestaan uit die vervulling van twee opdragte: eerstens (wedergebore) kinders voortbring en tweedens hulle opvoed, toerus. Die kerkvrou van Openbaring 12 (met die son beklee, die maan onder haar voete en 'n kroon van twaalf sterre op haar hoof) bring (wedergebore) kinders voort. Sy het "nakomelinge". En sy voed haar nakroos sodanig op dat hulle "die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou".14

Die kerk … moeder van ons almal. Elke belydende lidmaat het 'n moedertaak ten opsigte van die kinders, kleinkinders of jonger broers en susters in die gesinne en ten opsigte van ander lidmate van die kerk. In al die verhoudings binne die liggaam van Christus word nie elkeen geroep om aan (wedergebore) kinders geboorte te skenk nie. Maar elke belydende lidmaat behoort wel opvoedende moederdiens te verrig. Die naam moeder werp in die besonder 'n helder lig op die roeping van ons besondere ampsdraers, ons predikante, ouderlinge en diakens,15op die amptelike diens wat die HERE van hulle verwag.

Die ampsdraers wat ons in die gemeente verkies en wat die kerkraad benoem, is gawes wat die verheerlikte Heiland aan sy kerk gee.16Hy skenk dié gawes deur die Heilige Gees wat die ampsdraers aanstel17 met die opdrag om rentmeesters, huisversorgers van God te wees.18 Ampsdraers is nie daar vir hulle eie belange nie. Nee, die verheerlikte Heiland dra hulle op "om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het".19

Troue versorgers van God se gemeente verrig moederdiens. Hulle bring (wedergebore) kinders van God voort en voed hulle op. Die opvoeding bestaan uit twee omvangryke take: Die voorgangers word geroep om die lidmate toe te rus om eerstens as seuns en dogters van God in die kerk, en tweedens as gehoorsame burgers van sy koninkryk in die hele lewe op te tree. Die vraag kom na vore: Wat behels hierdie drie opdragte? Wat beteken die roeping om

  • wedergebore kinders van God voort te bring en

  • die kinders van God toe te rus vir dienswerk

  • in die kerk van Christus en

  • in die koninkryk van God?

Ons soek antwoorde op hierdie vrae in die Skrif ten einde ons insig in die take van ons voorgangers te verdiep. Tot toetsing van die amptelike werk wat in die gemeentes uitgevoer word en tot selfbeproewing van ons ampsdraers.

Voorgangers bring Kinders Voort🔗

Die apostel Paulus spreek die Korintiërs en die Tessalonisense as sy geliefde kinders aan.20Timoteus is sy "geliefde en getroue seun in die Here".21 Johannes rig sy eerste (algemene) sendbrief aan sy kinders22en die tweede brief aan 'n gemeente, "die uitverkore vrou en haar kinders".23Paulus en Johannes sluit sodoende by 'n ou tradisie aan. Die wysheidsleraar onder die ou verbond het sy leerling reeds as sy seun aangespreek.24Die vraag kom na vore: Manlike ampsdraers in die kerk wat kinders voortbring, moederdiens vervul – wat wil die HERE hiermee verduidelik?

Die Woord van die Geloof🔗

Elke wonder van lewevernuwing word deur die Heilige Gees gewerk. Dit behaag Hom wat ons lewe nuut maak, om daarby van middele gebruik te maak. Hy gee aan die kerk die Woord, die Skrif wat Hyself geïnspireer het. Die doel met die geskenk van die evangelie is dat die kinders van God glo. Die Woord is geskryf met die oogmerk "dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam." 25

Hoe kom ons tot die daadwerklike geloofsaksie? Die Gees gee, behalwe die Woord, ook voorgangers aan die kerk. Ons ontvang predikante, ouderlinge, diakens. Die bedienaars van die Woord is die eerste verkondigers. Daar word uiteraard ook met die verkondigde Woord gewerk in die katkisasieklas en tydens amptelike huisbesoeke. Die geheimenis is: Die Gees stuur die ampsdraers.

Dit is die eerste skakel in die ketting van die heil. Die volgende skakel is: Hulle preek. Die derde skakel: Ons hoor. Skakel vier: Ons glo. Die vyfde en laaste skakel van die heilsketting is ons aanroep van die Here se Naam. 26 Stuur – verkondig – hoor – glo – aanroep van die Naam. Dit gaan in hierdie verband oor skakels twee tot vier van die heilsketting. Wat gebeur daar as die Woord verkondig word, as ons eerbiedig luister en die Woord gelowig aanvaar?

