Bron: Die Vroueblad. 3 bladsye.

Waaraan word die lewende kerk uitgeken?

Die kritikaster is iemand wat homself aanmatig om sy hand in enige ander boesem te steek behalwe sy eie. So gaan dit ook met kerklidmate wat hulle mond vol het oor die "kerk" wat dan sogenaamd koud, gevoelloos en leweloos — ja, dood — is.

Natuurlik is die Gereformeerde kerke geroepe tot voortdurende selfondersoek, want anders sou ons nie gereformeerd kon bly nie. Dink maar aan die Latynse uitdrukking: Ecclesia refomata semper reformanda (die gereformeerde kerk moet altyd reformeer). Die probleem met kritikasters in eie geledere is egter dat hulle kritiek gewoonlik nie as selfkritiek kom nie, maar as afstandskritiek: "Die Gereformeerde Kerk is liefdeloos", "Die Heilige Gees werk nie in julle nie", "Die Doppers het verstar geraak", ens. Dit is nie 'n geval van "ons" nie, maar "julle". Die eie ek is reeds gedistansieer van die kerk. Gevolglik is dit vir so 'n kritikaster gewoonlik 'n kort tree na oorgaan na een of ander charismatiese beweging of sekte. Dit is dan helaas waar die kritikaster gewoonlik eindig.

Maar kom ons weeg die besware wat kritikasters dikwels teen die kerk het. Die algemeenste besware is: die werk van die Heilige Gees is nie in die Kerk sigbaar nie; die kerk het liefdeloos en koud geword; die Kerk is dood.

Die werk van die Heilige Gees🔗

Die beswaar dat die werk van die Heilige Gees nie in die Kerk sigbaar is nie, hou gewoonlik verband met die gawes van die Gees. Die gawes, wat bewys is van die werking van die Gees, is nie in die Kerk aanwesig nie, lui die beswaar. Hierop moet ons onmiddellik die vraag vra: Maar wat is die gawes van die Gees? Die antwoord moet ons uiteraard in die Skrif soek en vind.

In Efesiërs 4:1-16, Romeine 12:1-8 en in 1 Korintiërs 12 tot 14 word daar in besonder oor die gawes (geestesgawes, genadegawes, charismata) gepraat. Veral in 1 Korintiërs word daar belangrike sake aangaande die gawes van die Gees geopenbaar. Uit die Korintiërbrief is dit naamlik duidelik dat daar in die Korintiese gemeente 'n groep lidmate was wat 'n verkeerde houding ten opsigte van die gawes van die Gees gehad het. Hulle het beweer dat daar sekere gawes was wat van 'n groter werksaamheid van die Heilige Gees getuig het as ander. Veral die gawe van glossolalie (spreek in tale) was volgens hulle die beste gawe. Daarom het hulle diegene wat in tale gespreek het, beskou as lidmate in wie die Heilige Gees meer en beter gewerk het as in ander.

Aan hierdie mense skryf Paulus in 1 Korintiërs 12 dan baie duidelik dat daar nie so iets soos 'n rangorde van gawes bestaan nie. In vers 4 skryf hy uitdruklik: “Daar is wel verskeidenheid van genadegawes, maar dit is een en dieselfde Gees." En dan noem hy die gawes op in verse 7 tot 10: 'n woord van wysheid, 'n woord van kennis, geloof, gesondmaking, kragte, profesie, onderskeiding van geeste, tale en die uitleg van tale. In vers 11 sê hy dan weer: "Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil". Opvallend is die volgorde waarin Paulus die gawes opnoem: waar die Korintiërs die gawe van tale boaan hulle prioriteitslys plaas, plaas Paulus dit laaste. Trouens in Romeine 12:7 en 8, waar hy ook 'n lys van genadegawes gee, vermeld Paulus nie eens die spreek in tale nie. Daar noem hy profesie, bediening, lering, vermaning, uitdeling, leidinggewing en hulpverlening as gawes wat Christus in sy kerk gee — alles dinge wat ons as "gewoon" of "alledaags" sou kon tipeer. In Efesiërs 4 : 11 noem hy weer die besondere ampte in die kerk wat verband hou met die Woordbediening (apostels, profete, evangeliste, herders en leraars) as gawes waarmee Christus sy kerk toerus.

