Bron: Wegwijs. 3 bladsye.

Vyandskap Tussen Jou en die Vrou

Paradys🔗

Vanuit ons gebroke lewe kyk ons vol verwondering terug na die paradys: vrede met God en vrede met mekaar. God het alles gesien wat Hy gemaak het en dit was baie goed. Adam en Eva het mekaar naak gesien, maar hulle het hul nie vir mekaar geskaam nie.

Opstand in die Hemel🔗

Maar daar ontstaan vyandskap in die hemel. Daar is engele – onder leiding van een van hulle: satan (dit is: teenstander) – wat ontrou word aan hulle oorsprong (Judas 1:6). As skepsel wil hy nie meer aan sy Skepper gehoorsaam wees nie. Ons ken hom ook as die draak uit Openbaring 12, wat ʼn derde van die sterre agter hom aansleep en op die aarde gooi. Sommige verklaarders meen dit is ʼn aanduiding van die aantal engele wat Satan in sy opstand gevolg het. As ons na die aard van Satan kyk (volgens 2 Kor. 2:11 is sy gedagtes nie vir ons onbekend nie), was dit verseker sy doel om al God se engele van Hom af weg te neem. Hierdie plan het misluk. Baie hemelse knegte bly aan Hom getrou.

Revolusie op Aarde🔗

Aangesien hy nie daarmee tevrede is nie, rig Satan hom na die aarde toe, waar daar twee mense lewe in die Paradys. Deur sy verleiding kry hy dit reg om eers vir Eva en dan deur haar, ook vir Adam aan sy kant te kry.

Adam het ʼn spesiale posisie gehad: hoof van die mensheid. Hy het alle mense wat uit hom sou voortkom, verteenwoordig (Rom. 5:12). Dus ook ek en jy. Deur die sondeval ontstaan daar ʼn vyandskap wat nie deur God gemaak is nie, maar waarvoor die mens moedswillig gekies het. God aan die een kant en Satan en die mensdom aan die ander kant. Die posisies staan vas vir sover dit van die mense afhang.

God se Verrassing🔗

Goddank – ons sien dat die voortgang van die geskiedenis nie van die mens afhang nie. God kom na die mens toe (NGB art 17) en Hy ruk hom van Satan af weg. Hoekom? Sommer, uit wonderbare wysheid en goedheid gee Hy genade. God wys sy liefde aan sy vyande deurdat Hy ʼn heel ander vyandskap stel: Satan en sy saad aan die een kant en die saad van die vrou aan die ander kant. ʼn Vyandskap wat sou uitloop op ʼn oorwinning vir die Saad van die vrou. Dit noem ons dikwels vandag die genadeverbond, al het God alle rede gehad om dit anders te doen (DL 1,1).

Die Sonde bly Sterk🔗

Maar God se bondgenoot is nie meer die goeie mens uit die paradys nie. Die sonde is gesetel in sy hart, en die duiwel probeer hom elke keer weer aan sy kant te kry. Hierteenoor bly God ons roep, Hy maak telkens weer ʼn nuwe begin, want steeds vertroebel die sonde dit weer. Kyk maar net as voorbeeld na die vroeë geskiedenis, die lewe van Kain, Abel en Set. Hier sien ons die uitwerking van die vyandskap tussen die vrouesaad en die slangesaad. Uit hierdie vroeë geskiedenis bly slegs Noag oor aan God se kant. Na die sondvloed steek die sonde weer kop uit. Na baie sondes ontstaan daar tog weer ʼn volk uit die aartsvaders. Die volk beland in Egipte, wat ʼn gevangenis met karaktertrekke van die hel blyk te wees. God lei hulle daaruit en ten spyte van baie sondes, kom hulle in die beloofde land. Hulle word weer daaruit verdrywe omdat hul kort-kort teen die God van hulle verkiesing kies. Die historiese boeke, die profetiese geskrifte staan vol oor hoe God se volk die verkeerde kant kies, God se liefdesverbond verbreek en vrywillig in Satan se slawediens tree.

Die Geskenk uit die Hemel🔗

God bly egter woorde spreek wat hoop opwek en uitsig gee. Messiaanse profesieë, beloftes van heil, wat almal spruit uit God se eerste woorde in Genesis 3:15. Die kop van die slang sal vermorsel word. God is so onvoorstelbaar getrou, dat Hy sy eie Seun gee (Joh. 3:16). Christus neem Adam se plek in. Nie in ʼn paradys nie, maar in die woestyn van hierdie deur-sonde-bevlekte-wêreld. Nie met ʼn mooi liggaam soos wat Adam nog in die paradys gehad het nie, maar met ʼn liggaam ‘in die gelykheid van die sondige vlees’ (Rom. 8:3) Hy neem al die vyandskap teen God, al die sonde, alle verset op Hom en bring dit na die kruishout (1 Pet 2:24). Ten minste vir sover dit die mens betref. Oor die (gevalle) engele ontferm God Hom nie, maar Hy ontferm Hom oor die nageslag van Abraham, die verlore seuns en dogters van sy verbond. (Heb. 2:16). ‘Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê’ (Joh. 3:16).