Die apostel Paulus se eerste prediking in Europa bereik enkele vroue wat op hulle bidplek by die rivier buite die stad Filippi saamgekom het. Lidia, 'n godsdienstige vrou, luister aandagtig. Wat gebeur daar toe? "Die Here het haar hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is."27Die Here open Lidia se hart deur die verkondigde Woord vir die ontvangs van daardie Woord. Dit is sy reël om mense tot die ware geloof te bring. Deur die prediking bring Hy die hoorder tot geloof in die gepredikte Woord.

Predikante wat trou is in hulle bediening, laat hulle by die voorbereiding van die preek lei deur die Here wat aan hulle voorhou:

Dit is die woord van die geloof wat ons verkondig ... Die geloof is uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.28

Suiwer prediking is gerig op en roep tot geloof. Die Heilige Gees werk en versterk die geloof deur Woordverkondiging en gebruik van die sakramente.29Wat glo ons? Dit wat die HERE belowe. 30In suiwer prediking kom die HERE met sy beloftes aktueel, hier en nou, na die gemeente, en met sy bevele, die appèl waarin Hy ons roep om as sy verbondsvolk te lewe.

Dominees wat "bedienaars van die verborgenhede van God" is,31bedien die versoening in Christus en alles wat daarmee saamhang en uit die versoening voortvloei.32  Hulle praat, hulle babbel nie oor die heilsgeheime nie. Hulle bedien die Woord soos 'n moeder die kos vir haar gesin opdien. Dié prediking bring Gods volk in die kragveld van die Gees. Hy open harte, verwarm dit, maak ons oë oop vir die grootheid, heerlikheid, majesteit, heiligheid en liefde van die Vader.

Hy ontdek ons aan ons sondes, laat ons die verlossing in Christus soek, maak ons eerbiedig en ywerig in die diens van die HERE. Die gemeente 'eet' die evangelie wanneer die rykdom daarvan in die preek as kos op die tafel voorgesit word.

Prediking is Sleutelbediening🔗

Dit is moontlik om eredienste by te woon en nie gelowig te luister nie. Ook die ongelowige hoorder beweeg in die kragveld van die Gees. Die HERE sê:

Soos die reën en die sneeu van die hemel neerdaal en daarheen nie terugkeer nie, so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.33

Die verkondigde Woord is 'n aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan; vir die laaste 'n reuk van die dood tot die dood, maar vir die eerste 'n reuk van die lewe tot die lewe.34

Daar is geen groter en growwer sonde as ongeloof nie. In die kragveld van die Gees word aan al die ongelowiges en huigelaars verkondig dat die toorn van God en die ewige verdoemenis op hulle rus solank hulle hulle nie bekeer nie.35

In die lig van die bedoeling wat die Heilige Gees met die eredienste het, is onwettige versuim daarvan niks minder nie as onttrekking aan die kragveld van die Gees wat deur die prediking die geloof werk en versterk.36

Die vierde gebod roep ons om in die kragveld van die Gees te bly. Dit beteken in die praktyk:

Ons moet ywerig met die gemeente van God saamkom om die Woord van God te hoor, die sakramente te gebruik, die Here openlik aan te roep en die Christelike liefdegawes te gee.37

Die Saad van die Wedergeboorte🔗

Die Gees gebruik die Woordverkondiging om mense tot geloof te bring. Hy doen nog meer. Suiwer prediking is ook die saad van die wedergeboorte. Ons bely in die Dordtse Leerreëls: "Die alwyse God het" sy Woord en die verkondiging daarvan "tot 'n saad van die wedergeboorte en tot voedsel vir die siel bestem".38 Hierdie belydenis is voluit skriftuurlik. Die HERE bring sy gelowiges voort deur "die woord van die waarheid".39 Hulle "is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly. En dit is die woord wat aan julle verkondig is"40Die Gees wederbaar ons deur die prediking van die evangelie.

Wedergeboorte… 'n Tiperende woord wat die onmeetlike krag van die Heilige Gees weergee.