Daar is dus geen sprake dat een besondere gawe 'n groter getuienis van die werk van die Heilige Gees is as 'n ander nie. Kom ons stel dit anders: Om te beweer dat die Heilige Gees meer werksaam is in hierdie of daardie kerk omdat daar besondere kragte of tekens voorkom, is om in presies dieselfde dwaling as die Korintiërs te verval. Omdat die Korintiërs die spreek in tale so hoog aangeskryf het, het hulle ook diegene wat in tale spreek hoog aangeskryf, asof die Heilige Gees meer in hulle werk as in ander. Die gevolg was hooghartigheid, wat die liefde in die kerk verdring. Daarom skryf die apostel in 1 Korintiërs 13: "Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek 'n klinkende metaal en 'n luidende simbaal geword ..."

As antwoord op die kritikasters in eie geledere, hoor ons dus die vermaning van die Skrif: Moenie die werking van die Heilige Gees net in die skouspelagtige en buitengewone dinge soos die glossolalie, genesing en allerlei kragte soek nie. Die Heilige Gees werk gewoonlik in die kerk deur middel van dinge waaraan ons miskien al so "gewoond" geraak het, dat ons dit nie meer raaksien nie: dinge soos die verkondiging van die Woord, die verbondsonderrig, die kerkregering, die diens van barmhartigheid, ens. Bowendien, wie die gawes van die Gees teen mekaar begin opweeg en daarmee die gelowiges (kerke) teen mekaar begin afspeel, juis so iemand vertoon 'n gebrek aan die grond van God se eis aan sy kerk: die liefde.

Liefdeloosheid, louheid en doodsheid🔗

Dat die kerk gedurigdeur teen liefdeloosheid, louheid en doodsheid moet waak, is onteenseglik waar. In die sewe gemeentelike briewe aan die begin van die Openbaringboek, hoor ons juis die vermanende stem van die Koning van die kerk, Jesus Christus. In Openbaring 2:4 sê Hy vir die kerk in Efese: “Ek het dit teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het." In 3:1 sê Hy vir die kerk in Sardis: "Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef, en jy is dood." In 3:15 sê Hy vir die kerk in Laodicea: "Ek ken jou werke, dat jy nie koud is nie en ook nie warm nie.. . maar lou." Aan die einde van elke boodskap sê Hy: “Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê". Die boodskappe aan die sewe kerke in Openbaring 2 en 3 is dus bedoel vir die kerk van alle eeue om as waarskuwings te hoor — ook vir ons.

Wanneer kritikasters egter hierdie selfde aanklagte teen die eie kerk rig, bedoel hulle met "liefdeloosheid", "louheid" en "doodsheid" gewoonlik iets anders as wat Christus in die sewe gemeentelike briewe daarmee bedoel.

Onder liefdeloosheid verstaan hulle 'n gebrek aan 'n bepaalde gevoel, 'n tekort aan daardie emosie wat deesdae 'n baie populêre aansien begin kry het — iets van 'n hart wat vermurwe die oomblik as ons mekaar onder oë kry. Natuurlik is iets van hierdie beskouing waar. Die liefde is nie sonder gevoel nie; dit lei tot onderlinge toegeneentheid, tot gemeenskapsbeoefening en bemoeienis met mekaar.

Maar die liefde behels baie meer as dit. In 1 Johannes 5:2 lees ons: "Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie bewaar". Die maatstaf vir die liefde in 'n gemeente is dus nie een of ander "gevoel vir mekaar" nie, maar die mate waarin die gemeente daarna streef om God se gebooie te bewaar. Presies in ooreenstemming hiermee sê Jesus vir daardie liefdelose gemeente in Efese: "Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke". Die liefdeloosheid waarvan Christus praat, is dus 'n gebrek aan gehoorsaamheid aan Gods Woord.

