Bron: Die Kerkblad, 2008. 2 bladsye.

Vreemdelingvrees (of: Xenofobie)

xenefobie

Dit was lank ’n sluimerende vulkaan, dié van onwettige immigrante, maar oornag het dit gedurende middel-Mei in Gauteng uitgebars. Suid-Afrikaanse burgers, waaronder ’n sterk kriminele element, het op vreemdelinge uit die buiteland, veral Zimbabwiërs, van wie na bewering meer as 3 miljoen hulle in Suid Afrika bevind, toegesak, plakkershuise afgebrand, verkoopstalletjies omgegooi en reeds meer as 40 mense wreed vermoor. Terwyl ons skryf, is die verwoestingsproses onverminderd aan die gang en word daar uit talle oorde pleidooie gelewer dat die geweld gestaak moet word. Hoe moet ons in die lig van die Bybel hieroor oordeel? Ons doen dit met ’n “enersyds” en ’n “andersyds”.

Enersyds🔗

Enersyds moet die huidige probleem van onwettige immigrante in die land in ’n groot mate voor die deur van ons regering gelê word. Die regering is met sy beleid van stille diplomasie minstens medeverantwoordelik vir die ekonomiese chaos en sosiale wanorde (om nie te vergeet van die kerklike agteruitgang nie) wat tans in ons buurstaat Zimbabwe aangetref word. Sienderoë is toegelaat dat ’n diktator soos mnr Robert Mogabe ’n pragtige land tot in die afgrond verwoes – en dan is nog nie eens verwys na die volgens skatting – ongeveer 30 000 Matabeles wat in die tagtigerjare in die Bulawayo-omgewing vermoor is nie.

Verder het die Suid-Afrikaanse regering in gebreke gebly om enige doeltreffende grensbeheer met buurlande toe te pas, as gevolg waarvan miljoene immigrante Suid-Afrika ongehinderd binnegestroom het. Dit kon dus verwag word dat die plaaslike (arm) bevolking vroeër of later met antipatie en selfs woede sou reageer teen buitelanders wat werksgeleenthede wegneem en in die Suid-Afrikaanse welvaart probeer deel. En het die ANC dan nie altyd nog lewensverbetering en voorspoed vir die armes beloof nie?

En so het ons tans te doen met ’n nuwe probleem in Suid-Afrika, naamlik xenofobie of vreemdelingvrees (afgelei van twee Griekse woorde: xenos = vreemdeling, en phobos = vrees). Die vreemdelingvrees het egter ontaard in vreemdelinghaat en vreemdelingmoord.

Tot sover die “enersyds”.

xenofobie

Andersyds🔗

Maar daar is ook ’n “andersyds” – die “andersyds” van die Bybel.

In die Ou Testament is daar op baie plekke verwysings na vreemdelinge, ook na verskillende groepe vreemdelinge, wat elk op sy eie wyse behandel moes word. Terwyl die bose Amalekiete en Kanaäniete byvoorbeeld uitgeroei moes word, kon die Ammoniete en Moabiete in die Beloofde Land bly woon, maar hulle mag nie by Israel ingelyf word nie (Deut 23:3). Die Edomiete en Egiptenare kon egter deel word van Israel – in die derde geslag (Deut 23:7-8). Bekende vreemdelinge moes altyd goed behandel word (Eks 22:21). Omdat Israel die afgesonderde volk van God was, het hulle altyd ’n bepaalde distansie teenoor ander, ook vreemdelinge, gehandhaaf. Ons moet egter in gedagte hou dat daar by Israel tussen kerk en staat ’n besonder noue band bestaan het, wat nie in dieselfde sin in die Nuwe Testament terug te vind is nie.

Die Nuwe Testament verwys ook na vreemdelinge, maar dan veral as voorwerpe van mense wat hulp nodig het (Matt 25:35). Hulp, of nie-hulp, aan vreemdelinge word selfs ’n toetsvraag op die laaste dag (Matt 25:45). Die Bybel verwys op talle plekke na philoxenos, dit wil sê liefde vir die vreemdeling.

Gelowiges moet ook altyd besef dat hulle vreemdelinge op aarde is op weg na ’n groter vaderland (Heb 11:13). Ook die onlangse gebeure herinner ons opnuut aan hierdie waarheid.

uitgestrekte hand🔗

Balans🔗

In die lig van die Christelike etiek moet vreemdelinghaat en vreemdelingmoord ten sterkste afgekeur word. Dit is in stryd met die evangelie van Christus, ontken die gebod van liefde tot die medemens (selfs die vyand) en minag die mens as beeld van God. Daarom verwag Christus altyd van sy navolgers om na mense in nood met ’n hart van liefde en ’n oop hand uit te reik.

Aan die ander kant moet Christene steeds profeties getuig teen die regering wat al hoe meer in gebreke bly om ’n vreedsame en verantwoordelike samelewing te skep en in stand te hou. Die regering moet baie dringend, met die hulp van kundiges, ’n plan van aksie ontwerp om die vraagstuk van onwettige immigrante sinvol, verantwoordelik en menslik aan te spreek en op te los. Ons het hier immers te doen met weerlose mense in nood en wanhoop.

Laat ons in ons gebede nooit mense in nood vergeet nie, maar terselfdertyd ook die Here vra om aan die regering die nodige wysheid te gee om 'n spoedige oplossing te vind.