Die wedergeboorte is 'n volkome bonatuurlike, baie kragtige en tegelyk baie aangename, wonderlike, verborge en onbeskryflike daad van God. Volgens die getuienis van die Skrif is ... dit in sy krag nie minder of geringer as die skepping of as die opstanding van die dooies nie. 41

Die Dordtse Leerreëls bely in onmiddellike aansluiting hierby dat die uitverkorenes deur die wedergeboorte tot geloof kom. Die Nederlandse Geloofsbelydenis sê net die omgekeerde. Die geloof bewerkstellig die wedergeboorte:

Ons glo dat hierdie ware geloof in die mens voortgebring word deur die hoor van die Woord van God en deur die werking van die Heilige Gees, dat die geloof hom weergebore laat word en tot 'n nuwe mens maak.42

Is hierdie twee uitsprake teenstrydig? Geensins. Die geloofsbelydenis weerstaan die Roomse aanval dat die leer van die regverdiging uit genade sorgeloosheid en goddeloosheid in die hand werk. Nee, sê die geloofsbelydenis, die Heilige Gees wat ons tot geloof bring, laat daaruit die wedergeboorte voortvloei. Wedergeboorte beteken hier die vernuwing van die hele lewe. Die leerreëls rig hulle teen die Remonstrante wat meen dat die mens uit eie vrye wil tot geloof kan kom. Die leerreëls beklemtoon die begin van die lewevernuwende werk van die Gees. In ooreenstemming met die woord van ons Heiland: "Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie".43 Die aksent val in die leerreëls op die oorsprong, in die geloofsbelydenis op die omvang en voortgang van die nuwe lewe wat die Heilige Gees in ons werk.

Hoe die Heilige Gees ons harte vir die Woord oopmaak en ons lewe vernuwe – "die aard van hierdie werking kan die gelowiges in hierdie lewe nie volkome begryp nie".44Maar sy Goddelike herskeppende krag ervaar hulle. Hy werk deur die Woordverkondiging. Hy dring "deur tot in die binneste dele van die mens, open die geslote hart, versag wat hard is en besny wat onbesnede is. Hy stort in die wil nuwe eienskappe in en maak die wil wat dood was, lewend; wat sleg was, goed; wat onwillig was, gewillig en wat ongehoorsaam was, gehoorsaam. Hy beweeg en versterk die wil… Dan word die wil, wat nou vernuwe is, nie alleen deur God gedryf en beweeg nie, maar omdat dit deur God beweeg word, werk dit ook self".45Ons wil nou self die Here dien. Ons word gehoorsaam aan God se bevel: "Werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae".46

Wedergeboorte bring 'n metamorfose in die lewe van die sondaar. Ten spyte van oorblywende sonde en swakheid in hierdie lewe stel ons ons liggame "as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer".47In die kragveld van die Gees word die ou mens afgelê – die ou mens wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan. Ons word vernuwe in die gees van ons gemoed en beklee ons met die nuwe mens "wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid"48

Wat ervaar mense sonder geloof in 'n erediens? 'n Voorganger, 'n sondige mens, praat. Ander sondige mense luister – minder of meer. Wat kan dit uitrig? Wie nie glo nie, versuim maklik. Maar wat sien die oog van die geloof? Woordbediening waarsonder ek volgens die reël van die Gees nie kan glo en in die geloof versterk en my lewe vernuwe kan word nie. Die herskeppende krag van die Gees open die hart en keer die natuurlike, egosentriese en sonde-gerigte lewe radikaal en totaal om. Erediens… Moederdiens… Die HERE werk hier met sy Goddelike krag. Ek mag, kan en wil nie daar wegbly nie.

Voorgangers se Verantwoordelikheid🔗

Voorgangers in Christus se gemeente dra 'n swaar verantwoordelikheid. Die Heilige Gees wil hulle gebruik om in die erediens en tydens huisbesoeke geloof en wedergeboorte te werk. Getroue ampsdraers verrig moederdiens. Hulle bring wedergebore kinders voort, net soos die apostels Paulus en Johannes en die wyse Spreuke-leraar. By verharding in sonde bedien hulle die kerklike tug. Troue ampsdraers is medewerkers van God49in die voortgang van sy kerkvergadering. Hulle bedien die Woord – dit sluit uitoefening van tug in – om die huis van Vader eerbiedwaardig, die liggaam van Christus gesond en die tempel van die Gees heilig te hou.

Verrig ons predikante, ouderlinge en diakens daadwerklik moederdiens? Hierdie vraag behoort elke kerkraad in die Christelike sensuur volgens artikel 81 van die kerkorde reëlmatig aan die orde te stel. Dit gaan nie oor ampsdraers se vrymoedigheid om nagmaal te vier nie, maar oor die insette van die voorgangers: Is die inhoud van prediking, katkisasieklasse, huisbesoeke egte moederdiens wat die Heilige Gees kan gebruik om harte vir die HERE te open en die lewe van die volk van God te vernuwe? Kortom: Beweeg die ampsdraers voortdurend in die kragveld van die Gees? En vermaan hulle mekaar liefdevol ten einde die moederdiens van die kerk steeds te intensiveer?

