2 bladsye.

Vrede

Ons glo ons lewe in ’n tyd van vrede. Na die laaste wêreldoorlog heers daar vrede.

Is dit egter ware vrede as daar sedert die laaste wêreldoorlog reeds meer mense in oorlogsgeweld omgekom het as al die mense in die laaste wêreldoorlog saam?

Is daar werklik vrede as daar daagliks gemiddeld 25 000 nuwe vlugtelinge is?

Is daar werklik vrede as die grootste deel van die menslike bevolking onderdruk word en honger ly?

Wat beteken die vrede wat ons in ons eie land ken en ervaar? Kan daar van vrede sprake wees as soveel teenstellings beleef word?

Hoe kan ons van vrede praat as mense se lewens oorheers word deur misverstande, bakleiery en onmin?

Een ding is egter baie duidelik vanuit die Bybel sigbaar, en dit is dat God ’n God van vrede is. Sy bedoeling is vrede. Sy ryk is ’n ryk van vrede.

Daarmee saam moet ons goed besef dat die woord “vrede” in die Bybel ’n eiesoortige betekenis het. Miskien is dit juis nodig dat ons ons siening oor vrede krities beoordeel vanuit dit wat die Bybel daaroor sê.

In die Bybel het vrede - shalom is die woord wat in die Ou Testament gebruik word - alles te doen met goeie onderlinge verhoudings. Die afwesigheid van oorlog, ’n negatiewe faktor, is nie wat vrede bepaal nie, maar die positiewe, naamlik die aanwesigheid van goeie verhoudings.

Wat hierdie verhoudings betref, verwys die Bybel heel eerste na die verhouding tot God. Gestel alle onderlinge verhoudings is goed, maar die verhouding met God ontbreek, sal en kan daar nie opregte vrede heers nie. Die afwesigheid van vrede word deur sonde veroorsaak, wat die verhouding met God versteur. Vrede is slegs daar waar die verhouding met God herstel is.

Goeie onderlinge verhoudings is onlosmaaklik verbonde aan ’n goeie verhouding met God. Selfs al is daar geen oorlog in die ware sin van die woord nie, kan onderlinge verhoudings totaal versteur wees.

Die Bybel roep ons op om hierdie onderlinge verbondenheid met mekaar te beleef en op te skerp, byvoorbeeld “....sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.” (Romeine 12 vers 18).

By al die verhoudings wat goed moet wees om van vrede te kan spreek, kom ook ons innerlike verbondenheid met onsself ter sprake. Dit is opvallend en belangrik dat hierdie aspek van vrede nie die hoofrol in die Bybel speel nie. Dit kom net so terloops aan die orde.

Ons kan byvoorbeeld verwys na die gebed van Paulus in Romeine 15:13, waar hy vir die gelowiges in Rome bid dat “die God van hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof”. Die samestelling van die woorde “vreugde” en “vrede” gaan hier oor die innerlike vrede wat iemand persoonlik mag ervaar.

Ware vrede is dus ook wanneer ons nie meer ’n speelbal van onrus en verwarring is nie, maar daar harmonie, orde en rus is in ons lewe.

Slegs as al hierdie verhoudings goed is. Slegs dan kan ons ontplooi en diensbaar wees. Dit is waaroor vrede gaan.

Die Bybelse vrede kan in leketaal die beste beskryf word met die woord “welsyn”.

Die orde waarin die verhoudings staan kan nie net willekeurig verander word nie. Dit is heel eerste die verhouding tot God, die verhouding tot ander, en daarna die verhouding tot onsself.

Ds J Overduin is heeltemal reg as hy daarop wys dat vrede vir meeste mense daarin lê dat dit allereers moet goed gaan met my, daarna die taak om goed te doen, en laastens om goed te wees. In die Bybel is die orde egter presies teenoorgesteld. In die Bybel het vrede heel eerste te doen met “goed” wees. “Goed wees” verwys na jou verhouding met God. Daarna het vrede te make met goed doen. “Goed doen” verwys na jou verhouding teenoor jou naaste, die mense rondom jou. En laastens het vrede ook nog te make met “goed gaan”. Goed gaan verwys na die verhouding met onsself.

Ons moenie probeer om die orde van vrede te versteur nie. Hy wat by die verkeerde kant van die orde begin, sal bedroë daarvan afkom.

Die aard van Bybelse vrede lê juis in die orde waarin dit gegee word!

Voordat die Here Jesus hierdie aarde verlaat sê Hy vir sy dissipels: “Vrede laat Ek vir julle na. My vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie” (Johannes 14:27).

Die vrede van Jesus is anders as die vrede van die wêreld. Die vrede van die wêreld het te doen met mag. Die vrede van Jesus het te doen met offer.

In hierdie verband kan ons die Latynse woord “Pasifiseer” gebruik. Hierdie woord beteken: “om vrede te bring” maar kan ook vertaal word met: “aan jou onderwerp”. En hierdie laaste verklaring is presies waarop wêreldvrede gebaseer is. ’n Vrede wat tot stand gebring word deur ander aan jou te onderwerp. So word in hierdie wêreld gereeld vredesverdrae gesluit.

Vrede in Christus is egter ’n vrede wat groei uit selfverloëning, om jouself aan ’n ander te gee. Dit is die pad van vrede wat Jesus self geloop het en wat Hy aan ons voorhou as die enigste weg om te gaan.

Baie mense wil nie hierdie pad van vrede loop nie. So kom hulle in stryd met die Vredevors Jesus. Opmerklik is dat Jesus hierdie teenstrydigheid self onder woorde bring as Hy sê dat Hy nie na hierdie aarde gekom het om vrede te bring nie, maar die swaard van verdeeldheid (Lukas 12:51). Jesus bedoel hier dat Hy nie na die aarde gekom het om vrede te bring wat aan menslike eise voldoen nie, soos die wêreld dit verlang nie. Hy kom nie om ’n pad na een of ander verborge supermoondheid bekend te maak waaraan alle mense onderwerp sal word nie.

Inteendeel, elke keer as ons die mag in eie hande wil neem, en dit ook nog onder die vaandel van Christus wil regverdig, roep Hy ons radikaal tot orde. Jesus bring vrede, maar nie vrede tot eer van onsself nie. Sy vrede is altyd ’n vrede ten koste van onsself.