Bron: Wegwijs. 3 bladsye.

Vrede onder die Mense - die Weg tot Mekaar

‘Skole moet op ʼn vaste basis tyd bestee aan die verskynsel van ‘boelies’. Elke dag word honderdduisende kinders die slagoffers van ‘boelies’. Dit maak so 10% van die totaal uit. Ongeveer net soveel is die ‘boelies’. Die ‘boelies’ loop oral rond, van die laerskool tot by die hoërskole. Op laerskool is die ervaring om geboelie te word meer intens as in latere onderwys. Maar in die laagste klas van die hoërskool neem dit weer effens toe. Daar moet ʼn nuwe rangorde (‘pikorde’) vasgestel word. Boelie is ʼn middel daartoe.’

Uit ʼn onderhoud met ʼn Sosioloog wat ondersoek doen na die boelie-verskynsel.

Vredestigters🔗

Jongmense ‘boelie’ mekaar. Kinders maak rusie. Volwassenes sit vol haat, en wil hulle wreek. Dit kom oral voor. Selfs in die kerk. Nog nie so lank gelede nie moes ons nederig ons hoofde buig vanweë die moeite in ons kerklike lewe. In talle kerke is daar probleme. Onderlinge verskille sorg vir onvrede. Ons ervaar dat dit ongelooflik moeilik is om in vrede met mekaar saam te lewe.

Jesus spreek ʼn diep woord as hy sê:

Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.

Matteus 5:9

Dit is woorde uit die Bergrede. ʼn Pragtige ‘wêreldberoemde’ toespraak van Jesus. Maar die moed sak in ons skoene as ons hoor wat Jesus vra. Ons het die neiging om tou op te gooi. Wie kan daarop aanspraak maak om ʼn vredemaker te wees? Wie draai die linkerwang na iemand toe wat jou op die regterwang geslaan het? Wie het sy vyande lief en bid vir dié wat hom vervolg? Tog verkondig Jesus hier geen onsin nie. Stel jou voor! Hy saal ons ook nie op met ʼn onhaalbare ideaal nie.

Die Bergrede begin met nege gelukwensings aan die adres van mense wat met God verbonde is. Dit gaan in die eerste plek oor die verhouding met God. Vir vredemaak is ʼn intieme omgang met God nodig. Gelukkig is die vredemakers! Dit het te doen met jou identiteit. Dit gaan oor met wie jy omgaan, en nie oor wat het jy gedoen het nie. Jesus het jou gelukkig verklaar. Om op Hom geënt te wees, maak van jou ʼn vredemaker.

Verbondenheid🔗

Alles wys heen na die intieme omgang met God. Die beeld van ʼn huwelik kom by ons op. Twee mense is met mekaar getroud. Hulle hou van mekaar. Hulle doen alles saam. Hulle eet saam, praat saam, slaap saam, huil saam en lag saam. Hulle soek mekaar elke keer weer op. In hierdie beeld is God die ‘man’, en ons is die ‘vrou’. God het sy volk uitgekies. Hy wil voortaan saam met ons wees. Ons mag altyd op Hom staat maak. God gee sy ‘vrou’ al die liefde wat Hy het. Hy wil gelukkig ‘getroud’ wees. Niks is treuriger as ʼn slegte ‘huwelik’ nie. God soek ons hart.

Om vrede te maak is dan skielik nie meer ʼn lastige reël nie. Niks fout met reëls en afsprake nie. Maar dit gaan om die verbondenheid met God en met Jesus. As dít nie daar is nie, sal daar ook nooit enige gevoel van liefde en aanvaarding wees nie. Dan kan ons slegs konstateer dat die vrede nog ver weg is. Dat daar nou eenmaal spanning is waar mense bymekaar is. Harde woorde en deure wat toegegooi word. As die verbondenheid wel daar is, dan gaan daar konkreet iets verander. Wie met God verbonde is, laat hom deur die Gees van God lei. Uit die verhouding met God kom die gebed op om die minste te kan wees. So is jy voluit vredemaker en vredebewaarder.

