Bron: Vox Viva. 3 bladsye.

Vroue wat Help deur te Dien

“Wat moet ons doen met Debóra?” Dit was my vraag aan ’n ouer kollega toe ek in my studentedae geworstel het met die vraag na die rol van die vrou in die leeramp in die kerk. Debóra het immers ’n posisie van leidinggewing beklee onder die volk van die Here in ’n tyd van afvalligheid?

Was dit nie ’n goeie voorbeeld van ’n “vrou in die amp” nie? Die wyse kollega (dalk was dit sy manier om my vraag te omseil?) het my geantwoord: “Laat ons die Here dank vir Debóra”. En tereg – in ons poging om die opkoms van die sekularisasie in die kerk op die terrein van die verhouding tussen die rol van die man en vrou teë te staan, word ons dikwels verblind vir die goeie gawes van die Here. Vroue wat in die kerk profeteer, leer, bid, besig is met pastorale versorging en les bes ook vroue wat gekenmerk word deur hulle hulp in diens aan ander. “Elke goeie gawe en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie”. Dit hoor ons van die apostel Jakobus (Jak. 1:17).

En met hierdie dankbaarheid moet ons begin. Dankbaarheid teenoor die Here vir die gawe van dienende vroue (en mans!) in die gemeente. Ons moet almal mekaar se diensknegte wees, en tog vind ons in die Nuwe Testament dat daar naas mans wat “diakens” (diakonos - Grieks) genoem word, ook bepaalde vroue was wat erkenning geniet het deur hulle diensbaarheid.

Diens met hulle Besittings en Gawes🔗

Reeds tydens Christus se lewe op aarde hoor ons van vroue wat Hom “met hulle besittings gedien het” (Luk. 8 : 2-3). Hierdie vroue het Christus, saam met die twaalf, vergesel tydens sy reis van die een stad en dorp na die ander. Dit was heel opmerklike vroue. Die een was Johanna, die vrou van Gusa, wat ’n bestuurder van Herodes was. En dan was daar Susana. Oënskynlik het albei ’n behoorlike posisie in die samelewing beklee. In elk geval kon hulle deur hulle diens met hul besittings deel in die onderhoud en versorging van Christus en sy apostels.

Ná Pinkster lees ons in Handelinge van Tabita wat ook bekend was as Dorkas. Hierdie Tabita het haar handvaardigheid gebruik in diens van die gemeente en in besonder die armes. Sy was oorvloedig in goeie werke en aalmoese wat sy gedoen het (Hand. 9:36). Hierdie Tabita word later deur Petrus uit die dood opgewek en teruggegee aan die weduwees vir wie sy klere gemaak het toe sy nog geleef het. Deur haar opwekking uit die dood word sy aan die gemeente en besonder die weduwees teruggegee as dienende vrou. Sy word “dissipelin” (Hand. 9:36) genoem, sonder dat die woord “diaken/diakones” vir haar gebruik word.

Diaken van Kenchréë🔗

Trouens, ons kry nêrens in die Nuwe Testament die vroulike vorm “diakones” naas die manne wat diakens genoem word nie. Nogtans kom die manlike vorm (diakonos – Grieks) een keer wel in verband met ’n vrou voor. In die 1953 Afrikaanse vertaling word die woord met “dienares” vertaal. Fébé, lidmaat van die gemeente in Kenchréë, word by die gemeente in Rome aanbeveel as “beskermster vir baie” (Rom. 16:1-2). Sy word “diaken” genoem met ’n heel eie taak in haar gemeente en word nou as afgevaardigde na die kerk in Rome gestuur. Sonder enige kwalifikasie word die manlike titel “diaken” vir haar gebruik. Sy was nie slegs ’n vrou wat dien nie, maar dra selfs hier ’n titel wat haar werk beskryf.

Vroue naas Diakens🔗

Doelbewus noem ek hulle só – dienende vroue náás diakens. Ons lees van hulle in 1 Timótheüs 3:11. Terwyl Paulus besig is om die lewe en lewenstyl van die diakens te beskryf, noem hy ook nog die lewenstyl van dienende vroue in die gemeente. Hierdie vroue moes waardig wees, geen kwaadspreeksters, nugter en betroubaar in alles. Dit was vroue met ’n eie funksie wat hulle in die kerk moes vervul. Opmerklik genoeg word hulle níé diakens genoem nie.

Sommige eksegete noem hierdie vroue die eggenotes van die diakens. Dit lyk egter onhoudbaar in die konteks. Ook gaan dit nie oor alle susters in die gemeente nie. Dit gaan hier oor ’n besondere groep vroue wat ’n eie plek en funksie in die gemeente gehad het. Paulus praat oor hierdie vroue juis terwyl hy besig is om die werk van die diakens te beskryf. Dit lyk daarom geregverdig om te veronder stel dat hierdie vroue juis vroue was wat betrokke is by hulpverlening in die gemeente.

