4 bladsye. Vertaal deur Nic Coetzee .

Voornemens en Planne deur die Genade van God

predikant

Ek het by die personeel van ʼn groot evangeliese kerk aangesluit toe ek negentien jaar oud was. Sommige leraars op die personeel het wonderlike vriende en mentors geword, maar namate ek ander leraars by die kerk en by ander kerke in die omgewing leer ken het, was ek bedroef deur wat ek waargeneem het. Namate ek sommige leraars beter leer ken het, het ek opgemerk dat dit lyk asof  hul liefde vir die bediening groter was as hul liefde vir God. Dit het gelyk asof die bediening oor die jare self  ʼn god geword het. Hul eie koninkryke het die koninkryk van God vervang. Hul gebede was gesentreer op sukses in bediening eerder as op getrouheid aan God in die bediening. Gevolglik het verskeie leraars oor die jare, een-vir-een, die bediening verlaat omrede hulle net eenvoudig nie langer kon lewe onder onredelike, onvergewensgesinde, en selfopgelegde wettiese vereistes nie.

Ek het ingesien dat bediening op sigself, sonder God as fondament, heeltemal tevergeefs is. As hulle nie in standvastige oorgawe aan God lewe nie, sal leraars wat net vir die bediening lewe die bediening verlaat of, nog erger, die bediening sal hulle verlaat. Sekerlik kan so ʼn leraar aanhou met preek, bid en programme opstel terwyl hy sy man probeer staan, maar mettertyd sal sy voete gly en sy bediening sal sy siel van binne af begin verteer. So ʼn bediening sal die man verteer en dit sal dwarsdeur die gemeente voortwoeker . Dit lei tot sinisme, apatie, en uitbranding. Dit ken nie genade nie en soek net sy eie voordeel. Sonder God as die kern van die bediening, is bediening nie slegs ʼn dwaasheid  nie, maar dit is onmoontlik. Maar dit is gelukkig presies soos God dit geskep het – dat dit sonder Hom onmoontlik sou wees.

As ʼn negentien jarige student, wat voorberei vir die pastoraat, het ek bekommerd geword dat ek ook eendag by die punt in bediening sal kom waar my ywer vir bediening groter sal word as my ywer vir God – dat bediening my godsdiens sal word, dat die afgod van sukses in bediening my hartsverlange om getrou aan God te wees, sal vervang.

Met dit alles swaar op my gemoed het ek een oggend uit die bed op my knieë gegaan en tot God geroep dat Hy my sal toerus vir die bediening, my sal dra in my bediening, en my ywerig sal maak vir die bediening – ʼn ywer wat sal voortvloei uit my liefde en ywer vir God self. Daardie oggend het ek die volgende voor in my Bybel geskryf: “Ek sal leef vir God, nie vir die bediening nie.” Sedertdien het ek elke jaar, deur God se volgehoue genade, myself aan die Here oorgegee, en Hom gebid om my te help om vir Hom te lewe, en slegs op Hom te vertrou om my toe te rus, my te dra en te bemagtig vir Sy bediening.

Ten einde standvastig te bly in my navolging van aktiewe oorgawe om vir die saak van God te lewe en nie vir die saak van bediening nie, moet ek nie slegs gereeld my sonde van selfstandigheid bely nie, maar ook van voorneme wees om vasbeslote te bly deur my hele lewe, en my vreugde te vind in die Here se oorvloedige liefde en versekering. Want as ek op my eie krag staatmaak sal al my pogings verlore wees.

Voorneme om standvastig te bly🔗

Elke nuwe jaar word ons vasgevang in ʼn swetterjoel goedbedoelde voornemens. Met ʼn laaiende entoesiasme begin die mense naaste aan ons deelneem aan besondere, en partykeer openbare, aktiwiteite wat selfs die buurt se kinders laat wonder. Ons word getuies van verrassende verklarings en skynbaar goedbedoelde nuwejaarsvoornemens, en ons word opgeroep om getuies te wees van die veranderings wat gaan plaasvind – voornemens vir veranderde geaardhede, onmoontlike diëte, en ondeurdringbare forte van dissipline.

koek of appel

Die skeptiese waarnemer mag vra: “Is al hierdie geesdrif nodig?” Verder kan die siniese leser vra: “Is daar enige doel om voornemens op te stel? Moet ons nie altyd en onder alle omstandighede poog om wys, gehoorsaam en bybels te lewe nie?”

Sommige kan selfs so ver gaan om te argumenteer dat voornemens nie bybels is nie, omdat die Woord van God ons voorsien van ʼn volledige en gesaghebbende lys van God se voornemens vir Sy volk. Hulle redeneer dan dat om ons eie lys van voornemens op te stel, op sy beste, oorbodig is.

Hierdie soort vrae oorweeg ek altyd as dit kom by die maak van voornemens, en ek het ʼn idee dat baie van my kollegas, Bybel-onderlegde skeptici, ook sulke vrae het. Nogtans gee die Woord van God ons nie net toestemming om voornemens te maak nie, dit gee ons ook goeie redes waarom ons dit moet doen. Verskeie bybelgedeeltes voorsien ons van gronde vir besluite en dit gee voorbeelde van manne van God wat hulle voorgeneem het om vir Hom te lewe op ʼn sekere manier vir ʼn sekere rede (Dan. 1:8Mat. 1:19Hand. 19:211 Kor. 10:14–32Kol. 3:12–172 Tes. 1:11).  Wanneer ons oorweeg hoe om God te vereer in alles wat ons doen, in ons besondere omstandighede en beroepe, sal ons wys wees om ons voor te neem om besondere besluite te maak om ons in ons heiligmaking te help. Dit doen ons deur die krag van die Heilige Gees, gerus in die wete dat ons regverdig verklaar is deur die Vader as gevolg van die volbragte geregtigheid van die Seun.