Waar die gehoorsaamheid aan God ontbreek, daar bring die liefde tug. Aan die gemeente in Laodicea laat weet Jesus (Open. 3:19): "Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek". 'n Maatstaf vir die liefde in 'n gemeente is dus die mate waarin die tug gehandhaaf word: selftug en die onderlinge tug. Kritikasters het dit dikwels juis teen die kerklike tug, wat hulle as teken van liefdeloosheid beskou. Min besef hulle dat die teendeel waar is. Juis daar waar die tug ontbreek, daar wyk die liefde. Diegene wat dan van die kerklike tug af wegvlug na " 'n kerk waar daar meer liefde is", verruil die ware liefde vir valse liefde. Die tug dien die liefde, dit lei die kerk juis daartoe om God met al groter ywer te dien.

Die Skrifwaarheid wat dus duidelik tot ons kom, is: daar waar die tug lewend en kragtig is, daar word die liefde ten beste gedien.

Louheid en doodsheid hang ten nouste saam met 'n gebrek aan liefde. Aangesien die kritikasters egter 'n verkeerde begrip van liefde het, loop hulle beskouing oor louheid en doodsheid ook skeef. Vir hulle bestaan louheid daar waar 'n gebrek aan entoesiasme bestaan ten opsigte van allerlei "kerklike" aktiwiteite wat inderwaarheid nie des kerks is nie. Volgens hulle gaan daar "warmte" uit van 'n gemeente wat entoesiasties saamkom in jeuggroepe, verrykingskursusse, oriënteringskampe, Bybelstudiegroepe, gespreksgroepe en soortgelyke selle. Nie dat daar met sulke geleenthede noodwendig fout is of dat goeie organisasie iets verkeerd is nie — maar uiteindelik is dit alles bysake. Entoesiasme oor blote bysake is dus misplaaste entoesiasme.

'n Kerk wat sy warmte in bysake soek, juis so 'n kerk is lou, en dit terwyl hy hom verbeel hy is warm! Christus laat weet die Laodisense (Openbaring 3:17): "Jy sê: Ek is ryk en het ryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie." Die "warme" kerk beywer hom egter vir die rykdom wat daar is in die verlossing van Jesus Christus (“goud wat deur vuur gelouter is"), sy geregtigheid ("wit klere") en kennis van die waarheid wat daar in Hom is {"salf sodat jy kan sien"). Waar die verlossing, geregtigheid en waarheid van Jesus Christus met ywer verkondig en uitgeleef word, daar is werklik warmte.

Op dieselfde patroon bestaan daar by sommige mense die wanbegrip dat die mate waarin die kerk lewend is, in groot bedrywigheid en allerlei aktiwiteite sigbaar moet wees. Vir sulke mense is ge-brek aan allerhande "kerklike aktiwiteite" gelyk aan doodsheid. Maar wat is Jesus Christus se antwoord op die doodsheid van die kerk in Sardis? In Openbaring 3:2,3 sê Hy: "Wees wakker en versterk die wat oorbly ... Onthou dan hoe jy dit ontvang en gehoor het, en bewaar dit en bekeer jou." Die lewende kerk is dus die kerk wat weerstand bied teen die sonde ("wees wakker!"), wat met die troos en die vermaning van die Woord op mekaar ag gee ("versterk die wat oorbly"), wat aan die gesonde leer van die Woord vashou en dit bewaar ("onthou hoe jy dit ontvang en gehoor het, en bewaar dit") en wat daagliks reformeer ("bekeer jou").

Hierdie woord van vermaning moet dus tot elkeen onder ons uitgaan, veral diegene wat neig na kritikastery: Moenie liefde in sentimentalisme soek nie, want liefde word alleen in die onderlinge tug gevind; moenie warmte in die ongebonde entoesiasme en oordrewe organisasie soek nie, want warmte word gevind in die ywer oor die evangelie van die verlossing en die geregtigheid en die waarheid van Jesus Christus; moenie lewe in grootskaalse aktiwiteite soek nie, want lewe is te vind in die bewaring van die Woord van die Here op elke gebied van die lewe.