Dit is heel belangrik dat hulle werk juis van dié van die diakens onderskei word. Dit is werk wat onmiddellik in dieselfde asem genoem word. Vroue en mans ontvang gawes op dieselfde terrein van die Gees. En tog funksioneer hulle náás die diakens. Presies wat die verhouding was tussen die broeders wat as diakens genoem word en die susters wat op dieselfde terrein werk, word nie hier vir ons onmiddellik duidelik nie. Dat daar wel samewerking was, is duidelik. Indien ons Handelinge 6:1-7 verstaan as ’n situasie waarin die Griekse vroue nie vra om hulp in die gemeente nie, maar eerder begeer om ingeskakel te word by die diensbetoon (die versorging van ander) in die gemeente, pas dit by hierdie patroon in in Efese waar Timótheüs gearbei het. Sewe broeders word aangestel om leiding te neem by die organisering van die versorging in die gemeente. In die  uitvoering van die werk staan broeders en susters  naas mekaar.

Dienende Weduwees🔗

In 1 Timótheüs 5:3-16 ontmoet ons ’n groep vroue wat wel geen diakens genoem word nie, maar op die oog af tog ’n amptelike funksie vervul het. In die Kantaantekeninge van die Nederlandse Statenvertaling word hierdie susters selfs “diakonesse” genoem! Dit is duidelik die bedoeling van die apostel dat die weduwees ouer as 60 vir ’n spesifieke taak in die gemeente aangewys word. ’n Taak wat openbare erkenning geniet het. Die vereistes wat aan hierdie weduwees gestel word, dui daarop dat hulle ’n heel spesifieke verantwoordelikheid gedra het. Uit die feit dat Paulus sê dat hierdie weduwees “in aanmerking kom”, blyk dit dat hierdie weduwees selfs ’n bepaalde aanstelling in die gemeente gehad het.

Dit sou moontlik wees dat hierdie weduwees die vroue kan wees waarna Paulus in 1 Timótheüs 3:11 verwys met hul taak naas die taak van die diakens. Opmerklik genoeg word ook hierdie weduwees glad nie deur Paulus diakonesse genoem nie. Dit staan in elk geval vas dat hierdie susters ’n heel spesiale posisie in die gemeente in Efese ingeneem het. Die werk word nie beskryf nie, maar daar is kennelik ’n bestaande funksie waarvoor sekere susters in aanmerking kon kom.

’n Hulp wat by Hom Pas🔗

Wat is dus die beeld wat ons uit die Nuwe Testament kry oor dienende vroue in die gemeente? Is daar plek vir vroue in die amp wat ons ken as diaken wat as kerkraadslid dien? Dit is duidelik dat ons nie moet probeer om “die vrou in die amp” teë te staan vanuit blindheid vir die groot bewys van God se goedheid en genade deur dienende vroue in die huwelik, gemeente en samelewing te gee nie. Ons behoort die Here te dank vir dienende vroue, dienende weduwees en susters soos Fébé. Ook ons is geroep om aan sulke vroue funksies in die gemeente te gee.

In menigte opsigte is daar geen onderskeid tussen mans en vroue in huwelik en gemeente nie. Saam dien broeders en susters. Vir ’n onderskeid tussen broeders en susters is dit nie nodig om op geforseerde manier onderskeid te maak tussen gawes en moontlikhede wat die Here vir ons in huwelik en gemeente gee nie. Saam kry ons as mans en vroue die roeping om beeld van God te wees. Saam moet ons oor die skepping van die Here regeer en dit bewaar. Vir hierdie taak gee die Here gawes deur sy Gees - soveel te meer ná Pinksterdag.

Die onderskeid tussen man en vrou lê nie in die eerste plek in die onderskeie terreine waarop gewerk moet word nie. Daar bestaan heel fundamenteel ’n eenheid tussen man en vrou. En tog is daar ewe fundamenteel wel ’n onderskeid tussen die rol van man en vrou. In die skeppingsverhaal word vir Eva ’n heel belangrike tipering gegee – sy is “hulp”. Hulp wat by Adam pas. In die werk wat saam gedoen word, is haar verhouding tot Adam díé van helpster. Dit is geen tipering van ná die sondeval nie. Soos wat die vrou “helpster” is, is die man “hoof”. Hierdie fundamentele verhouding vind sy toepassing ook in wat ons in die gemeente ken as die ampte van diaken en ouderling.

Vroue word nie uitgesluit van diakonale werk nie, net soos sy nie uitgesluit word van die verkondiging van die evangelie nie. En tog is die taak van die man en vrou steeds onderskeie en kan nie met mekaar uitgeruil word nie. Gawes is nie aan bepaalde geslagte gebonde nie. Seuns en dogters profeteer. Broeders en susters dien. Nogtans beteken dit nie dat daar op die verskillende terreine geen onderskeid is nie. In al hierdie werk sal die man met sy gawes tot uitdrukking moet laat kom dat hy geroep is om “hoof” te wees en die vrou sal in die gemeente maniere soek om uitdrukking te gee aan haar rol as helper vir die man.

In dit alles sal ons as gemeentes erkenning moet gee aan die gawes van die Gees. Ons sal nie uit vrees vir misbruik van gawes deur susters in die gemeente, ondankbaarheid teenoor Christus moet toon nie. Tegelyk sal ons waaksaam moet wees wetende dat die gevolg van die sonde steeds is dat die “helpster” sal begeer na die rol van die man. Ewe veel sal ons in die kultuur waarin ons leef, moet  waak teen die man wat oor die vrou wil heers sonder om haar die ruimte te gee wat Christus vir ons saam  wil gee om Hom te dien.