Gesindheid🔗

Paulus sê dieselfde, net in ander woorde. As jy moeite ondervind om ʼn vredemaker te wees, moet jy jouself ondersoek of jy ʼn goeie verhouding met God het. Is daar dalk dinge wat jou aandag van God aflei, soos byvoorbeeld jou eie ek, of jou eie eer, of jou eie belange? Hoe kan jy in vrede met ander saam lewe as jóú geluk die belangrikste is? As alles moet wyk voor jou ideale? Die Bybel gee ʼn eindelose aantal voorbeelde waaruit dit blyk dat as daar geen intieme verbondenheid met God en met Christus is nie, dinge heeltemal skeefloop.

Die brief aan die Filippense is gerig aan mense wat één is (!) in Christus Jesus (1:1). Paulus verheug hom oor hulle, wanneer hy aan hulle dink. God het ʼn goeie werk in hulle begin. Hulle werk saam aan die verspreiding van die evangelie. So wys hulle dat hulle van harte agter Paulus se sendingwerk staan. Hulle is getrou in hulle gebede en is gasvry. Hulle stuur vir hom liefdesgawes. Hulle neem aktief deel. Tog is daar ook sorge. Die gemeente is nog nie volmaak nie. Veral die onderlinge verdeeldheid stem Paulus tot verdriet.

Paulus bid tot God dat hulle liefde sal bly groei. Daar is nog so baie geldingsdrang, eiewaan, en gebrek aan beskeidenheid. Die diepere oorsaak is dat hulle nie die gesindheid van Christus het nie (Filippense 2:5). Christus het homself klein gemaak. Uit liefde vir die mense het Hy sy ereplek by God opgegee. Hy het self die gestalte van ʼn slaaf aangeneem en word so aan die mens gelyk. Mag daardie gesindheid ook by u gevind word. Christus verander jou lewe radikaal. Deur die verbondenheid met Hom gaan daar ʼn wêreld vir jou oop. Jy kyk anders na jou mede-kerklidmate. Christus het gekom, gesterf en opgestaan, ook vir hulle.

As ek my nie vergis nie, onstaan baie onvrede waarmee ons vandag te doen het, deur ongeduld. Christus leer jou om die ander te aanvaar in hulle andersheid. Hy leer jou om ander te dien, te vergewe, en te help. As julle so met mekaar in die gemeente omgaan, kan julle vir ander baie beteken. Julle is in die wêreld ʼn goeie voorbeeld vir ander mense. Voorwaar ʼn voorbeeldige gemeente!

Vrug van die Gees🔗

In Galasiërs 5:22 skryf Paulus oor die vrug van die Gees: liefde, vreugde en vrede... Hy plaas die ‘werke van die vlees’ en die ‘vrugte van die Gees’ teenoor mekaar. ‘Werke’ dui op dit wat ons almal self veroorsaak: vyandskap, twis, jaloesie en woede, gekonkel, rusie en wedywer (Galasiërs 5:20). Maar die vrug van die Gees is liefde, vreugde en vrede...

As ek kyk na die druiwe wat in ons tuin groei... dit is elke jaar weer eens ʼn wonder! ʼn Vrug groei sonder dat jy iets hoef te doen. Jy kan hoogstens ʼn paar takkies wegsnoei en van die blare wegneem. Maar ʼn vrug moet ryp word. In ons lewens is dit die Heilige Gees wat daarvoor sorg. Hy neem die stryd op teen al die lelike dinge wat ek uitdink en doen. Dit is nodig om jou hart vir Hom oop te maak. Dan gaan jou hart ook oop vir ander. Jy hoef jouself nie meer te bewys nie. Hy gee jou sy vrede. Daar is altyd wel redes om ander mense af te skryf. Maar ʼn Christen skryf nie af nie, hy bid om die vrug van die Gees, vanuit die belofte wat by die doop gegee is. Lê jou lewe voor God neer. Hy wil niks meer hê as om Sy vrede aan ons uit te deel nie.