Die voorneme van Edwards🔗

Die negentienjarige Jonathan Edwards het sy swakhede geken, en was bewus van die vernietigende aard van sy sonde, dus het hy besluit om sekere voornemens te maak in ʼn poging om tot eer van God te lewe. Hy het die pad vir ons oopgemaak toe hy in die aanhef van sy sewentig voornemens die volgende gesê het:

Ek is bewus daarvan dat ek nie in staat is om enigiets sonder God se hulp te doen nie, en ek vra Hom nederig om deur Sy genade my te help om my by hierdie voornemens te hou, in soverre dit ooreenstem met Sy wil, om Christus wil.

Hierdie eenvoudige inleidende woorde van Edwards gee ons nie net insig in die verstand van een van die geskiedenis se groot geeste nie, dit gee ons ook heerlike insig in die hart van ʼn jong man wie se hart deur God nederig gemaak is, en wie beheer is deur die Here God almagtig. Dit sal dus goed wees om Edwards se inleidende opmerkings ter harte te neem as ons poog om God te verheerlik, en Hom vir altyd te verheerlik in ons kerke, huise en ons harte.

Jonathan Edwards🔗

Sinvolle voornemens🔗

Edwards begin sy voorwoord met “bewus daarvan” – ons moet verstandig en redelik wees wanneer ons voornemens maak. As ons iets aanpak deur oorhaastige voornemens te maak gegrond op groot droombeelde van sondelose volmaaktheid, is dit heel moontlik dat ons nie slegs sal faal in ons poging om by sulke voornemens te hou nie, maar ons sal waarskynlik ook minder geneig wees om verdere voornemens te maak vir soortgelyke uitkomstes. Ons voornemens moet gepaard gaan met opregte gebede en deeglike studie van God se Woord; daarom moet enige voorneme wat ons maak noodwendig ons toelaat om al die besondere roepings in ons lewe te vervul. Ons moet die gevolge van ons voornemens oorweeg, en versigtig wees dat ons ons voornemens maak met ander in gedagte, selfs al sou dit beteken dat ons ons voornemens oor ʼn tydperk stapsgewys moet implementeer.

Afhanklike voornemens🔗

Edwards erken: “ek is nie in staat om enigiets sonder God se hulp te doen nie”. Ons moet die eenvoudige waarheid dat elke voorneme in afhanklikheid van God gemaak moet word, in ag neem. En terwyl elke Christen sal antwoord: “Natuurlik moet ons op God vertrou vir alle dinge,” dink die meeste Christene in aardse terme. Hulle dink dat wanneer hulle afhanklik van God word, hulle onmiddellik krag sal ontvang. Hulle herhaal die wêreldse spreekwoord: “Wat nie doodmaak nie, maak sterk.” Terwyl hierdie beginsel oor die algemeen waar is, kan so ʼn denkwyse ʼn houding van trotse onafhanklikheid skep. Ons moet verstaan dat waar ons tot alles in staat is deur Christus wat ons die krag gee, dit beteken dat ons deurlopend op Sy krag moet staatmaak om alles te doen en by ons voornemens te hou (Ef. 3:16; Kol. 1:11). Inderwaarheid, alles wat ons nie doodmaak nie, deur God se genade, maak ons swak sodat ons in ons swakheid deurlopend op die krag van ons Here sal staatmaak (2 Kor. 12:7-10).

biddende hande🔗

Nederige voornemens🔗

“Ek vra Hom nederig om deur Sy genade my te help om my by hierdie voornemens te hou.” Wanneer ons voornemens maak vir die verheerliking van God, en voor die aangesig van God, moet ons nie in Sy teenwoordigheid kom en op ons bors slaan in triomfantelike hooghartigheid nie, asof God ons nou meer moet liefhê en seën omdat ons sekere voornemens gemaak het om Hom beter te volg. In werklikheid mag die Here in sy voorsienigheid daarvoor kies om meer beproewings in ons lewens toe te laat; in Sy onveranderlike vaderliefde vir ons mag Hy besluit om ons meer te tugtig sodat ons ons sondes meer kan verafsku en ons vreugde meer in Hom kan vind. Ons moet tot Hom nader in nederige afhanklikheid van Sy genade, want ons soek nie net die seëninge nie, maar die Een wat seën.

Voornemens om Christus ontwil🔗

“In soverre dit ooreenstem met Sy wil, om Christus wil.” Ons kan ons nie voorneem om enigiets te doen met ʼn verwaande houding teenoor God nie. Die hele saak om voornemens te maak is nie net die opstel van doelwitte sodat ons gelukkiger kan lewe nie. Ons word deur God opgeroep om volgens Sy wil te lewe, nie volgens ons eie wil nie – want die eer kom ons nie toe nie, maar aan Hom behoort al die eer (Ps. 115:1).