Volkome🔗

Christus is die enigste Een wat met ʼn volkome toegewyde hart aan God se kant staan en telkens weer teen die duiwel kies. Satan kry geen vat op Hom nie, vanweë sy volkome gehoorsaamheid. Tot in die dood is ons Here getrou. Hy ly en sterf in eensaamheid. Selfs sy dissipels het Hom in die steek gelaat. Geen mens was daartoe in staat om Satan teë te staan en te oorwin nie. Dit doen Christus. Ook wanneer Hy ná Sy oorwinning oor die duiwel uit die graf opstaan, staan Hy alleen in sy oorwinning. Maar dit bly nie so nie. Dit is immers God se bedoeling dat Hy baie kinders na die heerlikheid sou bring (Heb. 2:10).

Weet Wie Jy Is🔗

Die groot vyand is deur Christus verslaan. Dit beteken egter nie dat Satan nie meer slagoffers onder ons kan maak nie. Ons kinders is in Christus geheilig (1 Kor. 7:14). Ons bely egter ook by die doop dat hulle in sonde ontvang en gebore is, en dat hulle nie die ryk van God sal binnegaan tensy hulle weer opnuut gebore word nie. God sê by die doop: Ek stel vyandskap tussen Satan en hierdie kind. Hierdie kind behoort aan My, ek stel jou aan my kant. My Naam staan op jou voorkop geskrywe met onuitwisbare water. Ek eis wel geloof en bekering as jy opgroei. Wie na die vyand oorloop en met hom ʼn verbond aangaan, verspeel sy burgerskap van die hemelryk. Sulkes word uitgewerp en aan die Satan oorgelewer. Alleen deur geloof in Christus is ons meer as oorwinnaars.

Ons is Nog nie Daar nie🔗

Deur die magtige daad van God se kant is ons nog nie van die vyand ontslae nie.

Inteendeel, die duiwel sal met alle mag probeer om ons weer aan sy kant te kry en ons doop kragteloos te maak. Hy het twee magtige bondgenote: die wêreld wat hom volg en dien en ons sondige aard waarteen God se kinders lewenslank sal moet stry. Die Here Jesus het ons nie verniet leer bid nie: lei ons nie in die versoeking nie, maar verlos ons van die bose. Lees maar in die Heidelbergse Kategismus Sondag 52 wat hierdie woorde beteken.

As Adam met sy sondelose liggaam in die paradys reeds deur die duiwel verlei is, hoeveel te meer loop ons dan nie voortdurend die gevaar om deur hom meegesleur te word nie. Moenie ʼn fout maak nie: Die duiwel is regtig nie bang vir u nie (1 Pet 5:8).

Daar is Slegs Één🔗

Daar is slegs Één vir wie die duiwel wyk. Daar is slegs Één op wie die duiwel geen vat kry nie. Here, waarheen dan? Tot U alleen! Die enigste redding is: jou toevlug neem by die Here Jesus Christus. Glo in Hom, klou aan Hom vas. Dit is wat die ware geloof doen, soos ons in die Nederlandse Geloofsbelydenis art 22 bely: Die Heilige Gees laat ʼn opregte geloof in ons harte opvlam wat Jesus Christus met al sy verdienste omhels. Let op hierdie innige woord: omhels – dit hoort by liefde, by ʼn innige verhouding. Slegs in so ʼn innige verhouding is dit moontlik om aan God se kant die duiwel te weerstaan. (Jak 4:7) Los van Christus raak jy onvermydelik weer in sy greep.

Innige Verhouding🔗

Die innige verhouding word deur die Heilige Gees bewerk met die wedergeboorte. Wanneer Christus kragtig in jou lewe deurbreek, beheers Hy jou hart so, dat jy nie meer vir jou self leef nie, maar dat Christus in jou regeer (Gal 2:20). Dan is jy ʼn rank aan die ware wynstok (Joh. 15:1-8), ʼn lid van Christus se liggaam (1 Koor 12:12,13). Die wat in Christus is, is dan ʼn nuwe skepsel (2 Kor. 5:17). Deur sy krag sterf die ou mens en staan die nuwe een op, soos ons bely in HK Sondag 33. Die vyandskap word slegs deur Christus oorwin. Ons is slegs deur Hom, en nie deur onsself nie, meer as oorwinnaars (Rom. 8:37-39)

Deur die Woestyn🔗

In hierdie lewe bereik ons nie volmaaktheid nie. Die wat wil weet wat ons daaroor glo en bely, kan die vyfde hoofstuk van die Dordtse Leerreëls raadpleeg. Die sonde, Satan, my eie ek – hulle sit nie meer op die troon van my hart nie. Hulle beheers my nie meer nie. Maar hulle is nog daar en tempteer my nog baie. Wat ʼn onvoorstelbare wonder dat God dan berou in my hart bewerk en my om Christus wil sewentig maal sewe keer vergewing skenk. As ek met leë hande, met vuil hande tot Christus nader en Hom omhels, dan word Hy nie vuil deur my nie, maar ek word skoon deur Hom. God hou sy werk in my lewe tot aan die einde toe vol.

Na die Beloofde Land Toe🔗

Vanuit ons gebroke lewe kyk ons vol verwondering vooruit na Christus se wederkoms, na die nuwe hemel en die nuwe aarde: vrede met God en vrede met mekaar. Geen sprake van vyandskap nie. Die dood sal nie meer daar wees nie en geen Satan of sonde kan ooit daar inkom nie. Wat ʼn bemoediging om in hierdie lewe ondanks alles en dwars deur alles heen Hom lief te hê soos Hy ons liefgehad het. Op die bruilof van die Lam sal die bruid stralend en rein wees en die fees sal geen einde hê nie.