Vrede in die samelewing🔗

Die geluk om Jesus Christus te mag ken, gun jy as Christen vir alle mense. Jy gun hulle dit om in vrede met God en hul naaste te mag lewe. Daarom bid ons vir alle mense. Vir ons bure en ons kontakte, vir ons regering en volksverteenwoordigers. Ons wens is nie maar net dat dit met elkeen goed gaan nie, hoe belangrik dit ook al mag wees. Vir baie mense het vrede wel daardie goed-gaan gevoel. As dit met elkeen goed gaan, het ons die einddoel op aarde bereik, vrede! Maar dit werk nie so nie.

Stefan Paas noem in sy boek “Vrede stichten”  ʼn interessante voorbeeld. Dit raak die kwessie aan van vrouemishandeling in Islamitiese gesinne. Hoe kan jy moslem-manne oorreed om nie hulle vroue te slaan nie? ʼn Gewese Moslem bied die volgende ‘oplossing’ aan: Moslems moet aanvaar dat selfbeskikking in Nederland ʼn baie belangrik doelwit is. Manne en vroue het die beskikking oor hulle self. As manne los seksuele verhoudings mag aangaan, dan mag vroue dit ook doen.

Dit bring hierdie Moslem-manne in groot moeilikheid. Hulle dink nie eers daaraan om die vrye moraal van die weste oor te neem nie. Hulle is ook nie van plan om die ruimte waaroor hulle beskik, af te staan nie. Christene gun die Moslems dat hulle die Bybelse weg volg. Hulle benadruk daarom sowel die belangrikheid van kuisheid, as die gelyke verantwoordelikheid van man en vrou. Dit beteken dat manne moet leer om hulle vroue lief te hê en te dien. ʼn Man mag dit erg vind as sy vrou na ander mans kyk. Maar hy sal allereers ʼn verbond met sy eie oë moet sluit.

Die wins van hierdie benadering is, dat jy ʼn Moslem so wys dat hy vooruitgang kan aanteken. Hy hoef hom nie te ‘bekeer’ tot die geloof in die vrye moraal nie. Hy mag verder voortbou op dit wat hy reeds weet van die skeppingsorde.

Daarmee is nie gesê dat jy maklik vrede in ons gemeenskap kan bereik nie. Tog is die weg wat jy so wys, ʼn weg van vrede, wat belangrik is vir stabiliteit in die onderlinge verhoudinge. Dit begin by jouself, by die diens aan God en sy evangelie. Dit sou mooi wees indien die mense met wie jy saam leef dit ook volmondig sou erken.

Opdrag🔗

  1. Lees die Bybelgedeelte saam.
  2. Laat elkeen vir homself die vrae op ʼn vel papier beantwoord.
  3. Bespreek die vrae en die gegewe antwoorde in klein groepies.
  4. Doen dit vervolgens ook met die tweede Bybelgedeelte met die bybehorende vrae.

Filippense 1:1-6🔗

  • Beskryf die eenheid in Christus Jesus wat daar in jou gemeente is (vs. 1).
  • Gaan ná waarvoor Paulus dank uitspreek (vs. 5).
  • Wat kan jy leer van die feit dat Paulus begin met ʼn dankwoord?
  • Waarvoor sou jy God wou bedank as jy aan jou eie gemeente dink?

Filippense 2:1-11🔗

  • Beskryf in jou eie woorde die gesindheid wat daar in Christus Jesus was.
  • In ʼn gesin mag julle afsprake met mekaar maak. Hoe doen jy dit in die gesin wat ons ‘die gemeente’ noem (vs. 3)?
  • Watter afsprake sou jy wil maak n.a.v. wat jy in vers 2 lees?