Ontvang die Voorgangers🔗

Die formuliere vir die bevestiging van dominees, ouderlinge en diakens bevat net voor die gebed aan die einde 'n oproep aan die adres van die lidmate. Ontvang julle voorgangers. Wat behels hierdie opdrag? By die beantwoording van hierdie vraag kyk ons kortliks na vier aspekte.

  • 'Ontvang die voorgangers' beteken eerstens: Erken hulle. "Erken die wat onder julle arbei en julle voorgangers in die Here is en julle vermaan". 50Erkenning behels: Aanvaar u predikant, ouderling en diaken as gawes van die verheerlikte Christus.51Glo dat Christus u deur hulle aanspreek. Ouderlinge wat as voorgangers erken word, ondervind geen moeite om huisbesoek te reël nie. Hulle word elke uur wat die gesin byeen kan wees, verwelkom.

  • 'Ontvang die voorgangers' beteken tweedens die hoogagting van hulle. "Bewys hulle in liefde die hoogste agting ter wille van hulle werk".52"Laat die ouderlinge wat goed regeer, dubbele eer waardig geag word, veral die wat (voltyds) arbei in woord en leer".53Laat die agting ook uitkom by die vasstelling van die predikant se traktement. "Want die Skrif sê: Jy mag 'n os wat graan dors, nie muilband nie; en: Die arbeider is sy loon werd".54Die agting vir Christus se gesante (Hy stuur hulle immers?!) kom ook uit in ons gesprekke oor ons ampsdraers. Ons ag hulle hoog vanweë hulle werk, hulle goeie regering.

    Wat moet ons maak as die regering van die voorgangers teleurstel, nie egte moederdiens is nie? Dan tree ons as mondige lidmate in ons amp van gelowige op en vermaan die betrokke voorgangers liefdevol55om hulle besondere amp as gesante van die Here te beklee.

  • Erkenning en hoogagting van die ampsdraers gaan gepaard met gehoorsaamheid. Dit is die derde aspek van die bevel: Ontvang hulle as dienaars van God. Die HERE sê: "Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee, sodat hulle dit met blydskap kan doen en nie al sugtende nie; want dit is vir julle nie nuttig nie".56O nee, die HERE eis nie van sy volk 'n blindelingse gehoorsaamheid nie. Gelowiges toets die werk van hulle voorgangers aan die Skrif en wil hulle ­deur die Gees gelei – aan werklike bediening van die Woord onderwerp.57

  • Die vierde aspek van die opdrag om die voorgangers te ontvang is die voorbidding vir hulle. Bid vir hulle "dat die woord van die Here sy snelle loop mag hê en verheerlik word". 58In 'n lewende gemeente word die dominee, die ouderlinge en die diakens voortdurend in gebed aan die HERE opgedra. God gee alle dinge, ook seënryke ampsdiens alleen aan kerke "wat Hom met hartlike versugtinge sonder ophou daarom bid en daarvoor dank".59

Selfbeproewing🔗

Die leer van die Skrif oor die voorgangers se moederdiens dring gelowige ampsdraers reëlmatig tot selfbeproewing. Die volgende vrae kom daarby aan die orde:

Selfbeproewing van Ampsdraers🔗

  • Is my en my broeders se ampsdiens werklik bediening van die Woord?

  • Kan die Heilige Gees dié diens gebruik om geloof te werk en te versterk en die lewe te vernuwe?

  • Wat moet ek onderneem om my bediening te optimaliseer?

  • Hoe sal die kerkraad artikel 81 van die kerkorde toepas vir optimalisering van die ampsdienste?

  • Is lidmate voldoende bewus van die inhoud van die moederdiens van die kerk?

  • Indien nie, wat moet gedoen word om dié bewussyn aan te wakker?

  • Word die HERE genoegsaam geëer en die gemeente heilig gehou deur liefdevolle toepassing van die kerklike tug?

Selfbeproewing van Lidmate🔗

  • Erken ek (en my gesin) die ampsdraers as gawes van Christus?

  • Ag ek hulle hoog ter wille van hulle werk?

  • Is my kerklike bydrae genoegsaam vir my deel in die instandhouding van die erediens?

  • Staan my huis oop vir besoek van die ampsdraers?

  • Luister ek na hulle vermanings en vertroosting?

  • Woon ek getrou die eredienste by?

  • Toets ek die inhoud van die preke en ander Woordbediening aan die Skrif?

  • Dra ek persoonlik en in gesinsverband die voorgangers aan die HERE op?

  • Bedien ek my amp van gelowige as die moederdiens te kort skiet? En doen ek dit tot heil van die kerk?

Endnotes🔗

  1. ^ Sien oor die betekenis van hierdie naam JC Coetzee. Volk en Godsvolk in die Nuwe Testament. Potchef­stroom: Pro Rege, 1965. 
  2. ^ 1 Timoteus 3:15; Hebreërs 10:21; 1 Petrus 4:17. 
  3. ^ 1 Korintiërs 12:27 (vgl. 10:17; 11:29); Efesiërs 1:23; 3:6; 4:4,12,16; Kolossense 1:18,24: 2:19; 3:15. 
  4. ^ 1 Korintiërs 3:16.
  5. ^ Esra 16:20; 23:37. 
  6. ^ 1 Timoteus 2:15; vgl. Genesis 3:20. 
  7. ^ Sien onder meer Deuteronomium 6:6-7; Psalm 78:3-8; Spreuke 22:6; Efesiërs 6:4.
  8. ^ Genesis 3:16. 
  9. ^ Sien onder meer Psalm 127:4; 128; Sagaria 8:5. 
  10. ^ Esegiël 16:1-14; Hosea 2:1; Op 12:2. 
  11. ^ Esegiël 16:1-14; Hosea 2:1; Op 12:2. 
  12. ^ Jesaja 54:5. 
  13. ^ Galasiërs 4:26. 
  14. ^ Openbaring 12:1, 17.
  15. ^ In hierdie artikel val die klemtoon op die eenheid van die besondere ampte. Die onderskeid tussen herder en leraar, ouderling en diaken kom hier derhal­we slegs sydelings ter sprake.
  16. ^ Efesiërs 4:8-11. 
  17. ^ Handelinge 20:28.
  18. ^ Titus 1:7; sien die roeping van die diakens in Handelinge 6:1-6. 
  19. ^ Handelinge 20:28; vgl. 1 Timoteus 3:1-15; Titus 1:5-16; 1 Petrus 5:1-4.
  20. ^ 1 Korintiërs 4:14; 1 Tessalonisense 2:11; vgl. 2 Korintiërs 12:14.
  21. ^ 1 Korintiërs 4:17. 
  22. ^ 1 Johannes 2:1, 12, 18, 28; 3:7, 18; 4:4; 5:21.
  23. ^ 2 Johannes 1; vgl. verse 4,13.
  24. ^ Spreuke 1:8,10 en op baie meer plekke in Spreuke 
  25. ^ Spreuke 1:8,10 en op baie meer plekke in Spreuke
  26. ^ Romeine 10:13-15. 
  27. ^ Handelinge 16:14.
  28. ^ Romeine 10:8, 17.
  29. ^ HK, antw. 65; vgl. DLR, 1:3; 5:14. 
  30. ^ HK, antw. 22.
  31. ^ 1 Korintiërs 4:1.
  32. ^ Vgl. 2 Korintiërs 5:18-21.
  33. ^ Jesaja 55:10-11.
  34. ^ 2 Korintiërs 2:15-16.
  35. ^ 2 Korintiërs 2:15-16.
  36. ^ Vgl. Hebreërs 10:23-25. 
  37. ^  HK, antw. 103.
  38. ^ DLR, 3-4:17.
  39. ^ Jakobus 1:18.
  40. ^ 1 Petrus 1:23, 25. 
  41. ^ DLR, 3-4:12.
  42. ^ NGB, art. 24 
  43. ^ Johannes 6:44.
  44. ^ Johannes 6:44.
  45. ^ DLR, 3-4:11 12. 
  46. ^ Filippense 2:12-13.
  47. ^ Romeine 12:1. 
  48. ^ Efesiërs 4:22-24; VGL. Kolossense 3:8-10; Galasiërs 5:16-26; 6:15.
  49. ^ 1 Korintiërs 3:9. 
  50. ^ 1 Tessalonisense 5:12; VGL. 1 Korintiërs 16:18.
  51. ^ Efesiërs 4:11. 
  52. ^ 1 Tessalonisense 5:13
  53. ^ 1 Timoteus 5:17. 
  54. ^ 1 Timoteus 5:18. 
  55. ^ In die gees van sagmoedigheid ooreenkomstig Galasiërs 6:1 e.a. 
  56. ^ Hebreërs 13:17.
  57. ^ Volgens onder meer Handelinge 17:11, 1 Tessalonisense 5:20-22 en NGB, art 7.
  58. ^ 2 Tessalonisense 3:1; vgl.1 Tessalonisense 5:25.
  59. ^ HK: ANTW. 116.